''o, die hart is 'n buitelende/ soeker na vryheid en geregtigheid, meneer'': Joan Hambidge resenseer Breyten Breytenbach se Die Windvanger

  • 0

Die Windvanger
 

Breyten Breytenbach
H&R
ISBN 100 7981 47504
Sagteband, 178 bladsye
 

o, die hart is ’n buitelende/ soeker na vryheid en geregtigheid, meneer -

(“Die heildronk”, p 136)

I

Die maer man met die groen trui

’n Breytenbach-bundel is altyd ’n gebeurtenis in Afrikaans. Breytenbach se komplekse verhouding met Afrikaans, Afrika en die Afrikaanse letterkunde maak sy resepsie besonder interessant. Jy kan nie die gedigte lees sonder om die openbare figuur te betrek nie. Dit was ook die geval met Pablo Neruda. Die sosiale kommentaar wat Breytenbach lewer – ’n mens dink hier aan sy faux-resensie van Chris Brink, voormalige rektor van die US, se boek oor Afrikaans – lewer altyd sterk kommentaar. BB is satirikus en kommentator. Dikwels is sy kritiek in die kol. Hy ontsien egter niks of niemand nie. En as jy aan die ontvangkant van sy skerp tong staan, moet jy dit maar laat verbygaan. Niemand kan sy woordvaardigheid ewenaar nie.

Die jongste bundel heet Die windvanger, wat pragtig uitgegee is deur Human & Rousseau-uitgewers.

Vir Papierblom ontvang hy – as Jan Afrika – die Hertzog-prys. Inmiddels is daar belangrike versamelbundels van Breytenbach gepubliseer: Ysterkoei blues (gedigte 1964–1975) en in 2005 verskyn Die ongedanste dans (Gevangenisgedigte 1975–1983).

Breytenbach is ’n waterskeidende digter. Niemand het vóór hom in Afrikaans so gedig nie en ná hom het daar vele akoliete en navolgers gekom. Hy het die kontoere van die Afrikaanse digkuns verander met sy voorstelling van die gefabriseerde “ek” in die gedig; sy inbring van die Zen-Boeddhisme; die lyflike of organiese beeld; die invoer van die eksotiese wêreld, soos in Lotus, wat die eng-Calvinistiese aura van die Afrikaanse poësie onkant betrap het; die idee van transformasie wat onder die leser se oë gebeur in ’n eiesoortige metarefleksie; die gelykstelling van lewe en dood: lewendood; reïnkarnasie en die wederopstanding van verse in puik (self)gesprekke en parodieë op en gesprekke met ander digters, veral in die tronkverse; die gedig wat heenwys na die beeldende kuns van die skilder, Breytenbach; die verkleurmannetjie wat as Jan Afrika, Jan Blom en in vele ander gedaantes optree. Hy is ook ’n soort Buffalo Bill.

So moet ’n mens dikwels sy vaarwel aan die Afrikaanse leefwêreld begryp: hy gaan letterlik weg en keer terug as ’n getransformeerde digter/persoon. Hierom verwys hy dan ook na homself as ’n “dooie digter”.

 

II

Wat die hart van vol is

In Die Windvanger – ons hoor hier “catch me a star”, maar ook die futiele proses van winde “vang”, winde-van-verandering, en die banale gedagte van wind-opbreek – is daar ’n bestekopname van die digkuns. Die digter keer letterlik terug na sy eie werk in elegiese verse.

Reis, tyd, liefde, dood word volgens die publikasiestuk gekoppel aan die kwelling oor die doeltreffende woord. Inderdaad ’n kwelling, maar wat die leser meemaak, is ’n ongelooflike proses van kreatiwiteit in beelde wat ’n mens aanstip:

  • trek die onweer laer (p 18)
  • asof ’n fata morgana vertraan het (p 21)
  • (om die helder ekstase van pyn te reflekteer) (p 25)
  • en die taal asyn aan die lippe (p 26)
  • ons aai die sot wurm van bewustelik lewe (p 29)
  • en meeue teen wind is perfekte parabole (p 37)

By Breytenbach vind jy in die soektog na die finale, beslissende woord ook die gevoel dat die digkuns nutteloos is:

in ’n verre land van holtes en niet
waar die reis soos hierdie gedig
dooie woordsaad skiet (p 25).

