Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "’n Hart van swart"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


’n Hart van swart

Rayno hou sy asem op en knyp sy oë toe. Hy tel stadig tot tien in sy kop en probeer die geraas van die klub uitsluit. Hy kan sy hart in sy maag en in sy vingerpunte voel klop. Sy hande voel nat, en hy hoor die sagte maar onmiskenbare klank van bloed wat op die badkamervloer drup.

Drup.

Drup.

Drup.

Daar gaan nie bloed op die vuil wit teëlvloer wees nie. Hy weet dit, tog kyk hy af.

Daar is nie bloed op die vloer nie.

Hy vryf sy hande hard oor sy gesig en kyk stip na homself in die dowwe spieël. Verwilderde, bloedbelope groen oë staar terug. Sy ma het altyd gesê sy oë is die kleur van die diepsee in stormtyd.

 

Rayno skud sy kop en kyk weg. Hy dink terug aan die tyd toe jaarlikse vakansies nog ’n gesins-instelling was. Toe sy ma hom in die oggende vroeg kom wakker maak het om saam met haar langs die see te gaan stap. Hy onthou hoe hy saam met sy pa gaan hengel het, knie-diep in vriesende water. Frank is ’n man van min woorde en ’n vinnige humeur. Hy en sy seun sukkel om mekaar te verstaan, en ruil gereeld harde woorde en koue beloftes uit. Rayno het eerstehandse-ondervinding van presies hoe hard sy pa se vuiste kan wees, veral op ’n sestien-jarige laaitie se kakebeen. Hy knyp sy oë weer toe en sug.

Hy dink eerder aan hoe lief Chanie daarvoor was om in die vakansie-son te lê en tan, groot swart sonbril op haar gesig en klomp mode-tydskrifte langs haar gestrooi.

Chanie: blonde hare, lig-blou oë, ’n mond wat altyd glimlag en ’n sagte gemoed. Frank se oog-appel en onderwysers se wittebroodjie.

Rayno: swartskaap. Grougroen oë, donkerbruin hare en ’n hart van swart. Die tipe seun wat van vroeg af pakke slae, detensiesessies, moeilikheid en los meisies gelok het. En trots was daarop.

’n Seun wat swaar op sy ouers se harte gelê het, vir al die verkeerde redes.

Hy wonder waar die random herinneringe en kneusplekke van sy vergete verlede vandaan kom. Rayno was sy gesig met koue water in die klein wasbak. Die water is verfrissend en maak sy kop effens skoon. Die angel dust en vodka druis nog aangenaam deur sy lyf. Hy vat die tumbler en sluk die laaste van die skoon vodka af.

Whatever, Frank, dink hy en gooi die glas stukkend op die vloer.

Hy klap homself twee keer in die gesig om ’n bietjie kleur terug te sit in sy bleek wange en loop by die badkamer uit. Die klub is propvol mense. Lywe wat styf teenmekaar gedruk is op die dansvloer, meer as gevolg van voorkeur as die beperkte spasie.

Rayno gaan staan voor die verhoog en steek sy hande in sy Levi’s se sakke. Hy kyk na die massa wat perfek op maat van die musiek beweeg. Meisies wie se klere te styf sit, met onmoontlike hoë hakskoene aan. Ouens met pynlik stylvolle hare en broeke wat te laag hang aan hul gatte.

Almal beweeg saam, soos ’n kleurvolle golf wat saamgetrek word met die maat van die oseaan se ritme.

Dis asemrowend. Rayno se hart pyn van die skoonheid daarvan. Die absolute, eenvoudige genot wat deur meer as ’n honderd mense getap word in die spasie van 80 vierkante meter.

Poison Livvy is een van Rayno se gunsteling-klubs om in op te tree. Kaapstad se glansrykstes, jongstes, mooistes en mees welgesteldes hang uit by Poison Livvy, Suid-Afrika se weergawe van die befaamde Viper Room.

“Hi baby.”

