Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Die gevolmagtigde"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Die gevolmagtigde

Hendrik het nog nooit ’n hond gesien wat klere dra nie, nog minder ’n reënjas, maar toe die vrou met haar stywe denim, groot handsak en nog groter hare by die slap kar uitklim, het die verskynsel hom heeltemal onkant betrap. Hy het verwonderd die petalje oopmond aangestaar en gekyk hoe die vrou die hondjie se pienk reënjas en strik verstel voordat sy vermydelik verby die karoppassers en bedelaars die reën trotseer na die inkoopsentrum se ingang toe. Dit maak seker sin dat weinig soogdiere (met die uitsondering van walvisse en robbe) wil nat word, maar Hendrik kon nie die wete uit sy kop kry dat hy nog nooit ’n reënjas besit het nie. Hy het gedink hoe belaglik die baster-rondloperbrakke in sy blikkiesdorp sou lyk met pienk strikke en reënjasse, maar die dag se spanning het die ligsinnige gedagte gou in die kiem gesmoor. Die vrou het verdwyn agter die outomatiese deure en verlore geraak in die see van mense.

Die eerste reël wat aan hom geleer is, was om altyd netjies en skaflik aan te trek sodat jy nie verdag lyk nie. Op die oog af sou hy soos enige tienerseun gelyk het wat ’n winkelsentrum besoek het. Sy veertienjarige ouderdom en poenskophare het hom ’n onskuld gegee wat die meeste seuns van sy herkoms vinnig afskud as hulle die ondeugdelike aspekte van die lewe ontdek. Hy was bang.

Die rede hoe hy opgeeindig het in die situasie was lankal vir hom vergete en die taak wat aan hom op hande gelê is, was al wat op daardie oomblik belangrik was. Hendrik het voor die vrou se verskyning lank die ander motors dopgehou wat een vir een by die winkelsentrum ingetrek het. Hy het al die kenmerke afgetik waaraan die motor moes voldoen – die model se jaartal, die tipe kar, die aantal deure, ensovoorts.

Die middagspitsverkeer was besig om te bedaar en hy het opgelet dat die middeljarige tannies een vir een minder geword het sodat daar ’n rustigheid oor die grou parkade gedaal het. Hy het sy Steri Stumpie klaar gedrink en onder die skuiling uitgetree om nader aan die vrou se motor te beweeg. Nadat hy rondgekyk het om seker te maak dat daar geen ongewensde toeskouers in die omgewing was nie, het hy met ’n nonchalante maar vasbeslote roofdieragtig die kar begin omseil om al hoe nader te beweeg aan sy prooi. ’n Bedelaar het ’n paar meter met sy rug van hom gestaan, maar Hendrik het geweet as hy nie nou reageer nie, sou die geleentheid verby gaan.

Hy het ’n uitstekende vonds in die kar gewaar wat ’n sportsak op die agterste sitplek en ’n digitale musiekspeler tussen die twee sitplekke ingesluit het. Met verligting het Hendrik besef dat as alles glad verloop, hy die broodnodige paar rand huis toe kon bring.

Hendrik het geweet dat die linker-agterdeur die beste en mees beskutte plek was om by in te breek en hy het ywerig n die vonkprop in sy sak gevoel om die venster mee te breek. Toe hy niemand sien aankom nie, lig hy sy arm, haal diep asem, en met een vinnige beweging het die vonkprop en die ruit suksesvol kontak gemaak.

Die ruit het in duisende stukke verbrokkel en na ’n paar ondraaglike sekondes het die kar-alarm verwoed begin skree. Met ’n versnellende hartklop het hy probeer om die laaste skerwe uit sy pad weg te vee. Hy het homself dertig sekondes toegelaat om die rooftog uit te voer, maar met die intrede het hy die beweging van die bedelaar gewaar wat intussen nader beweeg het. Hulle het mekaar vir ’n paar spannende sekondes staan en aangluur. Die bedelaar het stadig omgedraai en in die teenoorgestelde rigting weggestap. Die tyd was besig om verby te tik en hy moes vinnig met sy bolyf in die kar inglip om die digitale musiekspeler en sak te gryp. Hendrik was ietwat ontsteld oor die onnodige ooggetuie van die misdaad, maar hy was oortuig dat dit geen reperkussies gaan hê nie. Toe hy klaar vlugtig deur die kar gesoek het of hy alles gevat het wat hy kon, het hy hom vinnig uit die voete probeer maak.

Op ’n drafstap het hy probeer vlug sonder om agterdog te wek, maar na ’n paar tre ë voel dit of sy hart stilstaan. “Is alles reg hier?” hoor hy van agter af. Hendrik het lam geword en toe hy omdraai, sien hy die jong man wat ’n paar meter agter hom onder ’n sambreel staan. Sy brein het begin om in rang van geloofwaardigheid moontlike antwoorde te kategoriseer.

