Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Kopskuif"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Kopskuif

Hallo, my naam is Chamonique en ek is gebore in ’n gebroke wêreld. My ma het miskien gedink as sy vir my ’n mooi naam gee, ek ’n mooi lewe sal hê, maar ek het op die harde manier geleer klein dogtertjies het meer as net dít nodig.

Gelukkig het ek die meeste van my kinderdae-herinneringe uitgeblok. Dit sal in elk geval te moeilik wees om al die weeshuise, maatskaplike werkers en ooms se name te onthou. Mense het al vir my lelike goeters gesê wat ek gelukkig vergeet het, maar die een vriendelike ding wat ek al my hele lewe lank hoor, is dat ek mooi is. So dis wie ek is. Ek is Chamonique en ek is mooi.

Die res is nie belangrik nie en ek kan dit in elk geval nie onthou nie, wat ’n goeie ding is, want julle sal dit in elk geval nie wil hoor nie. Niemand sal kan glo dat só ’n mooi meisie met só ’n mooi naam só ’n vieslike storie het nie. Ek wil tydloos wees. Ek weet nie veel van ambisie nie, maar my ambisie is om tydloos te wees.

Ek stel nie belang in sport of kultuur of letterkunde of musiek nie. Ek weet nie eens van al die ander goeters wat bestaan waarin ek ook nie sal belangstel nie. Ek weet nie wie enige ander land behalwe Suid-Afrika se president is nie (ek weet ook nie eintlik wie hy is nie, maar ek weet hy’s swart), ek lees nie koerant nie, ek het nie ’n mening oor rhino poaching of global warming nie, ek hou nie van diere nie en ek kyk neer op lelike mense. Ek is dom, maar ek is nie blond nie. Ek weet niks van niks, maar darem is ek mooi.

My belangstellings is grimering, Botox, cosmetic surgery, wat ander mense van my voorkoms dink en spieëls. Ek kan nie sonder spieëls nie. Terwyl ander mense kinders, troeteldiere en Bybels uit brandende huise sal red, sal ek kyk hoeveel spieëls ek kan gryp. My kind en my kraai en my god kan maar in ’n vlammehel vergaan.

As daardie spieëls te swaar is, sal ek met my kaal hande stukkies daarvan afbreek, want  dis vir my niks om bloed te huil nie. Ek doen dit al vir jare en laat ek jou vertel, dit brand minder as trane. Dan sal ek eers vir myself daarin kyk en pruil, want dit maak nie saak hoe sleg die situasie is waarin jy jouself bevind nie, as jy mooi lyk sal jy OK wees. Maar as jy oud en lelik is, dan is dit verby, dan is alles leeg en tevergeefs.  

Terug na my storie oor die brandende huis: ’n Brandweerman sal ingehardloop kom en my in ’n kombersie toedraai, in sy arms optel en styf teen hom vasdruk terwyl hy my na buite dra. Hy sal my vertel dat ek die mooiste meisie is wat hy al ooit gesien het en die bloederige splinters versigtig uit my hande haal. Hy sal sê ek hoef myself nooit weer seer te maak nie, want van nou af is hý my spieël en ek is pragtig.

Hy sal vergeet om mense en sentimentele goedjies te red, want niks sal vir hom so belangrik wees soos ek wat in sy arms is nie. Hy sal my vashou en soen soos wat ek al so baie in my drome vasgehou en gesoen is. My drome is vir seker beter as my werklikheid.

As ek nie net mooi was nie, sou ek nogal goed gewees het as ’n aktrise, want ek is hopeloos romanties, al het ek geen rede op aarde om so te wees nie. In die regte lewe is daar nie prinse soos in my drome nie, hier is net lelike paddas wat vir jou siektes gee wanneer hulle op jou piepie en aaklige goeters kwaak.

My enigste talent is my skoonheid en vandat ek kan onthou, is dit ’n obsessie en die spil waarom my donker bestaan draai. Dis beter om ’n mooi nobody te wees as ’n lelike somebody. Maar dis moeilik ook. As die wêreld maar net weet waardeur ek al alles is om te lyk soos wat ek lyk, sal hulle besef dat ek eintlik baie dapper is en baie deursettingsvermoë het.  Die pous word mos nooit in sy eie land vereer nie, of so iets. Die prinses ook nie. In my droomwêreld kraai ek koningin, maar hier is ek niks.

As almal maar net weet wat ek weet, sal ’n president of iemand belangrik my na ’n verhoog toe roep en vir my ’n medalje en ’n sertifikaat en ’n bos blomme gee vir die paadjie wat ek al moes stap. Hy sal mý heel eerste roep, lank voor hy die mense roep wat die honger kinders in Afrika help of die vlieënier wat gekeer het dat daai vliegtuig val. Almal sal opstaan en hande klap en trane in hul oë kry en vir mekaar fluister hoe beeldskoon ek is. En dan sal hulle vir Prins Brandweerman roep en vir hom ook ’n medalje gee omdat hy mý uit die brandende huis gered het. Dan sal hy sommer daar  en dan op die verhoog voor almal vir my vra om met hom te trou, en belowe hy sal my nooit los nie en vir ewig en altyd mooi oppas.

