Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Woorde is soos magic"

  • 1

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Woorde is soos magic

“Sorry!” sê hy byna met sy hele lyf om die badkamerdeur. Sysuster se vriendin is besig om haar broekie op te trek, haar broek lê om haar enkels. Agter haar in die toilet spoel die tuimelende water. Haar hare is in ’n ponytail gedraai en op haar gesig sien hy geen kwaad of skaamheid nie. Net ’n knik.

Hy huiwer ’n oomblik. Kyk nog ’n keer, trek dan die deur toe. “Mammie moet praat met Denzil!” skree sy suster uit die voorkamer uit. 7de Laan was op en haar vriendin het dit daar kom kyk.

“Wat maak hy?” vra sy ma besig in die kombuis.

“Nee, hy’t al weer nie geklop nie,” sê sy suster. “Die’s mos sy huis.”

“Dit was nie aspris nie,” sê hy toe sy ma hom kwaad in die gang aankyk.

“Jy moet jou slegte maniere afleer en begin leer om te klop,” beduie sy ma ernstig met die druppende koslepel.

Agter hom trap hy sy kamerdeur liggies met sy voet toe. Los dan sommer die kerriegeur in die gang. Hoe moet hy nou maak as hy wil pie, dink hy? Miskien moes hy geklop het, miskien nie? Hy gaan nou eers slaap, later pie en sommer bad. Sy rooi hemp se kraag is vuil, vinnig trek hy dit uit en druk dit in die wasgoeddrom. Loop sit op die kooi en maak die boonste veters van sy Cat-boots los, trap dit verder met sy voete uit. Dit val hard op die tapyt en sand omring die boots. Toe gooi hy die denim met leerband en al oor die reling, klim met frokkie en kortbroek onder die duvet. ’n Blonde met groot tieties teen die muur het hom help insluimer.

Toe hy na ’n uur of so wakker skrik, kry hy die reuk van Brut in sy neus. Dan sien hy sy broer Stan toegedraai in ’n handdoek besig om roll-on onder sy blaaie te smeer. Denzil knip ’n paar keer sy oë, dan raak hulle gewoond aan die skerp kamerlig. Hy draai op sy rug, rek hom uit, trek dan weer die duvet tot onder sy ken. Op Stan se bed lê skoon klere. Hy en Stan deel van kleins af die kamer. Hy’s weer op pad na ’n vrou toe, dink Denzil.

“Hoe voel ’n vrou?” kom die woorde merkwaardig uit.

Stan kyk verbaas oor sy skouer. “Hoe mean jy hoe voel ’n vrou?” vra hy en trek sy Speedo-onderbroek aan.

“Ek … Pa … praat van seks,” hakkel Denzil.

Stan glip in sy jeans, trek sy tekkies aan, buk, knoop sy veters vas. “’n Man kan dit nie describe nie,” sê hy en sy gesig is ’n droom. “Om te seks is lekker. Dis diep en special. En die kick,” terwyl hy opstaan, rol hy sy heupe. “Lekker!” sê hy weer.

Denzil lag. “Hoe moet ek maak?” vra hy en sy broer begryp dadelik.

“Jy worry te veel oor die hakkel-storie,” sê Stan. “Vroumense worry nie eers oor sulke goed nie. Wees net jouself, spoil haar en die ander goed kom vanself.” Stan dink ’n oomblik na. “Weet jy  wat jou probleem is?”

“Wat?” vra Denzil nuuskierig en kom half orent.

“Jy skommel te veel,” sê Stan en begin lag.

Denzil val op sy kooi terug en druk sy gesig met die kussing toe. Stan se laggery hoor hy ver die gang af.

Die aand gaan Denzil bad. Hy voel eers die badwater met sy tone voor hy inklim. Die water gaan lê net onder sy nek. Bokant hom brom die geiser en die kraan se druppel-druppel klink soos ’n song. Die gloeilamp teen die dak gee als lang skaduwees.

Eers lê hy vir ’n rukkie in die bad sodat die warm water sy vel streel. Daarna haal hy diep asem en sak agteroor onder die water weg. Klein sagte borrels kom uit sy neus en mond, breek dan bo die water stukkend.

