Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2014: Tweede keurverslag van "Martine se teepot"

  • 0

Martine se teepot: Die tweede keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


 

Tweede verslag: Martine se teepot

Hierdie is ’n puik verhaal, en dit het nog net ’n bietjie skaafwerk en fyner afronding nodig. Die verduideliking van die titel – Bertrand Russell se teorie – is ’n allerbelangrike toevoeging. Jy het ook presies die regte plek gekies om dit te doen. Dit was ook ’n goeie ingewing om Kobus se eerste vlug hierop te laat volg.

Wat die afronding betref: werk die verhaal met ’n ligte hand deur, maar kyk objektief na elke woord en uitdrukking – of jy die beste moontlike stelwyse gebruik het, of jy elke woord laat tel soos wat nodig is in ’n kortverhaal. Werk versigtig, en as jy nie seker is daaroor of jy iets moet verander nie, los dit liewer net so, dan kan die redakteur daarna kyk. Vervolgens ’n klompie spesifieke goed waarop jy kan let:

  • Kyk na die openingsin, dit kan korter en treffender, byvoorbeeld: Soos alle ander kinders het Martine op die ongemaklike ouderdom van drie jaar twee geswelde knobbels op haar skouerblaaie ontwikkel. Dis waar haar vlerke eendag sou uitkom.
  • Jy gebruik die woord “begin” heeltemal te veel – doen ’n soektog en kyk by elke geval of dit werklik nodig is om ’n begin aan te kondig.
  • Sien die onderstreepte, dis onnodige en oorbodige inligting wat jy gerus kan skrap: Ondanks alle pogings om verligting het sy net aanhou skree en kerm en tevergeefs self aan haar rug probeer krap. Natuurlik kon sy nie lekker by haar skouerblaaie uitkom [maak dit bykom] om die ontsteekte knoppe te krap nie.
  • Kyk na “overstatement”: Soms het sy as die gejeuk te erg raak suutjies die agterplaas in verdwyn en soos ’n dier haar rug teen ’n boom sit en krap tot die bloed met mening geloop het. – dat die bloed loop, is al klaar erg genoeg.
  • Let op die herhaling van woorde, die eerste “klein” kan geskrap word: Toe die skerp klein vlerkpuntjies uiteindelik deur haar vel breek, was hulle so klein en onskuldig dat mens skaars kon glo dat die goed verantwoordelik was vir al die ellende.
  • ... die hoop en verwagting van ’n hele gemeenskap wat sedert Hans Kram nog nie veel wonderwerke gesien het nie. – gebruik eerder “weer” pleks van “veel?”
  • ... begin lyk na klein hakskoentjies om ’n paar stewige enkels gevou. – hierdie beeld werk nie lekker nie, skoene vou om voete, nie om enkels nie.
  • Dis asof haar ma gedink het sy kon die vere bloot met die krag van haar suspisieuse gluur aanspoor om te groei. – “suspisieuse” is nie die regte woord hier nie, die nuanse is nie reg nie.
  • Sy het verblind deur trane huistoe gehardloop. – ’n skrywer met jou talent kan beter doen as so ’n aardige cliché.
  • Verander van hier af na die historiese presens vir groter onmiddellikheid: Doodmoeg maar tog helderder tot by ... haar voorneme sterker met elke tree. Die res is historiese presens soos dit moet wees.

Sy skedel grynslag tergend[onnodig, en ’n cliché] vir haar en word al kleiner en kleiner voor die donker haar oorval. – dit voel vir my hier word twee stelwyses saamgevoeg, dat dit een van die volgende moet wees: ... en word kleiner en kleiner voor die donker ... of ... en word al kleiner voor die donker...

 


 

Lees die tweede weergawe: "Martine se teepot"

Lees die eerste weergawe: "Martine se teepot"

Lees die eerste keurverslag oor "Martine se teepot"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top