Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Om asem te haal"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Om asem te haal

Marius ry stadig met die N3 van Pretoria af. Hy kan nie wag om by die huis te kom nie. Dit was ’n lang eerste kwartaal by die kollege. Hy mis sy ouers baie en hy kan nie wag om hulle te sien nie. Sy ma het gesê hy moenie in die donkerte ry nie, maar hy kon nie wag tot die volgende dag nie. Hy is nog so drie ure weg van sy ouers se plaas buite Sondefontein. Die wit Golfie wat sy pa vir hom gekoop het toe hy gaan swot het ry mooi rustig saam met die ander karre op die pad.

*****

Milla Geldenhuis draai die stoof se plaat warmer. Sy wens tog Frans wil ’n nuwe een koop. Dié ou ding kom nog van 1986 saam met hulle en hy is al flou van al die jare se werk.

Sy kyk na die horlosie teen die muur. Seweuur. Ai tog, sy wens Marius het maar liewer vir haar geluister en môre gery. Sy’s seker die pad is so besig dat geen mens daar kan ry nie. Aan die ander kant is sy tog bly die kind kom vanaand. Hulle mis hom baie.

Toe Marius laas jaar ingeskryf het om joernalistiek te gaan studeer, het sy wat Milla is maar haar bedenkinge gehad. Dis tog so ’n onsekere beroep en baie kere moet die joernaliste maar in gevaarlike plekke in gaan. Maar in haar hart het sy tog geweet dis die regte pad vir hom. Hy was ongelooflik goed in Engels en Afrikaans op skool en die nuus was altyd ’n groot belangstelling vir hom. As sy nou so luister na hoe goed dit gaan met hom daai kant en hoe goed hy doen in die toetse, dan weet sy dat die Here hom op die regte pad gestuur het. Tot by Frans, wat wou hê Marius moes eerder ’n prokureur geword het, is nou ook bly hy het in dié rigting gegaan.

“Frans, moet jy tog die TV so hard sit?” skree sy uit die kombuis uit. Die man kan tog so onmoontlik wees.

“Maar dis dan die rugby!” skree hy terug.

“Ek gee nie om nie. Jy lawaai so dat ek nie kan dink nie!”

Frans grommel iets wat sy nie kan hoor nie en maak die lawaai ’n bietjie sagter. Sy glimlag en skakel die radio aan. Hy kan maar ’n knorpot wees, maar hy is háár knorpot. Vandat sy hom daai eerste keer in 1982 gesien het in die koöperasie waar sy gewerk het, het sy geweet hy is spesiaal. Hy het ook daar begin werk en so het hulle mekaar leer ken. Lateraan het hulle getrou en toe hy die plaas geërf het, het hulle met die skaapboerdery begin. Oor die jare was dit maar partykeer moeilik, maar hulle het vasgebyt en daar was ook meer goeie tye as slegte tye. Frans kan maar moeilik wees, maar dis ook maar net om sy klein hartjie weg te steek. Toe Marius gebore is, het hy skoon gehuil.

Sy staan so ingedagte dat sy skoon skrik toe die pot begin kook. Sy moet tog nie die kos brand nie. Sy het spesiaal ’n hoender in die oond, want dis Marius se gunsteling. Sy hoop Marius het onthou om die kollege se nuusblad met haar gedig in saam te vat. Die kind skryf al van kleins af gedigte en hy doen heel goed daarin. Sy’s seker hy sal eendag ’n digbundel uitbring.

Bo die radio en televisie se lawaai hoor Milla vir Tjokkie, hulle hond, blaf. Sy wonder wat gaan daar buite aan. Tjokkie blaf nie sommer net vir niks nie.

*****

Marius neurie rustig saam met die musiek. Hy kan nie onthou of hy die gedig ingepak het nie. Sy ma gaan tog nou weer so ’n groot ophef daarvan maak. ’n Mens sou sweer hy het ’n boek gepubliseer soos wat sy daaroor aangaan.