Rayno draai sy kop in die rigting van die stem wat net-net hoorbaar is bo die musiek. Haar ysblou oë is donker opgemaak, wimpers wat te lank is om eg te wees. Swart hare wat in salongemaakte golwe langs haar gesig af val tot tussen haar prominente skouerblaaie. Vol lippe wat glinster in die polsende ligte.  ’n Pienk rokkie wat elke stukkie van haar lyf uitstal en drie volle hande bo haar knieë eindig.

Rayno weet dat ten minste vier ander ouens besig is om elke beweging van haar stip dop te hou, terwyl hulle probeer besig lyk met iets anders. Hy kan nie haar naam onthou nie. Hy het haar die vorige naweek iewers ontmoet, maar dit kan hy ook net vaagweg onthou. Haar mond het lekker geproe ...

Wat ook al daarop gevolg het, was ’n warboel van ligte, musiek en shots.

“Hi,” sê hy en glimlag vir haar.

Hy kyk na haar gesig wat té perfek opgemaak is en dink aan sy suster. As Chanie ooit grimering gedra het, was dit lig genoeg dat hy dit nooit opgelet het nie. Haar natuurlike skoonheid het jou asem weggeslaan. Dit sou lasterlik wees om ’n klomp blinkers en poeiers oor iets so perfek te gaan plak.

Hy voel die trane agter sy oë prik. Perfekte Chanie.

Lorinda.

Dís die naam van die meisie met die te lang wimpers en te maer bene.

“Sien jou na die show, Lorinda,” sê hy en soen haar sag op die mond. Haar Jack Daniel’s-smaak dans op sy tong rond.

Toe die platejoggie hom nader wink, draai Rayno om en loop na die verhoog. Derrin, Jason en Dewald volg hom. Swartskaap tree vanaand op.

Sold out.

Rayno is trots daarop. Hulle het vir vier jaar in sy pa se motorhuis geoefen; vier hoërskoollaaities met genoeg onskuld vir Hollywood-drome en genoeg geld vir Tassenberg-wyn. Dit was ’n goeie kombinasie.

Uiteindelik het hulle hul break gekry toe hulle een aand in die Mercury gespeel het en iemand belangrik hulle raakgesien het.

Wat ook al daarop gevolg het, was ’n warboel van ligte, musiek en shots.

Rayno bring die mikrofoon nader aan sy mond en skree: “Goeienaand, Poison Livvy!”

Die skare juig soos een man terug. Dis oorverdowend. Rayno glimlag.

“Vanaand se show is ’n huldeblyk aan die persoon vir wie ek liewer as vir my eie lewe is.” Hy vat die shot wat een of ander naamlose, gesiglose fan uit die gehoor vir hom aangee. “Vanaand herdenk ons my Chanie se dooddag.”

Hy sien nie die skielike trane in Jason, sy bass guitarist, se oë nie. Die res van die groeplede kyk onderlangs na mekaar. Hulle het vroeër die aand gesweer hulle sal vir Rayno hulp kry. Dinge raak buite beheer, en dis net ’n kwessie van tyd voor iemand weer seerkry.

Rayno begin Swartskaap se intro oor die mikrofoon uitskree. Lywe vooroor gebuk; een arm in die lug gegooi terwyl die ander hand op die maat van die musiek beweeg. Die a-seksuele dans van rou contemporary rock. Die girls se hare is lank en deurmekaar, hul oë donker opgemaak. Die ouens stamp mekaar in die mosh-pit rond. In die ligte van die stage is die enigste plek waar Rayno deesdae nog lewendig voel.

Wat ook al daarop gevolg het, was ’n warboel van ligte, musiek en shots.

 

“Jy was awesome, baby,” lag Lorinda toe Rayno van die verhoog af klim.

Sy gooi dadelik haar arm om sy lyf om vir die ander aasvoëls te wys hy is klaar gevat. Haar berry-bliss geverfde lippe trek weg van  ortodontis-perfekte tande wat net drie dae terug gebleik is in die tandarts se stoel. Daar is sterretjies in haar agtienjarige starstruck ogies.

