Die geringste blou ontmoeting met jou oë
is tuinfonteine wat in hoë boë spring.
In die middelwêreld van cafés en restaurante
waar tydlose androgene ontmoetings plaasvind
bring jy die knetterende vuur van jou lewe na binne
buk jy om die smeulende kole van verlange
weer eens aan te steek
hoe sprankel duisend kerse op die verjaarsdagtafel.
***
Wanneer wit gordyne lui-lui gevee word deur ’n bries
sal hy die ruimte wat sy arms omvat oopmaak
en haar skraal lyf teen syne aandruk
hy sal die soet reuk van haar lyf
deur die neusvleuels voel aankom
hy sal die sagte vel van haar arms afdop soos ’n nartjie
hy sal haar mond leer ken
soos hy die misterie van sand ontsyfer het
hy sal haar soen omdat sy kom herinner aan die aarde.
***
Dis weer oggend, of is dit reeds die volgende dag
of slegs die oorloop van een stroom na ’n ander
ons leef in die vreemde tussentyd, ’n verposing
’n skraal ruimte waar mens opkom om asem te haal
in die leegte. na alle kante skuif vlekke van die land,
weg die verskiet in. die wind waai onverpoosd deur die nag
en gesigte van afwesige mond en tale
verskyn agter die breuklyn van vensters
my toekoms word bevolk deur kamers sonder mense.
***
In die boord van die onderbewussyn
Hang swaar waterpere reeds aan die takke.
***
Al is dit Sondag slaap niemand nie
’n paar jong manne baai in die rivier
water wat die blou-pers van die lug in hul oë weerkaats
niemand roer of raas nie.
***
Jy sal sing tot die Groot Als
want jy is bloot die geleier van die boodskap
of woord van God, Allah, die groot Avatare
of die groot onnoembare onderbewussyn
tot al die remlyne van die gehurkte self uitgevee is
dan eers mag jy na Alexandrië gaan.
***
Jy sal opstaan en na Alexandrië gaan
om in vroomheid van die woestyn kennis op te doen
want jou lyf is die kameel van alle reise
seer enkels en ’n roggelkeel
in die dun skrefies van die oë van die nomade
sal jy die les van beweging leer.
***
Daarom sal jy na Alexandrië gaan
om die visie van die woestyn in te asem
jy sal op ’n pelgrimstog tussen die misken van jou lyf
en die leë hande van die lug gaan. oor bergreekse
met seer voete loop om die buitelyn van die hart te teken.
***
Wat is die waarde van die son
wanneer die vlam van lewe nie
in die kaggel van ’n berghut kan brand nie
buite is die oggend, ek kyk deur die ruite
en sien ’n wilde landskap
en ek kyk daarna soos die vyand daarna sou kyk
probeer om die koue met ’n kil oog bang te maak.
***
Die heelal is ’n eggo en die aarde ’n bol
’n skraal boom aan die einde van ’n vallei
’n klank in die holte van jou oor
’n gekraakte pot van verspilde tyd
’n rivier wat agter ’n wolk van bome murmel.


Kommentaar
Ek stort my onder dié woorde: hulle wat soek en vind, wat verlang en verheug, hulle wat alleen loop - 'n omvang van gevoelens breed soos 'n wye droewe land. Ek was my onder dié woorde. Ek is verkwik. Ek adem die herfs in en wag op Desembersneeu. Dankie, Melanie.