Hy is eintlik baie op sy senuwees om die gedig vir sy ouers te wys, want hulle gaan iets omtrent hom ontdek wat hulle nie geweet het nie: hy is gay. Hy het die gedig geskryf nadat Arno Reyneke, een van die dramastudente by die kollege, selfmoord gepleeg het oor sy kêrel vermoor is deur ’n groep mans wat hulle een aand sien hande vashou het. Dit het hom wat Marius is baie swaar getref, want hy weet al vir ’n lang tyd dat hy gay is en dit maak seer om te weet dat jy deel is van ’n groep mense wat nie aanvaar word nie. Een van sy dosente het van sy gedigte gelees en gesê hy moet ’n gedig skryf vir die kollege se nuusblad. Hy’t gevoel dat dit Arno sou vereer as hy ’n gedig sou skryf oor hoe dit voel om gay te wees. Die mense het toe darem nie so sleg gereageer soos wat hy gedink het hulle sou nie. Natuurlik was daar ’n paar wat vieslike goed gehad het om te sê, maar oor die algemeen is dinge oukei. Die beste van alles is dat hy in ’n verhouding is vir die afgelope maand. Hy het nooit geweet dat hy so gelukkig kon wees nie.

Hy het nie vir sy ma-hulle gesê waaroor die gedig gaan nie. Hy sal tydens die vakansie vir hulle moet vertel. Hy weet net nie hoe nie. Hy dink dat sy ma oukei sal wees daarmee, maar hy is nie so seker van sy pa nie. Sy pa kan nogal moeilik wees en Marius is bang dat hy dit nie goed sal vat nie. Hy’s bang dat dinge nooit weer dieselfde sal wees nie.

*****

“Tjokkie! Hou op blaf, man!” brom Frans in die geblaf se rigting.

“Dink jy nie jy moet gaan kyk wat gaan daar buite aan nie?” Milla staan in die sitkamer se deur met ’n vadoek in haar hand.

“Man, die hond is net simpel. Hy wil seker net weer inkom,” sê Frans terwyl hy ’n hand vol biltong vat.

“Jy’s net lui, man,” sê Milla terwyl sy omdraai en terugloop na die kombuis toe.

Frans rol sy oë en kyk verder TV. Hy wonder waar trek Marius nou. Hy kan sien Milla se senuwees is al weer op omdat die kind ry. Sy sê mos hy kry sy hardkoppigheid van hom wat Frans is af en dit is hoekom hy vanaand ry en nie môre nie.

Frans glimlag. Darem is daar iets van hom in Marius. Die twee van hulle is heeltemal anders van mekaar af, maar hy is nog steeds baie lief vir hom, al sê hy dit nie. Hy wonder wanneer gaan Marius vir hulle vertel dat hy gay is. Milla het al hoeka vir hom wat Frans is gesê dat Marius gay is, want sy het een van sy geheime gedigte gelees toe sy dit “per ongeluk” tussen sy goed gekry het. Hy moet sê dat dit eers vir hom ’n skok was, maar hoe meer hy daaroor gedink het, hoe meer het hy besef dat dit waar is. Marius was nooit ’n groot treffer met die meisies gewees nie, al is hy nogal aantreklik. Dit pla Frans nie. Marius is sy seun, hy is lief vir hom en hy sal by hom staan. Om die waarheid te sê, dit was eintlik moeiliker vir hom om die joernalistiek te aanvaar as die feit dat hy gay is.

Tjokkie begin weer blaf. Hy blaf harder as vroeër.

“Tjokkie, hou op blaf!”

Skielik hoor hulle die klap van ’n geweerskoot en Tjokkie word stil.

*****

Die karre se skerp ligte maak dit moeilik vir Marius om te sien. Sy oë raak moeg. Voor hom sien hy ’n Shell-garage. Hy besluit om in te ry en sy bene te rek. Hy stop die kar en klim uit. Die koel wind is verfrissend. Hy loop by die winkel se deur in en kyk rond. Rye en rye tydskrifte met glansryke sterre sit op die rakke en wag om gekoop te word. Hierdie een het daai een verneuk. Dié twee haat mekaar. So-en-so het soveel gewig verloor of opgetel.

Marius rol sy oë en loop na die yskas toe. Hy haal ’n Red Bull uit. Sy ma sal nou weer die stuipe kry as sy sien hy koop dit. Almal praat altyd oor hoe sleg dit vir jou is. Om die waarheid te sê, hy gee nie op die oomblik regtig om nie. Hy het nou iets nodig om hom wakker te hou. Terwyl hy na die toonbank toe loop, haal hy vir hom ’n sakkie biltong van die rak af. Hy wil darem nou nie te veel eet nie, want hy weet sy ma het seker weer genoeg kos gemaak vir ’n rugbyspan.

Terwyl hy staan en wag om te betaal, kyk hy na sy horlosie. Hy’t nog ’n goeie twee ure van ry oor.

*****

“Frans, wat was dit?” Milla staan verstar in die kombuis se deur.

“Dit was ’n geweerskoot.” Frans se mond is skielik droog en hy sukkel om te praat.

“Hule het vir Tjokkie geskiet!” Milla se stem raak al hoër van paniek.

