Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "’n Happy ending"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


’n Happy ending
(Vorige titel: Kopskuif)

My naam is Chamonique en ek is gebore in ’n gebroke wêreld. My ma het seker gedink as sy vir my ’n mooi naam gee, ek ’n mooi lewe sal hê, maar ek het op die harde manier geleer klein dogtertjies het meer as net dít nodig.

Gelukkig het ek die meeste van my kinderdae-herinneringe uitgeblok. Dit sal in elk geval te moeilik wees om al die weeshuise, maatskaplike werkers en ooms se name te onthou. Mense het al vir my lelike goed gesê wat ek gelukkig vergeet het, maar die een vriendelike ding wat ek al my hele lewe lank hoor, is dat ek mooi is. So dis wie ek is. Ek is Chamonique en ek is mooi.

Die res is nie belangrik nie en ek kan dit in elk geval nie onthou nie, wat ’n goeie ding is, want julle sal dit in elk geval nie wil hoor nie. Niemand sal kan glo dat só ’n mooi meisie met só ’n mooi naam só ’n vieslike storie het nie. Ek wil tydloos wees. Ek weet nie veel van ambisie nie, maar my ambisie is om tydloos te wees.

Ek stel nie belang in sport of kultuur of boeke of musiek nie. Ek weet nie eens van al die ander goeters wat bestaan waarin ek ook nie sal belangstel nie. Ek weet nie wie enige ander land behalwe Suid-Afrika se president is nie (ek weet ook nie eintlik wie hy is nie, maar ek weet hy’s swart), ek lees nie koerant nie, ek het nie ’n mening oor rhino poaching of global warming nie, ek hou nie van diere nie en ek kyk neer op lelike mense. Ek is dom, maar ek is nie blond nie. Ek weet niks van niks, maar darem is ek mooi.

My belangstellings is grimering, Botox, cosmetic surgery, wat ander mense van my voorkoms dink en spieëls. Ek kan nie sonder spieëls nie. Terwyl ander hul kinders, troeteldiere en Bybels uit brandende huise sal red, sal ek kyk hoeveel spieëls ek kan gryp. My kind en my kraai en my god kan maar in ’n vlammehel vergaan.

As die spieëls te swaar is, sal ek met my kaal hande stukkies daarvan afbreek, want dis vir my niks om bloed te huil nie. Ek doen dit al vir jare, en laat ek jou vertel, dit brand minder as trane. Dan sal ek eers vir myself in die spieël kyk en pruil, want dit maak nie saak hoe sleg ’n situasie is nie, as jy mooi lyk sal jy okay wees. Maar as jy oud en lelik is, dan is dit verby. 

Terug na my storie oor die brandende huis: ’n Brandweerman sal ingehardloop kom en my in ’n kombers toedraai, in sy arms optel en styf teen hom vasdruk terwyl hy my na buite dra. Hy sal my vertel dat ek die mooiste meisie is wat hy al ooit gesien het en die bloederige splinters versigtig uit my hande haal. Hy sal sê ek hoef myself nooit weer seer te maak nie, want van nou af is hý my spieël en ek is pragtig net soos Sneeuwitjie en Aspoestertjie en Gouelokkies.

As ek nie net mooi was nie, sou ek nogal goed gewees het as ’n aktrise, want ek is hopeloos romanties, al het ek geen rede op aarde om so te wees nie. Ek kon myself nog altyd imagine as ’n heldin in een of ander fliek, iemand soos Juliette wat in die naam van liefde saam met Romeo sterf. In die regte lewe is daar nie prinse soos in my drome nie, hier is net lelike paddas wat vir jou siektes gee wanneer hulle op jou piepie en aaklige geluide kwaak.

My enigste talent is my skoonheid en vandat ek kan onthou, is dit ’n obsessie en die spil waarom my bestaan draai. Dis beter om ’n mooi nobody te wees as ’n lelike somebody. Maar dis moeilik ook. As die wêreld maar net kon weet waardeur ek al alles is om te lyk soos wat ek lyk, sal hulle besef dat ek eintlik baie dapper is en baie deursettingsvermoë het.  Die pous word mos nooit in sy eie land vereer nie, of so iets. Die prinses ook nie. In my droomwêreld kraai ek koningin, maar in die gewone wêreld is ek niks. Dalk wys ek almal nog eendag.

My droom is dat ’n president of iemand belangrik my na ’n verhoog toe roep en vir my ’n medalje en ’n sertifikaat en ’n bos blomme gee vir die paadjie wat ek al moes stap. Hy sal mý heel eerste roep, lank voor hy die mense roep wat die honger kinders in Afrika red of die vlieënier wat gekeer het dat daai vliegtuig val. Almal sal opstaan en hande klap en snak na hul asem en vir mekaar fluister hoe beeldskoon ek is.