“Dankie, meisie. Gaan kry vir my ’n drink en kry my buite die badkamer oor ’n halfuur, okay?”

Hy druk ’n R100-noot voor by haar rokkie in, tussen haar uitgestalde borste, draai om en loop badkamer toe.

Jason kom agterna.

“Dude, jy’t belowe jy gaan minder gebruik.”

Daar is donker kringe onder Jason se bloodshot oë. Rayno draai stadig om, en voel hoe vonkies van misplaaste woede oor sy senuweestelsel dans.

“Los my uit, ou. Ek meng nie in met jou lewe nie, doen ek?”

Jason keer met sy hande. “Cool it, dude, ek wou net ...”

“Doen ek?” skree Rayno dat druppeltjies spoeg op Jason se pretty-boygesiggie val.

“Fok jou Rayno,” sê Jason en stamp vir Rayno hard op die bors.

“Weet jy wat gaan gebeur dude?” skree Jason en stamp hom weer.

“Ek gaan jou gebreekte lyf van die teerpad moet kom optel! Net soos Chanie! En jy is te wasted om eens om te gee. So fok jou.”

Jason se wilde oë loop oor van trane en seer.

Whatever, Frank.

Rayno kyk stil hoe sy beste vriend omdraai en wegloop. Hy draai self om om by die badkamer in stap en sluit hom in ’n toilethokkie toe. Hy maak die toiletbak toe en haal sy banksakkie coke uit sy Levi’s se sak. Hy maak vinnig twee lyne op die toiletsitplek se bokant en snuif dit op.

 

Wit lyne. Sperlyne. Chanie.

Hy knyp sy oë toe en gooi sy kop agteroor.

 

Dit was haar agtiende verjaarsdag. Rayno was drie en twintig,  met sy een voet op studentegrond en sy ander voet op die pad na die grootmens-wêreld.. Dis ’n groot afstand vir drie en twintigjarige bene om te rek.

Hy het dit amper reggekry. Hy was in die finale jaar van sy LLB-graad en het tog nog steeds tyd gekry om saam met Swartskaap te jam.

Toe gebeur dit.

“Asseblief, Rayno?”

Chanie se oë was ’n onmoontlike groen en haar mondjie getrek om op haar broer se hartsnare te speel. “Asseblief, toe?”

Rayno het geweet dat hy klaar oorreed was.

“Ja, okay. Whatever.”

“Belowe? Belowe jy sal?”

Sy het haar beste puppy-face gebruik om haar broer se hart sag te maak.

“Ek het jou nou net gesê ek sal, het ek nie?” het hy gesê en weggedraai van haar af om vir hom ’n tumbler vol duur whiskey uit sy pa se minibar te skink.

“Dankie, dankie, dankie! Jy’s die beste broer ooit!” het sy gegil en hom styf vasgedruk.

Hy het ingestem om Chanie en drie van haar vriendinne uit te neem vir die aand. Perfekte Chanie wou uitgaan in Kaapstad en dronk word op goedkoop drank en goedkoop musiek.

“Dis cool. Ons kuier hier by die huis tot elfuur, dan kan ons uitgaan,” het hy gesê en ’n groot sluk whiskey gevat.

“Ek gaan vir Jason-hulle saamnooi, dis my enigste voorwaarde.”

“Okay,” was Chanie se antwoord voor sy haar vriendinne begin bel het.

Binne ’n uur was die huis vol jongmense en bottels drank. Hul ouers was weg vir die naweek, na sy pa se familiereünie. Die musiek het gepols vanuit die hometheatre system. Derrin het sy diskoligte saamgebring om die full effect te skep.

Chanie was mal daaroor.

Rayno het trots en lig gevoel terwyl hy staan en toekyk hoe sy kleinsussie soos ’n vlinder van groepie tot groepie fladder om almal gemaklik en welkom te laat voel. Sy het grootgeword sonder dat hy dit besef het ... Die ponytails en Barbie het nog net voortgeleef in sy ouers se talle  foto’s van hul perfekte pragkind.