“Ons moet die polisie bel.” Frans spring op en gryp na sy selfoon. Buite hoor hulle ’n klomp mans praat. Hulle praat al harder. Hulle kom al nader.

Milla voel hoe haar asem vlak word; “Ag, liewe Vader. Help ons asseblief.”

*****

Die Red Bull begin nou darem om in te skop. Hy wens hy was al daar.

Marius onthou die een somer toe hy tien jaar oud was en sy pa hom na die plaas se rivier toe gevat het om te gaan visvang. Hy het elke oomblik daarvan gepes, maar sy pa het gemaak asof hy dit nie agterkom nie. Elke keer as daar ’n vis gevang is, het daar ’n rusie ontstaan. Sy pa wou elke keer die vis gaan braai en dan sou Marius begin pleit vir die arme vis se lewe. Lateraan sou hy so desperaat raak dat hy begin huil het.

“Jy’s ’n regte klein sissie,” sou sy pa dan sê en die vis laat gaan in die water in. Hy het nie omgegee dat sy pa hom dit genoem het nie. Hy was net bly dat die vis oorleef het.

Hy wonder of sy pa daai dae onthou. As hy nou terugdink daaraan, dan besef hy dat dit sy pa se manier was om te probeer om ’n nader verhouding met hom te hê. Die probleem was net dat Marius oorsensitief was en sy pa soms onsensitief.

Hy weet regtig nie wat gaan sy pa sê as hy vir hom vertel dat hy gay is nie. Om die waarheid te sê, hy wil nie nou regtig daaraan dink nie.

*****

Milla hardloop desperaat na die kombuiskas toe en gryp ’n mes. Hóékom het hulle van die gewere ontslae geraak? Wat gaan hulle nou doen?

“Hello. Hello? I’m calling from Geldenhuis, a farm outside of Sondefontein. I … I need help.” Frans praat vinnig en hakkel deur sy woorde.

’n Skoot gaan af by die voordeur. Milla besef dat hulle die veiligheidsdeur se slot afgeskiet het. Hulle begin om te stamp-stamp-stamp aan die deur. Sy kan hoor hoe die deur se hout kraak onder die druk. Frans gryp haar arm en hulle hardloop in die slaapkamer in.

“Frans, hulle gaan ons doodmaak.”

“Ek weet.”

Die voordeur bars in stukke oop.

*****

Marius glo nie sy ma sal ’n probleem hê nie. Hy dink eintlik sy weet al klaar dat hy gay is. Hy kom dit agter aan die manier waarop sy praat van gay mense. Sy praat altyd mooi van gay mense en sy praat gereeld in daai rigting. Dis asof sy probeer om hom te kry om dit te sê.

Sy ma is die een mens wat hom regtig verstaan, dink hy. Sy is altyd daar. Hy weet nie wat hy sonder haar sou doen nie. As hy en sy pa baklei het, was sy daar om die vrede te hou. Partykeer as hy dink aan hoe dit sou wees om ’n lewe sonder haar te hê, dan voel dit vir hom asof hy sukkel om asem te haal. Sy keel trek skoon toe by dié gedagte.

*****

Milla en Frans Geldenhuis was 26 jaar getroud. Dit was nie altyd maklik nie, maar dit was die moeite werd. Hulle het saam gebly op Geldenhuis, hulle klein plasie buite Sondefontein. Hulle het een seun gehad en sy naam was Marius. Hulle was albei ontsettend lief vir hom en hy het dit geweet, maar net nie presies hoeveel nie. Ongelukkig het hulle nie weer ’n kans gehad om dit vir hom te sê nie.

Die deur het oopgebars. Die vier mans het ingestorm en dadelik na die Geldenhuise se slaapkamer toe gegaan. Hulle het die paartjie gekry waar hulle mekaar gesit en vashou het op die bed. Hulle het eerste vir Milla gegryp en haar op die vloer gegooi. Frans het probeer om te keer, maar hulle het hom in die gesig geslaan en hy het op die bed geval. Hulle is gemartel vir omtrent ’n uur lank. Milla is verkrag terwyl Frans moes kyk. Toe vat hulle ’n byl en kap hulle elkeen voordat hulle met kopskote vermoor is.

Toe Marius daar kom, was die polisie daar, maar hulle was te laat. Hy het geweet. Hulle het hom nog nie gesê nie, maar hy het geweet. Hy kon nie asemhaal nie. Hy kon nie praat nie. Hy het net inmekaar gesak.

 


 

Lees Leti Kleyn se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top