Odette Schoeman skitter in haar debuutroman, Swartskaap

  • 1

Titel: Swartskaap
Outeur: Odette Schoeman
Uitgewer: Kwêla Boeke (NB-Uitgewers)
ISBN: 9780795702853


Odette Schoeman het voor Swartskaap nooit meer as 'n bladsy op 'n slag geskryf nie. Sy het geen letterkundige opleiding nie, maar het wel die droom gehad om haar eerste boek voor haar 30ste verjaarsdag die lig te laat sien. Sy het geen groot verwagtinge of illusies gehad nie en wou maar net 'n storie vertel. Toe die bekroonde skrywer Jeanne Goosen egter haar debuutroman lees, erken sy ruiterlik dat "... Swartskaap die eerste Afrikaanse roman is wat my aan't huil had". Wanneer jy Swartskaap lees, besef jy baie gou hiér is 'n aangrypende verhaal van leef en oorleef deur iemand wat wéét hoe om nie net 'n storie te vertél nie, maar dit as't ware aan die leser te wýs.

Swartskaap vertel die lewensverhaal van Claudie Thompson. Dit is 'n verwikkelde verhaal van armoede, ouers met 'n misplaaste begrip van liefhê en sorg, van onvoorwaardelike kinderliefde, seksuele misbruik, huise sonder kos en meubels, lewe in die koshuis, die goed en sleg wat in elkeen van ons bestaan, en uiteindelik die vervolmaking van 'n lewe sonder berou.

Odette Schoeman verduidelik aan Jaco Botha, in 'n onderhoud vir Rapport se webwerf, dat die storie grotendeels fiktief is, maar dat 'n beduidende deel van die ervaringe van Claudie Thompson die verwerking is van insidente wat werklik met haar of goeie vriendinne wat haar pad gekruis het, gebeur het. Claudie se verhaal is die verhaal van talle jong meisies, en daarom is dit belangrik om dié verhaal te vertel.

Claudie se verhaal begin in werklikheid lank voor haar geboorte: "Die moeilikheid het begin nog lank voor die oggend toe ek gebore is. Ek het nie geweet waarin ek my begewe nie. Ek was onskuldig én onwelkom. My ma en pa was natuurlik die twee culprits" (13).

Haar ouers, Lisa en Faan Thompson, is nou nie juis die toonbeeld van jou normale, alledaagse ouerpaar nie. Maar om te verstaan wie hulle vandag is, moet jy eers weet waar hulle vandaan kom en in watse tye hulle grootgeword het. "Hulle is altwee in die 1950's gebore in brandarm huise aan die verkeerde kant van die treinspoor, en al twee se pa's was alkoholiste" (14). Haar ma was een van dertien kinders en Claudie se oudste boetie, Bennie, glo dat dít die oorsprong van haar donker kant is. Hy sê mens kan nie geboorte gee aan dertien kinders en glo dat almal normaal sal wees nie. Haar pa moes as jong seun voortdurend die mishandeling van sy alkoholis-pa verduur en dít het blywende letsels gelaat. Hulle tekortkominge as ouers, wat deurgaans in die verhaal duidelik word, kan byna verstaan word, en selfs al is dit teësinnig, voel ons 'n mate van empatie vir Claudie se ouers.

Claudie het ses boeties en een sussie, maar haar ouers se stormagtige huwelik het tot gevolg gehad dat net Theuns regtig haar boetie is. Claudie maak baie vroeg in haar lewe kennis met goed en kwaad. Haar vroegste herinnering neem haar terug na die ouderdom van drie, toe sy en Theuns by 'n vreemde man en vrou moes bly en die man haar molesteer. Dít is die begin van baie eindes vir Claudie. Haar pa is kort hierna tronk toe en haar ma en pa besluit om te skei. Dit is egter net die begin van moeilike grootwordjare wat sal volg, en van hierdie oomblik af lei Claudie-hulle 'n nomadiese bestaan en vestig hulle nooit lank op een plek nie.

Haar ma se desperate soektog na 'n ridder op 'n wit perd lewer egter net ongure karakters in afgeslete motors op. Wanneer daar wel 'n goeie man, 'n tipe vaderfiguur, in hul lewe kom, is dit haar ma se gedurige uitbarstings, dikwels die gevolg van 'n kombinasie van Valium en Syndols, wat hom uiteindelik sal verdryf. Claudie en haar boeties vind egter hul toevlug in die koshuis en die meeste vakansies kan hulle nie wag om terug gaan na die veiligheid van die koshuis nie. Hulle is tog almal "swartskape" daar.

