Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Die gevolmagtigde"

  • 1

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


Die gevolmagtigde

Hendrik het nog nooit ’n hond gesien wat klere dra nie, nog minder ’n hond met ’n reënjas, maar toe die vrou met haar stywe denim, groot handsak en nog groter hare by die slap kar uitklim trap die verskynsel hom heeltemal onkant. Verwonderd staar hy die petalje oopmond aan en kyk hoe die vrou die hondjie se pienk reënjas en strik verstel voordat sy vermydelik verby die karoppassers en bedelaars die reën trotseer na die inkoopsentrum se ingang toe. Dit maak seker sin dat weinig soogdiere (met die uitsondering van walvisse en robbe) wil nat word, maar Hendrik kan nie die wete uit sy kop kry dat hy nog nooit ’n reënjas besit het nie. Hy dink hoe belaglik die baster-rondloperbrakke in sy blikkiesdorp sal lyk met pienk strikke en reënjasse, maar die dag se spanning smoor die ligsinnige gedagte gou in die kiem. Die vrou vroetel op haar selfoon rond en sit dit na ’n ruk met teleurstelling terug in haar handsak. Voyeuristies sien hy die traan wat sy wegpik voordat sy verdwyn agter die outomatiese deure in die see van mense.

Die eerste reël wat aan hom geleer is, is om altyd netjies en skaflik aan te trek sodat jy nie verdag lyk nie. Op die oog af lyk Hendrik soos enige tienerseun wat ’n winkelsentrum besoek. Sy veertienjarige ouderdom en poenskophare gee hom ’n onskuld wat die meeste seuns van sy herkoms vinnig afskud as hulle die ondeugdelike aspekte van die lewe ontdek.

Die rede hoekom hy in dié situasie geëindig het is lankal vir hom vergete en al wat hom aan die gang hou op die oomblik is die adrenalien wat deur sy are pols en die wete dat hy ’n keerpunt in sy lewe bereik het wat moontlik negatiewe langtermyn gevolge kan inhou. Hendrik het voor die vrou se verskyning lank die ander motors dopgehou wat een vir een by die winkelsentrum ingetrek het en besef dat hy uiteindelik gevind het waarna hy soek. Hy het klaar al die kenmerke afgetik waaraan die kar moet voldoen – die model se jaartal, die tipe motor, die aantal deure, ensovoorts.

Met die bedarende middagspitsverkeer let hy op dat die middeljarige tannies een vir een minder word en dat daar ’n rustigheid oor die grou parkeerterrein daal. Hy drink sy Steri Stumpie klaar en tree onder die skuiling uit om nader aan die vrou se motor te beweeg. Hy kyk rond om seker te maak dat daar geen ongewenste toeskouers in die omgewing is nie, maar al wie hy kan sien is ’n ou bedelaar wat gebukkend ’n asblik deursoek. Walglik besef Hendrik dat die bedelaar, wat lyk asof hy alle wil van lewe opgegee het, net so desperaat is soos hy, maar dat as hy nie nou reageer nie die geleentheid hom verby sal gaan. Hy begin nonchalant, maar vasbeslote, roofdieragtig die kar omseil om al hoe nader te beweeg aan sy prooi.

Hy gewaar ’n uitstekende vonds in die kar wat ’n sportsak op die agterste sitplek en ’n digitale musiekspeler tussen die twee sitplekke insluit. Met verligting besef Hendrik dat as alles glad verloop, hy die broodnodige paar rand huis toe kan bring.

Hendrik  voel ywerig na die vonkprop in sy sak om die beskutte linker-agter venster mee te breek. Nadat hy niemand sien aankom nie lig hy sy arm, haal diep asem, en met een vinnige beweging maak die vonkprop en die ruit suksesvol kontak.

