Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Shawn se dilemma"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


Shawn se dilemma
(Vorige titel: "Gister se dinge")

Na Meagan hom gelos het moes Shawn sy lewe regruk. Mens lewe tog nie oor jou skouer nie. Dan’s daar nog klein Shawnie om aan te dink. Alles wentel mos nie rondom die bierbottel nie.

 

Onder die hitte van sy kombers hoor hy die klop aan die voordeur. Sy ma gaan maak oop.

“Môre Rachel,” hoor hy ant Helen die buurvrou se stem. “Is Shawn hier? Ek wil hê hy moet na my stove kom kyk.”

“Hy slaap nog,” hoor hy sy ma sê. “Maar as hy wakker skrik gaan ek die boodskap gee.”

“Assebieftog. Dis darem nie verniet nie.”

Hy verwag die klop aan sy kamerdeur. Hy wil sê kom binne, maar dis asof sy tong teen sy verhemelte vasklem.

Die deur kraak oop en sy ma loer. “Oe! Jy lê wakker,” sê sy. “Helen was nou net hier ...”

“Dis okay. Ek het als gehoor,” mompel hy en draai in sy bed om.

“Sit net die drom uit voor jy gaan,” sê sy en druk die deur toe.

Hy voel-voel langs hom, onthou hy slaap alleen. Iets waaraan hy gewoond moet raak. Hy snuif en ruik onder sy kombers die walm sweet vanaf sy blaaie opslaan. Sy tong proe bitter. Sy kop dra slapeloosheid. Op die bedkassie staan ’n foto van hom met ’n donkerkopvrou en ’n baba in die middel. Almal lag. As die lewe net ’n skroef was kon hy sy foute met sy skroewedraaier regdraai. As hy net sy probleme kon afbreek en tot ’n oplossing herbou. Dan sou die foto nog waar gewees het. Laat hy liewer gaan was en na ant Helen se stove gaan kyk. Hy vee die slaap uit sy oë uit en staan op.

 

Die middag na ant Helen se betaling ry hy uit na Meagan-hulle toe. Sy motor moes hy verkoop vir drankskuld. Daar’s mos niks verkeerd met my fiets nie, dink hy. Die oop lug sal my goed doen. Swaeltjies tjirp oor sy kop. Onder hom soes die wiele en die wind suis langs sy ore. Die paaie se honde grou en hap blaffend na sy bene. Hy ry verby Tommy’s Tavern en kyk dadelik anderkant toe. Dan ’n blok verder sit ’n paar mans kop-aan-kop op die sypaadjie. Agter hulle teen die betonmuur – langs die vele bendekentekens – is in rooi gespuitverf: WE SALUTE MONEY, DRUGS & ALCOHOL! Een van die groep mans staan gebukkend op terwyl hy die dobbelstene uit sy regterhand skud en bo-oor die note en muntstukke in die kring skiet. Een van die mans wink vir Shawn nader.

“Lanklaas vir jou gesien, ou Shawn,” sê die skieter. “Maar jy lyk goed vandat jy uit rehab is.”

“Ek’s hard besig om ’n job te soek,” sê Shawn terwyl hy die fiets tot stilstand bring en met sy voet teen die sypaadjie leun. “So ek is elke dag op die road.”

’n Brandsiek hond kom snuif en skarrel om sy been rond.

“Jy gaan ’n job kry,” sê ’n ander een wat met sy hand voor sy broek in staan en ’n lelike litteken oor sy neus het. Rondom die kring is net skuiwelende skoene, murmurering en ’n geklap van vingers. ’n Swanger meisie steeds in pantoffels en met ’n kind op haar arm kom aangestap. Sy tik die man met die litteken op die skouer. “Mammie vra ’n brood se geld,” vra sy en steek ’n oop hand uit.

“Ek gaan julle sien ouens,” sê Shawn en begin die pedale trap.

Die mans groet.