Na twee minute kom hy woes op vir asem, sy longe jaag terwyl hy water uit sy rooi oë vee. Hy onthou nog die keer toe hy dit laaste gedoen het. Dit was ’n maand gelede, die 26ste Februarie … Die dag toe hy amper sy virgin gebreek het.

Sy beste bra, Frankie, het hom op ’n sel gebel en gesê hy moet ’n draai kom maak. Frankie het die deur met ’n skewe glimlag oopgemaak. “Ek het twee vroumense hier vir ons,” het hy onderlangs gesê.

Hulle was in die voorkamer: ’n natuurlike blonde in hot pants en ’n swartkop-Coloured in ’n groen G-string en ’n toppie. Denzil was in sy skik en ’n bult het by sy broek gevorm. Die vrouens het dit gesien en gelag. Hy het toe met ’n rooi gesig op die sitbank neergeplons. Oor iets anders probeer dink om sy hormone in toom te hou.

Daar het ’n daggareuk gedwaal; die hi-fi het hip-hop gespeel en die tafels voor hom was halfvol bottels en glase. Hy het die bank met die vroumense gedeel en Frankie het aan die ander kant gesit. ’n Glimmende vistenk het vier vissies gehuisves en die TV-kabinet was vol porselein en potplante.

“Die’s my beste bra!” het Frankie deur die musiek geskree terwyl hy besig was om ’n daggapil te swaai. Al twee vrouens knik-groet.

“Ek’s Edwina,” het die bruine met ’n glas bier gesê. “Maar almal noem my Weena.”

“En ek’s Carol,” het Blondie gesê. Haar lippe was rooi, sy was bra-loos en haar nippels het die toppie gedruk.

Speeksel het in Denzil se mond gevorm. Frankie het toe die daggapil aangesteek en walms die lug ingeblaas. Weena het met haar rugkant na hom toe ’n glas bier vir hom volgegooi. Sy staan aspris met haar holbanke na my toe, het hy gedink, maar hy was nie seker nie. Die vroumens was perfek gebou, met twee mooi sjokolade-holwange. Sy het gebuk om hom die verbloemde lippies te wys. Hy het sy asem liggies ingetrek. Hoe smaak hy nie om die kontoere van daardie omgewing te bestudeer nie. Hy het diep gesluk.

“Wat doen jy vir ’n living?” vra sy toe sy die glas aan hom oorhandig het.

“Ek werk nog nie,” het die woorde uitgegly. “Ek soek nog ’n job.”

Sy’t verstaan en loop sit toe met al twee voete op die bank. Haar toonnaels was rooi en daar was ’n goue ring aan haar kleintoontjie.

Hy het die bier met een sluk gedrink. Frankie het die daggapil vir Carol aangegee. Sy het eers klaar gerook en dan is dit Denzil se beurt. Hy het diep getrek, agteroor gesit en soos ’n bul die rook by sy neus uitgeblaas. Frankie het die hi-fi begin draai en Celine Dion se “Call the man” het met emosie deurgekom.

“Oe Here! My song,” het Weena geskree, opgestaan en haar vingers saam met die song geklap. Toe neem sy die pil uit Denzil se mond, vat twee trekke en druk dit in die asbak dood.

“Kom blues met my,” het sy hom aan die arm geneem. Haar woorde het weerklink in sy ore en haar gesig het hom getrek. Dis presies wat hy wou hê en hy het haar styf teen hom vasgedruk. Haar parfuum was sag en haar borste styf teen hom. Hy het sy gesig tussen haar hare gebêre.

Frankie het stil met Carol kamer toe verdwyn.

“Het jy ’n girlfriend?” het Weena met mooi, groot oë na hom opgekyk.

“Ek werk nog daaraan,” het die woorde seepglad uitgekom.

Sy het geglimlag. Dan stoot sy hom versigtig agtertoe op die bank. Sy het stadig na hom toe aangestap en hy het gesien haar tone maak klam spore op die teëlvloer. Toe draai sy om en bere haar pragtige holwange skaamteloos in sy skoot.

Hy was onmiddellik kliphard. Hy’t gesien sy geniet dit. Toe draai sy om, gaan sit langs hom en druk haar tong in sy mond. Met haar hand het sy sy ereksie bo-oor die broek gestreel. Vinnig het hy sy klere uitgetrek. Sy het toe tussen sy bene gaan kniel, haar mond smekend vir sy stywe orgaan. Hy het geweet hy gaan kom en wou haar tonnel so gou as moontlik betree.

