
Foto: Canva
o oervader o oermoeders dis tyd
op die lang spoor van my stamfamilie
sodat ek die arabiese syfer vleesloos kan sien
van hoeveel hulle my murg en been as erfenis voorsien het
daarom tydlangs onadamies rigting die eerste tuin
begin ek met ’n paartjie beslis nie heeltyd kat en hond
dus net met my twee ouers
hul twee se oubase en ounooiens was vier
en daarvóór die grootjies – agt van hulle
en vroeër daardie agt se sestien oues
neem ’n stappie deur die koppelingteken terug
na twee-en-dertig groot-grootgrootjies
wat nodig is vir die snoertjie
van die laaste vyf geslagte voorouers
van my maar kyk die toneel ’n twintig generasies tevore
as ek kalendergewys datums wil lug
kom ek maar by circa 1475 aan
(nogal renaissance-tyd en my familie se westerse ego swel uit)
ja, met twintig generasies ver die verlede in
bevolk die aantal al so te sê ’n kleinskaalse stad
of is selfs dalk ’n teruggetrokke nasietjie beskore:
mooi eenmiljoen agt-en-veertigduisend vyfhonderd-ses-en-sewentig
– die gevolg van soveel parings aaneengeskakelde barensnode, telge
moedersknieë manne oorlewing om den brode herhaling verwek
tot siele voorstelbare voorsate wat nou sweef in my bloed se tou
so kry ek die idee van ’n ware skaar
opsienbaar agter my opgeloop oor minder as seshonderd jaar
teen dertig geslagte terug stoot die voorgangersyfer al oor ’n biljoen:
die nulle rek elk is spesiaal jy vat ’n kwarteeu as maatstaf vir ’n geslag
ek reken niks verder uit nie stuit in swart op wit geskok
teen 1250 AD die getal en die tyd vir eers versoen
(ons regte dietse taalwortel lyk toe só: “doe quamen tes sconinx hove
alle die diere, groot ende cleene, sonder vos reinaert alleene”)
maar hoe pluis jy ooit die statistiek en taal uit jou prehistoriese verskiet?
o oervaders o oermoeders
en waarmee kwalifiseer jy die doel?
*
u almal – ek eer die afstand, vermy ’n familiêre “julle” – ek leef
as verwante vreemdeling in die profane sfeer van ’n tegniese opploffing
(óp ja soos destyds by babel)
ek sien ’n logiese einde
hier vandag vanaf die voortou

