
Foto: Canva.com
Ode aan ’n plaaswerker
Ode aan Jack
(ons getroue plaaswerker van lank gelede)
dis jy,
man van afrika,
wat een skone dag
ligte in die suidland
sien uitslaan het.
uit afrika se smeltkroes
gekom het ...
’n man
’n mens.
strydwaens agtergelaat het,
en
vol van hoop
jou hand en hart
vir brood
by ons
kom ruil het ...
dis jy wat toe die winde koud gewaai het,
die riviere droog geword het,
die son in die môre wraak gesweer het,
die dag se ure lank geword het,
die vyeboom geen oes gebring het …
nog steeds, langs vure in die nag,
jou kitaar uitgehaal en ’n lied van afrika gesing het …
dis jy
wat gebuk het in die strale van die son
wanneer die mossies teen die hitte in die bome skuil ...
wat jou voete laat dans het
waar die duwweltjies lê.
die goeie grond se oes
help bring het ...
net gelag het
as die honger wildehonde blaf.
en saans by nuwemaan
’n nuwe lied gesing het ...
jy het nie tóé,
met sekel in die hand,
geweet nie,
of net gegis nie,
dat as die winde van verandering
eendag waai,
dat jy dit net sal mis nie ...
want jy
het nooit
by ’n feesmaal aangesit nie …
’n kredietkaart geswipe nie,
in ’n katedraal aanbid nie ...
sing dus maar jou lied
afrika-man.
sing van jou drome,
van al die dae
wat jy langs die pad verloor het ...
van jou moed en deug
verdwaalde beeste in die veld …
van voorvader-trots
jou onoorwinlik’ jeug ...
sing van milde dae
toe ons saam
ons rykdomme getel het.
offerande aan die gode
sonder vrees gedeel het ...
help-mekaar se pak gedra het.
dit was tóé
dat jy vry was
en ek jou hart hoor klop het.
sag en dringend ...
soos die tromme
van afrika ...


Kommentaar
'n Besonderse en uitmuntende gedig, Coen Groenkloof. Ek wil jou graag verwys na http://nicoschamrel.com/ns-liefdadigheid-charity
Dankie vir hierdie plasing.
Baie dankie Nico.
Ek waardeer jou woorde.
Jy het egter my van foutief.
My van is Vollgraaff
Jammer, maar jou van verskyn nie in die bogenoemde nie.
Nico ek wil nie n issue maak nie maar jy het uitdruklik geskryf:
" n Uitmundende gedig Coen Groenkloof"
SO jammer - Ek het geen idee hoe ek die fout begaan het nie COEN VOLLGRAAFF - hoop jy voel nie te gekrenk nie.