Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Om ’n bok se hart te plant"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


 

Om ’n bok se hart te plant

Dit reën buite. Ek kyk hoe die druppels bruin patrone trek teen die stowwerige ruit. Die oranje en geel blare van die lappie blomme buite lyk of dit wil bars van kleur teen die grys lug.

Vandat ouma Hanna in die ouetehuis is, dwing Ma my om elke besoektyd vir ’n uur lank by haar te kom sit wanneer ek by hulle in die Karoo kuier. Die kamer is eenvoudig en oud. Dit het ’n blokkiesvloer en twee enkelbedjies. Ouma se bed het hoë staaltralies om om te keer dat sy afrol. Haar eie tronk. Ek sit op die kamermaat se bed. Bo-op die vuilgroen deken lê hopies klere. Van dit lyk of dit uit die Boereoorlog kom. Daar is darem ’n pakkie PEP-pajamas wat nuwer is. Die tannie is laas week dood, maar haar kinders het nog nie haar goed kom haal nie. Ouma mompel iets van die Boland en sê dat sy dors is.

Ek staan op en haal die World’s Greatest Grandmother-koffiebeker van die rak af. Daar is ’n groot chip uit die beker se rand en die binnekant het deur die jare bruin gevlek van al die drinkgoed. Ek en my broer het dit vir haar een Moedersdag gegee toe ons nog klein was. Die kraan draai moeilik oop en die ou porseleinwasbak is bruin en seegroen gevlek rondom die uitloop. Ek tap die beker net halfpad vol, anders mors ’n mens.

Ouma se presswood bedkassie is vol ditjies en datjies. Daar is ’n 1953-vertaling van die Bybel, ’n foto van ’n jongmeise met swart hare, pildosies, ’n ou oranje kosblik met ’n stel valstande wat week in soutwater en ’n houertjie strooitjies. Onder dit alles lê ’n gehekelde lappie vol koffievlekke. Ek onthou hoe Ouma dosyne van hierdie delikate lappies met die afgemete blompatrone daarop vir die kerkbasaar gemaak het. Dit was nie eers so lank gelede nie.

Ek haal ’n strooitjie uit die houertjie. Die helderkleurige buisies plastiek laat my altyd aan kinderpartytjies dink – wêrelde verwyderd van hierdie mistroostige kamer. Ouma sukkel om haar bolyf op te lig. Ek kan die hangende kurwes van haar lyf sien en wonder of ek eerder moet wegkyk. Ek hou die beker vas en mik met die punt van die strooitjie na haar geplooide mond. Die vloeistof vorm ’n sterk stroom tussen my vingers deur. Dit verstom my altyd om te voel hoe só ’n swak mens met soveel oorgawe aan ’n strooitjie kan suig. ’n Siek hoenderkuiken wat verbete aan die lewe bly klou.

Die horlosie teen die muur se sekondewyser beweeg ekstra stadig vandag. Ek kan aan niks meer dink om oor te gesels nie. Ons het al gepraat oor die universiteit en wat ek alles gaan doen as die Kersvakansie uiteindelik aanbreek. Ek sukkel om te hoor wat sy sê, maar besluit om tog te probeer. Ek rammel ’n monoloog af: “Wil Ouma nie weer vir my daardie storie vertel wat Ouma altyd saans vertel het toe ek klein was nie? Die een van die meisie op die plaas met die twee stiefsusters. Haar ma het haar gedwing om ’n bok te slag. Sy het die bok se hart geplant en die volgende oggend was daar ’n reuse-appelboom vol rooi vrugte wat uit die hart uit opgekom het. Ek kan nie mooi onthou nie, maar dit was so iets.”

***

Hanna leun met haar rug teen die huis se buitemuur, daar is ’n groot blikskottel by haar voete. Oujan sit gehurk by ’n ysterklip. Hy trek sy mes se lem heen en weer oor die klip totdat ’n fyn wit stof vorm. Dan doop hy die lem in water en begin weer van voor af met die proses. Die son bak warm op die Karoogrond neer, dit het byna drie jaar laas behoorlik gereën.

Kleinjan en Sara is in die kraal. Die angoras se kloue maak ’n harde dreuning soos hulle heen en weer hardloop om van Kleinjan se greep te ontsnap.

Oujan is tevrede met die lem. “Klei’jan, vang nou daai donnerse bok, man! Klei’mies wag al met die skottel saam.”

Hulle het een. Mens kan dit sommer aan die geblêr hoor. Sara en Kleinjan kom deur ’n stofwolk met die kruiwa te voorskyn. Die bok lê op sy rug met sy bene in die lug. Hy skop wild en sy oë is wyd oopgesper. Hulle stoot hom tot langs die sementdam op die werf.

