
Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.
Ontspoor
Op die hoek van Heerengracht- en Riebeekstraat lê hy. Byna karikatuuragtig met sy linkervoet krom oor sy bors gebuig en skerp ribbebene wat sy slap vel deurboor. Sy gelaatstrekke is ’n pappery. Aan die een kant van sy kop is sy skedel heeltemal ontbloot en stukkies breinweefsel klou soos die binnegoed van ’n oorryp waatlemoen aan die sypaadjie, teer en wieldoppe van ’n paar nabygeleë motors. Poele geelbruin vloeistof omring onherkenbare stukkies organe. Dit is die soort toneel wat selfs by die mees geharde polisieman of ervare paramedikus sal kom spook.
Sy naam is André Liebenberg en hy was dertig jaar oud. Oorspronklik vanaf Heilbron, maar vir die afgelope drie jaar was hy een van die laaste paar blanke treindrywers vir Metrorail in Kaapstad. Enkele minute gelede het hy nog gesit in die spreekkamer van die vooraanstaande sielkundige dr. Erwin Verwey.
Dr. Verwey is onder sy pasiënte en in professionele kringe bekend vir sy deernis, insig en mensekennis. Hoewel hy selfversekerd is in die wete dat hy nog nooit ’n pasiënt aan selfdood afgestaan het nie, is sy spanningsvlakke deesdae besig om ondraaglike afmetings aan te neem. Hy sukkel boonop al vir maande om van ’n lastige verkoue ontslae te raak en waar hy in die verlede altyd graag nuwe navorsing op sy vakgebied sou onderneem, is sy grootste ambisie deesdae om teen agtuur saans in die bed te wees.
Die sielkunde was altyd sy roeping, maar hy benodig daadwerklik ’n vakansie. Hy het jare laas tot rus gekom en om dag-in-dag-uit só moeg te wees kan ongetwyfeld verreikende implikasies vir hom én sy pasiënte hê.
As sielkundige weet hy maar al te goed dat jy nie kan sê dié een se pyn en swaarkry is belangriker as dáái een s’n nie, maar in hierdie praktyk werk hy al vir jare lank nie meer met dinge soos liefdesteleurstellings of selfbeeldprobleme nie.
As ’n spesialis op die gebied van post-traumatiese stresversteuring en iemand wat al oor drieduisend pasiënte met dié toestand gediagnoseer en behandel het, is die deursnit pasiënt wat na hom verwys word werklik die depressiefste van die depressiewes.
Ma’s wat byvoorbeeld ál vier hul kinders in dieselfde motorongeluk verloor het. Oud-soldate wat moes toekyk hoe hul jarelange kamerade vol gate geskiet word. Kinders wat só erg mishandel is dat hulle sommige aande in hondehokke moes slaap en deur rotte gebyt is.
Hy praktiseer al vir byna tien jaar hier op die derde verdieping van die Absa-gebou en is gewoond aan die lawaaierigheid buite sy kantoor, maar vir die laaste twee minute gil daar ’n vrou met soveel dringendheid dat dit hom laat wakker skrik van waar hy vir ’n wyle op die mat ingesluimer het.
Hy staan op en loop na die venster. Trek sy oë op skrefies en kyk na die toneel onder hom. Hy klap in ’n skielike beweging sy hand oor sy mond. Dit is dan dieselfde blou hemp wat minute gelede nog hier by hom in die kantoor was!
Dít het hy nie sien kom nie.
******
Die eerste ding wat André Liebenberg sien toe hy by dr. Verwey se wagkamer instap, is die sekretaresse met die lekker ass soos sy oorbuig om vir die plante water te gee.
Sy vorige girlfriend het ook só ’n gat gehad, en bene nes ’n skouperd. Hy dink vir ’n paar sekondes terug aan die dae toe hy nog chop-chop kon jags word voor die heavy dinge in sy kop weer begin.
Dis nou al twee dae vandat die ma met die kleintjie op die rug voor die trein ingeloop het, en selfs vir ’n hardcore ou soos hy was dit nogal rof.
Hy het al baie mense in sy lewe gemoer (vir plesier of in sy vorige job as ’n cage fighter). Hy is gewoond aan pyn en bloed. Maar om mense met ’n trein dood te ry is nie sy ding nie. Hy moet erken dit vat nogal aan ’n man.
So ’n maand gelede het dit ook gebeur: ’n skollie het homself des moers geval nadat hy by ’n trein se venster uitgehang het en sommer net daar voor hom gevrek het. Dit het hom heeltemal uitgefreak om iemand so te sien ruk, maar die ergste was sy bloederige gesig sonder ’n kopvel.
