Oestyd-skryfuitdaging: Oestyd

  • 0

Oestyd

Simon Bekeer vryf oor die vet korrels met sy duim. Heen-en-weer vryf hy hulle. Die trossie soetigheid lê swaar oor die lengte en breedte van sy hand. Hy druk twee druiwekorrels teen mekaar, voel die beroering onder sy naeltjie. Hy gaan eendag met ’n vrou trou met sulke groot, sagte borste. Soet en lekker tussen die lippe. Met voggies wat ’n man mal kan maak.

“Simon!” skree ’n vrou se stem hard en skril.

Hy gooi die laaste tros in die mandjie, stap nader aan die vragmotor om sy mandjie leeg te maak. Anna staan met haar hand op die lorrie se bak vir hom vermakerig en aankyk. Die rondings van haar vrouwees peul omtrent uit by haar lae hals, tepels wat deur die materiaal bult. Hy kyk nie daarna nie want hy ken gebruikte druiwekorrels. Uitgesuig én uitgespoeg tot op die laaste pitjie.

“Simon wat staat en droom jy so? Daar’s mooier dinge om na te kyk as ’n trossie. My gotta, wil jy nou na ’n druif vry?” Sy staan nader as hy sy mandjie lig en leegskud. Hy voel die hitte van haar kaal arm as sy, asof terloops, dit teenaan hom vryf, kamma om te help met die swaar mandjie. Hy het nie hulp nodig nie, sy bultende spiere getuig daarvan. Plaaswerk maak van ’n seun ’n man.

“Ek hoor jou. Ek sal uitkyk vir die mooier dinge,” sê hy met ’n glimlag, knipoog vir haar. Haar laggie so skril soos haar stem.

Anna is ryp om gepluk te word, so sê sy pa. Sy ma sê bly weg, jy’s ’n slim, mooi jongetjie en sy’s moeilikheid. Daar’s ander plekke, ander meisies. Weet hy dit nie. En nie net op ander plase nie, wat weet sy ma. Die plaasvrouens dink ook hy is ryp. Dit weet hy ook, maar hy weet ook wie hy wil hê moet hom pluk.

Anna loop langs hom en kort-kort klap haar hand moedswillig teen syne so met die stap af met die paadjie, huis toe. Maar hy steur hom nie. Hy het op sestienjarige ouderdom begin pluk. Pluk en gooi, pluk en gooi, sy ma en pa aan sy sy. Sy swaar mandjie gedra soos een wat dit nog altyd dra. En nooit het hy hom gesteur aan die vroue se kletspraatjies nie, nog nooit na ’n meisie geloer waar sy laag buk of hoog strek nie. Hy ken die strikke van die lewe, sy ma het hom geleer, ook die strik van die druif. Van die begin af het hy hoog getrap en omgestap, kop gedraai en weggeloop.

Vir ’n oomblik bal hy sy vuiste en draai hulle binnetoe, die senings styf en seer van die pluk, ’n gevoel ook in sy skouers. Hy het sy deel gedoen en wie gee om? Die boer, die connoisseur, die afslaer, die suiplap? Druiwe groei in gekleurde bottels en waar hulle op die rak staan verander hulle in wyn. Net so. Wat weet hulle? En aan die einde baat hulle almal by die vruggie, almal behalwe die plukker. Maar dié plukker het sy eie agenda.

Hy moet van Anna ontslae raak voor al die vragte verdwyn, maar sy bly by hom. Sy moenie enduit saam met hom loop nie, hy moet afswenk in een van die rye.

“My gotta ek praat met jou, ma’ jy is in ’n anner wêreld,” sê die stem langs hom as sy hom effens aan die arm pluk. Sy verskoning is hy’s moeg, sy ma se kos wag. Hy draai abrup weg van haar.

“Ons gesels weer,” roep hy vinnig, “ek wil gou hier afdraai.” Hy trap na links en begin tussen die stokke loop, vat kamma hier en daar soos een wat na iets soek, die stokke kaal gepluk. Draai tog effens om en waai vir haar. Sy staan nog waar hy ingedraai het, waai halfhartig terug. Dan moet dit maar. Hy stap verder, kyk later om en sien sy beweeg vinnig aan, seker om by die ander te kom. Hy staan ’n oomblik stil, kyk hoe sy begin hardloop en tussen die bondel plukkers verdwyn.

Die son trek water maar steeds voel dit of die strale sy kop brand. Simon sit sy hand bo-op sy hoed, voel die hitte en pluk die hoed af, steek dit voor by sy hemp in. Die hoed laat sy kop sweet, dan liewer die brand.

Dit was ’n lang, goeie oes, die mense moeg, tog in ’n lughartige, uitbundige luim. Hy hoor al klaar hoe party begin sing. Hulle seker gretig dat die jolyt moet begin. Iemand gaan ’n guitar uithaal en die oes besing terwyl ander die stof opskop en die oues hande klap om die ritme te hou. Hy glimlag want sy ritme sal een van ’n ander aard wees.

