Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "’n Hart van swart"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

’n Hart van swart

Rayno hou sy asem op en knyp sy oë toe. Hy tel stadig tot tien in sy kop en probeer die geraas van die klub uitsluit. Hy kan sy hart in sy maag en in sy vingerpunte voel klop. Sy hande voel nat, en hy hoor die sagte maar tog distinktiewe klank van bloeddruppels wat op die badkamervloer drup.

Drup.
Drup.
Drup.

Daar gaan nie bloed op die vuil wit badkamervloer wees nie. Hy weet dit, tog kyk hy af.

Daar is nie bloed op die vloer nie.

Hy vryf sy hande hard oor sy gesig en kyk homself stip aan in die dowwe spieël. Verwilderde, bloedbelope groen oë staar terug.

Sy ma het altyd gesê dat sy oë die kleur is van die diepsee in stormtyd. Rayno skud sy kop en kyk weg.

Ek sal ook nie weet nie, nè? Is mos te pissie om op ’n boot te klim, dink hy, en trek sy mond op ’n halwe glimlag. Dit was nog altyd een van sy pa se grootste teleurstellings.

Frank Duvenhage het een seun en een dogter gehad.

Nie een kon saam met hom op die see gaan nie. Chanie wou nie, dit was te verstane aangesien sy ’n meisie was. Rayno se vrees vir water het hom ontneem van al die dinge waarvan ’n pa droom: kreef duik, diepseeduik, visvang. Belaglik.

Hy kon dan maar net sowel twee dogters gehad het.

Chanie: sy pragkind. Lang, blonde hare; grasgroen oë, altyd vol sprankel en lig.

Almal het gevrek oor sy Chanie-kind; gesig wat in skoonheidstydskrifte gehoort het wat gepaardgegaan het met ’n hart van goud.

Die tipe hart wat gewoonlik net in sprokies geleef het.

Rayno: swartskaap. Seunskind met grougroen oë, pikswart hare en ’n hart van swart. Die tipe seun wat van vroeg af pak slae, detensiesessies, los meisies en gebreekte harte gelok het. En trots was daarop.

’n Seun wat swaar op sy ouers se hartsnare geweeg het, om al die verkeerde redes.

Rayno lag saggies en was sy gesig met die koue water in die klein wasbakkie. Die water is verfrissend en maak sy kop effens skoon. Die angel dust en vodka druis nog aangenaam deur sy sisteem. Hy vat die tumbler-glas en gooi die skoon vodka in sy keel af.

Whatever, Frank, dink Rayno en gooi sy glas stukkend op die vuil vloer.

Hy klap homself twee keer in die gesig om bietjie kleur terug te sit in sy bleek wange en maak die deur oop om die badkamer te verlaat.

Die klub is propvol mense. Lywe wat styf teen mekaar gedruk is op die dansvloer, meer as gevolg van voorkeur as die beperkte spasie. Rayno gaan staan voor die verhoog en steek sy hande in sy Levi’s se sakke en kyk na die massa wat perfek op die maat van die musiek beweeg. Meisies wie se klere te styf is met onmoontlike hoëhakskoene aan. Ouens met pynlik stylvolle hare en broeke wat te laag hang aan hul sterte.

Almal beweeg saam, soos ’n kleurvolle golf wat saamgetrek word op die maat van die oseaan se ritme.

Dis asemrowend.

Rayno se hart pyn half van die skoonheid daarvan. Die absoluut eenvoudige genot wat deur meer as ’n honderd mense getap word in die spasie van 80 m2.

Poison Livvy is een van Rayno se gunstelingklubs om in op te tree. Kaapstad se glansrykste, jongste, mees welgestelde en mooiste het by Poison Livvy uitgehang. Suid-Afrika se weergawe van die befaamde Viper Room.

“Hi, baby.”

Rayno draai sy kop in die rigting van die stem wat net-net hoorbaar is bo die musiek.

Haar ysblou oë is donker opgemaak, wimpers wat te lank is om eg te wees. Swart hare wat in sagte salongemaakte golwe langs haar gesig af val tot tussen haar prominente skouerblaaie.

Vol lippe wat in die polsende klubligte glinster. ’n Pienk rokkie wat elke hoek en draai van haar lyf uitstal, en drie volle hande bo haar knieë eindig.

