Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Thula baba"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Thula baba

Lilitha loop en kyk hoe die grys miswolk Tafelberg stadig en saggies bedek. Liewe Jesus dink seker die berg kry koud, want Mamma maak haar ook elke aand so toe met die kombers sodat net haar ogies uitsteek.

“Kom, Lilitha – laat jou voete raas. As ek vandag weer laat by Madam aankom, kan ek maar net sowel by daai hek omdraai. En moet nou nie hanna-hanna as die skoolklok gelui het nie, anders ry Uncle Joe vir djou weg, ho’ djy? Ek sal vanaand met hom regmaak na ek by AllPay was. Jirretjie, ek hoop djou se pa kom dadelik huis toe na sy shift. Sonder daai gemors van vrinne. Vanaand lus ek nie vir dronk mense nie.”

Lilitha sug en kreukel haar neus – “Juffrou sê ons mag nie djy en djou nie. Dis jy en jou. Net so sê sy.” Haar vingertjies vryf saggies oor die houtkruisie om haar nek wat haar ma nou die dag vir haar by die vlooimark in Green Pointgekoop het.

Haar ma sê niks, sy lig net haar kop op en loop verder. Sy lyk tam. Moeg gewerk om die Madam gelukkig te hou. Moeg om elke aand die vuurtjie aan te steek vir ’n klein bietjie hitte en om pap te maak. En behoede haar siel as Pappa by die huis kom met sy sleg asem wat na plasticbottelwyn ruik en oë wat lyk asof daar dowwe vliese oor is en daar is nie kos nie. Dan skel hy en slaan dit wat eerste in sy pad kom staan. Gewoonlik is dit Mamma, want sy stuur haar kamer toe sodra sy hom onder in die stofpad sien aankom. Aande soos daai is niks lekker nie.

Mamma sit dan net by die tafeltjie met kerslig en lees haar Bybel, haar trane wat droog geword het sout op haar wange.

“Nou toe, Lilitha. Hlala kakuhle.”

“Hlala kakuhle, Mama.”

***

Sy huppel die laaste entjie huis toe en probeer die plasse water mis spring. Haar sokkies is klaar nat en haar tone jeuk. Die skoolskoene wat sy geërf het by haar niggie, se sole is al so dun, sy voel elke klippie en die water wat insypel maak haar voetjies koud. In die verte roggel en brul die wolke om te waarsku dat die Reënkoningin en haar onderdane nie ver is nie.

’n Matraskoppie loer vir haar om ’n bossie by die tuinhekkie. Dit is Tumi, Aunt Rose se grootmaakkind. Toe Lilitha by haar kom, kyk Tumi op en vee die stof van haar verslete lankal-te-klein-rokkie af.

“Nee sies, Tumi, kyk hoe loop die snot! Mens loop nie so buite rond nie. En gaan in huis toe, dit is koud! Net oorlat jy ’n specialkind is, hoef jy nie so te lyk nie. Dè, vat jou draadkar ook in voor iemand dit steel.”

Tumi staar haar oopmond aan en beweeg nie. Al wat beweeg, is die pienk lint in haar matraskophaartjies wat vanmiddag weer in alle rigtings staan – kompleet asof die Kaapse Dokter daarin kom nesskrop het.

“Gee jou hand, dan loop ek saam jou.”

Versigtig vat Tumi haar draadkar en stoot dit tot by Aunt Rose se huis. Auntie Rose se huis is kleiner as hulle s’n, maar dit is skoon en ruik soos die son moet ruik.

“Ai, dankie, kind. Tumi verdwyn mos net. Like van gatskuur mos. Nie dat ek haar kwalik neem nie. Haar se ma het ook so gatgeskuur en kyk nou.” Sy sug en droog haar hande aan haar voorskoot af.

Sy wou al so graag vir haar ma vra waar Tumi se regte ma is, maar sy weet haar ma gaan vir haar sê dat ander mense se stories ander mense se stories is.

Net soos hulle huisstories hulle stories is – niemand hoef te weet wat tussen die vier mure aangaan nie. Nie dat dit mure is nie, dink Lilitha. Dis meer soos plate en planke.

“Dit is ’n plesier, Antie. Ek loop nou eers. Juffrou het klomp somme gegee vir huiswerk en ek wil nie eendag by so ’n kwaai Madam werk soos Mamma nie. Eendag wil ek ’n mooi wit uniform dra soos die nursesby die clinic.”

Auntie Rose se groot borste beweeg op en af soos sy lag. “So ’n bek moet jêm kry, maar eers moet jy kos in daai lyfie van jou kry voor jy jou somme gaan doen. Mens kan nie dink op ’n leë pens nie.”

“Is orraait, Antie. Ek is nie honger nie.” Sy wonder of die antie haar maag hoor grom het.

“Tsk, kom sit.” Die logge lyf stap stoof toe en skep sop uit in ’n blikbeker. “Hier, Lilly-kind – dit sal jou lyfie ook warm maak.”

Lilitha drink die sop stadig en wens dat dit nie sal opraak nie. Sy voel hoe haar magie warmer raak en hoe die hongerpyne bietjie vir bietjie verdwyn. Sy sit en dink aan haar ma wat in die ry staan om haar geldjie te gaan haal. Die geruite truitjie wat sy vanoggend aangehad het, gaan nie die koue uit daai lyf kan hou nie.

