
Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.
Lettie se verlies
Sy drink haar soet tee stadig, en hou die horlosie dop. Nog ’n halfuur, dan kom die taxi. Dis nog donker buite. En koud.
Thomas lê toegevou in sy kombersie op haar bed. Sy staan op om haar beker uit te spoel en sit dit op die droograk neer.
Sy gaan staan voor die vaal spieel wat bo haar lessenaar hang. Die een hoek van die spieël het lankal afgebreek nadat die wind dit van die muur af gewaai het. Met rustelose vingers haal sy haar grimeringsakkie uit haar bedkassie. Sy sit ’n lagie maskara aan haar wimpers, en verf haar lippe donkerrooi. Die rooi staan mooi uit teen haar donker vel.
Sy kam haar kort hare netjies agter toe en vou ’n doek om haar kop. Jakob het altyd daarvan gehou as sy ’n doek om haar kop draai. Sy laat haarself toe om vlugtig na hom te verlang.
Haar Jakob. Sy het hom laas jaar se somer ontmoet toe hy sy niggie by die skool kom haal het. Hy was ouer en baie sexy. Dit het hom skaars tien minute geneem om haar smoorverlief te maak. En twee weke om haar swanger te kry. Hulle het saam weggeloop stad toe. Na ’n nuwe lewe. ’n Toekoms.
Sy het geweet dat sy haar ouers nooit weer sou sien nie, en het doelbewus kontak met hul verbreek. Sy het jammer gevoel vir haar pa, en het na hom verlang.
Maar nie haar ma nie. Sy was maar te dankbaar om weg te kom van haar ma af. Die siekte het vyf jaar gelede in haar ma se kop ingetrek. Net soos in haar ouma s’n. En haar tannie. Daar was nog ander in die familie.
Hulle het vir haar ma pille gegee om haar beter te maak. Maar dit was nie sterk genoeg om die stemme in haar kop stil te maak nie. Dit het net drie jaar gevat voordat haar ma heeltemal weg was.
Sy het snags wakker gelê en luister hoe haar pa saggies sit en huil by die kombuistafel. Dit is draaglik om jou vrou te verloor. ’n Stuk van jou hart gaan dood en dit los ’n papgedrukte plek op jou siel. Tog kan jy dit oorleef. Dis heeltemal anders om dag in en dag uit te lewe saam met ’n monster wat skuil agter jou vrou se gesig.
Sy was bly dat sy kon weg kom voordat dit te laat was, selfs al het haar nuwe lewe in die stad nie uitgewerk soos sy gedink het dit sal nie.
Dit het Jakob skaars tien minute geneem om haar verlief te maak, twee weke om haar swanger te maak. En vyf maande om haar te los. Sonder verduideliking of rede.
Sy het net een oggend wakker geword en gesien dat hy weg is. Hulle het in sy tannie se agterplaas gebly in ’n wendyhuisie. Sy het oral loop vra na Jakob, maar niemand het geweet wat van hom geword het nie.
Tannie Dolly het haar jammer gekry en toegelaat dat sy aanbly in die wendyhuis. En elke aand ’n bord kos en ’n beker rooibostee by die deur neergesit.
Vier maande later het sy vir agtien uur lank in kraam gelê met Thomas. Partykeer het sy gedink dat die pyn haar uiteindelik eenvoudig net middel deur sou skeur. Maar Thomas is twaalfuur op ’n Sondagaand gebore. Hy was die mooiste ding wat sy al in haar lewe gesien het. Hy het haar hart weer heel gemaak. Sy kon weer asemhaal. Glimlag. Huil.
Thomas is vandag vyf weke oud. Hy huil nie meer so baie soos in die eerste twee weke nie. Sy moes hom gereeld in die gesig blaas omdat hy sy asem uitgehuil het. Die suster het vir haar gewys hoe om dit te doen.
Noudat sy daaraan dink, wanneer laas moes sy hom in die gesig moes blaas sodat sy bekkie weer asem kon sluk?
Sy kan nie onthou nie. Dit was lanklaas.
“Dis goed. Dis goed,” sê sy vir haarself en bêre die grimeersakkie.
Maar iets is nie reg nie. Sy kan dit binne haar voel. Iets is baie verkeerd met Thomas. Hy is siek, en sy moet hom by die kliniek kry. Die suster sal hom kan help.
Sy hoor hoe die kliniek-taxi buite in die straat stop. Sy hang Thomas se doekesak oor haar skouer en tel hom saggies op. Hy is so klein; dit voel amper asof hy niks weeg nie.
Toe sy by die deur uit loop struikel sy en hoor glas breek. Lettie kyk verbaas af na die bord wat sy stukkend getrap het en die tee wat in die grond weg syfer. Sy het gisteraand vergeet om haar kos in te bring.
Sy frons en kyk op wanneer sy haar naam hoor.
“Lettie!”
