Nuwe Stories 3: Sluitingsdatum vir kortverhaalwedstryd om die draai

  • 4

Die inskrywings vir Human & Rousseau en LitNet se jaarlikse Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd  vir skrywers onder 30 sluit reeds 6 Februarie 2014. Die kortlys sal in April 2014 bekend gemaak word en híérdie skrywers sal die geleentheid kry om hul verhale na aanleiding van keurverslae te herskryf. Die wenners sal in November 2014 op ’n prysfunksie aangekondig word. Die wenners én die skrywers wie se verhale uiteindelik vir publikasie gekies word, sal almal prysgeld ontvang. 

Die doel van die wedstryd is om jong skrywers te lok, nuwe talent te identifiseer en aan te moedig, asook om aan hulle die geleentheid te bied om hul werk te publiseer.

Die eerste en tweede weergawe van elke verhaal op die kortlys, sowel as die keurverslae, sal op LitNet geplaas word, sodat skrywers wat nié die kortlys gehaal het nie, ook uit die proses kan leer. Human & Rousseau sal die beste kortverhale in Nuwe Stories 3 publiseer.

Geen manuskripte sal ná die keuringsproses aan skrywers terugbesorg word nie. Suksesvolle skrywers sal deur Human & Rousseau in kennis gestel word, waarna die redigeringsproses in oorleg met die samestellers sal geskied. Insluiting in die finale bundel berus op die suksesvolle voltooiing van die redigeringsproses. Ongelukkig sal verslae of kommentaar nie aan alle deelnemers gelewer kan word nie. Die finale oordeel vir publikasie ná die redigeringsproses berus by die samestellers en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.

Vanjaar het Human & Rousseau altesaam 116 inskrywings vir die Nuwe Stories 2-wedstryd ontvang waarvan 20 verhale deur 17 skrywers uiteindelik gepubliseer is. Dié bundel is saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn.

Skrywers kan solank hulle verhale gereed kry; verdere inligting oor hoe om in te skryf, verskyn binnekort op NB-Uitgewers se Facebook-blad en op LitNet.

 

Klik hier om die inskrywingsvorm aftelaai.

 

Reëls

Die sperdatum vir voorleggings is 6 Februarie 2014. Inskrywings moet aan die volgende vereistes voldoen:

  • Slegs nuwe en ongepubliseerde Afrikaanse kortverhale sal oorweeg word.
  • ’n Maksimum van drie kortverhale per persoon word toegelaat.
  • Skrywers mag nie onder ’n skuilnaam inskryf nie.
  • Skrywers mag nie ingeskrewe verhale elders voorlê terwyl dit vir die wedstryd oorweeg word nie.
  • Die omvang van verhale moet tussen 1 500 en 3 500 woorde wees.
  • Die manuskrip moet in dubbelspasiëring getik word.
  • Die bladsye van die manuskrip moet genommer wees.
  • ’n Inskrywingsvorm moet aan die manuskrip vasgekram word indien dit gepos word – die inskrywingsvorm is beskikbaar by www.humanrousseau.com en www.litnet.co.za of by Danita van Romburgh.
  • Verhale sal aanvanklik anoniem beoordeel word. Jou naam moet dus slegs op die inskrywingsvorm verskyn, nie op die bladsye van die verhaal nie.
  • Verhale moet in drievoud voorgelê word indien dit gepos word.

Die kortlys sal in April 2014 aangekondig word.
 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 4

Kommentaar

  • Ek sal graag wil imskryf vir die, maar bietjie meer informasie sal gaaf wees. Bv. Hoeveel woorde moet in 'n vehaal wees voor julle dit sien as 'n kortverhaal? Aangesien julle nuwe talent wil identifiseer sal dit help as julle vir ons nuwe jong skrywers darem bietjie meer riglyne kan gee behalwe vir die sluitingsdatum.

  • Hallo Ruan

     

    Die riglyne en inskrywingsvorm is nou op hierdie bladsy beskikbaar, indien jy dit nog nie gesien het nie.

     

    Groete

     

    Janita

  • Ek is klaar met al drie my manuskripte. Ek het baie kortverhale gelees om dit te kan doen. En hou 'n woordeboek by my. Ek hoop maar net dit is vir die judges goed, leesbaar en kortverhaal aanvaarbaar! 

  • Wat dan van Nuwe skrywers wat eers nou, in hul aftreejare eerste pogings in fiksieskryf begin? Hoekom word daar teen die jarige beginners gediskrimineer?  Of is daar 'n aparte kompetisie vir 60 en ouer Jong = beginners?

     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top