“Ja, Oom,” het hy na ’n ruk al stotterende uitgekry. Dit het gevoel of die tyd stilstaan en Hendrik het probeer om ’n beter verweer te prakseer indien dit verlang word. Hy het die omgewing gefynkam na ’n moontlike verskoning. Afgesien van die bedelaar, wat nou al ’n hele ent gevorder het met sy vlugtog, was daar niemand anders op die parkeerterrein nie. ’n Idee het by hom opgevlam.

Sonder om oogkontak te verbreek, sê hy: “Iemand het in my ma se kar ingebreek. Ek dink dit is daardie persoon wat daar hardloop. Ek het gou iets in die kar kom haal en toe sien ek die ruit is gebreek.” Die man het hom agterdogtig aangekyk. Hendrik het nie geweet hoeveel die man gesien het nie en of hy hom gaan glo nie, maar dit was die moeite werd om te probeer.

“Wel, waarvoor wag jy, hardloop agter hom aan!” het die man hom uitgeskel.

“Nee, uhm, ek is nie seker nie. Ek kom nou net hier aan,” het Hendrik probeer protesteer.

“Ai, julle kinders van vandag,” het hy in die verbygaan gesug en agter die bedelaar begin aanhardloop. Die man het met ’n vinniger tempo gehardloop as wat Hendrik verwag het en dit het hom nie lank gevat om die drentelaar in te haal nie.

Hendrik het besluit dat dit die beste sou wees om hom uit die voete te maak, maar die jaagtog wat op die parkeerterrein afgespeel het, het ander mense se aandag begin lok en Hendrik het homself vasgeloop teen ’n gepeupel van lanterfanters wat bloed geruik het. Hendrik se vigilante het sigsag gehardloop tussen die karre deur tot by die niksvermoedende bedelaar. Hy het hom aan die kraag gegryp en Hendrik kon sien hoe die man hom skreeuend nader sleep aan die misdaadtoneel.

“Gaan roep die sekuriteit!” het die man die skare beveel. Hendrik was te bang om te kyk of sy versoek uitgevoer gaan word en het verward met die sak en digitale musiekspeler in sy hand gestaan en besef dat ontsnapping met elke sekonde moeiliker gaan word. Sy brein het oortyd gedink aan moontlike scenario’s, maar die skare mense wat nader beweeg het, het hom belemmer.

Die man het met ’n te sadistiese geesdrif beheer geneem van die situasie. “Is dit die man wat ingebreek het?” het hy vir Hendrik gevra.

“Ek weet nie, Oom. Ek kon niks gesien het nie. Toe ek by die kar aangekom het, was die ruit stukkend en dit het langsaan die kar gelê,” het Hendrik geantwoord en die digitale musiekspeler en sak vir die man gewys.

“Aikona, dis hy! Dis die wit baas. Ek het hom gesien,” het die bedelaar tevergeefs geprotesteer en hom pleitend aangekyk.

“Moe nie met my kom twak praat nie. Jy kan mos sien dat die man nie in sy eie kar sal inbreek nie. Wat het jy gevat, h è? Wat!?” het die man geskree terwyl hy die bedelaar rond geruk het.

Hy het in sy sakke begin voel en gewelddadig die bedelaar se rugsak van sy skouers af geruk om die paar besittings op die nat teer uit te gooi, ter aanskoue van die skare. Die etlike kledingstukke, twak en ’n sak met iets wat soos ou kos gelyk het, het tussen deur die skare ingerol. Hendrik het die knielende bedelaar, wat inkoejawel gekyk het hoe sy aardse rykdom wegrol, meteens ontsettend jammer gekry. Die man het teleurgesteld die inhoud van die rugsak, wat geen ooglopende gesteelde items bevat het nie, aangestaar omdat hy nie sy heldeverering gaan verdien nie. Hendrik het sy gesigsuitdrukking probeer lees, maar na ’n ruk van stilte het die man vir Hendrik in privaatheid probeer aanspreek deur sy rug na die skare toe te draai.

“Wat wil jy doen, seuna?”

“Ek weet nie wat gaan my ma s ê nie ,” het Hendrik gemompel sonder om te weet hoe om sy ontsnapping te bewerkstellig.

“Sy is vreeslik lief vir haar kar. Sy het dit persent gekry van my pa. Hy is laas jaar oorlede. Solank daar net niks weg is nie. Sy los nie gewoonlik goed in die kar nie.” Hendrik het nie geweet waar die stories vandaan gekom het nie, maar toe hy eers begin het, kon hy nie ophou nie.