Toe al het Metrorail begin met hierdie kak dat hulle hom na ’n kopdokter toe wil stuur.
Hy wou hulle nog tune dis net pissies wat huil en moffies wat op ’n ander ou se bank gaan sit om getroos te word, maar hy was al so donners gatvol vir die meid van HR se aanhoudende gebel dat hy maar gekom het.
“Meneer Liebenberg, welkom. Ek is dr. Verwey”.
Die kop-mechanic kom nader met ’n moerse smile en uitgesteekte hand.
Hy vat die dokter se hand en druk dit fokken hard om vir hom te wys dat hy nie die een of ander pushover is wat nou soos ’n klein seuntjie ’n pity party in sy kantoor gaan kom hou nie.
Hy loop agter Dr. Phil aan tot in sy spreekkamer. Dié wys na ’n stoel terwyl hy steeds innemend glimlag. Die man is darem nie ’n totale doos nie, hy lyk net effens deur die kak. Hy is sommer lus en vee daai vaak grynslag met ’n plathand van sy bakkies af. Hierdie dokter moet lekker wees as hy dink hy gaan sy werk van hom wegvat.
Teen die muur oorkant sy stoel hang ’n moerse lot geraamde sertifikate, goeters wat soos kuns lyk en ’n helse horlosie. Obviously nie ’n enkele foto van ’n vrou of ’n kind nie.
André snork hard voor hy gaan sit.
“André, in die afgelope paar weke was daar twee insidente by jou werk wat jou ’n moontlike kandidaat vir post-traumatiese stresversteuring maak,” sê die dokter.
“Vandag is slegs ’n aanvanklike konsultasie om seker te maak dat jy okei is. Hoewel jou werkgewer jou aangeraai het om my te kom sien, is dit steeds vrywillig. Ek neem dus aan jy is hier omdat jy voel jy benodig wel hulp.”
André skuif ongemaklik rond en oorweeg dit om vir Dr. Phil te vertel van Lizette en hoe die storie met háár eintlik die enigste ding is waarmee hy nie kan cope nie. Nee, liewer nie, dit lyk of die dokter ’n moerse hangover het, hy is seker nie nou in die mood vir lovey dovey bullshit nie.
Hy kyk af na sy hande en knik net.
“Hoe het jy gevoel toe die vrou met die baba voor jou inloop? Was jy magteloos?”
Die dokter hou hom stip dop.
Hy is amper lus om vir Klaas Vakie te vra of hy nou aspris is. Natúúrlik was hy magteloos, duh. Fok. Hy slaap al vir die afgelope twee nagte niks en kots die heeltyd, vanoggend al gal.
En net as hy dink hy is weer on top of things, sien hy daai vrou se gesig voor hom. Bang en bitterlik sad, met haar mond so oop asof sy wil gil, maar nie mag nie, want dan maak sy die kind wakker. En dan sien hy haar lyf wat soos ’n balon bars wanneer die voorkant van die trein haar tref. Dit was vinnig, maar haar bene het losgekom en daar was bloed orals.
Hy dink heeltyd hoe dit sou wees om terug te gaan na daardie oomblik wat hy haar sien en dan sélf by die venster te kon uitspring voor die trein haar tref. Die impak het daai pap babatjie vyf meter vorentoe geslinger.
Vorentoe, maar steeds op die spoor. God! Hoekom?
Hy het sy oë toegemaak, maar dit het nie gehelp nie. Dit het gevoel of hy oor ’n sak meel of iets ry, maar hy het geweet dit was ’n baba. ’n Paar sekondes later was die trein weer smooth.
Lizette sou nou die regte ding vir hom kon sê om hom nie soos ’n bleddie moordenaar te laat voel nie. Hy het altyd beter gevoel by haar, maar hy het kwaai befok geraak wanneer sy hom wou druk en soen. Maar daai dinge is privaat. Hy sal dit nie vir ’n vreemdeling vertel nie.
Hy kyk uitdagend na die dokter.
“Nee wat, almal weet mos hoe lank dit vat om ’n bewegende trein te stop. Niemand kan mý daarvoor blameer nie. En as jy wil dom wees, moet jy kak . . . suffer, bedoel ek.”
Dr. Verwey kyk skepties na die bruingebrande man voor hom. André is ’n jong man met ou oë. Hy probeer sy bes om braaf te wees, maar die trilling in sy stem, sy star uitdrukking en bewende hande wat hy onophoudelik aan sy broek afvee verraai hom.
Uit jare se ondervinding in die praktyk weet hy André is nie so onaangeraak soos wat hy probeer voorgee nie. Maar hy is moeg en hy het regtig nie nou die krag om iemand wat waarskynlik ’n wife beater onder sy blou hemp dra, se gevoelens met ’n hamer uit hom uit te slaan nie.