Ek dwaal alweer af, kom ons kom terug na die regte wêreld toe. Ek haat dit wanneer gewone meisies kla oor gewone goeters soos waxing. Waxing is vir my soos ’n Disney movie in vergelyking met alles waardeur ek al moes gaan.

Alles het begin in standerd 5, my laaste jaar op skool. Die biologiejuffrou het ’n glasflessie met twee lintwurms by die klas aangebring sodat ons kon sien hoe hulle lyk. Sy’t gesê mense wat wurms het, is altyd baie maer en net daar het ek besluit wat my eerste dieet sou wees. Toe die klok lui, het ek die glasflessie skelm in my tas gedruk, badkamer toe gehardloop en die kriewelende gedroggies sonder seremonie en voor die spieël lewendig ingesluk.

Dié gulsige monstertjies in my gedermte het my daagliks van al die noodsaaklike voedingstowwe ontneem en ek het gegril as ek gesien het hoe hulle my uitgeteerde, ondervoede liggaam stuk-stuk saam met my stoelgang verlaat het, maar goddank was ek maer en dít en om mooi te wees en ’n veilige droomwêreld te hê, is op die ou einde al wat saak maak. Wel, ten minste in mý lewe.

Oor die jare heen het ek geleer hoe om my wurms te beheer en ek het hulle nooit genoeg tyd gegee om tot in my breins in te seil nie, want dís blykbaar wat hulle doen wanneer hulle langer as ses meter word. En wanneer hulle jou brein bereik raak jy glo koekoes of jy gaan dood. Ek sal eerder doodgaan, want as ek moet koekoes raak sal ek nie meer aandag aan my voorkoms kan gee nie en dan kan ek maar netsowel dood wees.

Hulle het dag en nag in my ingewande baljaar en dit het gemaak dat die maagkrampe soms onuithoudbaar was, maar ek kan met trots verkondig dat wurms-vir-ontbyt tot vandag toe die mees doeltreffende dieet is wat ek al ooit gevolg het. Niemand het in elk geval gesê dit gaan maklik wees nie en beauty is cruelty.

Toe ek 18 geword het, het ek met die erfgeld wat ek van my ouma aan my ma se kant gekry het besluit om ’n borsvergroting te laat doen. Ek dink tot vandag toe die enigste rede hoekom ek by haar geërf het, is omdat sy skuldig gevoel het dat sy my ma nooit gedwing het om ’n aborsie te kry nie.

“Erfgeld is swerfgeld” sê hulle altyd en ek weet nie lekker wat hulle daarmee bedoel nie, maar vir my het dit beteken dat waar ookal ek volgende heen sou swerf ek met ope arms verwelkom sou word. Mense kon dalk hul huise en harte vir ’n wees klein snotneusdogtertjie met luise toeklap, maar wie sal dit dan ooit oor sy hart of hormone kan kry om ’n smeulende donkerkop met stywe tieties te verwerp?

Dalk is ek nie regtig so dom soos wat ek dink nie! My implants was ’n blink plan. ’n Flippen seer plan, maar blínk! Nadat ek in die kliniek wakker geword het, het dit gevoel asof die Texas Chainsaw Massacre vir ure lank wydsbeen oor my maag vol wurms gesit het en my borskas met ’n saag vermink het.  Ek kon sommer in my geestesoog sien hoe hy my 32B’s barbaars uitpluk en met twee koolkoppe van silikoon vervang terwyl hy deur sy masker van velle vir my grynslag. Hier moet jy nou verstaan dat sulke lelike goeters nie gewoonlik in my droomwêreld gebeur nie, maar die dokter het verduidelik dit was die narkose en lyk my om onder narkose te wees is maar baie dieselfde as om in die regte wêreld te wees.

My nuwe borste was vir ses weke só seer ek het heeltemal vergeet om te onthou van die eintlike pyn wat ónder hulle skuil. En dis presies wat ek wou hê. Die lewe het my al baie poetse gebak, maar hier het ek die lewe ’n goeie poets teruggebak.

Dan is daar natuurlik Botox. Ek het reeds vroeg-vroeg besluit ek gaan nie wag met ’n facelift  totdat ek eendag ’n fossiel is nie, hoofsaaklik omdat ek geen begeerte of planne het om ’n fossiel te word nie. Die dag wat ek plooie kry en een of ander twintigjarige meisietjie meer aandag as ek in Menlyn Mall kry, kan die engeltjies maar uit die hemele neerdaal of die duiweltjies kan maar oprys om my te kom haal. Botox is nie so erg nie, mense het nogal ’n verkeerde idee daarvan, maar ek was eenkeer baie arm en baie desperaat en het toe maar gaan aanklop by so ’n dodgy dokter met die een of ander Poolse van.