Dis Dolly wat haar roep. Sy staan op haar stoep in haar pienk kamerjas . En langs tannie Dolly staan nog ’n vrou. Sy laat amper vir Thomas val toe sy die vrou herken.
“Ma?” Sy gee ’n tree in die rigting van die stoep.
‘n Fyn motreën val en laat alles dof en uitgebleik lyk.
Sy gee nog ’n tree nader aan die stoep. Totdat sy die oë sien.
Dis nie haar ma se oë nie. Net twee swart gate waardeur die monster kyk. Sy het as kind al geleer dat die siekte deur die oë verraai word. Hulle oë word plat en glaserig. Soos ’n vis se oog.
Tannie Dolly trek haar kamerjas stywer om haar lyf . Daar loop trane oor haar wange.
Haar ma se lippe trek weg van haar tande wat seker ’n glimlag moet wees. Daar is rooi-lipstiffie op haar voortande.
Sy haat dit. Haar ma se lipstiffie het altyd op haar tande afgevee. Dis hoekom sy net duur Revlon lipstiffie koop. Dit is die enigste luxury wat sy haarself gun, want dit vee nie af op mens se tande soos die goedkoop goed nie.
Sy ruk van skrik toe die taxi-bestuurder op sy toeter druk. Sy loop vinnig na die taxi en klim in. Toe hulle wegry kyk sy vinnig terug na tannie Dolly se huis. Hoe sou haar ma haar opgespoor het?
Toe die taxi voor die kliniek stop klim sy versigtig uit en druk vir Thomas sagkens teen haar bors vas. Sy loop by die trappe op en gaan sit in die ry om haar beurt af te wag. Die televisie is op ’n nuuskanaal gestel, maar daar is nie klank nie. Iewers huil ’n baba sonder ophou, terwyl die ou man langs haar hewig hoes.
“Lettie Williams?” roep die vrou agter die toonbank.
Daar is iets baie verkeerd met die man se hoes. Die hare in haar nek staan regop terwyl hoendervleis oor haar arms uitslaan.
Sy trek die kombers verder af oor Thomas se kop. Sy wil nie hê dat sy siekte naby haar baba moet kom nie.
Die man kyk op van die tydskrif wat hy lees en frons vir haar. “Are you ok?”
Sy wil vir hom sê dat daar iets baie verkeerd is met sy hoes.
“Lettie Williams?” roep die vrou weer uit.
Sy staan op en loop om haar leêr by die toonbank te kry. ’n Verpleegster vat haar na die suster se speekkamer.
“Sit solank en wag vir suster Van Niekerk,” sê die vrou voordat sy terug in die gang af loop. Lettie gaan sit op die stoel met Thomas in haar arms. Sy voel eweskielik doodmoeg.
Die suster kom in en gaan sit agter haar lessenaar.
“Hallo Lettie. Hoe gaan dit?” vra sy vriendelik, maar sy lyk bekommerd en haar oë bly heeltyd op Thomas.
“Thomas is weer siek, suster. Ek dink dis die koue. Hy kry nie kans om gesond te word nie.”
Die suster frons en blaai stadig deur haar kliniekleër. Sy let op dat die suster se lippe ’n mooi donkerpienk geverf is.
Sy hoor nog steeds die neulende gehuil van die baba. Die geluid boor deur haar skedel. Dit hou aan en aan.
“Lettie, drink jy nog die pille wat die dokter die vorige keer vir jou voorgeskryf het?” vra die suster uiteindelik wanneer sy die geel leër toemaak.
“Ekskuus?” sy leun vorentoe, want die baba huil nou so hard dat sy die suster skaars kan hoor.
“Drink jy nog jou pille? Die anti-depressante?”
Daar is donkerpienk lipstiffiemerke op die suster se voortande.
“Nee, ek is nie hier vir my nie. Thomas is siek.” Sy dwing haarself om nie na die suster se mond te kyk nie.
“Lettie, Thomas is dood,” sê die suster sag. “Hy het kort na geboorte longontsteking gekry. Hy is weg. Ons kan hom nie terugbring nie. Maar jy kan beter raak, as jy jou medikasie gebruik.”
“Nee. Nee. Jy het dit verkeerd. Ek sal by iemand anders gaan hulp kry, dankie.” Sy spring op en loop deur toe.
“Wag, Lettie!”
Die suster staan op en keer met haar hand. Daar is nog steeds pienk vlekke op haar voortande.
“Nee!” roep sy en hardloop in die gang af.
Thomas voel gewigloos in haar arms.
Buite is dit koud en sy klou stywer aan die bondeltjie blou kombers vas
Thomas se asempie blaas warm teen haar sleutelbeen. Sy kan dit tog voel!
“Dis goed. Dis goed,” sê sy vir haarself terwyl sy vinnig met die pad langs loop.
Lees die eerste weergawe van "Lettie se verlies"
Lees die eerste keurverslag oor "Lettie se verlies"
Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