Agter hom hoor hy die swanger meisie fluister: “Sy eks Meagan se nuwe boyfriend was nou die aand so dik gesuip, toe baklei hy voor Die smokkelhuis . . .”

Shawn ry liewer vinniger weg en wonder wie Meagan se nuwe kêrel is. By die afdraai voor die singel waar Meagan woon val die ketting af. Hy’s net op sy hurke besig om dit op te draai toe die brullende bakkie langs hom stop. ’n Wit Hilux. Hannes s’n.

“Net die man wat ek soek,” leun Hannes een arm uit die venster. “My lawnmower is in sy moer in. En my ma slag my af as ek trek en haar gras lank los.”

“Ek sal ’n draai kom maak,” sê Shawn terwyl hy terug op die fiets klim.

“Kanalla, my broer. Maak net seker voor oormôre. Ons trek.” sê Hannes en kyk voor hom soos hy die ratte verander.

“Wie’s ons?” vra Shawn. Maar die Hilux dreun reeds die pad af en die uitlaatgasse brand sy neus.

 

Hy maak sy fiets teen die groen diamantdraad binne Meagan-hulle werf staan. Die geroeste voorhekkie grens toe hy dit oopmaak en skiet agter hom toe. Die voortuin ruik na nat grond. Hy sien die tuin se gras is kort en netjies geknip. Ant Linda se handewerk. Aan die een kant waar die motor intrek is sanderige grond. Meagan se kamervenster is oop en binne hoor hy hoe skerts vrouestemme.

“Daai wit bakkie kom nou baie hier,” herken hy Chantal Meagan se vriendin se stem.

“Ons hou van mekaar se geselskap,” sê Meagan beskermend.

“Smaak jy hom?” vra Chantal uit die bloute uit. Die vraag hang.

“Hoekom vra jy so Chantal?” sê Meagan sag. In Shawn se geestesoog kan hy sien hoe sy haar gesig trek.

“Ek soek nie weer ’n repeat van die Shawn-storie nie,” sê Chantal besorg.

“Nou klink jy soos my ma.”

“Sorry, man. Dis net hy drink ook.”

“Chantal ek is tog nie blind nie. Moet nou nie so ’n issue daarvan maak nie.” Shawn hoor haar eers sug dan praat sy verder. “Miskien is liefde nie alles nie, dalk het ek meer stabiliteit in my lewe nodig ... Vir my en my kind. Ek kan tog nie weer van voor af weer op my ma se nek hang nie ...”

Shawn besluit om nie meer verder daar te staan nie en gaan klop by die oop voordeur. Uie sis in ’n warm pan visolie terwyl ant Linda groente kerf. Sy kyk op asof sy hom aanvoel. Haar gesigsuitdrukking verander van gerusstellend na ernstig.

“Middag, ant Linda,” praat hy ongemaklik. Sy knik, maar haar gesig vertel ’n ander storie. Moet ek nou sê ek kom na Shawnie toe of vra ek na Meagan? Hoekom hou die vrou my so dop?

“Meagan! Shawn is hier,” sê sy en laat sak haar oë en sny verder. Verbeel hy hom of kerf sy nou met meer mening?

Hy gewaar klein Shawnie wat met asvaal kniekoppies en suigend aan ’n tiet die gang aangekruip kom. Agter hom loop Meagan op wit sokkies. Hy onthou dis een van haar ou gewoontes. In haar nat hare is twee groen krullers.

“Kom in,” sê sy en draai om, om terug te loop kamer toe.

Dis al. Geen stralende gesig nie. Of ’n “Shawnie hier’s daddy nie”. Net kom in. Asof hulle nog nooit ’n band gedeel het nie. Wat anders het hy verwag?

 

In die kamer maak Chantal verskoning om te gaan. Sy moet nog inkopies vir haar ma gaan doen.

