Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Een in ’n miljoen"

  • 0

Een in ’n miljoen: Die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

 


Wat werk?

Min dinge lees lekkerder as ’n goeie speur- of polisieverhaal.

Wat om te lees

  • ’n Deon Meyer-roman
  • Mickey Pistorius se boek oor massamoordenaars

Waarom aan aandag te gee:

  • Hierdie verhaal  oortuig nie as ’n moordverhaal nie. Waarskynlik om daar (soos dit hier staan) kritieke verhaalelemente en effektiewe aanwending van verhaalelemente ontbreek.
  • Die taalgebruik oortuig nie. Die filosofiese aanloop oortuig nie. Die binnewêreld van die moordenaar lees maar vaal en voorspelbaar.
  • Die teks vertel en beskryf, dit wys en ontvou nie. M.a.w. die verhaal (soos dit nou staan) lees soos ‘n storie wat bloot oorvertel word. Dit integreer nie die verhaalelemente (karakters, gebeure, vertelperspektief, tydsverloop, dialoog, ens.) tot ’n goeie geheel nie.
  • As jy die moordenaar as verteller kies, sal jy sy binnewêreld moet verken. Geen moordenaar (en daarvan is ek oortuig) beskryf sy vermoë om vrouens op te tel as iemand wat so breed kan glimlag dat sy wange seerkry nie. Of beskou homself as iemand wat net aan ’n dronk vrou sy “swak leuen” kan verskuil nie. ’n Moordenaar én ’n mens kan nie “amper wonder” nie. Of jy wonder, of jy dink nie daaraan nie – daar is nie ’n middeweg nie. Hy is tog doelgerig. Hy weet al hoe om te werk te gaan. Hy is slu en sluwer en sluste. Hy is berekend. Koud. Kil. Hy is ’n moordenaar ... En nie sommer enige moordenaar nie. Die soort wat moor en dit na selfmoord laat lyk ...
  • Die karakters is nie ontwikkel tot volronde mense waarmee die leser kan identifiseer nie. Die polisiemanne lees soos ’n koerantberig, die moordenaar lees soos ’n filosofiestudent, die meisie wat vermoor word lees soos ’n swak slagoffer. Die skrywer sal meer moet oplees oor die sielkunde van die binnewêreld en die gedrag van moordenaars.
  • Die skrywer moet die karakters se paaie behoorlik laat kruis. Moordenaars sit nie buite nagklubs rond en besluit sommer op die ingewing van die oomblik om iemand te vermoor nie. Die spanning moet sistematies opgebou word ten die agtergrond van die moordenaar se grieselrige motivering.
  • Die konflik tussen die polisiemanne moet op meer berus as ek-sê-en-jy-luister. Skep spanning deur rang te betrek. Deur hulle verskillende voorkomste. Deur hulle verskillende ervaring. Deur hulle verskillende persoonlikhede. Deur hulle ouderdomsverskil. Jy “verskeur” nie ’n Steers-burger nie. Jy praat nie in Suid-Afrika van ’n “broad” nie, jy gebruik nie die kerk as verskoning vir ’n misdaadtoneel nie (of jy is aan diens of jy is nie), en jy sê nie “ou seun” nie. Gaan kyk hoe lees Deon Meyer se polisiemanne. Soos polisiemanne. In die wêreld van brutale misdaad, draai mens nie doekies om nie.
  • Waar is die intrige? Niks is toeval nie! So die polisieman gaan kerk toe en die ander vermoed iets is nie reg nie. Einde van die storie. Waar is die storie nou eintlik? In die moord? In die ondersoek? In die ontrafeling? In die konflik tussen die speurders? Ek dink nie hier is al ’n storie nie ... Maar ek dink hier kan een gemaak word ...

Die verhaal lees soos ’n vertelling van ’n TV-program of fliek. Haai, het jy daai fliek gesien van die ou wat buite die nagklub gesit het en toe die meisie wat so dronk was vermoor het en toe die polisie haar lyk kry toe ... Hierdie is nog nie ’n verhaal nie, dit is ’n blote monotone oorvertel.

 

Lees die eerste weergawe van Een in ’n miljoen

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top