Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Vergeet-my-nie"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Vergeet-my-nie

Ek sit-lê op die ou klapperhaarrusbank en trek met my wysvinger die strepies op my verbleikte pajamabroek na. Nog ’n lang, vervelige Sondag lê voor. Buite roep die kerkklok die dorp se mense met tien harde dieng-donge. Ek is omtrent al een op die dorp wat Sondae tuis bly. Dis nie dat ek nie in God glo nie, maar ek vind dit interessanter om na my gemmerkat te staar as na die speenvarkie-dominee. Ek gril vir hom en sy sweterige pienk vel en kraalogies, Bybel onder die arm ofte not.

Die diaken het ongelukkig nog nie moed opgegee nie en klop klokslag om 7 nm op die eerste Dinsdag van elke maand aan my deur. Sy kom om haar R50 te kollekteer. Ek gee dit maar vir haar, uit desperaatheid om haar weg te kry en ook as ’n beloning omdat sy die enigste een in die dorp is wat braaf genoeg is om aan my deur te klop.

Dis doodstil in die huis, behalwe vir ’n vet groen brommer wat eentonig heen en weer dreun. My gordyne is dig getrek om die oggendson se gloed (en verbygangers se oë) uit te hou. Hiér moet jy nie anders wees nie. Jy moet ’n onderwyseres of ’n boervrou wees. Jy moet twee tot vier kinders hê. Jy moet koek bak vir die basaar. Jy moet aan die Vrouevereniging behoort. Jou stukkie moet perfek in die dorp se legkaart pas. Net jammer my stukkie is middeldeur geskeur en vol rooiwynvlekke.   

Ek trek my oë op skrefies en kyk na die stowwerige krake in die houtvloer. Die huis kort ’n goeie skoonmaak, maar ek sien nie nou daarvoor kans nie. Die Woord sê immers dat ’n mens moet rus op die sewende dag. Ek hoop net niemand sê vir die Woord van my ander lê-op-die-bank-met-’n-bottel-Four-Cousins-rusdae nie. My oë val swaar toe.

Klop-klop klop-klop

Wie op dees aarde sal in die heilige uur van die NG Kerk op hierdie godverlate dorpie aan mýdeur kom klop?  Verál nadat my Zen-tuin Ta’ Marie van die sentrale so aan die brand het dat die mense liefs maak of hulle anderkant toe kyk as hulle hier verbystap.

Ek staan met ’n sug op, trek my deurgetrapte skaapvelpantoffels aan en skuifel traag oor die krakerige vloer voordeur toe. 

Ek maak die deur oop en die lig vloei in ’n stortvloed na binne. Die son dwing my oë tot skrefies en ek kan net-net die profiel van ’n lang man met ’n stoppelbaard en geskeurde jeans uitmaak. 

Knip…knip… 

My mond voel skielik droog. Ek vertrou nie my eie oë nie.  Dit kan mos nie hy wees nie. 

Ian hou ’n bossie hemelblou vergeet-my-nietjies na my toe uit.

“Môre, An.”

Hy het al geleer dat hierdie blomme die perfekte vredesoffer is as hy iets gedoen het om my die harnas in te jaag. Ek neem dit met ’n bewerige hand en staan eenkant toe sodat hy kan inkom. 

Ian stap oudergewoonte kombuis toe en trek een van die groen kombuisstoele met die retro-patrone daarop nader. Hy gaan sit langs die tafel, kyk my reguit in die oë en glimlag asof niks fout is nie.

“Kry ek dan nie koffie nie?” 

Ek sit die bossie blomme in ’n leë blatjangbottel. Daar is niks meer skoon breekgoed in die kas nie, so ek spoel sommer ’n beker by die wasbak uit. Ek maak vir hom moerkoffie met drie suikers in, soos hy daarvan hou. Ian trek die boksie melk wat op die tafel staan nader.

“Ag nee dêmmit, An! Dis suur.”

Ek maak die yskas oop, maar al wat daar op my wag is ’n verrimpelde tamatie, ’n gapende blikkie katkos en ’n stukkie groen-wit kaas. My oog vang hoe Ian na die halfgedrinkte bottel wyn op die tafel kyk.

Hy glimlag verleë. Ek stoot die beker swart koffie oor die tafel na hom toe uit. Sy vingers raak liggies aan myne, sy hande was nog altyd skurf en vol barsies van al die plaaswerk. Ian val dadelik weg en vertel my van die klein lammertjies op die plaas en die melkkoei wat se uier seergekry het. Ek kyk hoe sy mond verskillende vorms maak. Die woorde swem soos visse verby my ore.

“Sê jy dan niks?” snou Ian my toe.

“Ek’s nie lus vir gesels nie.”

Ons sit vir ’n ruk lank in stilte. Sy oë op die suikerpot en myne op die vuil novilonvloer. My lippe bewe toe ek begin praat: “Ek verstaan nie. Hoekom het jy weggegaan? En hoe kan jy hier kom sit en praat oor jou skape en koeie en maak asof niks gebeur het nie?”