“Ons naai,” het hy hygend gesê.

“Naai?” Haar gesig was verbaas. “Ek naai nie. Ek maak liefde,” het sy kwaad gesê. “En jy weet duidelik nie hoe nie.”

Hy was ’n ysblokkie toe sy opstaan en haar klere aantrek. “Ek … ek … wag … ko…!” het hy probeer keer. Sy het hom net snaaks aangekyk. Hy wou om verskoning vra. Hy wou haar sê dat hy jammer is, dat hy onervare is, maar die woorde wou nie uit nie. Dit het gaan vassit êrens in sy keel.

Weena het in haar jeans gewikkel en hy kon nog vir oulaas na haar agterwêreld kyk. Hy het daar sit en hakkel, maar niks kon oor sy lippe kom nie.

“Sê vir Carol ek sien haar môre by die werk,” het sy kil oor haar skouer gesê op pad uit.

Daar was sagte mompel geluidjies in Frankie se kamer en die geraas van ’n kooi. Denzil het in sy eie arms op die bank ineengekrimp.

Die volgende dag gaan hy alleen met die trein Mnandi Beach toe. Hy hou daarvan om nou en dan alleen te wees. Hy klim by Lavis-stasie op en die ysterpote sloop Kapteinsklip toe. Dit is twee-uur die middag en die trein dra nie veel passasiers nie. Sonlig gooi skuins, lui skaduwees op derdeklas se asvaal vloer. Oorkant hom sit ’n vrou met ’n singende baba in haar arms. Die baba sê die heeltyd da-da en slaan met plomp handjies na haar ma.

Hy wonder toe oor woorde. Wanneer die nood druk, vat hulle hom vir ’n gat. Sekere tye is die regte woorde vir hom te swaar, dan moet hy woorde kies wat die boodskap anders oordra. Sekere woorde gly maklik van sy tong af en ander moet hy aanmekaar gebruik. Die fokken goed het ’n mind van hul eie … soos magic. Woorde is soos magic, besluit hy en glimlag effens.

Verby Mitchell’s Plain hang hy met sy gesig by die venster uit, die wind bars teen sy gesig oop. Die trein tel spoed op en die wind raak sterker teen sy gesig. Hy maak sy mond oop en die wind waai sy verhemelte droog, dit vibreer teen sy lippe en soepel sy keelgat af. Hy trek sy gesig weer in en sy oë is waterig.

By Kapteinsklip stop die trein byna binne-in die see. Hy trek sy tekkies uit, hang dit om sy nek en loop kaalvoet daarvandaan see toe. Die sand krap liggies onder sy voetsole. Mnandi Beach is stil en leeg – net hier en daar vlees. Hy kry die reuk van sout in sy neus en seevoëls versprei voor hom soos hy teen die kus stap. Hy rol sy broekspype op en druk sy hande in sy sakke. Bo hom raas meeue en modder sypel deur sy tone. Dis tye soos hierdie wat hy rustig voel – nie eenkant, verlore en afgeskeep nie.

’n Entjie verder langs ’n boomstomp lê twee meisies op handdoeke. Langs hulle staan ’n rooi cooler bag, let hy op.

“Hallo, outjie!” Die seewind sleep haar woorde weg. “Nee, moenie vir jou wit hou nie!” probeer sy weer. Hy kyk. “Ek praat met jou, ja!” trek sy haar gesig. Haar vriendin lag.

“Ek het nie gehoor nie!” skree hy, maar die wind is sterk. Hulle wink vir hom om nader te kom. Sy hart gryp sy keel vas en die bloed in sy are tel spoed op. “Moenie hakkel nie,” praat hy met homself.

“Is jy van Mitchell’s Plain?” vra die ene wat geroep het toe hy by hulle kom.

“Nee ek’s van die Lavis,” sê hy en wonder of hy moet sit of staan.

Haar vriendin se selfoon skril en sy maak verskoning. “Ek’s Natalie,” sê sy en wys na haar vriendin op die sel. “Daai’s my niggie, Pinky. Ons is van die Bonteheuwel.”