Nadat hy met my klaar was, kon ek vir ’n week nie loop nie, maar never mind dít was my gesig heeltemal verlam en ek het soos ’n vertraagde babatjie gekwyl. Al wat lekker was daarvan was dat ek vir twee weke lank nie gedwing was om smiles te fake nie. Dit het my nogal laat skrik om te sien hoe anders ek sou gelyk het as ek altyd aan die buitekant moes lyk soos wat ek aan die binnekant voel.

Die wurms, die boobs en die Botox was my grootste opofferings vir my skoonheid, maar dis die kleinste jakkalsies wat die seerste byt. Die daaglikse instandhouding van threading, make-up en ’n velsorgroetine is regtig sieldodend en dis ook nie asof dit help of iets nie, want vanaand klim ek maar alweer alleen in die bed.

Threading is ’n Oosterse marteltegniek waarin jou wenkbroue gevorm en onooglike facial hair met ’n stukkie garing verwyder word. Dit klink baie onskuldig, maar dis 15 minute van loutere hel waarin elke haartjie op jou gesig uitgepluk word. Dis minder moeite as tweezing, maar baie seerder.

Ná die soveelste keer wat ek gethread is het ek een keer in trane uitgebars en vir omtrent ’n halfuur lank histeries gegrens. Dit was nie naastenby so seer soos al my ander prosedures nie, maar hulle sê mos dis die laaste halmpie strooi wat die kameel se rug breek. In hierdie geval was dit die laaste stukkie garing waaraan al my snorbaarde en senuwees gefladder het.  

Net hier het ek besluit ek kan nie meer nie. Ek is moeg. Met die nuwe tegnologie moet daar tog die een of ander behandeling wees wat meer permanent is? Na ure van ’n wanhopige gesoek op die internet het ek uiteindelik op die volgende advertensie afgekom:

“Experience the ULTIMATE beauty treatment. Post-treatment you will NEVER have to wax, exfoliate, tweeze, thread, apply make-up, undergo plastic surgery or stress EVER again. Success guaranteed. Extremely painful, but once-off. No pain, no gain.”

Ek bel dadelik die nommer en praat met die skoonheidskonsultant. Sy vertel vir my in detail wat die prosedure behels. Dis vreesaanjaend, maar dit gaan werk. Ek maak sommer dadelik ’n afspraak vir vanmiddag drie-uur. Vandag is die dag. Môre hierdie tyd is ek tydloos en perfek.

Ek trek my mooiste rok aan, want wanneer ek vanmiddag daar uitstap gaan ek so mooi wees, dit sal sonde wees as my outfit nie by die geleentheid pas nie. Ek is bang vir wat voorlê, maar verskriklik opgewonde. Ek stuur vir my enigste vriendin ’n SMS om haar van die groot nuus te vertel. Ek kyk vir oulaas in die spieël, want ná vandag sal dit nooit weer nodig hoef te wees nie.

Op die kop drie-uur uur staan ek voor die plek. Ek is nogal teleurgesteld, want dis baie leliker as wat ek gedink het dit sal wees. Orals staan blompotte met vals rose, die muurpapier lyk gehawend en daar hang ’n muwwe reuk in die lug.

Die skoonheidsterapeut wat my na die spreekkamer toe roep is grof en lelik en ek kan sommer dadelik sien sy het beslis nog nie self in hierdie prosedure belê nie. Ek staan op en gaan lê op die neerdrukkende bedjie met die gelerige laken soos wat die growwe, lelike een my beveel.

Sy vra my of ek presies verstaan wat die prosedure behels en ek antwoord ja.  Sy vra my of ek wil voortgaan met die prosedure en ek antwoord ja. Sy vra my of dit my finale antwoord is en ek antwoord ja. Toe kom daar nog ’n vrou by die deur in en sy is mooi. Sy lyk eintlik nogal baie soos ek, maar met ’n swart rok aan. Sy glimlag nie, want hierdie is ernstig en sy moet konsentreer. Ek lê plat op my rug en die lelike vrou gooi ’n wit kleed oor my hele lyf, sy vra my of ek gemaklik is en ek jok ja en sy sê sy gaan my nou blinddoek.

Die mooi een wat soos ek lyk staan nader en lig ’n swaard met albei hande hoog bo haar kop. Sy tel saggies terug van tien af en toe sy by een kom onthoof sy my met een vinnige kap. My oë bars, die aartjies in my gesig ontplof en ’n stroom bloed spuit soos ’n fontein uit die plek waar my kop eens was. Dis ’n bloedstollende toneel, maar die bloed stroom orals.

Die mooi een wat soos ek lyk glimlag wrang, sy het ’n goeie job gedoen. Sy wys na my kop wat doelloos en desperaat op die vloer spin. Die lelike een tel my kop op aan my hare, kyk diep in my stukkende oë, grynslag en drop-kick my kop met minagting sodat dit met ’n slobberige geluid in ’n swart plastieksak in die hoek van die kamer te lande kom. Op die agterkant van die sak staan daar in uitspattige pienk letters geskryf: It’s painful to be beautiful.

*********************************

Waar ek vandag swerf, swerf ek tydloos en rusteloos. Ek sweef in die hartverskeurende wete dat skoonheid uit smart gebore word.

 


 

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top