Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Met somer in gedagte"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Met somer in gedagte

Dit is snaaks hoe ’n mens soms iets eenvoudig net weet. Vir Barnard bring die swart spikkeltjie teen sy plafon die eerste roeringe van gewaarwording. Tussen die slaapnewels van slaap deur sien hy die vlieg sit, die eerste ding waarop sy oë fokus soos hy wakker word. Hy bly roerloos lê, asof hy bang is om die onverwagse besoeker die skrik op die lyf te jaag.

Dit tref hom dat dit eintlik nog te koud is vir vlieë om hul opwagting te maak. Barnard lê en dink aan hoe die harige lyfie waarskynlik besig is om sy voorpootjies listig te vryf en vryf en tydsaam te spoeg en te vryf. Hy besluit dat hierdie een die eerste van die seisoen moet wees. By die gedagte dat die somer dus nou op pad is en dit warm genoeg begin word vir allerande goggas en onheilighede om uit te broei, voel hy skielik onverklaarbaar tevrede.

Toe hy eindelik opstaan en badkamer toe loop, wolk die wasem rondom die buitelyne van sy voetspore op die teëlvloer.  

Barnard sien uit die hoek van sy oog hoe sy weerkaatsing oor die lang, plat spieël bo die bad gly. Hy draai vanoggend daarna, leun effens nader aan sy ewebeeld. Twee grysblou oë staar verveeld terug na hom. Hy voel teleurgesteld. Hy het verwag dat hulle meer uitdagend sou wees. Hy kyk na die neus waarvan die punt parmantig opwip. “Oulik” het hy mense dit al hoor noem. Dié gelaatstrek bederf nog altyd sy kanse om te ernstig opgeneem te word. Daaronder, sy mond. Hy het ’n uitdrukkingsvolle mond, die enigste manier waarop hy ooit sy emosies verklap. Barnard merk vanoggend vir die eerste keer hoe die jare aan die hoeke daarvan begin rem.

Hy staan lank so, draai sy kop stadig van die een kant van die ander, staar sy spieëlbeeld in die oë totdat hy ongemaklik begin voel. Dan staan hy skielik terug, asof hy betrap is, en trek sy smal skouers vining agtertoe. Hy ril van die koue. Die plat spieël sny sy  weerkaatsing ongemaklik af, halfpad tussen skouer en elmboog, sodat dit lyk asof hy vasgebind is – of armloos. Hy huiwer net nog vir ’n oomblik, draai dan na die wasbak, skud die blonde krullekuif uit sy oë en spoel sy gesig af.

Hy ry met die gewone roete langs werk toe. Drawwers skuifel stram teen die bult uit, die meeste onfiks weens die lang winter. Die geesdrif wat hulle vanoggend vroeg uit die bed laat opstaan het om weer te begin oefen, is duidelik vir die meeste al vergete.

In die flou sonlig gee hulle hom die indruk dat dit eerder sononder moet wees; dat hulle uitgeput is van heeldag se woel en werskaf. Dit lyk amper asof die drawwers die lang skaduwees wat agter hulle val swaar met hulle saamsleep en hy is nie seker of hy bewondering of simpatie moet voel nie.

Toe hy by die eerste verkeerslig stop, kyk hy skrams na die motor in die baan langs hom. Iets trek sy aandag. Aan die passasierskant sit ’n meisie, haar pikswart hare losweg op haar kop gebondel, ’n reusesonbril op die fyn gesiggie. Soos sy haar arm met die sigaret by die venster uit laat sak, merk hy die woorde wat aan die binnekant van haar arm getatoeëer is.

Barnard staar daarna, vreemd geboei deur die krulletjies wat die inkletters op die bleek vel maak. Die lig word groen, en hy maak met die wegtrek net betyds die laaste letters van die woorde uit.

Die spreuk kom in ’n nadenkende fluister oor sy lippe: “This too shall pass”. Die idee laat hom glimlag.

By die sirkel draai hy nie soos altyd af nie, maar neem hy onwillekeurig ’n ander uitgang. Hy kom nie gereeld in hierdie deel van die stad nie. Die strate hier is boomryk, en die tuine welig, selfs al is die lente se teenwoordigheid nog nie met die kenmerkende oordaad bevestig nie. Terwyl hy stadig in die strate af ry, sien hy net brokkies van die huise soos wat die plante en heinings verbyskuif. Hy bestuur eers met vaagweg bekende strate langs, maar kom later agter dat hy verdwaal het. Eerder as beklemming, gee die besef hom ’n gevoel van bevryding.

Hy ry verby mense wat op pad is werk toe. ’n Paar wie se motors steeds in hul opritte staan, is duidelik al laat vir belangrike afsprake. Daar is vroue wat met hul hoëhakskoene in die hand motor toe draf en mans met deurmekaar hare en stoppelbaard. By die een huis probeer ’n ma halsoorkop om haar drie kinders met skooltasse, kosblikke, sportsakke en ’n reusekunsprojek by die motor te laat inpas.