Die ruit verbrokkel in duisende stukke en na ’n paar ondraaglike sekondes begin die kar-alarm verwoed skree. Met ’n versnellende hartklop probeer hy om die laaste skerwe uit sy pad weg te vee. Hy het homself dertig sekondes gegee om die rooftog uit te voer, maar net voordat hy kan begin gewaar hy ’n beweging in sy periferie. Hendrik en die bedelaar, wat intussen nader beweeg het, gluur mekaar vir ’n paar spannende sekondes aan. Hendrik staan doodstil en wag vir die bedelaar om alarm te maak. ’n Die ou man skud sy kop met afkeer en draai stadig om en stap traak-my-nie-agtig wankelend weg in die teenoorgestelde rigting wat Hendrik as ’n teken van oorwinning aanvaar. Die tyd is besig om verby te tik en hy moet vinnig met sy bolyf in die kar inglip om die digitale musiekspeler en sak te gryp. Hendrik is ietwat ontsteld oor die onnodige ooggetuie van die misdaad, maar hy is oortuig dat dit geen reperkussies gaan hê nie. Hy soek vlugtig deur die kar of hy alles gevat het wat hy kan, en hy maak hom vinnig uit die voete.

Op ’n drafstap probeer hy vlug sonder om agterdog te wek, maar na ’n paar treë voel dit of sy hart stilstaan. “Is alles reg hier?” hoor hy van agter af. Hendrik word lam en met die omdraai sien hy die baie gespierde jong man wat ’n paar meter agter hom staan. Sy brein begin om in rang van geloofwaardigheid moontlike antwoorde te kategoriseer maar die tatoeëermerke, baie stywe klere en ooglopende misbruik van steroïedes is intimiderend.

“Ja, oom,” kry hy na ’n ruk stotterende uit. Dit voel of die tyd stilstaan en Hendrik probeer om ’n beter verweer te prakseer indien dit verlang word. Hy kam die omgewing fyn na ’n moontlike verskoning. Afgesien van die bedelaar, wat nou al ’n hele ent gevorder het met sy vlugtog, is daar niemand anders op die parkeerterrein nie. ’n Idee vlam by hom op.

Sonder om oogkontak te verbreek, sê hy: “Iemand het in my ma se kar ingebreek. Ek dink dit is daardie persoon wat daar hardloop. Ek het gou iets in die kar kom haal en toe sien ek die ruit is gebreek.” Die man kyk hom agterdogtig aan. Hendrik weet nie hoeveel die man gesien het nie en of hy hom gaan glo nie, maar dit is die moeite werd om te probeer.

“Wel, waarvoor wag jy, hardloop agter hom aan!” raai die man hom aan.

“Nee, uhm, ek is nie seker nie. Ek kom nou net hier aan,” protesteer Hendrik.

“Ai, julle kinders van vandag,” sug die man in verbygaan en begin agter die bedelaar aanhardloop. Die man hardloop met ’n vinniger tempo as wat Hendrik verwag het moontlik is met so ’n stywe denim en dit vat hom nie lank om die drentelaar in te haal nie.

Hendrik besluit dat dit die beste sal wees om hom uit die voete te maak, maar die jaagtog wat op die parkeerterrein afspeel begin ander mense se aandag lok en Hendrik loop homself vas teen ’n gepeupel van lanterfanters wat bloed ruik. Hendrik se vigilante hardloop sigsag tussen die karre deur tot by die niksvermoedende bedelaar. Hy gryp hom aan die kraag en Hendrik kan sien hoe die man hom skreeuend nader sleep aan die misdaadtoneel.

“Gaan roep die sekuriteit!” beveel die man die skare. Hendrik is te bang om te kyk of sy versoek uitgevoer gaan word en staan verward met die sak en digitale musiekspeler in sy hand en besef dat ontsnapping met elke sekonde moeiliker gaan word. Sy brein dink oortyd aan moontlike scenario’s, maar die skare mense wat nader beweeg belemmer hom.

Die man neem beheer met ’n té sadistiese geesdrif van die situasie. “Is dit die man wat ingebreek het?” vra hy vir Hendrik.

“Ek wis nie seker nie Oom. Ek kon niks gesien het nie. Toe ek by die kar aangekom het, was die ruit stukkend en dit het langsaan die kar gelê,” antwoord Hendrik en wys die digitale musiekspeler en sak vir die man.