Rayno weet dat ten minste vier jong mans huidiglik besig is om elke beweging wat sy maak, stip dop te hou terwyl hulle probeer besig lyk met iets anders.

Rayno kan nie haar naam onthou nie.

Hy het haar die vorige naweek iewers ontmoet, dit kan hy ook net vaagweg onthou. Haar mond het lekker geproe …

Wat ook al daarop gevolg het, was ’n warboel van ligte, musiek en shots.

“Hi,” sê hy en glimlag half vir haar.

Hy kyk na haar gesig wat té perfek opgemaak is en dink aan sy suster.

As Chanie ooit grimering gedra het, was dit lig genoeg gewees dat hy dit nooit opgelet het nie. Haar natuurlike skoonheid was plainweg asemrowend. Dit sou lasterlik wees om ’n klomp blinkers en poeiers oor so iets perfek te gaan plak.

Rayno voel die trane agter sy oë prikkel.

Perfekte Chanie.

Drup.
Drup.
Drup.

Rayno kyk af na die dansvloer, alhoewel hy weet dat daar nie bloeddruppels op die vloer gaan wees nie.

Die vloer is skoon, behalwe vir taai merke van gemorste drank en soortgelyke vloeistowwe wat droog geword het.

Lorinda.

Hy onthou dat die meisie langs hom met die té lang wimpers en té maer bene se naam Lorinda is.

“Sien jou na die show, Lorinda,” sê hy en soen haar lank en sag op die mond. Haar Jack Daniel’s-smaak dans op sy tong rond.

Lorinda se kop draai van die whiskey en die soen. Nog ’n hart wat op Rayno se lyn hang.

Sy is vrywilliglik onbewus daarvan dat haar vars hart tussen die stank van ander, wat al leeg gehuil en droog gebloei is, hang.

Drup.
Drup.
Drup.

Toe die platejoggie hom nader wink, draai Rayno om en loop na die verhoog. Lorinda staar hom agterna met sterretjies in haar agtienjarige star-struck-ogies.

Derrin, Jason en Ruan klim saam met hom op die verhoog.

Swartskaap tree vanaand op.

Sold out.

Rayno is trots daarop.

Hulle het vir vier jaar in sy pa se motorhuis geoefen; vier hoërskoollaaitiesmet genoeg onskuld vir Hollywood-drome en genoeg geld vit Tassenberg-wyn.

Dit was ’n goeie kombinasie.

Uiteindelik het hulle hul breakgekry toe hulle een aand in Mercury Club gaan speel het en iemand belangriks hulle raakgesien het.

… Wat ook al daarop gevolg het, was ’n warboel van ligte, musiek en shots.

Rayno bring die mikrofoon nader aan sy mond en skree daarin:

“Goeienaand, Poison Livvy!!”

Die skare skree soos een man.

Dit is oorverdowend.

Rayno glimlag.

Drup.
Drup.
Drup.

“Vanaand se show is ’n huldeblyk aan ’n persoon vir wie ek meer lief was as wat ek vir my eie lewe is.”

Rayno neem ’n shot wat een of ander naamlose, gesiglose fan vir hom aangee vanuit die gehoor.

“Vanaand herdenk ons my Chanie se dooddag,” sê Rayno in die mikrofoon, en vang die bekommerde gesigsuitdrukking in sy bass guitarist, Jason, se gesig.

Die res van die groeplede maak oogkontak en knik effens hul koppe vir mekaar. Hulle het vroeër die aand ’n eed afgelê om vir Rayno hulp te kry. Dinge raak buite beheer, en dis net ’n kwessie van tyd voor iemand weer seerkry.

Rayno gee nie om nie. Hy is salig onbewus van sy vriende se bekommernis.

Hy begin Swartskaap se introoor die mikrofoon uitskree terwyl die skare juig en soos een groot, kleurvolle golf saam beweeg, hande in die lug en los lywe wat saamvloei.

… Wat ook al daarop gevolg het, was ’n warboel van ligte, musiek en shots.

“Jy was awesome, baby,” lag Lorinda toe Rayno van die verhoog afklim. Sy gooi dadelik haar arm om sy lyf om vir die ander aasvoëls te wys dat Rayno klaar gevat is.

Sy trek haar glinsterende lippe weg om vir hom te glimlag met haar ortodontisperfekte tande wat net drie dae terug gebleik is in die tandarts se stoel.