Simon draai om en loop terug met die paadjie, net betyds om die lorrie met sy blink vrag wat in sy rigting aankruie, by te kom. Hy weet wat hy wil hê. Dis haar geskenk.

Sy ouers, broers en susters is reeds by die deur uit, jol toe. Hy moet wegkom voor Anna of iemand anders na hom kom soek. Onder sy laken wat hoog oor die kussing getrek is haal hy sy hoed versigtig uit en vat die trossie wat diep weggesteek lê en plaas dit op sy hand.

Hulle pyn en lyding, hulle gate en skeure, die huis met die lekkende dak en vergeefse drome, alles in diens van die druif, dink hy wrang. En tog, daar is geen ander plek op aarde waar hy wil wees nie, net hier tussen berge, wingerdstokke, wyn en ooptes. En eendag: ’n plaas van sy eie. Dank God vir die wingerd.

Simon loop met breë tree na die agterdeur en maak dit vinnig oop en saggies toe. By die agterkraan was hy die trossie druiwe, skud die orige water af. Dan kry hy koers.

Hy weet hy ruik na rooiseep en boorgatwater, na Colgate en sy ma se Dawn-handeroom. Almal reuke waarvan sy hou. Daar is ’n dringendheid in sy loop, in sy liggaam. Voor hom lê die plaashuis, vrolik met sy buiteligte en gekleurde vensters, netjies afgeëts teen die donkerte van die berg. Hy stap vinniger.

Naby die plaashuis blaf die honde maar hy bang hulle nie, hulle sal stil word sodra hulle sy stem hoor en hy sy hand na hulle uitsteek. Sy tekkies girts op die klippertjies voor hy by die grasperk kom. Die honde kom aangehardloop en hy roep saggies na hulle. Hy draai regs, vind effe skuiling agter die noem-noem-heining. Langs die huis gaan staan hy stil. Haar kamer se lig brand.

Hy sluip stadig vorentoe, die honde steeds op sy hakke, nou stertswaaiend. Sy klop is sag, byna onhoorbaar, sy hart in sy keel, tog skrikkerig. Sy plaashuis sal eendag groter vensters hê, dink hy terwyl hy teen die muur op sy hurke afsak en die trossie in sy ander hand neerlê. Sy wag is kortstondig.

Die skaduwee kom na hom aangeloop, lang hare en breë romp waaiend om haar, terwyl sy al teen die donker muur van die sykant druk. Die skaduwee word mens en hy loop haar tegemoet, die boer se eersgeborene, sy éniggeborene.

In haar een hand dra sy ’n bottel, in die ander hand twee glase.

“Simon ... kom!” fluister sy saggies. Sy verjaag die honde met ’n “Loop! Gaan lê!” en as die diere ’n oomblik huiwer, skop sy ’n paar klippertjies hulle kant toe en die honde draai om, voorstoep toe.

Simon vat aan haar elmboog, volg haar tot onder die oorhangtakke van die olyfboom en teen die dik stam skop hulle nes totdat elkeen ’n gemaklike plekkie kry om te sit. Hy oorhandig die trossie aan haar, sy die bottel aan hom. Met die maanlig wat deur die blare skyn sien hy hoe sy ’n vet druiwekorrel tussen haar lippe sit, dit terugrol tot tussen haar tande en dit stadig vermorsel, sap wat by haar mondhoeke uitloop, af by haar ken.

Die wynbottel is oop en hy lig homself op, kniel in die safterige molm langs haar. Toe soen hy die punt van haar neus, sleep sy tong deur die holte van die kuiltjie in haar wang en suig die sap van haar ken af. Hy hoor die kerm-geluidjie in haar keel, voel haar blonde hare oor sy gesig val as sy haar nek knak. Toe druk sy die hele tros teen haar mond en hap, sous wat alkant spat en hy kan nie byhou om dit af te lek nie. Haar giggel-geluide klink benouend en sy trek terug, druk die twee glase tussen hulle in en hy vat een en skink dit vol, dan die glasie in haar hand.

Hulle klink op mekaar se gesondheid en begin tegelyk te drink, sy so gulsig soos hy want sy hitte het haar hitte geword, sy behoefte, haar behoefte. ’n Tweede glasie en as die laaste druppel by hul keel afgly sit hulle die glase eenkant. Haar arms en hande trek hom nader.

“Tot die dood ons skei Simon,” fluister sy.

Nie voort ek die baas van die plaas is nie, dink hy, trek haar bloes oor haar skouers. Kyk af na die wit druiwekorrels in sy hande. Groot, sag en as hy sy kop oor haar laat sak proe hulle net so soet en lekker soos die oes van die land. Met voggies wat ’n man mal kan maak.

 

 

 

 

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top