“Kom, ons is reg vir uitgaan!” Chanie het hom opgewonde aan die arm gegryp en in die flikkerende ligte om hom gedans op Rihanna se nuwe hit van vloekwoorde en elektriese polse.

Sy was baie dronk. Rayno kon dit sien, maar hy het nie omgegee nie. Hy wou hê dat sy die aand moet geniet. En hy wou ook nie hê sy moes sien hoe dronk hý was nie.

“Okay, kom ons gaan.”

Hy het sy pa se goue Fortuner se sleutels gaan haal en die mikrofoon gegryp wat Jason in die sitkamer opgestel het.

“Okay, boys and girls, ons gaan na Red Red Wine in Langstraat! Laaste een daar is  ’n vrot pampoen!” het hy met sy beste verhoogstem aangekondig.

Almal het hul baadjies, beursies en sleutels gevat en na hul voertuie beweeg.

Chanie het shotgun gery en haar drie beste vriendinne het op die agtersitplek gesit. Die lug in die Fortuner het té sterk na Gucci-parfuum en vodka-asems gestink. Rayno was nog nooit gelukkiger nie.

“Ek is regtig lief vir jou, Rayno! Weet jy dit?” Chanie het na hom gekyk met oë wat nog te veel soos ’n kind s’n gelyk het. Onskuldige oë wat nog die mooi in als raaksien.

Rayno het geweet dat na haar eerste jaar van universiteit, sal die stad se liggies nie meer so vol wonder en twinkles wees nie. Wanneer jy op jou eie voete leer staan, kom gooi Klaasvakie se onaangename tweeling-broer genoeg swart blinkers in jou oë; sodat jy die slapende boemelaars raaksien in die ligte van die Ferrari-Garage. Sodat jy oplet hoe baie haweloses soos spoke in Stellenbosch se strate rond dwaal, terwyl studente hul gewetens en inhibisies probeer weg drink. Die mallemeule van grootword; nie ‘n ride vir pissies nie. Dit het hom verbaas dat dié gedagte soos ’n dolk in sy hart gevoel het.

“Jy skuld my tien shots, Chanie. Harde shots,” het hy gesê en gelag.

“Okay, cool, sal vir jou jou eerste een gee sodra ons daar aankom.”

Sy het effens geglimlag, maar ewe skielik ’n ernstige, hartseer kyk in haar oë gekry. Daar was ’n stilte tussen hulle terwyl die drie meisies agter hulle soos opgewonde vinke gekwetter het.

“Uhm ... Rayno?”

“Wat?”

Die hare in sy nek het orent gestaan. Hy kon nie verstaan hoekom nie. Hy het gedink dat daardie band tussen hom en sy suster al lankal verbreek was. Vandat hul opgedeel is in team perfect en team swartskaap.

“Moenie kwaad wees nie, okay?”

Haar oë het vol trane geskiet. Hy het homself gepaai dat sy net te veel gedrink het en gevolglik ooremosioneel was.

“Wat, Chanie?”

Sy stem het effens gebewe en dit het hom dom en kwaad laat voel. Die onophoudelike gekwetter agter hulle het aan sy senuwees begin karring.

“Ek het drooggemaak, Rayno. Ek het ’n moerse fout gemaak. Belowe jy sal nie vir Ma en Pa sê nie?”

“Wat het gebeur?”

Perfekte Chanie.

Perfekte Chanie?

“Wat, Chanie?” Toe hy na haar kyk, was haar wange nat van groot, regte trane. Nie die trane-op-aanvraag wat sy al van kleins af bemeester het nie.

Dis iets stupid, man, het hy homself probeer paai. Iets soos dat sy 50% gekry het vir ’n toets.

Maar hy kon in haar oë sien dat dit erger was. Dat sy diep ingegooi was en nie geweet het hoe om te swem nie.

Hoe het hy dit nie raakgesien nie? Die afgelope paar weke het sy haar onttrek van almal en haar in haar kamer toegesluit. Hy het geweet sy ouers is bekommerd oor haar, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie omdat hy in sy eie wêreld was.