Wanneer Claudie se pa uit die tronk kom, hoop sy dat haar wense vir 'n normale lewe sal waar word. Sy leer egter baie vinnig dat om 'n muntstuk in 'n wensput in Boksburgmeer te gooi, geen waarborg van 'n gelukkige einde is nie. Claudie kry nooit die kans om net 'n kind te wees nie en op elf is sy al klaar moeg baklei: "Al die woede, haat en frustrasie in my het stilgeraak. Al wat oorgebly het, was 'n gevoel van algehele hartseer en verlies. Miskien het ek maar net grootgeword" (242).

Die verhaal beklemtoon egter deurgaans dat niemand nét sleg of donker is nie. Alhoewel Claudie se ouers ‘n misplaaste begrip van goeie ouerskap het, probeer hulle wel vir hul kinders sorg, al is dit dikwels op 'n waansinnige wyse. Claudie se pa weier byvoorbeeld dat sy kinders in die weeshuis bly en ontvoer hulle; en haar ma besluit een Kersfees dat Bennie vir sy boeties en sussies elkeen 'n fiets moet steel sodat hulle ten minste 'n geskenk sal hê.

Die einde van Claudie se verhaal word op só 'n wyse gestruktureer dat elke leser self kan besluit of elkeen gekry het wat hy of sy verdien en of dit wel 'n gelukkige einde is. Die vraag ontstaan ook of die kringloop van armoede en mishandeling hom in die lewens van Claudie en haar boeties en sussie sal herhaal.

Claudie se verhaal is egter nie net mismoedig nie, maar een van leef en oorleef, en Claudie vind wel haar eie manier om te oorleef, dikwels met snaakse nagevolge. In haar vertelling van Claudie se lewensverhaal slaag Odette Schoeman daarin om voortdurend 'n humoristiese ondertoon te handhaaf. Die humor is baie natuurlik en doen nie afbreuk aan die outentisiteit van die verhaal nie. Die leser se hart sal telkemale breek, maar tussen die trane van hartseer deur is daar ook trane van vreugde, want kinders wat van kleins af na hulself moet omsien, beland dikwels in die vreemdste en snaaksste situasies.

'n Verdere aspek wat dié verhaal baie geslaagd maak, is die wyse waarop elke karakter ten volle ontwikkel deur die loop van die verhaal. Alhoewel daar verskeie karakters teenwoordig is, verseker Schoeman dat elke karakter sy of haar eie stem en persoonlikheid vind. Die goed en kwaad, hartseer en blydskap in elke karakter word volwaardig omskryf. Soos wat Claudie en haar boeties deur verskillende lewensfases beweeg en grootword, maak Schoeman suksesvolle aanpassings ten opsigte van hulle stemtoon, lewensuitkyk en persoonlikheid. As klein dogtertjie verstaan Claudie nie wat gebeur wanneer sy seksueel misbruik word nie (sy is nie eens seker hoe om dit te beskryf nie), maar as volwasse vrou besef sy die onreg wat haar aangedoen is en die verlies van onskuld wat daarmee gepaard gegaan het.

Odette Schoeman skryf op 'n wyse wat dié verhaal toeganklik en relevant maak vir elke leser. Sy fokus ook daarop om nie net Claudie se lewe te skets nie, maar ook 'n beeld te verskaf van die wêreld waarin Claudie haar bevind. Dit word egter sterk aanbeveel dat dié verhaal meer as een keer gelees word, want daar skuil verskeie verrassings en wonderlike oomblikke onder die oppervlak wat met die eerste oogopslag gemis kan word.

Met die verskyning van Swartskaap vind drie belangrike dinge plaas. Eerstens word daar verskeie belangrike sosiale kwessies oopgeskryf op 'n wyse wat dit vir alle lesers toeganklik maak.

Tweedens word ons herinner dat goeie mense in sekere omstandighede sleg kan word en slegte mense in dieselfde omstandighede goed kan word - die keuse is joune.

Laastens bevestig Kwela met die verskyning van dié boek dat die toekoms van die uitgewersbedryf geleë is in die ontginning van nuwe talent. En Odette Schoeman verteenwoordig definitief opwindende, nuwe talent.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Maryna van den Berg

    Dit is 'n ongelooflike eerlik verhaal van Claudie. Sterk karakters en heerlike leesstof gewees om ure se leesgenot te verskaf.
    Ek het ongelukkig my boek uitgeleen en nooit teruggekry nie. Waar kan ek een koop asb?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top