“Dankie, meisie. Gaan kry vir my ’n drink en kry my buite die badkamer in ’n halfuur, okay?” sê Rayno en druk ’n R100-noot voor by Lorinda se rokkie in, tussen haar uitgestalde borste.

Hy draai om en loop vinnig by die badkamer in.

Jason kom agterna.

“Dude, jy’t belowe jy gaan minder gebruik.”

Jason se oë lyk soos ’n babahondjie wat geskop is.

Dit maak Rayno kwaad.

Drup.
Drup.
Drup.

“Los my uit, ou. Ek meng nie in met jou lewe nie, doen ek?”

Rayno kyk Jason stip in die oë.

Sy oë die kleur van die Kaap van Storms net voordat sy moord pleeg op ’n boot vol seevaarders.

“Doen ek?” skree Rayno.

Klein druppeltjies spoeg val op Jason se bleek pretty-boy-gesiggie.

Soos ’n watermassa wat klein druppeltjies stort op klipriwwe nadat ’n groot golf gebreek het.

“Whatever, ou,” sê Jason en loop weg.

Whatever, Frank.

Rayno loop by die badkamer in en maak homself toe in ’n toilethokkie.

Hy maak die toilet se bak toe en haal sy banksakkie coke uit sy Levi’s se sak. Hy maak vinnig twee lyne op die toiletsitplek se bokant en snuif dit op.

Wit lyne.

Sperlyne.

Chanie.

Hy knyp sy oë toe en gooi sy kop agteroor.

Chanie.

Drup.
Drup.
Drup.

 

Dit was haar agtiende verjaarsdag gewees. Rayno was drie en twintig, met sy een voet in sy studentejare en sy ander voet in die grootmenswêreld. Dis ’n groot afstand vir ’n drie en twintigjarige seun se bene om te rek.

Hy het dit amper reggekry. Hy was in sy finale jaar van sy LLB-graad, en het tog nog steeds tyd gekry om saam met die Swartskaap te jam.

Toe gebeur dit.

“Asseblief, Rayno?”

Chanie se oë was onmoontlik heldergroen, haar wange ligte pienk en haar mondjie getrek om op haar broer se hartsnare te speel.

“Asseblief?”

Rayno het geweet dat hy klaar oorreed was.

“Ja, okay Chanie. Whatever.”

Whatever, Frank.

“Belowe? Belowe jy sal?”

Weereens het sy haar mondjie onskuldig-soet getrek en hom met groot, groen oë gesmeek. Rayno se hart wou breek oor haar skoonheid en onskuld.

Dit het seergemaak.

“Ek het jou nou net gesê ek sal, het ek nie?” het hy gesê en weggedraai van haar af om vir homself ’n tumbler vol duur whiskey te skink vanuit sy pa se minibar.

“Dankie dankie dankie! Jy is die beste broer ooit!” het sy gegil en hom styf vasgedruk.

Hy het ingestem om vir Chanie en drie van haar vriendinnetjies uit te neem vir die aand.

Perfekte Chanie.

Perfekte Chanie wou uitgaan in Kaapstad en dronk word op goedkoop drank en goedkoop musiek.

Whatever, Frank.

Drup.
Drup.
Drup.

“Dis cool. Ons kuier hier by die huis tot elfuur, dan kan ons uitgaan. Ek gaan vir Jason-hulle saamnooi, dis my enigste voorwaarde,” het hy gesê en ’n groot sluk whiskey geneem.

“Okay,” was Chanie se antwoord voordat sy haar vriendinne begin bel het.

Binne ’n uur was die huis vol jongmense en goedkoop bottels drank. Hul ouers was weg vir die naweek, na sy pa se familiereünie.

Die musiek het gepols vanuit die home theatre system.

Ruan het sy disco-ligte saamgebring om die full effect te skep.

Chanie was mal daaroor.

Rayno het trots en lig gevoel terwyl hy staan en toekyk het hoe sy klein sussie soos ’n vlinder van groepie na groepie fladder om almal gemaklik en welkom te laat voel.

Sy sussie het grootgeword sonder dat hy dit besef het …

Die ponytails en My Little Ponies het toe nog net voortgeleef in sy ouers se talle fotoalbums wat oorloop van hul perfekte pragkind.

“Kom, ons is reg. Kom ons gaan uit.”