Juis hierom word die skryfproses dan aan ontlasting gekoppel, letterlik aan die banale beeld wat die digter agter hom wil laat. Wat hy gelykstel aan uitskot of kak.

 

III

Die gat in die lug

Die bundel verwys dikwels na New York en die tragedie van 9/11. Breytenbach is besoekende professor in Kreatiewe Skryfwerk aan NYU en sy destydse reaksies op hierdie Oordeelsdag word ook in hierdie bundel opgeneem. Die aangrypende vers "New York, 12 September 2001” vra:

sal enige gedig eendag iewers ooit genoeg gewig mag hê
om ’n handskrif te laat wat praat van val en vergeet
sal die dood aanhou ritsel in die papier (p 57).

Die interteks met Villon (“op my eer as dief”, p 19) en die gesprek met Allan Ginsberg se “Howl” is opvallend in hierdie eerste afdeling (“oor ons onsigbare roete gepyl/ daar was geen engele bo die wolke nie”, p 27)1.

Gedig nommer 9 – gerig aan die vader – moet saam met “brief van hul vakansie” gelees word uit die derde afdeling, “lappesait”. Hier beweeg ons in die digter se werkswinkel in en sien hoe sy beeldassosiasies werk en hoe hy as’t ware ’n gedig “fabriseer”. Die eerste, tweede en derde afdelings laat ’n mens beweeg van vers na inspirasie, en terug na vers.

“’n Flentervers” (p 61) neem weer die vaderfiguur in oënskou:

op sy vier-en-sestigste skryf ek vir my pa ’n gedig
waar hy wit en ver en byna blind
regop teen die branders beuk,
min wetende dat die dood hom daarvandaan soetjies-soetjies
aan die halter om die nek kou sou lei
na die kilte en dit stilte van kussings.

Dit tree natuurlik in gesprek met “’n brief van hulle vakansie”2, waar die seun Breytenbach sy skatpligtigheid aan die vader erken en besef dat hy al hoe meer soos die vader word: enersyds “grootbek”; andersyds weerloos.

“die kommunis onthou” is ’n gedig vir sy verjaarsdag geskryf op 16 September 2004 met die pynlike wete:

so word jy sterwende woord vir woord
met die wonderwerking van die dood versoen (p 65).

Alle gelowe (dus ook alle ideologie) lei tot slagting en ontnugtering. Hierdie gedig is waarskynlik ’n bekentenis oor die digter se volledige ontsetting oor presies dit waarvoor hy gestaan het, nou ’n nuwe “smeulende einder” geword het.

In die vyfde afdeling (“reispapier”) word ’n nuwe geboorte aangekondig, in lewe en in skryf met die wete:

en alle bloed is verspilde ink
oor hierdie afwesige bladsy (p 73).

Dit is hierdie unieke aanwending van die oksimoron wat die leeservaring van Breytenbach se digkuns só opwindend maak. Iets is daar; maar ook nie daar nie. Jy word (Zen)Boeddhisties gedefinieer juis in jou niksheid. Lewe en skryf is ’n eindelose reis van “glans en verskieting” – dit is daar, maar terselfdertyd afwesig (p 75).

Hierom is die liefde ’n rook: efemeer, verganklik, ’n preweling.

In die sesde afdeling (“die hart se dinge”) word die geliefde uit Hanoi aangespreek. Die geliefde wat in Afrikaans bestendig is in van die aangrypendste en mooiste liefdesgedigte en “passie vir passie die dans laat vergaan in glans” (“ek onthou”, p 83).

