Oestyd-skryfuitdaging: Die kleur van my lag

  • 0

Die kleur van my lag

Noag was ’n bootbouer, maar in sy hart was hy ’n boer en hy het ’n wingerd geplant die oomblik toe sy skip gestrand het. En ek was Gam-ben-Noag, maar ek en my nageslag is vervloek tot slaaf-status. Ek is darem nie weggejaag soos Kaïn vóór my en Ismael wat ná my sou kom nie. Ek kon op die wynplaas aanbly en mense het later gemeen dat ek na Afrika uitgewyk het. Hierdie weergawe van die verloop van sake maak nie daarop aanspraak om outentiek te wees nie, want ek onthou maar ten dele.

Die dae voor die vloed was nie sleg nie. Dit was voordat hy begin planne teken het en planke bestel het. Toe het die stem nog nie met my pa gepraat nie. Toe het hy nog soms met my en Sem en Jafet gesels en vertel van die plekke waar hy al was, van die bome wat hy nog wil kap om vir ons ’n  huis mee te bou en die graagste het hy vertel van die stuk bruin grond langs die rivier wat hy wil bewerk en die wingerde wat hy daar wil plant.

Toe het die bouery begin. Sover ek kan agterkom, het Pa geen inspraak gehad by enige beplanning nie. Net maar gebou soos die bevele ingekom het. Hy is ’n goeie bouer. Hy kan bou met klippe, planke, stene – noem maar op. En hy kan saag en spykers inslaan soos min ander mense kan, maar eintlik wou hy nog sy hele lewe lank geboer het. Die grond omploeg en saad saai of steggies inlê en dan kyk hoe daar plante opkom wat groei en vrugte dra. Saans wanneer hy, moeg van die dag se gekap, onder die boom sit, het hy meer as eenkeer gesê: “Boer sal ek nog boer. Net eers hierdie ark-saak afhandel.”

As die mense net nie so gespot het nie! Hoe moes ek voel as ek hoor hoe my pa bespot word omdat hy ’n stem hoor wat hom aanmoedig om te bou en hoe om te bou. Al sy tyd is in beslag geneem deur goferhout en pik.

Saag, kap en pik aansmeer. Wanneer die sterre nog skyn in die oggend totdat die sterre in die aand weer skyn, het hy gebou en wanneer dit saans lig genoeg was van die maanskyn, het hy aanhou werk. Baiekeer het my ma na haar mense toe gegaan vir ’n  paar dae. “Net om weer asem te kry,” het sy gesê. Die saagsels en stof was nie goed vir haar asma-bors nie en sy was sommer net gatvol van die gekap. Wie kon haar kwalik neem?

As die boot net vir ons gesin was, sou sy meer entoesiasties gewees het. Ek ook. Ek sou selfs gehelp het waar ek kon, maar nou is dit vir diere ook! Hoofsaaklik vir diere. Wat is diere dan nou? Het hulle dan kosbare siele soos mense?

Toe die kappery en die pikaansmeerdery die dag stop, het die diere gekom. Netjies in gelid asof in ’n drilpelaton. Doodstil. Nie ’n piep of ’n grom was hoorbaar nie. Terwyl hulle gedienstig teen die “ramp” opklim, het die werklikheid tot my verstand deurgedring: totaal onekologiese, onnatuurlike, onmenslike, selfs ondierlike gebeure is besig om rondom my af te speel en ek was een van die uitverkorenes wat moes oorleef. Saamgehok in ’n benoude struktuur van redding. Dank die goeie Vader in die hemel dat daar nie ander mense ook wou opklim nie.

Toe het Pa die deur toegemaak en ons agt mense was saam met die diere in ’n oorlewingstryd gewikkel. Veertig dae lank. Baiekeer het ek gewonder of dit nie beter sou gewees het om saam met die res van die wêreld se bevolking gewoon te verdrink nie.

Ek was nog steeds seker daarvan dat die ergste een of ander tyd sou gebeur. Die natuur is die natuur en daar is wette gemaak waarvolgens die stelsel moet funksioneer. Wat maak Krokkie Krok in die ark? Krokodille kan mos swem. Amfibieë moes nie genooi gewees het nie. Seker maar agter die ander diere wat by die watergat bymekaargekom het, aangestap. Daar is noukeurig boekgehou van rein en onrein diere. Manlikes en vroulikes, maar niemand het daaraan gedink om seker te maak dat daar geen onregmatiges insluip nie. En wat van die hermafrodiete? Moet die skepping voortaan sonder hulle klaarkom? Anders as wat in die 21ste eeu die geval sou wees, was hermafrodiete die minste van my pa se bekommernisse.

Die hele kaboedel is in sy onbekwame sorg gelaat. Ek het hom dikwels dopgehou wanneer hy in die smal gangetjie tussen die diere se staan-/sit-/lêplekke op en af gestap het. Hy was bekommerd. Die instruksies oor die soort en hoeveelheid kos was nie so duidelik nie. Daar was nie genoeg plek vir die kos nie: nie ’n enkele yskas om die groenvoer vars te hou of ’n  vrieskas vir die vleis nie. Hopelik sou die reën ophou voordat die kos opgevreet is.