Ian steek sy hand na my toe uit en gee ’n flou glimlag.

“Nee, Ian. Dit gaan nie werk nie. Nie dié keer nie.”

Hy gee nie moed op nie: “Ek is hier. Nou. Kom ons vergeet net van als en geniet eerder die dag.”

Ek kan nie vergeet nie. Nooit nie. Tog is daar iets in my wat my my bleek arms na hom toe wil laat uitsteek en hom vashou. Vir ure lank net vashou. Dit voel of ek hom eeue laas gesien het. Ek vee my hare uit my gesig en kyk op: “Miskien.”

Ek het baie swakhede, maar my grootste swakheid is sonder twyfel Ian. Maak nie saak wat hy aan my doen nie, ek vat hom altyd maar net weer terug. Anna Joubert, die stomme vrou wat altyd vergewe en vergeet. Dalk is dit hoekom almal in die dorp draaie om my loop.

Ian staan van die tafel af op: “Is daai kitaar van jou nog op dieselfde plek?” Hy stap outomaties slaapkamer toe en gaan haal die ou Yamaha bo van die kas af.  Hy haal sy Leatherman uit sy sak en sny sommer vir hom ’n piek uit ’n leë botterbakkie. Dit vat lank om die vals snare te stem.

Sy vingers loop bekende paaie oor die kitaar se swart nek. Tom Waits se “Cold Cold Ground” klink in die kombuis op. Later sing hy iets van Rodriguez. Ek kan vir ure lank kyk na die fronsplooitjies tussen sy oë. Die manier waarop sy vingerpunte wit raak van die staalsnare. Sy slape wat net-net wil begin grys raak. Die ligte sonvlekke op sy arms.

Die kerkgangers is al vergete by die huis en die hele dorp sluimer weg in ’n diep Sondagmiddag-slaap. Ek gaan wys vir Ian my tuin. Die dorpsmense lag oor die sandpatrone en die stapeltjies klippe. Sommige sê ek is van die duiwel besete en ander dink ek is ’n dronkaard. Die eintlike rede vir my Zen-neigings is eintlik net omdat stof en klippe nooit doodgaan in die dorre Karoo-son en huil-wind nie.

Ons gaan sit op die agterstoep se trappie en drink Jack Daniel’s uit blikbekers. Dit voel soos die ou dae.

“Ek mis nogal die plaas.”

“Ek weet ja, ek wens jy kon terugkom. Die huis is leeg sonder jou en die honde mis hulle Anna.” Ian vou sy hand bo-oor myne. Selfversekerd soos ’n jare lange minnaar. “En ek mis jou ook.”

Die stilte en sonskyn gooi ’n karos oor ons. ’n Karos van tevredenheid.

Dis so vreemd om weer Ian se hand vas te hou. Ek het gewonder of ek dit ooit weer sou doen. Ek sien die ou bekende litteken op sy linkerhand. Ek het hom per ongeluk met my knipmes raak gesny toe ons skaap gemerk het. Ons twee het al soveel merke op mekaar gelaat. Party kan mens sien en ander is diep-diep weggesteek.

Ian haal ’n sigaret uit sy hempsak.

Ek protesteer: “Jy weet hoe ek dit haat as jy rook.”

Sy stem is ondeund: “Onthou jy daai keer toe jy per ongeluk in Middelwater se dam geval het? Jy het nogal jou kerkpakkie en high heels aangehad!”

Ek lag vir die eerste keer in maande weer uit my maag. “Watwou per ongeluk, jy het my ingestamp, jou bliksem!”

Ian trek my nader. Ek sien die spikkels kleur in sy irisse. Sy asem ruik na soet koffie en rook. Ek het so lanklaas sy asem ingeasem, die porieë op sy voorkop gesien, sy lippe teen myne gevoel.

Hy hou my stywer teen hom vas: “Dit raak koud buite, kom ons gaan in.”

Ag, Here. Ek wil nie weer hierdie pad stap nie. Ek wil nie weer deur alles gaan wanneer hy weggaan nie. Ek wil nie, maar my voete loop agter hom aan die huis binne.

Ek ruk van die skrik toe die kat op die bank spring. My oë gaan stadig oop. My vingers gly oor die nattigheid op my kussing.

Die vertrek is donker. Die son sak al amper. Vir die eerste keer in maande boor die Sondagstilte tot reg binne-in my.

Ek staan op en trek my kombers styf oor my skouers. My skaapvelpantoffels sleep-sleep saam met my buitentoe. Die tuinhekkie sanik soos ’n plaas-pou toe dit agter my toeslaan. 

Ek stap stadig deur die stofstrate. Verby die kinders wat raserig krieket speel. Verby Ant Alie wat met curlers in haar kop oor die stoepmuur hang. Verby Kleinjan op sy fiets. Verby krakerige grond en groot grys klippe. 

Ek loop tot by die koue, swart marmerblok en sit ’n vars bossie vergeet-my-nietjies daarop neer.

 


 

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top