My gedaanteverwisseling het begin in graad 10, my laaste jaar op skool. Die biologiejuffrou het ’n glasflessie met twee lintwurms by die klas aangebring sodat ons kon sien hoe hulle lyk. Sy’t gesê mense wat wurms het, is altyd baie maer en net daar het ek besluit wat my nuutste dieet sou wees. Toe die klok lui, het ek die glasflessie skelm in my tas gedruk, badkamer toe gehardloop en die kriewelende gedroggies sonder seremonie, voor die spieël lewendig ingesluk.

Toe ek agtien geword het, het ek besluit om ’n borsvergroting te laat doen met die erfgeld wat ek van my ouma aan my ma se kant gekry het. Ek dink tot vandag toe die enigste rede hoekom ek by haar geërf het, is omdat sy skuldig gevoel het dat sy my ma nie gedwing het om ’n aborsie te kry nie.

“Erfgeld is swerfgeld” sê hulle altyd en ek weet nie lekker wat hulle daarmee bedoel nie, maar vir my het dit beteken dat ek in die toekoms oral met ope arms verwelkom sou word. Mense kon dalk hul deure vir ’n wees klein snotneusdogtertjie met luise toeklap, maar wie sal dit dan ooit oor sy hart of hormone kan kry om ’n smeulende donkerkop met stywe tieties te verwerp?

My implants was ’n blink plan. ’n Flippen seer plan, maar blink! Toe ek in die kliniek wakker word, het dit gevoel asof die ou in die Texas Chainsaw Massacre my borskas met ’n saag vermink het.  Ek kon in my gedagtes sien hoe hy my 32B’s uitpluk en met twee koolkoppe van silikoon vervang terwyl hy deur sy masker van velle vir my grynslag.

My nuwe borste was vir ses weke só seer, ek het heeltemal vergeet om te onthou van die eintlike pyn wat ónder hulle lê. En dis presies wat ek wou hê. Die lewe het my al baie poetse gebak, maar hier het ek die lewe ’n goeie poets teruggebak.

Dan is daar natuurlik Botox. Ek het reeds vroeg-vroeg besluit ek gaan nie wag met ’n facelift  totdat ek eendag ’n fossiel is nie, hoofsaaklik omdat ek geen begeerte of planne het om ’n fossiel te word nie. Die dag wat ek plooie kry en een of ander twintigjarige meisietjie kry meer aandag as ek, kan die engeltjies maar uit die hemele neerdaal of die duiweltjies kan maar oprys om my te kom haal. Botox is nie so erg nie, mense het nogal ’n verkeerde idee daarvan, maar ek was eenkeer baie arm en baie desperaat en het toe gaan aanklop by so ’n dodgy dokter met die een of ander Poolse van.

Nadat hy met my klaar was, kon ek vir ’n week nie loop nie, maar never mind dít, my gesig was heeltemal verlam en ek het soos ’n vertraagde babatjie gekwyl. Al wat lekker was daarvan, was dat ek vir twee weke lank nie gedwing was om smiles te fake nie. Dit het my nogal laat skrik om te sien hoe anders ek sou gelyk het as ek altyd aan die buitekant moes lyk soos wat ek aan die binnekant voel.

Die wurms, die boobs en die Botox was my grootste opofferings vir my skoonheid, maar ek is spyt oor niks, want dit het my gehelp om die liefde van my lewe te ontmoet. Paul se timing was perfek. Ek het amper begin dink ek gaan vir die res van my lewe alleen moet gaan slaap en dis die grootste straf op aarde vir al die hekse in die soapies.

Paul was ’n engel reguit uit die hemel wat die Here op my pad gesit het. Hy was ’n aantreklike, slim dokter en boonop ’n man van God. Ek het hom by die kerk ontmoet nadat ’n meisie wat by dieselfde restaurant as ek werk my genooi het om saam met haar die Here se amazing presence te gaan beleef. Sy’t vertel daar’s ’n oulike, single ou wat net van mooi meisies hou en sy wou ons aan mekaar voorstel.

Die dag na die kerkdiens het Paul na die restaurant toe gekom en my gevra of ek saam met hom koffie wou gaan drink. Dit was die lekkerste date van my héle lewe. Ons het gepraat oor hoe amazing God is en hy het my vertel dat ek beeldskoon is, mooier as enigiemand wat hy al ooit gesien het. Hy het ook baie gepraat oor hoe goed hy is in sy beroep, hoeveel uur per dag hy gym en hoe baie meisies agter hom aan is. Maar hy het mý gekies en met ’n klein bietjie hulp kon ek sy ‘‘meesterstuk’’ wees. Daai was sy woorde. Ek kon my luck nie glo nie!