Toe dit nie ophou reën nie en die ark begin lek, het ek weer van voor af gedink dat ons vir die gek gehou word en dat Pa die grootste gek van ons almal is. Al die pik wat hy in die hande kon kry, was reeds aangesmeer om die boot dig te kry, maar die gedrup deur die dak was onophoudelik en van onder af het die water ook deurgelek. Die vroue se geneul was erger as die water se gedrup. Hulle gekerm was genoeg om ’n  gat in die hardste klip te maak. Vroue wil bad en hare was en klere in die son droogmaak. Vir mans is dit makliker om Gods water oor Gods akker te laat loop.

Daardie eerste nag het ons omtrent nie ’n oog toegemaak nie. Die teef wat die honderas van uitwissing moes red, het hoog swanger aangestap gekom en daardie selfde nag geboorte geskenk aan sewe kleintjies. En was dit ’n gekompliseerde gekraam!

Soos die dae verbygegaan het, het die chaos al groter geraak. Iets soos ’n gegeurde kweekhuiseffek het ontstaan. Ons het omtrent nie meer met mekaar gepraat nie; ons monde toegehou. Soms het ek gevoel om een of ander dier dood te skop.

Ek het Pa gekonfronteer met vrae wat ek geweet het hy nie antwoorde voor het nie: “Waarom dan ons? Hoe lank moet ons nog in hierdie nat hel bly? Hoekom het ons nie ook versuip nie?”

Toe laat Pa ’n duif uitvlieg en die stomme voël kom terug met leë hande. Toe die duif ná die tweede uittog terugkom, hoor ek my pa sê: “Vader, die duif kon dan net ’n paar blaartjies kry om te kom wys! Hoe lank nog?”

Vir elke dag wat verby is, het Pa ’n kerfie op ’n balk gemaak. Iewers moes hy gelees het dat dit is wat skeepskapteins doen wanneer hulle op ’n vaart is. Die kerfies was in groepies van tien en toe hy besig was om die veertigste kerfie te maak, het ons die stamp gevoel. Die vaartuig het nie meer beweeg nie en dit het beteken dat ons nie meer op die water dryf nie. Dit kon ook beteken het dat daar ’n gat in die romp gestamp het en dat die water gaan instroom voordat die diere almal uit is. Dit was in die nag en toe ek na buite loer, kon ek geen maan sien nie. Die reën het opgehou, maar dit was nog bewolk. In die donker het almal gehelp om die loopplank te laat sak. Ons stap eerste uit en hou asem op vir die stormloop. Dit is ysig koud en ons staan naby mekaar ten spyte daarvan dat elkeen van ons hom of haar voorgeneem het om in die toekoms nooit weer naby iemand anders of iets anders te kom nie.

Toe het die diere uitgestap in dieselfde volgorde as waarin hulle ingestap het. Ordelik. Rustig. Hulle het weggeraak in die donker en ons kon hoor hoe hulle skoon water drink uit die poele. Toe hulle besef dat hulle vry is, het elkeen dankie gesê. Die afsonderlike klanke van dank het duidelik en jubelend uit die donker na ons toe gekom. Al wat agtergebly het, was die teef met haar suigende werpsel.

Met die eerste lig van die nuwe dag het Pa begin boer.

Hy het grond gesoek waar hy ’n  wingerd kon plant. Hy het ons na alle kante toe uitgestuur om te kyk wat oorgebly het nadat die water weggedroog het. En hy kry sy wingerd. In ’n vallei langs ’n rivier. Erg verspoel en plek-plek staan die stokke nog halflyf in die water, maar hy’t geweet dat die water heeltemal sou wegtrek, en dan sou sy wingerd groei en dra.

In die omgewing waar ons reddingstuig gestrand het, is daar druiweranke wat hoog in die naaste bome oprank en Pa het ons daarheen gevat. Ons moes in die bome opklim, die trosse afpluk en versigtig daarmee afklim sodat hy ’n vreemde brousel daarvan kon maak

As daar mense in die omgewing was, sou hy hulle uitgevra het oor die verskillende vrugtesoorte wat goed aard. Hy is ’n slim man en ’n opregte mens. Hy sou ’n goeie kerkmens kon uitmaak. Hy sou selfs kon preek of bidure lei – soos terwyl hy gebou het.

Maar sy aanhoorders sou weer nie na hom luister nie. Sy raad sou nie bevorderlik wees vir die uitbreiding van hulle boerderye en sakeondernemings nie. Hy sou pleit vir regverdige lone en vir menslike werksure. En vir goeie behuising en vir opvoedingsgeleenthede vir die kinders. Maar sy voorstelle sou die eienaars eenvoudig te veel uit die sak jaag – hulle skuld sou reeds enorm groot wees en hulle verpligtinge legio.