Chanie het hom opgewonde aan die arm gegryp en rondom hom in die liggies gedans op Rihanna se nuwe hit.

Perfekte Chanie.

Drup.
Drup.
Drup.

Sy was baie dronk.

Rayno kon dit sien, maar het nie omgegee nie. Hy wou hê dat sy die aand moet geniet.

En hy wou ook nie hê sy moes sien hoe dronk hy was nie.

“Okay, kom ons gaan.”

Hy het sy pa se goue Fortuner se sleutels in sy hand geneem en die mikrofoon gegryp wat Jason in die sitkamer opgestel het.

“Okay boys and girls, ons gaan na Red Red Wine in Langstraat! Laaste een daar is ’n vrot pampoen,” het hy in sy beste verhoogstem aangekondig.

Almal het hul baadjies, beursies en sleutels geneem en na hul voertuie begin beweeg.

Chanie het shotgun gery en haar drie beste vriendinne het op die agterste sitplek gesit. Die lug in die Fortuner het na té sterk Gucci-parfuum en vodka-asems gestink.

Rayno was nog nooit gelukkiger nie.

“Ek is so so so lief vir jou Rayno! Weet jy dit?”

Chanie het na hom gekyk met ogies wat nog te veel glinster en onskuld gedra het.

Rayno weet dat die eerste jaar van universiteit die glinster net nóg helderder en die onskuld effens dowwer gaan maak.

Dit het hom verbaas dat die gedagte soos ’n dolk in sy hart gevoel het, en hy het daardie deur dadelik toegemaak.

“Jy skuld my tien shots, Chanie. Harde shots,” het hy gesê en gelag.

“Okay cool, sal vir jou jou eerste een gee sodra ons daar aankom.”

Sy het effens geglimlag, maar ewe skielik ’n ernstige, hartseer kyk in haar oë gekry.

Daar was stilte tussen Chanie en Rayno terwyl die drie meisies agter hulle soos opgewonde vinke gekwetter het.

“Um … Rayno?”

Chanie lyk nog steeds ernstig.

Drup.
Drup.
Drup.

“Wat?”

Die hare op sy nek het orent gestaan. Hy kon nie verstaan hoekom nie. Hy het gedink dat daardie band tussen hom en sy suster al lankal verbreek was. Vandat hul opgedeel was in Team Perfect en Team Swartskaap …

“Moenie kwaad wees nie, okay?”

Haar oë was groot en nat en hartseer.

Hy het homself in sy kop gepaai dat Chanie net al te veel gedrink het en gevolglik ooremosioneel was.

“Wat, Chanie?”

Sy stem het effens gebewe en dit het hom dom en kwaad laat voel.

Die gekwetter agter hulle het aangehou. Dit het aan Rayno se senuwees begin karring.

“Ek het drooggemaak, Rayno. Ek het ’n moerse fout gemaak. Belowe jy sal nie vir Ma en Pa sê nie?”

“Wat?”

Perfekte Chanie.

Perfekte Chanie?

Drup.
Drup.
Drup.

“Wat, Chanie?” Toe hy na haar gekyk het, het haar oë oorgeloop van groot, regte trane. Nie die selfbeheerde trane wat sy van kleins af al bemeester het nie.

Dis iets stupid, man. Iets soos dat sy 50% gekry het vir ’n toets, het hy homself gepaai en op die pad probeer konsentreer.

Maar hy kon in haar oë sien dat dit erger was. Dat sy diep ingegooi was en nie geweet het hoe om te swem nie.

Hoe het hy dit nie raakgesien nie? Die afgelope paar weke het sy haarself in haar kamer toegesluit en onttrek van almal anders. Hy het geweet dat sy ouers bekommerd was oor haar en het hom nie daaraan gesteur nie, omdat hy in sy eie wêreld was.

Sy was besig om te verdrink. Hy kon dit in haar oë sien. Soort soek soort.

“Wat, Chanie?” het hy weer gevra en stip na haar gekyk.

Toe gebeur dit.

Toe verdrink almal.

’n Ander voertuig het die Fortuner van voor af getref.

Kop-aan-kop-botsing.

Dis hoe die polisie dit genoem het. So ’n skoon, netjiese bewoording.

Dit was nie.