Hanna kyk in die bok se bruin oë. Sy herken iets daarin. ’n Aardsheid wat hulle saambind. ’n Slagaar in die nek. ’n Hart wat benoud bloed deur die liggaam pomp.Die bok se groot pienk tong tril in sy bek en roep uit soos ’n verlore kind: “Maaaaaaa! Maaaaaaaa!” Oujan stap nader met die mes. Dit verg net één oomblik om die ewigheid te verander. Daardie oomblik wat gewigloos hang tussen die vraagteken en die vrees.

Hanna dink aan iets wat haar ma altyd sê. “Die Liewe Vader is ’n baie wyse man. Hy het die aarde so geskape dat geen mens of dier weet wat die dag van môre gaan inhou nie.” Hanna vryf ’n stokkie tussen haar vingers. As die angora geweet hy gaan vandag keelaf gesny word, sou hy laasnag deur die lyndrade probeer vlug het en homself vroegtydig gehang het. As die boer geweet het dat die Kakies hom môre sou skiet, sou hy die reg in eie hande geneem het en sy hemel (of hel) sou te vroeg aangebreek het.

Die lem glinster in die son. Die sonbesies se sirenes vul die lug. Die bok se blinkwit krulle word met rooi bevlek. Sy blêr word stil, die skop in sy bene al swakker. Strale bloed loop teen die kruiwa af en meng met die stowwerige aarde. Dis asof die natuur ’n onsigbare uitnodiging vir ’n feesmaal uitstuur. Honderde gaste vlieg uit die niet uit nader in hulle blinkgroen uitrustings en koek saam op die bloed. Die Angora se kop hang slap by die kant van sy geroeste lêplek af. ’n Brommer kom sit teen Hanna se bors. Sy waai dit vies weg. Wat maak haar so anders as die bok?

***

Ouma sê sy wil op die emmer sit. Ek loop deur die pisreuk gange met die bruin novilonvloere. Die verpleegsters sit en speel kaart in hulle teekamer. Een van hulle staan met ’n harde sug op toe ek vra dat iemand moet kom help. Sy loop haastig vooruit en mompel iets.

Ek sit op die vloer buite Ouma se kamerdeur en wag. Die verpleegster klink ontsteld. “Agge nee sies, Ouma! Julle roep te laat vir my. Nou’t jy klaar in jou doek gaan lê en kak.” Ouma bly doodstil. Tien minute later bars die verpleegster deur die deur en stap terug na haar kuierplek toe. Daar hang ’n skerp reuk in die lug. Ouma lê en bewe op die maat van die Parkinson’s wals.

Ek maak vir ons tee. Die pienk waslap wat ek laas Kersfees vir haar gestuur het, hang verlep teen die rand van die wasbak. Dis vol bruin vlekke.

Ouma vra of ek nie vir haar die radio sal aansit nie.

***

Oujan sny die bok oop van sy nek tot by sy stert. Hy druk die lem tussen die vel en die vleis in en trek dit stukkie vir stukkie uitmekaar. Dit herinner Hanna altyd aan hoe ’n mens ’n lemoen skil in die winter. Jou vingers is dom en koud en jy sukkel om die dik skil te breek, maar sodra jy aan die gang kom, gaan dit maklik. Die binnekant van die bok se vel is ligpienk en versier met rooi en blou aartjies. As ’n mens nie geweet het wat dit is nie, sou jy maklik kon dink dis ’n stuk blinkpienk satyn wat uit die dorp se lapwinkel uit kom.

“Jy ka ma kô met daaise skottel, Klei’mies.” Oujan delwe nou die bok se buik oop. Sara staan reg met ’n emmer soutwater vir die derms. Kleinjan bring die lewer en niertjies nader en sit dit in Hanna se skottel. Sy draai vinnig om en stap in die rigting van die agterdeur. Wanneer sy om die hoek van die huis verdwyn, druk sy haar wysvinger teen die lewer. Dit is glad en warm. Sy kyk na haar bloederige vinger en steek dit in haar mond. Dit het ’n sterk ystersmaak.

Hanna se ma staan en wag ongeduldig in die kombuis. Sy gaan vanmiddag sommer vir hulle die lekker vars lewer gaarmaak. Die niertjies moet eers bietjie week in asynwater. Dis altyd lekker saam met ’n hoendereier vir ontbyt.

Hanna kyk by die kombuisvenster uit. Sara sit op haar hurke by die skottel. Sy trek die derms stukkie vir stukkie deur haar vingers. Dit lyk amper of sy ’n gekoekte bol wol probeer uitpluis.

Haar ma verbreek die stilte. “Hanna, gaan help jy vir Sara en kyk dat sy die vlieë daar weghou. Ons moet daai afval vanmiddag nog skoonkry dat ons hom môre kan kook.”

