Oestyd-skryfuitdaging: Die dak lek

  • 1

Lena druk haar linkerduim teen haar tandvleis. Dis rou, daar waar gister nog twee wit voortande gepronk het. Sy sug. Sy stem nie saam met die gewoonte nie, maar Kerwick het aangedring.

“Sjuut, sjuut Meraaitjie. Kom, drink maar baby.” Sy laat haar agt maand oue baba aan haar bors suig. Daar is nie meer baie melk oor nie. Mens moet goed eet om te borsvoed en die geld is skraps. Sy en Kerwick wag vir die oestyd op die Boland se plase. Dan is daar baie werk. Gelukkig was die reëns goed. Sestig rand per dag sal brood op die tafel sit, honderd-en-twintig as Kerwick lank genoeg uit sy goedkoop-wyn-slaap kan kom. Dan kan hulle die lekkende dak ook regmaak. Dit was ’n nat winter in hulle kamertjie.

“Kom vinnig Lena. Daar’s moeilikheid!” roep Lena se buurvrou.

“Kan jy nie sien ek het my baba op die bors nie Anna – waar’s die moeilikheid?” Lena haal die slapende Meraai van haar bors af en staan op.

“Dis die plaaswerkers, Lena. Hulle strike!” Anna begin drafstap na die hoofpad se kant, gevolg deur haar drie kleintjies.

Lena lê Meraai op ‘n bondeltjie komberse op die vloer neer en skud aan Kerwick om wakker te word. Hy lê en snork op die enigste enkelbed in die vertrek. “Kerwick, jy moet gaan kyk, daar’s moeilikheid. Anna sê dis ‘n strike. Gaan hoor gou-gou.”

Dit voel vir Lena lank voor Kerwick terugkom. Intussen het ’n motreëntjie uitgesak, net soos dit in die Kaap kan gebeur. Sy sit ‘n emmer onder die lek in die dak. Kerwick stap in.

“Lena, dis groot, sê ek jou. Die werkers soek honderd-en-vyftig per dag, anders gaan die boere nie oes dié jaar nie.”

         
“Kerwick, ons kan nie strike nie. Sê nou die boere wil nie meer betaal nie, hoe gaan ons dan maak? Ons moet kos koop - en die dak lek!” Meraai word wakker en begin huil.

“Lena, ek sê dan, as die boere nie wil betaal nie, dan gaan hulle nie kan oes nie. Ons strike! Hulle moet betaal.”

Lena tel Meraaitjie op en haal haar bors uit, maar sy klap haar handjies teen Lena se bors en skud haar koppie wild heen en weer. Die melk is op.

“Kerwick. Jy moet loop melk koop. Meraai is honger en ek ook. Kry sommer hoenderpote ook. Daar is nog mieliemeel.”

“Met watse geld Lena?”

Sy haal ’n twintigrandnoot uit haar bra. “Melk en runaways, hoor jy Kerwick? Nie wyn of bier nie!”

Kerwick bly lank weg. Meraai huil sonder ophou. Lena se buurvrou kan nie ’n stukkie brood afstaan nie. Waar is jy, demmit Kerwick? Lena sien hom aangestrompel kom. Hy’t weer gedrink!

“Kerwick, jy bloei!” Lena help hom om op die plastiekstoel buite die deur te sit en haal die halfliter melk uit sy hand. “Wat het gebeur?”

“Lena, die werkers brand alles af! Daar gaan niks oor wees om te oes nie.” Lena het haar man nog nooit gesien huil nie. “Hulle brand tot die trokke waarmee ek moet vrugte aanry af, Lena!”

“Ek het mos gesê ons moenie strike nie, Kerwick. Sien jy nou wat gebeur.”

“As ons nie strike nie, Lena, sê hulle hulle gaan ons huise afbrand!”

“Wie sê so, Kerwick? Ek kan mos nie met Meraai ga staan en strike nie!”

“Die organisers vir die strike, Lena – Cosatu!”