Shawn tel die kleintjie op en gooi hom die lug in. Klein Shawnie geniet dit terdeë. Na ses gooie ry hy op pa se rug. Lugborrels vorm en skiet by sy lippies stukkend. Die kamer dra die naar reuk van ’n haarsalon. Meagan raak met haar hare voor die spieël doenig. Op die spieëlkas staan ’n bottel sjampoe, ’n pot handeroom en ’n bottel haaropknapper.

Die windjie waai die gaasgordyn. Sy draai ’n kruller agter in haar hare in.

“Wat ruik so?” vra Shawn en snuif hard.

Sy draai na hom met ’n gemaak verbaasde uitdrukking. “Is jou kind wat so ruik,” sê sy en trek ’n seksie hare met die kam wat sy saam die kruller inrol.

“Nou maak hom skoon, Meagan,” sê hy soos hy die kleintjie van sy rug afhaal en op die bed neerlê. Meagan ignoreer hom. Sy vat ’n paar ou, swart broekiekouse en knip ’n stuk met die skêr af. Sy knoop en rem dit in die lug. Daarna trek sy die soolkous versigtig oor haar hare en plak die haardroër in die muurprop.

’n Fyn sagte geluid kom uit klein Shawnie se mondjie. Sy lippies begin bewe en hy begin al harder skree.

“Meagan maak skoon die kind!” sê Shawn geïrriteerd.

“Ja, ja!” sê sy en begin die kleintjie se klere uittrek. Sy knoop die speld los en die skerp reuk van urine neem toe. Dan haal sy die doek af, vou dit en trek dit deur sy agterent. Sy gee die doek vir Shawn om te gaan uitspoel. Toe hy huiwer merk sy dit op. Hy gaan spoel dit twee keer in die toilet se spoelende water. Daarna droog hy dit uit. Op die vloer staan ’n geel kommetjie half vol water met vier doeke in. Toe hy die uitgedroogde doek daar byvoeg kan hy die skerp reuk van bleikmiddel in sy longe voel. Deeglik was hy sy hande met seep, spoel af en vee by die handdoek agter die deur af.

Terug in die kamer dwaal die geur van babapoeier. Shawn hou dop hoe sy die skoon doek aansit. Hy bewonder hoe sy die speld behendig by die doek indruk.

“As jy nie wil nappies uitspoel nie, moet jy jou kind throwaways koop,” sê sy besig met ’n gebukte rug sy kant toe. Hy antwoord nie.

Toe Shawnie sy waterbroekie aan het gloei sy gesiggie weer. Meagan gaan sit weer voor die spieel en skakel die haardroër aan. Dit lawaai. 

“Hier’s iets,” sê hy en haal gekreukelde note uit sy kous. Hy hou dit na haar uit.

Sy kyk hom in die spieël met ’n onpeilbare uitdrukking.

“Hoekom kry jy nie ’n wallet nie?” vra sy en steek die geld in haar

broeksak.

“Net mense wat werk loop met wallets,” groet hy en gee klein Shawnie ’n

soen op die voorkop.

“Miskien moet jy ’n werk kry.” blaas sy haar hare droog.

Ek probeer al ’n maand lank dink hy toe hy wegry.

 

Die volgende middag om vyf-uur kom hy moeg gesoek vir werk by die huis aan.

“Jy moenie so in die son loop nie. Kyk hoe rooi is jou gesig gebrand,” sê sy ma en staan op. “Wag ek kry vir jou ’n bietjie yswater.”

“Asseblief.”

“Hier’s nie eers meer glase in die plek nie,” sê sy toe sy die koppie met ’n af-oor vir hom aangee. Hy voel dadelik skuldig, want hy weet deur wie se toedoen is dit, niemand anders behalwe hy nie.

“Hoe het dit gegaan?” vra sy ma na hy sy rugsak op die sitkamerbank neersit.

Hy sug hard. “Ek kry nie werk nie. En Meagan het throwaways vir Shawnie nodig,” sê hy afgemat.

“Throwaways?” vra Rachel verbaas. “Nee, wat makeer haar hande?”