Oujan is nou besig om sy vuiste al ruglangs onder die bok se vel in te forseer. Behalwe vir die kop met die twee groot bruin oë lyk dit nie meer soos ’n bok nie, maar eerder soos ’n slagding wat op ’n woltapyt lê.

***

Ouma lê teen die kussings. Haar oë is op skrefies gektrek. Sy het ’n pienk pajamatop aan met ’n blou beertjie en een of ander onsinnige boodskap voorop. Ek begin kriewelrig raak.

Dit was makliker toe ons nog in die sitkamer kon sit besoektye, want dan was daar ander oumense om jou aandag van jou eie vlees en bloed af te lei. My ou skoolhoof het altyd in die hoek gesit, met sykouse vasgemaak aan een van die stoele sodat hy nie kan wegloop nie. Sy mond het skeef na die een kant toe oopgehang en hy het harde skreegeluide gemaak. Tant Gesie het dagin en daguit vir hom sit en kyk. Sy het nie ’n woord met enigiemand gepraat nie, net haar kop geskud. Ou Tannie Hattingh kon weer nie ophou praat oor hoe oulik haar kleinkinders in Johannesburg is nie. Sy dra altyd die foto’s met haar saam wat haar skoondogter twee jaar terug geneem het toe die kinders hier gestop het vir ’n vinnige teetjie op pad Kaap toe.

“Ek moet seker begin huis kry, Ouma.”

Sy kyk na die horlosie teen die muur en lig haar hand op. “Maar dis dan nou eers twinting voor vier. Besoektyd is mos nog nie verby nie. Ouma se kind kan maar eers nog ’n bietjie sit by Ouma.”

Die rukbewegings en haar sleeptong maak dit byna onmoontlik om te hoor wat sy sê. Dit klink of sy gaan probeer om daai storie te onthou waarvan ek vroeër gepraat het.

***

Hanna staan nou reg langs Oujan en kyk hoe hy die laaste stukkie van die bokse vel lostorring. Sara is nog steeds doenig met die nimmereindigende bos derms.

“Sien jy, Klei’mies, hierie groen, dis nou die gal.” Oujan is baie trots op sy fonds en sy kennis. Hanna het al hoeveel keer bygestaan as hulle bokke slag, maar sy is elke keer verbaas as sy sien hoe groen die gal is.’n Mens verwag rooi en wit en geel en selfs swart aan jou binnekant, maar beslis nie so ’n helder groen nie.

Dan wys Oujan na die bok se hart. “Het Klei’mies geweet dat as jy die hart plant, dan kom daar ’n appelboom op? Daai appels, hulle maak ’n mens baie slim.” Hy sny die bok se hart los en haal dit netjies uit. “Wil Klei’nooi nie hierie oek virrie Mies ga gee nie, asseblief, Klei’nooi.” Die warm orgaan pas mooi in haar twee hande. Sy loop versigtig daarmee agterdeur toe. Sy tel dit op tot by haar neus en asem diep in. Dis altyd vir haar vreemd dat ’n hart soos al die ander rou vleis ruik. As ’n mens in boeke lees dan staan daar allerhande dinge geskryf oor die hart en liefde. Selfs in die kerk praat Dominee van sulke goed. Sy weet darem nie so mooi nie. Ook nie van Oujanse appelboomstorie nie. Hanna maak die agterdeur oop.

“Ma, ruik ’n mens se hart ook soos ’n bok s’n? En kan ’n mens dit plant en dan kom daar ’n appelboom op?”

“Hanna, hou op met nonsens praat en maak daardie sifdeur toe voor daar nog brommers inkom. En dan gaan sit jy daai hart daar in die asynwater by die niertjies. Maak dit net weer toe met die vadoek, die vlieë is sommer lastig vandag.”

Hanna loop spens toe en druk die hart voor by haar voorskoot in. Dan stap sy vinnig buitentoe sonder om oogkontak met haar ma te maak.

***

Ek probeer weer vir Ouma herinner aan wat sy my vertel het. “Ek onthou dat die meisie pikswart hare gehad het en dat sy ’n bok se hart geplant het. Daar het ’n groot appelboom opgekom, maar haar ma het die boom laat afkap. Die meisie kon darem een appel red en dit onder die hangkas in die gang wegsteek. Maar ek kan glad nie onthou wat verder gebeur het nie.”

Ouma staar voor haar uit. “Nee, Ouma se kind, Ouma het nog nooit van so ’n storie gehoor nie. ’n Mens kan mos nie ’n bok se hart plant nie.”

Die horlosie se lang arm skuif tot op twaalf. Ek sê totsiens en trek die deur vinnig agter my toe. Ouma Hanna is reg, ’n mens kan nie ’n bok se hart plant nie. Veral nie as dit reën soos dit vandag reën nie.

 


 

Lees die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top