Die geliefde word dikwels aangeroep uit vreemde plekke as ’n afwesige persoon wat hy in die herinnering besing in gedigte wat deur niks aangetas of geskend kan word nie.

Immers voltooi die digkuns wat die geskiedenis nalaat (“Goya”, p 93), net soos die liefde in hierdie oeuvre die vuur is wat die digter voortdryf. Sy is die ondefinieerbare oorgang tussen lewe en dood, ervaring en gedig. Sy word beskryf as “liefdestog”, dws ’n reis. In “vertaling/ the cup of words” (p 103) word die geliefde besing in twee tale, ’n ervaring van die tegelykertyd-heid van die proses van waarneming en skryf. Sy word dus direk aangespreek in ’n taal wat sy kan verstaan en lees.

In afdeling 7 (“akkediskak”) word die ewigdurende galme van stilte beskryf, eweneens ’n toestand van die paradoks.

’n Verstommend openbarende vers is “belydenis”, waarin die onmoontlikheid van die digterlike besegging bely word:

ek het probeer
ek het hard en bitter geprobeer
om ’n groot gedig te skryf
en soms darem dit opgebring
wat in die plek daarvan kon staan (p 119).

Hierdie selfkritiek – wat die leser nie deel nie – is vanselfsprekend deel van die melancholie van die digter wat besig is met sy eie digterlike testament, en in hierdie verband flits die afdeling as geheel terug na Tristia. (Hierom dan later ook ’n parodiese verwysing na Louw se “Vroegherfs” in die skittervers “Klein-Karoo-reis oor ’n bergpas”, p 138.)

Die digter is ’n “filosot”, onmagtig om die wêreld tot inkeer te bring.

In die agste afdeling (“die windvangerlied”) is daar ervarings van Parys en Gorée, ruimtes waarin die digter vir lang rukke per jaar vertoef. Ook Nederland en Washington Square word die ruimte waarteen die digter sy gevoelens terugkaats vir die leser.

In “Koong Byten 1” vind ons die vernuftige taalspel wat menige leser – veral op Stellenbosch – onkant betrap het.

In die negende afdeling (“opsystaan”) word die getal 9 as heilige getal beskou: 9.9 – die getal van die kluisenaar, die inkyker.

Weer vind die leser verse oor die onmag van dig: oa met die eet van ’n eier word besef dat hy dooie saad eet.

Rimbaud, ’n vorige gespreksgenoot, se kouevuur word weer verbeeld en in ’n aangrypende vers word Sheila Cussons – van wie daar vanjaar ’n versameling gedigte verskyn het – aangespreek (“gedagte, 26 November 2004”):

’n gedagte vir Sheila Cussons
sy wat sulke mooi gedigte uit papier kon toor
totdat die vel in vuur ontvlam het /
sy die minnares wat die ou sanger se hart
in haar hand kon hou lewe
sy die skilderes wat die hemel se blou stiltes
hoor bewe het bo die heilige berg van Katalonië (p 175).

Die slotvers (en slotte is dan ook sleutels, soos ’n ander groot digter gewaarsku het) heet “die laaste gedagte”, ’n fantasie in teregstelling en van die dood. ’n Aflegging van die self wat dui op ’n wederopstanding in ’n volgende bundel, ’n volgende teks.

 

IV

(vers as boodskapper)

Dit spreek vanself dat dit ’n opwindende bundel is en op elke boekrak van ’n liefhebber van die Afrikaanse digkuns moet staan. Daar is maar één Breytenbach, maar in vele gedaantes keer hy terug na die toneel van die Afrikaanse letterkunde, die Suid-Afrikaanse ruimte wat hy dikwels in die openbaar afsê/verlaat. Maar hy staan op uit die dode, reïnkarneer voor jou oë en dra die karma van sy hele poëtiese bydrae saam. Op papier en in woordmusiek, op ’n ramkietjie op soveel snare. Boetie, hy vertel jou die storie van ál sy sterftes, om ’n ander groot digter ’n bietjie aan te pas. As hy Afrikaners striem, as hy kwaad word oor die T-opsie, raas met Max of wie ook al, is omdat hy die ontnugterde blik-van-buite het.