Rayno het sy oë probeer oopmaak, maar alles was ’n mengelmoes rooi en swart en flitse. Hy het met sy hand oor sy gesig probeer vee, maar het net nat en taaierigheid gevoel.

Dit was seer.

Drup.
Drup.
Drup.

Alles was deurmekaar. Soos die oggend wanneer jy wakker word nadat jy baie hard gekuier het.

Iets was fout. Hy het dit geweet, iets was baie verkeerd.

Hy het die deur lomp oopgeruk en daarby uitgeval.

“Wat?”

Sy stem was stadig, lomp.

Hy het sy kop van kant tot kant geskud om die ligrooi waas te probeer wegskud.

Dit het seergemaak.

Drup.
Drup.
Drup.

Whatever, Frank

Als was rooi.

Als was seer.

Hy het langs die kar op die teer gelê waar hy by die deur uitgeval het. Hy het vaagweg besef dat sy pa se kar soos iets uit ’n fliek gelyk het. Die goue Fortuner was binne ’n kwessie van ’n paar bloedstollende sekondes van sy glorie gestroop. Al wat oorgebly het, was ’n mengsel van gebuigde staal en bloed.

Bloed.

Drup.
Drup.
Drup.

Chanie.

Perfekte Chanie.

Perfekte Chanie?

Rayno het homself paniekbevange teen die stukkende voertuig probeer optrek. Hy kon dit nie regkry nie. Daar was iets baie verkeerd met sy arms. Hulle het nie gewerk soos hul moes nie. En hulle het snaaks gelyk …

Hy het iemand se arms om sy lyf voel vou, terwyl hy nog sukkel om homself teen die kant van die Fortuner te probeer optrek met arms wat gebreek was.

Jason het sy vriend opgehelp en hom om die lyf vasgehou. Sy gesig was so bleek soos ’n lyk s’n. Hy het agter Rayno gery in sy eie voertuig en die hele ongeluk gesien. Was bitter amper deel daarvan.

“Chanie?”

Drup.
Drup.
Drup.

“Chanie?”

“Help my! Help my om by die passasierskant te kom,” het hy vir Rayno geskree en vorentoe probeer beur.

Hulle het sukkel-sukkel na die ander kant van die kar beweeg.

Drup drup drup.

Jason het na sy asem gesnak en begin huil. Rayno kon nie begryp wat sy oë inneem nie.

Niks het sin gemaak nie.

Hy het toe die legkaart van onder af probeer inpas.

Voete. French manicure op die tone.

Goue toonring om elke middelste toon.

Chanie.

Kuite. Bobene. Perfek gespierd en gevorm deur jare en jare se tennis en netbal.

Chanie.

Kort wit rokkie wat kleef aan elke hoekie en draaitjie van ’n agtienjarige se perfekte lyfie.

Pragtig.

Kort wit rokkie met rooi kolletjies …

Rooi kolletjies?

Rooi kolle … Groot rooi vlekke.

Chanie?

Arms wat stil lê. Hande wat perfek en leweloos lê.

Drup.
Drup.
Drup.

Chanie!

Voete, kuite, bobene, arms …

Niks …

Drup.
Drup.
Drup.

Rayno knip sy oë deur die rooi en die swart en die geel.

Voete, bobene, arms … niks.

Drup.
Drup.
Drup.

Rayno het afgekyk na die wit sperlyn op die teer. Die lyn het netjies tussen sy bene deurgeloop.

Soos ’n student wat staan met sy een been op vodka en sy ander been op die grootmenspad …

Maar bloeddruppels breek die wit van die skeidingstreep.

Rayno het daardie warm somersaand sy balans verloor en by die afgrond afgeval. Tussen twee sperstrepe ingeval met geen hoop om ooit weer terug te kom nie.

Perfekte Chanie.

Perfekte Chanie?

Drup.
Drup.
Drup.

Jason gryp hom om die lyf en probeer hom wegsleep. Als breek.

ALS BREEK.

Niks is ooit weer heel nie.

Niks was ooit heel nie.

Rayno stap by die toilet se deur uit.

Uit sy kop uit, hoog op seer en vodka en kokaïen.

Lorinda staan en wag met ’n verdoemde hart, ’n verliefde glimlag en ’n glas skoon vodka in haar hand.

Drup.
Drup.
Drup.

Wat ook al daarop gevolg het, was ’n warboel van musiek, shots en ligte.

 


 

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top