“Ná die insident by jou werk waar die man by die trein uitgeval het, was jy in ’n vuisgeveg betrokke met een van jou senior kollegas. Sou jy jouself beskryf as iemand wat taamlik impulsief en aggressief is? Iemand wat oorreageer?” vra hy.
André wonder of hy die dokter moet vertel van die oggend wat hy Lizette se kefferbrakkie byna doodgeskop het. Of daai keer toe hy ’n bierglas in die cheeky bedelaar se gesig gebreek het? Nee wat. Dit lyk nie of Dr. Phil sulke nuus sal kan handle terwyl hy so met sy vingers teen sy slape sit en vryf nie.
Hy trek sy skouers op.
“Daai bra het getender vir ’n snotklap toe hy kom neuk het met die skoflys.”
Dank God dis amper vyf uur, dink dr. Verwey. ’n Mens kan nie tot iemand soos André Liebenberg deurdring as jy nie een-honderd persent funksioneer nie. En vandag is weer nie een van daardie dae nie, as hy nou heeltemal eerlik moet wees.
“Ek kan verstaan dat dit jou kwaad gemaak het. Voel jy soms dat dinge te veel raak vir jou? Voel jy só oorweldig dat jy nie uitkoms sien nie? Het jy al ooit selfdood oorweeg?”
Halleluja wil André skree. Die ou is darem nie heeltemal onnosel nie, want dit is presies hoe hy voel. Elke oggend wonder hy of vandag sy laaste dag gaan wees, of vandag die dag gaan wees waarop hy gaan snap.
Hy het niks om voor te leef nie, want hy het elke kans wat hy ooit gehad het met dwelms en drank opgefok. Sy ma het gesê sy kan dit nie meer vat nie, hy moet wegbly van haar huis. Hy het ’n tweede kans gekry met Lizette, het dit ook opgemors.
Hy haal diep asem, maar sy stembande wil nie werk nie. Hy wil die dokter só graag vertel, maar hy kán nie.
Hy grinnik. “Selfdood klink soos iets wat moffies met wit handskoene doen.”
Dr. Verwey loer na die muurhorlosie. Hy besef dis verkeerd om die tyd om te wens, maar hy kan nie meer die hele wêreld se probleme op sý twee skouers dra nie. En wie help hóm, nogal? Hy besluit om sommer al van volgende week met verlof te gaan.
“André, ek vermoed jy ly aan skok en dat die ware gebeure van eergister nog nie tot jou deurgedring het nie. Dit mag aanvanklik moeilik wees vir jou om jou gevoelens te verwoord, maar namate jou sessies met ’n sielkundige vorder, glo ek dat jy daardie persoon in jou vertroue sal neem. Ek wil graag een van my kollegas aanbeveel.”
’n Swaar gevoel stoot vanuit onder André se maag op.
Hy soek nie een of ander kollega nie, hy soek vir Dr. Phil. Sure, hy was dalk bietjie hard en die man staar sommer nou al openlik na die horlosie, maar hy kan sien hier is iemand wat omgee oor hoe hy voel. Beste van als, die dokter sal nie kan judge oor hoe hy Lizette behandel het nie. Moffies is mos die laaste mense om te mag judge.
Hy bal sy vuiste. “Kan jý nie my sielkudige wees nie?”
Hy wil die dokter alles van Lizette vertel. Van haar lekker lyf en lang blonde hare en haar flat in Bothasig waar hy altyd welkom was. Van die dag toe sy gesê het sy bly nie langer saam met iemand wat sy bedonnerdgeit op haar uithaal nie. Van toe sy verdwyn het saam met daai doos met die gejelde hare by haar werk.
“Ek is ongelukkig met verlof vir die volgende twee weke. Maar ek kan jou die versekering gee dat my kollega een van die beste sielkundiges in Kaapstad is. Die sekretaresse sal vir jou sy kontakbesonderhede gee op pad uit. Ek sal met hom reël dat hy vroeg volgende week vir jou plek maak.”
***
Die hysbak na die grondverdieping is stampvol en bedompig. André staan agter in die hoek. Iemand se foon lui aanhoudend met dieselfde irriterende ring tone as waarmee Lizette se foon altyd gelui het. Dit hou nie op voor hulle onder is nie.
Hy bly staan in die hysbak terwyl die ander mense uitklim.
Toe druk hy die knoppie wat hom na die heel boonste verdieping toe neem.
Lees die eerste weergawe van "Ontspoor"
Lees die eerste keurverslag oor "Ontspoor"
Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