Dit is ’n bundel wat my teruggeneem het na die Versamelde gedigte van Neruda, my weer laat kyk het na Uys Krige se vertalings van Spaanse gedigte3, oa sy lieflike vertaling van Neruda se “Peinsende”:

Peinsende, terwyl ek skaduwees saamvleg in diepe eensaamheid.
Ook jy is ver weg, helaas, verder as wie ook al,
peinsende, terwyl jy voëls vrylaat, beelde laat verdwyn,
lampe begrawe.

Kloktoring van mis, hoe ver tog, daarbo!

Soos Krige sluit Breytenbach aan by die Romaanse tradisie wat in Afrikaans deur te min digters beoefen word. Sheila Cussons het wel by hierdie tradisie aangesluit, soos Breytenbach dan ook aantoon in ’n huldigingsvers. Dit is ’n bundel wat ’n mens weer terugneem na Harold Bloom se twee studies oor die digkuns, The anxiety of influence en A map of misreading waarin hy oa verwys na die konsep van die “Apophrades”, die terugkeer uit die Dode. Soveel buitelandse digters word deur Breytenbach lewe gegee – in Afrikaans. Hy keer ook terug na die reeds gepubliseerde verse, dws “dooie verse”, en gee dit weer lewe. Bloom verwys eweneens na “the breaking of the vessels” om hierdie proses te verduidelik: die kruike word gebreek om die gees vry te laat ...

Die vader wat hier aangespreek word, is al die vaderdigters waarmee die digter al vir soveel jare goël: Rimbaud, Villon, Neruda, en Alonso Quijado, die ewige spel met die Don Kiesjot.

Die tydloosheid van die verse, ofskoon die digter kla oor die “toekoms wat soos ’n dooie hond stink” en die “swart vlinders van die tyd”, maak van die leser ’n dansmaat.

Vir die óngedanste dans.

 

Endnote

1 ’n Uittreksel uit Ginsberg se “Howl” soos skitterend vertaal deur Johann de Lange. Dit is gepubliseer in Spilpunt, 06 Augustus/November 2005.

