Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Met somer in gedagte"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


Met somer in gedagte

Dis snaaks hoe ’n mens soms iets eenvoudig weet. Vir Barnard bring die swart spikkeltjie teen sy plafon die eerste roeringe van gewaarwording. Tussen die slaapnewels deur sien hy die vlieg sit, die eerste ding waarop sy oë fokus soos hy wakker word. Hy bly roerloos lê en hou die onverwagte besoeker dop.

Dit tref hom dat dit eintlik nog te koud vir vlieë is. Hy lê en dink hoe die harige gediertetjie waarskynlik besig is om sy voorpootjies listig te vryf en vryf en tydsaam te spoeg en te vryf. Dit moet dan die eerste vlieg van die seisoen wees. Die gedagte dat die somer dus op pad is en dit warm genoeg begin word vir allerhande goggas en onheilighede om uit te broei, laat hom onverklaarbaar tevrede voel.

Toe hy eindelik opstaan en badkamer toe loop, wolk die wasem om die buitelyne van sy voetspore op die teëlvloer. Hy sien uit die hoek van sy oog hoe sy weerkaatsing oor die spieël bo die bad gly. Hy draai daarna, leun effens nader aan sy ewebeeld. Twee grysblou oë staar verveeld terug na hom.

Hy voel effens teleurgesteld. Hy het verwag dat hulle meer uitdagend sou wees. Hy kyk na die neus waarvan die punt parmantig opwip. Dit word as oulik beskryf, maar dié gelaatstrek bederf nog altyd sy kanse om ernstig opgeneem te word. Daaronder, sy mond. Hy het ’n uitdrukkingsvolle mond, die enigste plek waar hy ooit sy emosies verklap. Hy merk vanoggend vir die eerste keer hoe die jare aan die hoeke daarvan rem.

Hy staan lank so, draai sy kop stadig van kant tot kant, staar sy spieëlbeeld in die oë totdat hy ongemaklik begin voel. Dan staan hy skielik terug, asof hy betrap is, en trek sy skouers vinnig agteroor. Hy ril van die koue. Die lang, plat spieël sny sy weerkaatsing ongemaklik af, halfpad tussen skouer en elmboog, sodat dit lyk asof hy vasgebind is – of armloos. Hy huiwer nog vir ’n oomblik, draai dan na die wasbak en spoel sy gesig af.

Hy ry met sy gewone roete werk toe. Drawwers skuifel stram teen die bult uit, die meeste onfiks weens die lang winter. Die geesdrif wat hulle vanoggend vroeg uit die bed laat opstaan het, is duidelik vir die meeste al vergete. In die flou sonlig gee hulle hom die indruk dat dit eerder sononder moet wees; dat hulle uitgeput is van heeldag se woel en werskaf.

Toe hy by die eerste verkeerslig stop, kyk hy skrams na die motor in die baan langs hom. Aan die passasierskant sit ’n meisie, haar pikswart hare losweg op haar kop gebondel, ’n reuse-sonbril op die fyn gesiggie. Soos sy haar hand met die sigaret by die venster uit laat sak, merk hy die woorde wat aan die binnekant van haar arm getatoeëer is.

Hy staar daarna, geboei deur die fyn krulletjies van die inkletters op haar bleek vel. Die lig word groen en hy moet wegtrek.

This too shall pass. Die idee laat hom glimlag.

By die sirkel draai hy nie soos gewoonlik af nie, maar neem ’n ander uitgang. Hy kom nie gereeld in hierdie deel van die stad nie. Die strate is boomryk en die tuine welig, selfs al is die lente se oordaad nog nie hier nie. Terwyl hy stadig deur die strate ry, sien hy net brokkies van huise soos wat die plante en heinings verbyskuif. Hy bestuur eers met vaagweg bekende strate langs, maar kom later agter dat hy verdwaal het. Eerder as beklemming, gee die besef hom ’n vreemde gevoel van bevryding.

Hy ry verby mense wat op pad werk toe is. ’n Paar wie se motors steeds in hul opritte staan, is duidelik al laat vir belangrike afsprake. Daar is vroue wat met hul hoëhakskoene in die hand motor toe draf en mans met deurmekaar hare en stoppelbaard. ’n Ma probeer halsoorkop om haar drie kinders met skooltasse, kosblikke, sportsakke, en ’n reuse-kunsprojek by hul motor te laat inpas.

Barnard kom onverwags op ’n hoogte tussen die woonbuurte uit. Hy parkeer onder ’n boom en klim uit. Van hier af kan hy oor ’n groot deel van die stad uitkyk. Die rookmis lê soos ’n donskombers oor alles, met hier en daar ’n venstertjie in die dynserigheid.