Sy was besig om te verdrink. Hy kon dit in haar oë sien. Soort soek soort.

“Wat, Chanie?” het hy weer gevra en stip na haar gekyk.

Toe gebeur dit.

Toe verdrink almal.

’n Ander voertuig het die Fortuner van voor af getref.

 

Kop-teen-kop-botsing, dis hoe die polisie dit genoem het. So ’n skoon en netjiese bewoording.

 

Dit was nie.

Toe Rayno sy oë oopmaak, was alles  ’n mengelmoes van rooi en swart en flitse. Hy het met sy hand oor sy gesig probeer vee, maar het net nat en taaierigheid gevoel.

Drup.

Drup.

Drup.

Alles was deurmekaar. Soos in die oggend wanneer jy wakker word nadat jy baie hard gekuier het. Iets was fout. Hy het dit geweet, iets was baie verkeerd.

Hy het die deur met sy skouer oopgedruk en uitgeval. Sy kop van kant tot kant geskud om die ligrooi waas te probeer wegskud. Dit het seer gemaak.

Als was rooi. Als was seer.

Hy het langs die kar op die teer gelê soos hy by die deur uit geval het. Hy het vaagweg besef dat sy pa se kar soos iets uit  ’n fliek lyk. Al wat oorgebly het van die goue Fortuner, was ’n deurmekaarspul van gebuigde staal en bloed.

“Chanie? Chanie!”

Hy het homself paniekbevange teen die wrak probeer optrek. Hy kon dit nie regkry nie. Daar was iets baie verkeerd met sy arms, hulle het nie gewerk soos hulle moes nie. En hulle het snaaks gelyk ...

Hy het iemand se arms om sy lyf voel vou. Dit was Jason, sy gesig so bleek soos ’n lyk. Hy het net agter Rayno gery.

“Chanie! Help my om by die passasierskant te kom!” het Rayno geskree en vorentoe gebeur.

Hulle het sukkel-sukkel om die wrak beweeg. Jason het skielik na sy asem gesnak, vorentoe gebuig en hard begin huil.

Rayno kon nie begryp wat sy oë inneem nie. Niks het sin gemaak nie.

Hy het die legkaartstukke van onder af probeer inpas.

Voete. French manicure op die tone.

Goue toonring op elke middelste toon.

Kuite. Bobene. Perfek gespierd en gevorm deur jare se tennis en netbal.

Kort wit rokkie wat kleef aan die perfekte lyfie van ’n agtienjarige.

Kort wit rokkie met rooi kolletjie ... Nee, rooi kolle ... Groot rooi vlekke.

Arms wat stil lê. Hande wat perfek versorg en leweloos lê.

Rayno het afgekyk na die wit sperlyn op die teer.

Drup.

Drup.

Drup.

Die lyn het loodreg tussen sy bene deur geloop.

Soos ’n student wat staan met sy een been op vodka en sy ander been op die grootmenspad ...

Maar bloeddruppels breek die wit van die sperlyn.

Daardie warm somersaand het hy sy balans verloor en by die afgrond afgeval. Tussen twee sperstrepe in geval met geen hoop om ooit weer terug te kom nie. Verstik en versmoor aan die skerp swart blinkers van Klaasvakie se tweelingbroer. Na daardie aand het Rayno die vermoë verloor om ooit weer die mooi van die lewe te kan raaksien.

Daardie aand het als gebreek. Alles breek.Niks is ooit weer heel nie.Niks wás ooit heel nie.

 

Whatever, Frank.

Rayno stap by die toilethokkie uit, by die badkamer uit. Uit sy kop uit, hoog op pyn en vodka en kokaïen.

Lorinda staan en wag met ’n verdoemde hart, ’n verliefde glimlag en ’n glas skoon vodka in haar hand.

Wat ook al daarop gevolg het, was ’n warboel van musiek, shots en ligte.

 


Lees die tweede keurverslag oor "'n Hart van swart"

Lees die eerste weergawe van "'n Hart van swart"

Lees die eerste keurverslag oor "'n Hart van swart"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top