Hy trek sy skouers op. “Sy’s nog kwaad vir my. Ek kan haar seker nie blameer nie.”

“My kind moenie die res van jou lewe skuldig voel vir gister se foute nie. Ek het nog nooit ’n problem met Meagan gehad nie, maar sy’s te veel oor material dinge . . .”

“Iets brand,” ruik hy.

“Hoe, Here! My bakbrood!” sê Rachel en beweeg vinnig kombuis toe. 

Die aand droom Shawn van ’n glas koue wyn vol ysblokkies. Langs die glas staan ’n bottel Captain Morgan met druppels wat teen die kante afloop. Die begeerte en smagting na drank wakker in hom aan. Dan reik sy hand stadig en versigtig na die glas . . . Toe kom Shawnie in die agtergrond aangekruip, gaan sit regop en skree. Die visie raak wasig en verdwyn stadig in ’n suigende maalkolk weg.

Toe hy wakker skrik is hy sopnat gesweet. Sy kussingsloop en onderste laken is klam. Sy ander beddegoed lê op die grond. Hy lê verder heelnag wakker.

 

Vandag gaan hy weer Shawnie kuier besluit hy. Die pad by Meagan-hulle is stil. Buite hul huis luier ’n wit Hilux-bakkie. Twee mans laai ’n bed en spieëlkas agterop. Soos Shawn nader kom sien hy die Shoprite-sak wat langs die meubels ingedruk lê. Daar’s babagoed in: bottels, tiete, babapoeier, baba-olie en ’n breë pak Pampers wat bo wil uitbeur.

Meagan kom by die voordeur uit. Haar hand skadu haar oë van die sakende son.

“En dié?” beduie Shawn na die bakkie vol meubels.

“Ek het ander blyplek gekry,” sê sy en stap nader.

“Hoe ... waar?” Hy gooi sy hande die lug in. “Meagan jy moet my hierdie dinge sê. Dis my laaitie ok.”

Hannes kom met die Shawnie op sy arm en twee bottels Castles oor die pad gestap.

“Is julle bymekaar?” vra Shawn en kyk van Hannes na haar weer na Hannes. Hy sien die bottels. “Jou boyfriend moenie met biere rondom my laaitie nie,” sê hy kras.

Hannes sien hulle gesels en beweeg bakkie toe.

“Ten minste weet hy wanneer om te stop,” sê Meagan en op daardie oomblik kyk sy hom vol in die oë. “Nie soos iemand wat ek ken nie.”

“Okay, okay! Ek het opgefok. Hoeveel keer moet ek sorry sê.”

Die kombuisvenster gaan oop. “Los my kind uit,” raas ant Linda. “Asof jy nie genoeg skandaal gemaak het met jou gesuipery nie. Meagan moet jou lankal gelos het.”

“Nee, ma!” draai Meagan na haar toe.

“Als oraait?” vra Hannes van die oop bakkiedeur af.

Meagan knik.

“Ons het ’n kamer twee huise van my pa af gehire. Jy kan steeds vir Shawnie kom visit,” sê sy en begin loop.

“So ver?” vra hy met wasige oë. “Dan sien ek hom net een keer ’n maand.”

“Ek’s jammer,” sê sy en dit lyk opreg.

Hannes maak die passasiersdeur vir haar oop en gee die helpers ’n tip. Toe sy inklim groet Shawn die kleintjie. “Moenie worry nie. Daddy kom visit,” soen hy Shawnie se wang. Sy gesig lyk af.

Die bakkie ry stadig weg en trek die honde aan. Naby die stopteken gee hulle blaffend moed op. En die bakkie los hom met die honde, in die middel van die pad, op die rooi skemeraand agter.

 


Lees die tweede keurverslag oor "Shawn se dilemma"

Lees die eerste weergawe: "Gister se dinge"

Lees die eerste keurverslag oor "Gister se dinge"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top