Nuwe Stories 3: Onderhoud met Christina van Deventer

  • 0
Christina van Deventer

Nuwe Stories 3

Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISSN: 9780798167987

Koop Nuwe Stories 3 by Kalahari.com

Koop Bobby by Kalahari.com

Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.

Wat was die inspirasie agter jou verhaal wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?

Hoewel daar niks nuut aan die tema van mishandeling is nie lê dit my na aan die hart. Dit vind elke dag onder ons neuse plaas en mishandelaars het gewoonlik so ’n invloed op hul slagoffers dat die slagoffer self uit sy pad gaan om hierdie persoonskending weg te steek. Ek voel ons het elkeen ’n verantwoordelikheid teenoor daardie slagoffers, om dit veilig te maak vir hulle om die waarheid na vore te laat kom. Omdat meeste mishandeling agter geslote deure plaasvind is dit ook belangrik dat ons belangstel in ons medemens en veral oplettend is na die welstand van jong kinders wat nie in staat is daartoe om self hul situasie te verbeter nie. Daar is ongelukkig steeds ’n soort stigma rondom mishandeling. Slagoffers moet gewoonlik onder skuilname skryf om hul self en hul families te beskerm terwyl hul mishandelaar deur die wet beskerm word. Myns insiens moet ’n slagoffer van enige misdaad juis die een wees wat ope ondersteuning vanaf die gemeenskap ontvang, terwyl die misdadiger hoort te vrees vir sy veiligheid. My inspirasie vir hierdie verhaal kom uit die hoop dat dit miskien eendag, in ’n utopiese wêreld, so kan wees.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?

Ek dink dat die sisteem oor die algemeen goed werk, behalwe dat daar in ’n kompetisie-opset ’n vasgestelde ruimte vir verbetering is, hoewel alle verhale nie ’n vasgestelde hoeveelheid redigering verlang nie (ek bedoel nou nie noodwendig my eie verhaal nie). Soms voel dit dan of die redigeringsproses gemik is daarop om te sien hoeveel die verhaal van die eerste inhandiging tot en met die finale produk kan verander, in stede van verbeter. Ek dink egter dat die samestellers ’n uiters moeilike taak gehad het en hulself goed daarvan gekwyt het. Dit was vir my ’n voorreg om saam met hulle te werk en hul raad en hulp te ontvang, ’n geleentheid wat ek hoop om in die toekoms weer gebied te word.

Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal? 

Elke verhaal het sy eie probleme en met die skryf van elke nuwe verhaal krap ek kop oor iets nuut. As ’n reël dink ek nie aan die verskillende aspekte van die skryfproses as maklik of moeilik nie, slegs “hierdie gedeelte het so bietjie meer werk nodig”. Dan karring ek daaraan tot dit begin vorm aanneem, of tot ek besef geen hoeveelheid gekarring gaan van ’n kindertekening ’n Picasso maak nie.

Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?

Ek dink alles in ’n mens se lewe het op die een of ander manier ’n invloed op jou werk. Dit is soms goed om vir die ruimte in jou verhaal iets uit jou nabye omgewing te gebruik, al sê jy dit nie pertinent in jou verhaal nie, want dit help met visualisering en detail. Ek het vir ’n lang tyd in Ysland gebly en vind dat ek graag daardie plekke onbewustelik herroep, net om agterna te wonder wat presies die rede daarvoor was. My grootste invloed is egter nie aan plekke gekoppel nie, maar aan musiek, wat deurgaans deel is van my skryfproses.

Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?

Nie ’n gunsteling nie, maar een waarvan ek hou:

“Kindness is the language which the deaf can hear and the blind can see.” – Mark Twain

As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?

Enige boek wat vir iemand lewensveranderend was, of dit nou ’n enkele oomblik se genot of nadenke verskaf het, of ’n leeftyd se gesindheidsverandering. Indien ’n verhaal nie aan daardie vereiste voldoen nie is dit doelloos en ’n vermorsing van die leser se tyd. Dus die Potchefstroomse Telefoongids vir 1964. Met al daardie nommers is dit moontlik moeiliker om te ontsyfer as die Da Vinci-kode, maar die boek is vol karakters met interessante lewens, drama en misterie en natuurlik romanse. En dan is daar al daardie geheime manuskripte wat Koos Kombuis daarin ontdek het …

Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?

Stereotipies, ek weet, maar ek is tans besig met Stephen King se nuwe boek, Revival. Die Suid-Afrikaanse boek wat my hierdie jaar die diepste geraak het was Bobby deur Elizabeth Pienaar. Ek kies egter nie sommer gunstelingboeke nie, want dit is soos om een haar op jou kop uit te sonder as die blinkste, skoonste of mooiste. Onmoontlik.

Wat is jou skryfplanne vorentoe?

Solank pen en papier vrylik beskikbaar is sal ek aanhou skryf. Wat planne betref, dit besin nie by my nie. Ek hoop dat ander mense my skryfwerk sal wil lees en dat dit goed ontvang sal word en ek hoop dat dit vir my bestem is om betekenisvolle bydrae te lewer tot Afrikaanse literatuur. Watter pad my daartoe sal lei, is egter nog nie aan my bekend nie.

 

Lees die tweede weergawe van "Utopia"

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top