Plek-plek styg daar donker pluime rook op. Die gedagte van offers wat verbrand word, kom skielik by hom op. Maar vir watter gode dan? Die spits punte van swart geboue steek soos geroeste skroot deur die mistigheid.

Hoewel die toneel voor hom staties lyk – dit herinner hom aan ’n houtskoolskets, met die spel tussen git en lig – kan hy voel hoe dit onder die kombers wemel van lewe. Hy verbeel hom hy kan hoor hoe duisende siele ontwaak, liefhet, stry kry, floreer en probeer om te oorleef. Die gedreun van motors en die woeling van mense styg soos ’n sug uit die stad op.

Maar hy kan ook verder as dit sien. Anderkant die grys stad sien hy ’n strokie veld en vlakte. Op die horison sien hy rante, afgeëts in tinte van pers, blou en grys, wasig van die afstand en die vaal lug tussenin. Daarteen lê die blou lug eindeloos uitgestrek.

Iewers bo hom in die boom koer ’n duif. Hy besef wat hom nog altyd laat terughou het. En Barnard wéét.

 

Hy kom twee ure laat by die werk aan en stap reguit na die bestuurder se kantoor. Hy probeer nie eens sy besluit verduidelik nie; hy sê net die nodigste. Die verslae uitdrukking op die man se gesig verwing geleidelik tot verontwaardiging terwyl hy stadig van agter sy lessenaar opstaan. Dan kook die pruttende woede in ’n stortvloed woorde oor. Barnard kyk gefassineer hoe die man se oë al wyer rek, die are in sy nek uitswel en die spoeg wit vlekkies om sy mondhoeke maak.

Die bestuurder se geskreeu raak vir hom ’n veraf gedreun, ’n gerammel soos donderweer. Branders wat oor rotse tuimel. Die suising van wind op ’n bergpiek. Soos ’n trein wat jy in die verte hoor.

Die man se verontwaardiging styg nog hoër toe ’n glimlaggie om Barnard se mond vorm. Hy glimlag, want sy gedagtes is ver. Toe hy kalm opstaan en by die kantoor uitstap, voel hy hoe ’n groot verligting oor hom spoel. Hy let skaars die koffiebeker op wat hom skrams mis en die deurkosyn tref. Hy steur hom nie aan die swart vloeistof wat die ligte mat vlek nie. Want Barnard weet.

Op pad huis toe lyk die wêreld vir hom vreemd. Die pad wat hy vir jare tussen sy woonstel en die werk gery het, voel vir hom byna onbekend. Dalk verbeel hy hom, maar hy sien dinge raak wat hy nog nooit vantevore opgelet het nie.

Toe hy by die woonstel aankom, staan hy eers besluiteloos rond. Hy twyfel skielik oor sy besluit. Jare se roetine, sy gemaksone wat hy nou sommerso wil agterlaat. Daarmee saam spoel pligsbesef soos ’n golf oor hom. Paniek dreig om hom beet te pak, vou koue vingers om sy keel, laat hom benoud voel.

Maar dan verdwyn al die onsekerheid. Hy lag vir homself, eintlik verleë oor hoe hy sy planne byna in ’n oogwink laat vaar het. Daar is buitendien nou nie meer omdraaikans nie. En dis goed so.

Hy begin doelgerig inpak. Wat behoort ’n mens nou eintlik saam te vat? Hy laai alles in sy motor, maak seker dat al die vensters in die woonstel toe is en trek die deur agter hom op slot sonder om om te kyk.

Toe hy op die hoofpad begin versnel, dink hy weer aan die tatoe op die meisie se arm. Hy herhaal die woorde in sy gedagtes en laat dit toe om deur sy kop te spoel terwyl die onbekende landskap om hom ontvou. Hy merk op dat die rante anders lyk as toe hy dit vanoggend van ver af gesien het, en die vlakte selfs nog wyer.

Agter hom raak die stad al hoe kleiner, totdat daar later net ’n swart spikkeltjie teen die bleekwit horison oor is. Dit huiwer nog ’n oomblik daar, en verdwyn dan spoorloos agter die rant.

Maar Barnard sien niks daarvan nie, want hy kyk nie een keer in die truspieëltjie nie. Want hy weet. Hy het vanoggend al geweet dis nie meer waar hy hoort nie. Dis tyd vir dinge om te verander.          

 


Lees die tweede keurverslag oor "Met somer in gedagte"

Lees die eerste weergawe van "Met somer in gedagte"

Lees die eerste keurverslag oor "Met somer in gedagte"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top