Obama kom land binnekort. Met skepe en vliegtuie en die gewone goeters waarmee die Amerikaners 'n land inval wat hulle lankal verower het. Ek hoor die strate gaan weereens afgekordon word en die blye gepeupel gaan moet tanne kners in die euforie van die blye boodskap.
Ek sou dink die ganse land sal sekerlik tot stilstand kom dat hierdie seun (half en half) van Afrika terugkeer na sy erfgronde toe. Het ek nie net hier gelees net noudiedag hoe eufories die polssnyers en ladiedas tekere gegaan het toe hierdie kind (wel, half en half) van Afrika verkies is nie? Die outjies wat gewoonlik teem en kyf en lofliedere sing het hande gerys in die nuwe hoop wat gaan gebeur. Weereens beduie hoe sleg Boes die .... is en gevloek en geraas en rumoer oor enigeen wat dit sou durf waag om 'n spanner in die werke te gooi. Irak en die bedrog daarom was nog nie eens in die verlede nie en Afganistan was nog 'n vars bries in die Amerikaanse optog. En kyk terug hoeveel outjies wat soms steeds maal en raas en rumoer as jy hulle kano skud het die gewone geraas gemaak.
Een vir een het hulle stemmetjies in die vergetelheid van die warm son van Irak en Afganistan en Sirië weggesink tot, wel, nie eens meer 'n gemor gehoor word nie.
En nou kom die gesalfde land. Oorlogskip en vegvliegtuie en pantser limo's die werke. Kom om te conquer soos die rooies sou beduie. En skielik raas die mense weer. Want nou wil niemand hom meer hier hê nie. Nou is hy skielik net so sleg soos Boes die .... en ek probeer steeds beduie dat Boes die ..... nie eintlik so sleg vir Afrika was nie al was hy ook maar, soos enige president, koning, keiser, despoot, fuerer of leier van Die Party of beweging, wel, boos. Want onderdane vra nie vrae nie. Hulle probeer met slim redenasies en slim woorde en slimmer aanhalings dit wat hulle net gister nog gesê het met presies dieselfde aanhalings relativeer om presies die teenoorgestelde te probeer bewys of beweer.
Ek lees dat arme Obama nou, presies net soos Boes die .... ook as die antichris uitgemaak word en ek wonder wat de hel van die euforie geword het en hoekom niemand geluister het toe mense wat minder dink en baie baie dommer is, probeer beduie het dat die Amerikaanse stelsel, wel, anders werk as wat ons dink en dat jy netsowel 'n kruppel, blinde persoon met die IK van 'n standaard Drone kon verkies het. Dit sal geen verskil maak nie.
Nou stry selfs diegene wat Obama as die nuwe Jesus aangekondig het onder mekaar want nou is hy, hehehehe, Persona non Grata juis onder diegene wat hom gewens het om die wêreld te verower. En toe hy dit wel doen, op sy en sy voorganger se manier toe is almal skielik verbaas?
Een ding weet ek verseker: daar is meer wysheid in 'n druppel van die Blou Dam se waters as wat daar in die ganse slim geleerdes gesamentlik is. Wel, daar is meer integriteit in 'n deursnee spoelklip wat jy op die strand optel as ons ganse samelewing. Was of is Obama sleg? Ek voel werklik 'n vaal kol want ek dink steeds Boes die .... was goed vir Afrika. Dit is tragies dat Obama nie vir nog twee termyne kan dien nie, want as hy Suid-Afrika kan verower met een skip, imagine wat hy met sy drones kan doen. Dalk is dit die rede waarom selfs die mees uitgelekte intellektuele idiote hom nou, ewe skielik, verag?
Wys jou: Sommige mense kan jy bloot net nooit tevrede stel nie, en al sou jy kon, sal hulle jou skiet omdat jy dit wel gedoen het. Soos wat hulle nou met die eerste sg Afrika President van die Amerikas doen.
oester