***

Sy hoor die geklap van domino’s toe sy die deur oopstoot. Die benoude reuk van plasticwyn hang bedompig en swaar in die lug. Haar pa en nog mans sit plat en dronk op die vloer – onbewus van die tingerige lyfie wat by hul probeer verbykom. Toe haar pa opkyk, sien sy weer die wasige vliesies oor sy oë.

“Lilly! Djy kom asof djy Godsendis. Gaan koep daar vir my paar los sigrets by die caravan café, toe. Djy kan anywaysnie hier kom sta’ en tanne tel nie. My oorle’ ouma het altyd gesê kinnes kan maar gehoor word, ma’ nie gesien word nie. As daar changeis, koop maar ’n sweety. Dan is ons al twie hêppie, nuh.” Hy prop die gekreukelde noot bewerig in haar hand. Sy probeer haar asem ophou sodat sy nie hoef asem te haal nie. Die mans stink almal na kaia en ou wyn en sweet. Die naarheid wil-wil in haar keel oopstoot.

Lilitha stap vinnig uit en gaan sit op die boomstomp buite die huis. Sy vou haar klein handjies met die noot styf vasgeklem in haar vuisie saam. Ogies styf toe.

“Liewe Jesus ek is klein, maak my hartjie rein. Asseblief, Liewe Jesus, laat die ooms weg wees en my pa slaap voor my mammie 4 o’clockby die huis kom. Sy gaan met my pa raas en dan gaan hy lelik wees met haar voor almal en dan gaan die omies vir haar lag. Partykeer sê hulle lelike woorde vir haar ook. Ek mag nie sê wat hulle sê nie, anderster smeer my se ma seep in my mond. 4 o’clock is amper, Jesus. Ek sal nevermy kruisie van my nek afhaal nie … promise, asseblief, Liewe Jesus. My mamma het ’n lang dag gehad. Amen.”

Dan staan sy op en lig haar koppie, nes haar ma haar geleer het, en vat die paadjie wat sy al so goed ken kafee toe.

Lilitha voel skielik ’n groot hand op haar skouer. Sy kyk op in ’n maer gesig, iemand wie se oë te groot vir sy kop is. Haar hartjie klop benoud in haar borskas. Die man maak haar bang, want sy mond glimlag, maar nie sy oë nie – hulle sê dat sy moet stilbly. Sy wil so graag praat, maar die woorde steek vas in haar keel soos brood wat nie botter op gehad het nie. Dan laat val sy die noot wat haar pa haar gegee het, maar haar beentjies is te lam om te buk om dit op te tel …

Die vrou sit ineengekrimp op die boomstomp en staar na die stofpad. Sy sit al hier en wag vir twee volle dae. Maar daar gebeur niks. Elke keer as sy ’n dogtertjie hoor praat of roep na haar mammie, vlieg sy op en hardloop na die hekkie toe. Net om weer teleurgesteld om te draai en terug te loop na haar boomstomp.

Die huil bly ook weg, die huil sit soos ’n klip in haar maag en dit is so seer dat sy nie kan asemhaal nie. Auntie Rose kom nou en dan oor om by haar te sit. Hulle praat nie veel nie. Hulle hoef net te sit, hulle harte doen die praatwerk. Nou en dan sal die vrou vir Auntie Rose die “Vader in die Jimmel” hoor prewel.

’n Polisiekar stop voor die huis. Sy staan op en stap huiwerig nader. Uit die hoek van haar oog sien sy die deur van Auntie Rose oopgaan. Die mans haal hul keppe af en in een se hand lê die houtkruisie. Van ver af hoor sy Antie Rose huil en na die Hemelse Vader roep.

“Ons is jammer, mevrou Mathebela. Lilitha se kleertjies is by die polisiekantoor. Haar handjies was om die houtkruisie. Hier …”

Die vrou hou haar handpalm uit en die polisieman sit die kruisie saggies in haar hand neer. Die man se oë is vol trane en hy kyk weg. Die ander man staan ’n entjie weg, sy kop laag gesak.

Sy vou die kruisie in haar hand toe en sak op haar knieë, terwyl trane oor haar wange rol sing sy “Thula thula baba”. Die mans en Aunt Rose kom sit in ’n kringetjie rondom haar. Hul stemme dans hartseer deur die plakkerskamp terwyl die laatmiddagson agter Tafelberg wegsak.

***

Iemand moes die Madam laat weet het. Sy stop voor die vrou se karige huis en klim uit haar blink motor. Sy stap na die vrou met ’n bos lelies in haar hande.

“Grace … die lelies … dit is vir Lilly …” Dan vou sy haar arms om die vrou. Sy vee met haar lang vingers die trane van die vrou se wange af voordat sy omdraai en wegstap.

Grace kyk op na die hemel wat vanaand soos ’n sterrekombers oor die mensdom hang. Sy ruik aan die blomme en weet dat sy nooit aste nimmer, ooit weer die reuk as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Ook sal sy dit nooit kan vergeet nie. Lilitha was haar blom. En vanaand gee sy hierdie blom wat die Here vir ’n paar jaar aan haar met liefde geleen het, weer aan Hom terug.

“Sobonana, Lilitha.”

 


 

Lees Leti Kleyn se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top