HOWL
’n vertaling

I
Ek het my generasie se briljantste breine gesien, verwoes deur
waansin, honger, histeries, naak,
wat hulleself teen dagbreek deur die negerstrate voortgesleep het op
soek na ’n toornige naald,
engelagtige eendsterte brandend na die antieke hemelse konneksie
met die sterredinamo in die masjinerie van die nag,
wat armoedig en verslons en hol-oog sit en rook het in die bonatuurlike
donkerte van kouewaterwoonstelle drywend oor die dakke
van stede denkende aan jazz,
wat hulle breins ontbloot het voor die Hemel en onder die El en
mohammedaanse engele sien steier het op woonsteldakke stralend verlig,
wat deur universiteite gegaan het met stralende wyse oë en Arkansas
en Blake-lig tragedies hallusineer tussen die studente van oorlog,
wat uitgeskop is uit die akademies vanweë hulle waansin en die
publikasie van odes oor die vensters van die skedel,
wat weggekruip het in ongeskeerde kamers in onderklere, en hulle geld
verbrand in asblikke en luister na die Vrees deur die muur,
wat gearresteer is in hulle openbare baarde terwyl hulle terugkeer
na New York via Laredo met ’n gordel vol dagga,
wat vuur eet in hotelle wat geverf word of terpentyn drink in Paradise
Alley, dood, of hulle torso’s nag na nag vagevuur
met drome, met dwelms, met wakende nagmerries, alkohol en piel en eindelose
ballas,
onvergelyklike blinde strate van sidderende wolk en weerlig in die
gedagtes wat spring na die twee pole van Kanada en Paterson,
en al die beweginglose wêreld van Tyd tussenin verlig,
Peyotevastighede van gange, agterplaas groenboombegraafplaas-
dagbreke, wyndronkenskap oor die dakke winkelvenstervoor-
stede van toiletpiel plesierritte neon flikkerende verkeersligte,
son en maan en boom vibrasies in die dreunende winterskemers
van Brooklyn, asblikskreeuery en bedagsame koningslig van gedagte,
wat hulleself vasgeketting het aan moltreine vir die eindelose rit
van Battery Park na heilige Bronks op bensedrien totdat
die lawaai van wiele en kinders hulle weer terugbring
sidderend speekselmond en verpletter yl van brein
heeltemal gedreineer van briljantheid in die troostelose lig van die
Dieretuin,
wat die hele nag lank gesink het in die duikboot-lig van Bickford
uitgedryf het en deur die bedompige biermiddag in verlate
Fugazzi’s sit en luister het na die dagbreeksplyting op die
waterstofjukebox,
wat vir sewe ure sonder ophou gepraat het van park tot woonstel tot
kroeg tot Bellevue tot museum tot by die Brooklynbrug,
’n verlore bataljon platoniese gespreksgenote wat vanaf brandtrappe
vensterbanke die Empire State vanaf die maan afspring op stoepe,
babbelend skreeuend kokhalsend en feite en herinnerings fluister en
anekdotes en oogbalgrille en skokke van hospitale en tronke en oorloë,
totale intellekte uitgebraak in volledige onthou vir sewe dae en nagte
met briljante oë, vleis vir die Sinagoge uitgegooi op die sypaadjie,
wat in die niet verdwyn het Zen New Jersey en agtergelaat het ’n spoor
van dubbelsinnige poskaarte van Atlantic City Hall,
en Oosters koors-ly en Tangierse beenmeule en migraines van Sjina (...)

 

2 Uit Groot verseboek 2000. Die elektroniese weergawe, onder redaksie van André P Brink.

’n brief van hulle vakansie
vir oubaas:
Noudat ek uitgeswel van lyf is kan ek treur
oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma,
die skamel offerandes van hulle gebede as hulle my
op die knieë van hul Gij Here God lê;
noudat ek agter ’n baard kou kan ek huil
as hulle snags my naam fluister met die ruite
donker knippende oë in die wind, oor die visolie
vir my griep, die ingelegde perskes (albertas) op die rak
In sy sestigste jaar swem my pa in Stilbaai se see
en stap myle ver oor die sand met sy reguit bene
in ’n kortbroek en speel krieket op die duine
en eet alikruikels in die Sea View-losieshuis
want hys ’n bokser dokter boer
’n kaptein en ’n held ’n indoena tussen grysaards –
En as die reën soos ’n gesluierde bruid oor die see kom
word die lieflinghond (Trixie) lam;
drie dae veg die veearts en buig dan die knie
en hulle dra die lyk terug na Kafferskuilsrivier
die plaas van hulle jong liefde en plant die saad
’n soenoffer in die diep grond se skoot
want nou is hulle minnaars
stil bome in die najaar met die wind
strelende drome in die takke
onder komete leeftye lang wêrelde
My ooms sterf soos kapok in die son
hartaanval beroerte kanker en tering
en my pa word stiller en meer verskriklik
van dop tot dop
Hier waar die harde winters en nat somers
my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor
die soet hart van my moeder
my pa se stil en bitter krag

 

3 Die vertalings van Uys Krige heet Spaanse dans!

Bibliografie

Harold Bloom: The anxiety of influence. Oxford University Press, Oxford. 1973.
Harold Bloom: A map of misreading. Oxford University Press, Oxford. 1975.
Francis Galloway: Breyten Breytenbach: Die digter as openbare figuur. Haum-Literêr, Pretoria. 1990.
Uys Krige: Spaanse dans. Spaanse gedigte vertaal deur Uys Krige. Poësie uit die verre lande onder redaksie van MM Walters. Perskor, Johannesburg. 1991.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top