Paul het flippen baie vir my omgegee. Hy het heeltyd vir my raad gegee oor hoe ek nóg mooier kan wees. Ek het saam met hom begin gym en minder geëet. Ek het hom vertel van die wurms en hy het my op die boud gepiets en gesê hoe slim ek is. Hy’t gesê ek moet dit maar eerder nooit los nie, want al daai leftover restaurantkos gaan sit in my gat en hy wil nie saam met ’n dik koei gesien word nie. Ek kon my doodlag vir al sy sêgoed!

Paul was regtig ook heavy romanties. Ek was nou nie juis die Virgin Mary toe ek hom ontmoet het nie, maar hy het my dinge gewys wat ek nie eens geweet het bestaan nie. Soms was dit seer, maar Paul was lief daarvoor om te sê “no pain, no gain” en Noleen op 3 Talk sê ook altyd dis belangrik om jou sekslewe spicy te hou.

My lewe saam met Paul was awesome. Bedags het ek gegym totdat ek opgooi, in die aande het ons goeters gedoen wat ek hom belowe het ek nooit sal oorvertel nie en op Sondae het ons gaan praise and worship. Ek was mal oor die roetine en was uiteindelik in ’n liefdevolle verhouding.

Paul het my selfs vir my verjaarsdag na ’n tattoo-winkel toe gevat en vir die ou gevra om bo my bikini-lyn die woorde Paul se Poes te laat tatoeëer. Ek wou nog sê daai p-woord is dalk ’n bietjies te rof, maar my liefie het klaar gepraat en ek was syne en hy kon doen met my wat hy wil en dit was so lekker om vir ’n slag te belong.

Paul moes baie vir sy werk reis, want hy was vrek slim en wetenskaplikes van regoor die wêreld wou hom ontmoet. Hy was besig met ‘‘baanbreker’’ mediese navorsing en ék was die vrou aan sy sy. Hy het my gereeld vertel dat ons nog die mees famous paartjie in die hele wêreld gaan wees. Wanneer hy weg was, het ek maar my Bybel gelees, gegym en gehuil omdat ek só alleen was. Hy’t verkies dat ek nie die huis moet verlaat nie omdat hy so bekommerd was oor my veiligheid. Hy het baie gesê dat ek vir ewig aan hom behoort en daai woorde het my warm en veilig laat voel.

Toe Paul vanaf Duitsland terugkeer nadat hy die een of ander baie belangrike wetenskaplike moes gaan ontmoet, was hy anders. Ek sal hierdie tydperk altyd onthou as ’n tyd wat ons verhouding amper op die rotse geloop het, maar ek is trots dat ek dit kon red en ek weet Paul is ook.

Hy het heeldag in sy kantoor gesit en werk en dit het gevoel asof hy my glad nie meer raaksien nie. Hy het my daarvan beskuldig dat ek verhoudings het en gesê hy dink nie ek is meer lief vir hom nie. Dit het my hart gebreek, want ek sou enigiets doen vir hierdie man. Ek het op die vloer langs sy lessenaar geslaap sodat ek naby was as hy iets nodig gehad het en ek het ’n hele boek met ek is lief vir jou en ek sal enigiets vir jou doen vol geskryf vir hom.

Een aand was Paul baie gestres en hy het my per ongeluk gestamp. Ek het op my knieë gesak en hom gesmeek om vir my te sê wat ek kon doen om dinge beter te maak. Hy het my vertel van al die stres by sy werk en dat hy sukkel met een van sy projekte, want niemand wil hom help nie. Hy het my in sy vertroue geneem en daarvan vertel en gesê dat ek deel daarvan kan wees.

Aan die begin was ek bang, maar hy het belowe dat ek wêreldbekend gaan wees en dit sal vir hom wys hoe lief ek vir hom is. Hoe meer ek daaraan gedink het, hoe meer het ek van die idee gehou. En ek word ook nie jonger nie.    

In my selfmoordbriefie het ek geskryf dat hulle my liggaam vir Paul en die Duitser se Bodyworlds-projek moet skenk.

Net soos ’n regte heldin.


Lees die tweede keurverslag oor "’n Happy ending"

Lees die eerste weergawe: "Kopskuif"

Lees die eerste keurverslag oor "Kopskuif"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top