“Aikôna, dis hy! Dis die wit baas. Ek het hom gesien,” probeer die bedelaar tevergeefs protesteer en kyk hom pleitend aan.

“Moenie met my kom twak praat nie. Jy kan mos sien dat die kind nie in sy eie kar sal inbreek nie. Wat het jy gevat, hè? Wat!?” skree die man terwyl hy die bedelaar rond ruk.

Hy begin in sy sakke voel en ruk gewelddadig die bedelaar se rugsak van sy skouers af om die paar besittings op die nat teer uit te gooi ter aanskoue van die skare. Die etlike kledingstukke, twak en ’n sak, met iets wat soos ou kos lyk, rol tussen deur die skare in. Hendrik kry die knielende bedelaar, wat inkoejawel kyk hoe sy aardse rykdom wegrol, meteens ontsettend jammer. Die gespierde man is teleurgesteld met die inhoud van die rugsak wat geen ooglopende gesteelde items bevat nie en besef dat hy nie sy heldeverering gaan verdien nie. Hendrik probeer sy gesigsuitdrukking lees, maar na ’n ruk van stilte probeer die man vir Hendrik in privaatheid aanspreek deur sy rug na die skare toe te draai.

“Wat wil jy doen, seuna?”

“Ek weet nie wat gaan my ma sê nie,” mompel Hendrik sonder om te weet hoe om sy ontsnapping te bewerkstellig.

“Sy is vreeslik lief vir haar kar. Sy het dit persent gekry van my pa. Hy is laas jaar oorlede. Solank daar net niks weg is nie. ” Hendrik weet nie waar die stories vandaan kom nie, maar toe hy eers begin, kan hy nie ophou nie.

“Ma los nie gewoonlik goed in die kar nie. Sy se altyd dat misdaad dikwels ons eie skuld is.”

“Nonsens man. Ons land is net in sy moer in,” antwoord die man vinnig met ongemaklike irritasie, maar Hendrik kan sien dat hy op die regte spoor is.

“Dis nie wat Ma se nie. Sy probeer altyd die goeie in alles en almal raaksien. Ek is seker dat die man nie sleg is nie, dalk is hy honger, dalk het hy familie waarvoor hy moet sorg. Dalk moet sy sussie skool toe gaan en kort skoene. Dalk is sy pa ook dood en nou moet hy vir almal sorg.”

Die bedelaar probeer sy spreekbeurt inkry na ’n ruk. “Dit is nie ek nie,” pleit hy weer. Die man gee hom ’n stamp in sy ribbes met sy been.

“Bly stil, ek praat nie met jou nie, wil jy met hierdie te doen kry” skel die man terwyl hy sy biseps bult. “Ek is jammer om te hoor oor jou pa. Hoe is jou pa oorlede?” vra hy ongemaklik vir Hendrik.

Na ’n lang pouse wat meer as ’n emosioneel belaaide stryd deur ’n buitestaander gelees sal word as die tyd wat dit Hendrik neem om aan die mees treffende leun te dink gaan hy voort.

“Hy het selfmoord gepleeg. Ek dink dinge het net te veel geraak vir hom.” Hendrik is bang dat die storie te persoonlik vir ’n man gaan raak wat lyk asof hy enige emosionele denke lankal in ’n gimnasium verloor het. “Dit maak nie saak nie. Oom kan hom laat gaan. Ons is okay, dis net ’n venster, wat maak dit saak?”

“Ek dink ons moet die keuse eerder vir jou ma los,” sê die man.

Omsingel en bang assesseer Hendrik die situasie. Hy is hartseer en probeer om die bedelaar om vergifnis te vra maar dis net te maklik om om te draai en weg te loop aangesien hy gekry het waarvoor hy gesoek het. Hy en die bedelaar kyk stip vir mekaar aan en hy sien sy kans om weg te kom.

“Ek gaan my ma soek. Ek dink sy moet weet.”