“Ons het ’n ruk terug op vakansie gegaan Margate toe en my pa het goed op die agterste sitplek gelos en toe breek hulle in. My ma het daardie dag gesê dat misdaad meestal ons eie skuld is. My pa het nie saamgestem nie, hy het gedink dat die land al hoe meer in sy moer in is, maar nie my ma nie. Dit was een van die laaste dae van die vakansie en daarna het ons teruggegaan huis toe, waar alles verander het. My ma probeer altyd die goeie in alles en almal raaksien.”

Die man het begin ongemaklik lyk en nie geweet wat om te s ê nie. Hendrik het geweet dat hy op die regte spoor is en het na ’n ruk die situasie probeer red. “ Ek is seker dat die man nie sleg is nie, dalk is hy honger, dalk het hy familie waarvoor hy moet sorg. Dalk moet sy sussie skool toe gaan en kort skoene. Dalk is sy pa ook dood en nou moet hy vir almal sorg.”

Die bedelaar het sy spreekbeurt probeer vat toe die gesprek tot bedaring gekom het. “Dit is nie ek nie,” het hy weer gepleit. Die man het hom ’n stamp in sy ribbes gegee met sy been.

“Bly stil, ek praat nie met jou,” het die man geskel.

“Ek is jammer om te hoor oor jou pa. Hoe is jou pa oorlede?” het hy ongemaklik vir Hendrik gevra.

“Hy het selfmoord gepleeg. Ek dink dinge het net te veel geraak vir hom.” Hendrik was bang dat die storie te persoonlik vir die man gaan raak. “Dit maak nie saak nie. Oom kan hom laat gaan. Ons is okay, dis net ’n venster, wat maak dit saak?”

“Ek dink ons moet die keuse eerder vir jou ma los,” het die man ges ê.

Omsingel en bang het Hendrik die situasie geassesseer. Hy was hartseer en het probeer om die bedelaar om vergifnis te vra. Hy kon omdraai en wegloop en vergeet hiervan, want hy het gekry waarvoor hy gesoek het. Hy en die bedelaar het stip vir mekaar gekyk en hy het sy kans gesien om weg te kom.

“Ek gaan my ma soek. Ek dink sy moet weet.”

Hendrik het omgedraai en die eienaar van die motor verward sien nader loop. Hy het besef dat hy heeltemal gekniehalter was.

“Wat gaan hier aan? Wat het my kar gebeur?” het die vrou gevra. Die hondjie het ’n benoude blaf gegee in haar arms.

Die man het net ’n sug sy alfa-rol -posisie aan Hendrik oorgegee en met ’n “jou-seun -sal-vir-jou-alles-vertel” -gebaar na Hendrik gewys. Hendrik was verward, maar het geweet dat hy nie ’n oomblik kan laat verbygaan nie.

“Iemand het by die kar ingebreek. Ons is nie seker wie dit is nie, maar toe ek hier aankom, toe tel ek di é op langs die kar,” het Hendrik gesê en haar aandag probeer aflei met die gesteelde goed.

Die vrou het meteens agter gekom dat ’n klomp mense hulle dophou. “Dis alles okay, julle kan maar gaan, alles is onder beheer,” het sy die skare probeer paai om die ongemaklike kollig van haar af te kry.

“Jy kan bly wees dat jou seun betyds hier aangekom het en die dief betrap het,” het die man gesê om die vrou te probeer gerusstel.

“Onthou Ma toe Pa die sak gekry het by die marathon wat hy gehardloop het ? Ons het vir hom by die wenstreep gewag met die plakkaat wat ons gemaak het en na die tyd by die Wimpy gaan uiteet. Hy was so trots daarop en wou dit orals saam met hom dra. Ma was naderhand so kwaad omdat hy alewig rede gesoek het om die sak saam met hom te dra,” het Hendrik aangegaan met sy storie.

“Wel, daar is seker nie veel wat ons kan doen nie. Daar is geen ooggetuies nie en dit lyk nie of iets gesteel is nie. Wat wil Mevrou doen?” het die man gevra.

Sy het huiwerend probeer sin maak uit die situasie.

“Ek het vir die oom gesê dat Ma die man sal laat gaan. Dis nie my skuld nie.”

Hendrik het die sak en die digitale musiekspeler in haar hande gestop. Die hondjie het gegrom toe Hendrik naby hom kom en dit was asof die vrou uit haar trans gekom het. Sy het stip na die digitale musiekspeler en die sak in haar hande gestaar.

“Ek weet nie wat om te doen nie en ek weet nie wie om te blameer nie. Die beste gaan wees om huis toe te gaan. Dit is laat en ek is moeg,” het die vrou vir Hendrik ges ê.

Hendrik, die man, die bedelaar en die vrou het ongemaklik en naamloos rondgestaan en na mekaar gekyk. Die vrou het na die stukkende kar gestap, omgedraai en vir Hendrik gekyk. “Waarvoor wag jy? Kom ons gaan huis toe.”

 


 

Lees Leti Kleyn se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top