Barnard kom onverwags op ’n hoogte tussen die woonbuurte uit. Hy parkeer onder ’n boom en klim uit. Van hier af kan hy oor ’n groot deel van die stad uitkyk. Die rookmis lê soos ’n donskombers oor alles, met hier en daar ’n venstertjie in die dynserigheid.

Plek-plek styg daar donker pluime rook uit. Die gedagte van offers wat verbrand word, kom skielik by hom op. Maar vir watter gode dan? Hy sien hoe die swart geboue met spits punte deur die mistigheid steek.

Hoewel die toneel voor hom staties lyk – dit herinner hom aan ’n houtskoolskets ­– kan  hy voel hoe dit onder die kombers wemel van die lewe. Barnard verbeel hom hy kan hoor hoe duisende siele ontwaak, liefhet, stry kry, floreer en probeer om te oorleef. Die gedreun van motors en die woeling van mense styg soos ’n sug uit die stad op.

Maar hy kan ook verder as dit sien. Anderkant die grys stad sien hy ’n strokie veld en vlaktes. Op die horison sien hy rante, afgeëts in tinte van pers, blou en grys, wasig van die afstand en die vaal lug tussenin. Hierteen lê die blou lug eindeloos uitgestrek. Iewers bo hom in die boom koer ’n duif. En Barnard wéét.

Hy kom twee ure laat by die werk aan en stap reguit na die bestuurder se kantoor. Barnard probeer nie eers sy besluit verduidelik nie; hy sê net die nodigste.

Die verslae uitdrukking op die man se gesig verwring geleidelik na verontwaardiging terwyl hy stadig van agter sy lessenaar opstaan. Die pruttende woede kook eindelik oor in ’n stortvloed woorde. Barnard kyk byna gefassineer hoe sy oë al wyer rek, die are in sy nek uitswel en die spoeg wit vlekkies om sy mondhoeke maak.

Die bestuurder se geskreeu word vir Barnard ’n veraf gedreun, ’n gerammel soos donderweer. Of branders wat oor rotse tuimel. Dit klink vir hom soos die suising van wind op ’n bergpiek. Soos ’n trein wat jy in die verte opmerk.

Die man se verontwaardiging word plofbaar toe ’n klein glimlaggie om Barnard se mond begin huiwer. Hy glimlag, want sy gedagtes is ver. Toe hy kalm opstaan en sonder verdere verduideliking by die kantoor uitstap, voel hy hoe ’n groot verligting oor hom spoel. Hy let amper nie eens op hoe die koffiebeker hom skrams mis, die deurkosyn klaterend tref en hoe die swart vloeistof stadig op die ligte mat uitpoel nie. Want Barnard weet.

Op pad huis toe lyk die wêreld vir hom vreemd. Die pad wat hy vir jare tussen sy woonstel en dieselfde werk gery het, voel vir hom byna onbekend. Dalk verbeel hy hom, maar hy sien dinge raak wat hy nog nooit vantevore opgelet het nie.

Toe hy by die huis aankom, staan hy eers besluiteloos rond. Vir ’n oomblik twyfel hy oor sy besluit. Jare se roetine, sy gemaksone, voel vir hom skielik te moeilik om weg te stoot. Hiermee saam spoel die pligsbesef soos ’n golf oor hom, begin dit in sy agterkop knaag. Paniek dreig om hom beet te pak.

Maar dan verdwyn die onsekerheid. Barnard lag vir homself, eintlik verleë oor hoe hy sy planne byna in ’n oogwink laat vaar het. Daar is buitendien nou nie meer omdraaikans nie en dit is goed so.

Hy begin doelgerig inpak. Wat behoort ’n mens nou eintlik saam te vat? Hy laai alles in die kar, maak seker dat al die vensters in die woonstel toe is en trek die deur agter hom toe sonder om om te kyk.  

Toe hy op die hoofpad begin versnel, onthou hy weer die inkletters op die meisie se arm. Hy herhaal die woorde in sy gedagtes en laat dit toe om deur sy kop te maal terwyl die landskap om hom ontvou. Hy merk op dat die rante anders lyk as toe hy dit vanoggend van ver af gesien het.

Agter hom raak die stad al kleiner en kleiner, totdat daar later net ’n swart spikkeltjie in die verte teen die bleekwit horison oorbly. Dit huiwer nog ’n oomblik op die horison en verdwyn dan spoorloos agter die bult.

Maar Barnard sien niks hiervan nie, want hy kyk nie een keer in die truspieëltjie nie. Want hy weet. Hy het vanoggend al geweet dít is nie meer waar hy hoort nie. Dit is tyd vir dinge om te verander.

 


 

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top