Meraai kom kermend uitgekruip en Lena tel haar op om haar melk te gee. Sy loop haal ’n leë bierbottel en bring ’n nat lap om Kerwick se kopwond af te vee. Dis darem nie te diep nie.

“Kerwick, luister nou mooi vir my.” Lena se hande bewe. “Jy gaan môre vir Meneer loop sê ons wil nie saamstrike nie. Hy moenie ons punish nie. Ons sal werk vir wat hy wil betaal. Meraai is honger, Kerwick!” Sy trek ’n tiet oor die bierbottel se nek.

“Ons kan nie Lena. Daar’s rumours dat die vroue wat nie strike nie, verkrag gaan word as hulle by hulle huise bly!” My man begin weer snik. “Ons kan nie Lena. Wat van Meraai?”

Meraai verstik amper aan die melk in die bierbottel. “O, sorry baby. Jou ma kyk nie wat sy doen nie. Kerwick, wat gaan ons doen?” Lena begin huil. “Meraai is so klein nog.”

***

Lena en Kerwick staan op die N1 saam met duisende ander plaaswerkers. Orals lê buitebande en goed rond wat brand of rook afgee. Lena hou Meraai styf op haar heup en staan bietjie eenkant toe sodat Meraaitjie nie vertrap kan word nie. Kerwick beweeg saam met die gestoei vorentoe. ’n Vrou met ’n mikrofoon stap in Lena se rigting.

“Wat is jou naam?” vra sy beleefd. Die man by haar rig sy kamera op Lena.

“Ek’s Lena, Mevrou, en dis Meraai.”

“Waaroor gaan die strike, Lena?” Waar was sy die hele tyd?

“Oor meer geld, Mevrou.”

“Hoe voel jy daaroor, Lena?”

Watse vraag is dit? “Ons hoop maar die boere wil ons meer betaal, Mevrou. Dis harde werk en sestig rand ’n dag is maar min – vir kos, en ons dak lek ook. Mevrou weet?”

Kerwick het tussen die skare verdwyn. “Verskoon my, Mevrou. Ek moet my man loop soek.”

Ses polisievangwaens kom aangery en versper die pad met hul voertuie. Swaar-gewapende polisiemanne klim uit die voertuie en begin die skare uiteenjaag. Skote word afgevuur.

“Kerwick, pasop!” Lena roep te laat. ’n Koeël tref Kerwick in die bors en hy val neer. Die joernalisvrou is eerste by hom.

“Kerwick! Kerwick!” Hy antwoord nie. Meraai gil en wriem om haarself uit Lena se arms te kry. Sy wil na haar pa toe gaan. Lena hou haar stywer vas. Die polisie stamp Lena en Meraai weg en probeer Kerwick bybring. Iemand bel vir ’n ambulans.

***

Daar is meer mense by Kerwick se begrafnis as wat Lena geken het. Dieselfde joernalisvrou en haar kameraman is ook daar, en Meneer en Mevrou. Lena stryk haar hande selfbewus oor haar geleende swart rok.

“Lena, ek is jammer oor Kerwick. Hy was een van my beste werkers.”

“Ja, Meneer, dankie Meneer. Ek’s ook jammer. Ons wou Meneer nog kom sê ...”

“Ons wil hê jy en Meraai moet in ons buitekamer kom bly, Lena. Dan kan jy eerder in die huis werk. Kerwick het gesê julle dak lek?” Mevrou praat met ’n sagte stem.

Lena begin saggies huil en hou Meraai stywer teen haar bors vas. “Ja, Mevrou. Ons het nooit die geld gehad om ons dak reg te maak nie, maar Mevrou, ek sal eerder in my en Kerwick se huis wil bly, as Meneer net sal help om die dak se lek reg te maak.”

 

 

 

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Baie mooi storie Madeleen, dit het my na aan trane gehad en dit is so van toepassing nou.  Hou aan skryf, dit is in jou bloed. Sterkte vorentoe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top