Met die omdraai sien Hendrik die eienaar van die motor verward nader loop en hy besef dat hy heeltemal gekniehalter is. Sy hele lyf word lam en weet dat sy grootste vrees waar gaan word. In sy kop begin die kenwysie van vyf-ster speel terwyl daar beelde van polisiemanne, gevangenisse en ’n lewe agter tralies flits.

“Wat gaan hier aan? Wat het my kar gebeur?” vra die vrou. Die hondjie gee ’n benoude blaf in haar arms om haar vraag te beaam. Sy haal ’n hondekoekie uit haar ontwerpershandsak en voer dit vir die verbouereerde hond.

“Toemaar poeksie, dis alles reg” paai sy die hond.

Die man gee met ’n sug sy alfa-rol-posisie aan Hendrik oor en met ’n “jou-seun-sal-vir-jou-alles-vertel”-gebaar wys hy na Hendrik. Hendrik is verward, maar weet ook dat hy nie ’n oomblik kan laat verbygaan nie.

“Iemand het by die kar ingebreek. Ons is nie seker wie dit is nie, maar toe ek hier aankom, toe tel ek dié op langs die kar,”. Hendrik probeer haar aandag aflei deur die gesteelde goed vir haar te gee maar die vrou kom meteens agter dat ’n klomp mense hulle dophou. “Dis alles onder beheer, julle kan maar gaan, hier is niks om te sien nie,” probeer sy die skare wegjaag om die ongemaklike kollig van haar af te kry.

“Jy kan bly wees dat jou seun betyds hier aangekom het en die dief betrap het,” sê die man om die vrou probeer gerus te stel.

Sy probeer huiwerend sin maak uit die situasie. Sy maak oogkontak met Hendrik en hulle staar vir ’n ruk na mekaar. Hy probeer om so desperaat en naïef as moontlik te lyk.

“Onthou Ma toe Pa die sak gekry het by die marathon wat hy gehardloop het? Ons het vir hom by die wenstreep gewag met die plakkaat wat ons gemaak het en na die tyd by die Wimpy gaan uiteet. Hy was so trots daarop en wou dit orals saam met hom dra. Ma was naderhand so kwaad omdat hy alewig rede gesoek het om die sak saam met hom te dra,” gaan Hendrik vinnig aan met sy storie.

Die vrou lag verwonderd vir die absurde idee, maar haar lag is ook gevul met ’n hartseer nostalgie. Haar kritiese blik begin al hoe meer verander in ’n peinsende  begrip vir wat aan die gang is.

“Verbeel jou dit! Hy sou dit meer gedoen het om my te treiter as oor trots.” las die vrou as ’n nagedagte aan.

Hendrik is verstom oor die reaksie wat sy storie ontlok. “En al sy gunsteling-liedjies is nog op die iPod. Ek het dit altyd gedink dit is lame, maar nou kan ek nie ophou om daarna te luister nie”.

“Wel, daar is seker nie veel wat ons kan doen nie. Daar is geen ooggetuies nie en dit lyk nie of iets gesteel is nie. Wat wil Mevrou doen?” vra die man wat vinnig besig is om belangstelling te verloor.

“Gmf, ek sien myself lank al nie meer as ’n Mevrou nie”

“Ek het vir die oom gesê dat Ma die man sal laat gaan. Dis nie my skuld nie.”

Hendrik stop die sak en die digitale musiekspeler in haar hande. Die hondjie grom toe Hendrik naby hom kom en dis asof die vrou uit haar trans kom. Sy staar stip na die digitale musiekspeler en die sak in haar hande.

“Ek weet nie wat om te doen nie en ek weet nie wie om te blameer nie. Die beste gaan wees om huis toe te gaan. Dit is laat en ek is te moeg,” sê die vrou.

Hendrik, die man, die bedelaar en die vrou staan ongemaklik en naamloos na mekaar en kyk. Die vrou stap na die stukkende kar en draai om na Hendrik. “Waarvoor wag jy? Kom ons gaan huis toe.”

 


Lees die tweede keurverslag oor "Die gevolmagtigde"

Lees die eerste weergawe van "Die gevolmagtigde"

Lees die eerste keurverslag oor "Die gevolmagtigde"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top