Die stokke bot en die ranke groei. Ons help hom om nuwe drade te span en baiekeer help hy die fyn kurktrekkerrankies versigtig met sy vingers om rondom die draad te draai. Wanneer dit eenmaal vasgedraai is, kom dit nie maklik weer los nie. Pa sê hy wens dat daar ’n manier is hoe hy kon weet watter kultivar dit is. Hy bou ’n kuip wat groot genoeg is sodat drie of vier mense tegelyk kan trap aan die trosse. Hy sal nog ’n plan moet bedink om die sap en die doppe van mekaar geskei te kry. Ek en Sem en Jafet gesels graag saam en ons planne word by syne gelas.

Toe die druiwe begin ryp word, stap hy op en af deur die wingerd, verjaag die voëls wat aan die korrels kom pik en skreeu hard op hulle: “Ek moes julle nekke omgedraai het toe julle in my skip rondgesit het.”

Ek lag hard toe ’n spreeu parmantig op die draad bly sit en sy koppie skuins hou en Pa met een oog ’n verontwaardigde kyk gee. Ek lag ook vir die merkies wat Pa teen ’n plank maak: groter kerfies vir elkeen van die vier dae wat die druiwe op die dop gis en ’n klein kerfie vir elke keer wanneer die doppe in die sap ingedruk word. Vandat die son in die oggend opkom, moet dit elke twee uur vir twintig minute lank onder die sap gedruk word. Die rede: om die meeste geurmiddels en kleurstof uit die doppe te onttrek.

Proe en proe en proe kom in die plek van saag en kap en piksmeer. Ek kon dit nie verstaan nie. Dit was nou nie meer water wat sy voortbestaan bedreig het nie, maar die sap van ’n plant. Sy roeping het saam met die diere koers gekry. Die wye vlaktes in. Al wat oorgebly het, was sy belang by die vrug van die wingerdstok.

Die maak van wyn was een ding, maar die maak van ’n spesifieke wyn met ’n naam, ’n bottel, ’n etiket en ’n prys wat daarby pas, was totaal iets anders. ’n Wetenskap! Hoe lank die verouderingsproses moet duur, watter tipe prop die meeste glamour aan die wyn gee ... Ag, sommer alles het net vir my te veel geword.

Eintlik was dit die proe-taal wat my totaal ontsenu het:

“... komplekse aardse en seegrasgeure op die neus en in die mond, aangevul met sweempies van peper en minerale.

“’n  Prominente vars vleissmaak, vars vrugtesuur en gebalanseerde eiekehout-karakter.

“Rooi vrugte wat in die nasmaak talm.

“’n Dieprooi kleur met aantreklike aromas van bloekom, strooi en sjokolade wat ook in die mond uitstaan as prominente geure en op die nasmaak bly.

“Die houttanniene is in goeie balans met die vrugsuur en vruggeure.”

Woorde soos “terroir”, “hout-verouderd” en “geurintensiteit”, wat klink asof dit in gedigte hoort, hoor ’n mens tussen proe en spoeg. Die kommentaar op die kleur van die wyn was aanvanklik soos musiek in my ore: silwergroen, nippelpienk, robynrooi. Ek het na die nuwe boog teen die hemel gekyk en gemerk dat die kleure daarvan in die wyn herhaal word. Eers was ek nog beïndruk met die wynbedryf en het myself as deel daarvan beskou.

Maar proe en spoeg en praat word algaande proe, insluk, praat. Insluk. Insluk. Insluk. Versluk. Verstik. Proe en spoeg, proe en spoeg, saag en kap en pik aansmeer. Fok, dit word alles net vir my te veel. Die hele situasie is belaglik.

 

En toe het ek, Gam, gelag.

Nie vir wat ek gesien het toe hy daar so sonder sy klere lê nie. Liewe Vader, veertig dae en veertig nagte lank het dit gereën en toe moes die water nog wegtrek en die hele tyd was ons saam onder een dak. Het ek tóé gelag wanneer ek hom sien belt losmaak of broek optrek het?

Nou lag ek vir hom omdat hy hom in ’n situasie gekry het waar hy ’n bespotting van homself maak. En ek lag vir my broers wat sy naaktheid so sorgsaam bedek.

Met my lag spreek ek my keuse teen die misbruik van drank uit en téén die misbruik van enigiets. Ek is bereid om die gevolge van my keuse te dra. Al word ek nie geëer vir my gelag nie en al lyk dit asof selfs God my keuse nie verstaan nie.

Oorstromings en tsunami’s en Katrinas sal daar altyd weer wees – selfs in ’n  toenemende mate – maar die reënboog word vir my ’n simbool vir die onmoontlike keuses waartoe individue gedwing word sodat die aarde en die mensdom gered kan word. Keuses tot ingrypende leefstylveranderinge, soos my arkbouer-pa bereid was om te doen. Radikale keuses téén sinnelose gebruike, soos Abraham en Josef, Moses, Rut, Ester, Ghandi en Jesus gemaak het.

En al sal my keuse nie die ganse mensdom van ondergang red nie, sal ek bly glo dat my gewaagde lag as ’n stukkie kleur in ’n volgende reënboog sal verskyn.

 

 

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top