Sy’s nie modelmooi nie, maar oulik, dink hy. Op hulle handdoek het ’n halfgedrinkte bottel KWV en twee leë glase gelê.

“Wat maak julle twee op ’n weeksdag hier?” vra hy en besluit om op die boomstomp te gaan sit.

“Pinky het getrou,” sê sy. “Haar man se werk het hom na Durban toe oorgeplaas. Ons trek môre. So dis ons laaste dag op ’n Kaapse beach.”

“Bly jy by hulle?”

“Ja,” knik sy. “Sedert my ouers se dood is ek nou maar ’n loskop.” Sy glimlag vir haar eie grap. Dan kyk sy na hom: “En jy,wat maak jy op ’n Donderdag hier?” Pinky lag met iemand op die sel.

“Dis ’n bietjie boring by die huis,” sê hy en trek sy skouers op. “Toe besluit ek om alleen see toe te kom sal my goed doen. ’n Mens moet nou en dan alleen wees en dink oor alles, soos nou.” Hy tuur oor die see uit.

Sy staar hom aan asof sy sy gedagtes wil ontsyfer. “Dit klink vir my na relationship problems,” sê sy.

“Nee, nogal nie,” sê hy en wens dat dit maar so was; dis meer die gebrek daaraan.

Sy knik. “Jy’t mooi oë,” kyk sy reguit in sy gesig. Hy raak rooi.

“Sorry, julle twee,” onderbreek Pinky die gesprek, “maar my man sê hy’s op pad. Ons moet vir hom by die parking area gaan wag.”

Hulle tel die bottel en die glase op en skud die sand van die handdoek af. Hy besluit om die cooler bag te dra. Pinky loop voor en hy en Natalie agter. Hy leer dat sy enkel is; hou van kanse vat; sy werk as ’n waitress; sy’s mal oor dans en versot op sjokolade. Hy vertel haar oor hom. Dit voel vir hom asof hy haar lank ken. By die storte gaan staan hulle stil. Skuins agter hulle is ’n avontuurpark buite werking, die parkeerterrein waai vol sand en aan die oorkant is heuwels vol groen vye.

“Ek kan nie glo jy’s single nie?” sê hy. “Jy’s dan so oulllik,” sukkel hy die laaste woord uit.

“Hakkel jy?” vra sy verbaas. Hy knik en verwag ’n uitspattige lag. Dit kom nie.

Pinky het duidelik soos ’n sesde vinger begin voel en oorkant die storte gaan staan, uit hulle oë uit. Die see was stil besig om haarself skoon te skeer. Hulle staan toe regoor mekaar in ’n oomblik van stilte. En dan besluit hy om ’n onmoontlike kans te vat. Hy soen haar nat lippe. Sy stop, skep asem en kyk hom vas in die oë. Hy dink eers sy gaan hom klap, maar dan omhels sy hom en soen hom diep. Hy lig haar teen die stort se muur, versigtig om haar nie seer te maak nie. Haar bene omsingel hom. Sy onderbroek maak ’n knop en hy lig haar hoër sodat die sagtheid tussen haar bene regoor sy ereksie is. Hy skuur homself liggies teen haar … kom dan met ’n hewige ontploffing! Sy lyf sidder, hy laat haar byna val. Dan sit hy haar neer en leun met een arm teen die muur, uitasem. Sy giggel met haar hand voor haar mond. “Jy’s jags!” sê sy en lag weer. Dan bedaar sy liggaam stadig, hy kry sy asem terug.

Pinky skree die vervoer is hier. Natalie neem die cooler bag by hom en druk haar lippies sag teen sy wang. ’n Man by ’n wit Conquest vat die cooler bag en sit dit in die kattebak. Hulle klim in die motor en deure klap toe. Die motor skakel aan en begin ry. Op die agterste sitplek waai Natalie met een hand deur die venster, haar vingers val een-een in haar palm. Rondom die motor tol die stof en dan gaan draai dit.

Denzil bly staan tot hy nie meer die motor hoor nie. Dan besef hy die waaiende sand peper sy gesig. In sy onderbroek is als taai, die bad soek hom. Hy kies stadig koers stasie toe.

 


 

Lees Leti Kleyn se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top