Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Die fiets"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Die fiets

Ouma het my op haar skoot getel en saggies in my oor gefluister: “Gaan haal vir julle melk en koekies in die kombuis.” Ek het onseker na haar gekyk. Ouma se sagte grys hare het silwer in die middagson geblink. Agter haar was die sitkamergordyne oopgetrek. Buite het die kaal wilgerboom se takke treurig in die wind gewieg. Hier en daar het bros blare gedwarrel. Ek het nog geweifel, wou nog na buite staar, maar Ouma het my met ’n vinnige kopknik en ’n ferm “toe, dis jou gunsteling” in die rigting van die kombuis gedwing.

Ek het kop onderstebo na die kombuis gedrentel. Pa, Ma en die tweeling het ongemaklik in die kombuis rondgestaan. Daar was ’n verskeidenheid rugsakke en tasse, sommige skeef gepak en haastig toegerits met skoenveters wat uithang. Ook ’n paar appelbokse met foto’s en CD’s. Twee skooltasse. Pa, met sy bruingebrande voorarms wat so tuis is tussen die diere en implemente, het lomp en onbeholpe gelyk. Hy het woordeloos na my gekyk, sy oë moeg en grys. Ma het vooroor teen ’n kombuisstoel aangeleun, haar een hand se agterkant teen haar voorkop soos iemand wat duiselig of siek voel. Haar oë het gefrons en haar vol lippe was in ’n senuagtige plat glimlag getrek. Sy dra al vir weke nie meer lipstiffie nie en vandag was geen uitsondering nie. Haar stem was effens skril toe sy omkyk en my sien. “O, kyk, hier is Stefanie.” Dit het geklink of sy dankbaar was vir die afleiding wat ek tot die situasie gebring het.

Ek moes nou maar deurdruk, hulle het my klaar gesien. “Mamma, Ouma sê ons kan vir ons melk en koekies vat. Sy het mos vanoggend gebak terwyl julle weg was.”

“Ja, dit sal nou lekker wees, nè? Kom ek haal vir julle glase uit,” het sy gemaak opgewek gesê.

Ma het haar hand van haar voorkop gehaal en ’n oomblik in die lug naby haar bors gehou, asof sy nog iets wou sê. Daar was niks meer om te sê nie. Sy het omgedraai om glase en bordjies uit die kas te haal. Haar skoene het ’n dowwe skuurgeluid op die grys kombuisvloer gemaak. Buite het die wind al driftiger gewaai. Die houtkapper wat in die tuin broei, het dringend na sy maat geroep. Ek het my bes probeer om die geel blommetjies op my seilskoene te tel. Elke keer as ek by vier kom, het ek deurmekaar geraak en moes ek van voor af begin.

Pa het die ongemaklike stilte verbreek. “Ek, um … Ek vat gou julle sakke na julle kamers toe.” Hy het ’n paar tasse met sy groot hande opgetel, omgedraai en doelgerig uit die kombuis geloop. Ek wou maak of ek saamloop sodat ek blitsig by die gangdeur kon uitglip na buite en wegvlug na die dam, die stalle of net iewers weg van die huis af.

“Kom sit julle lekker rustig by die tafel. Stefanie sal nou-nou vir julle die perde gaan wys. Miskien kan julle vir Pietman vra om te help opsaal, dan kan julle ’n entjie ry. Julle weet mos hoe om perd te ry? Sokkies is lekker mak, hy sal julle niks maak nie.”

Hoekom moes Ma nou oor die perde praat? Ek is seker dat die tweeling nie in die minste in perde belangstel nie. Nee, perdry was my en Johan se ding. Ons saamdoen-ding. Ek en Johan het gereeld gaan ry, veral op luilekker Sondagmiddae wanneer Ma en Pa ’n uiltjie wou knip. Johan op Bosbek, ek op Sokkies, sommer so bloots. Opsaal is mos vir sissies. Hierdie gedagtes het my keel laat toetrek soos die hartseer na bo wou opstoot. Ek moes ’n paar keer hard sluk om die trane te keer. Om my aandag af te trek het ek maar onderlangs na die tweeling geloer. Lizaan se oë was rooi en opgeswel van al die huil. Haar rooierige hare het in slierte gehang. Elke nou en dan het sy hard gesnuif en dan verder na die dak bo die stoof gestaar, seker om te kyk na die bruin kol op die plafon wat laas jaar na die reën verskyn het. Adriaan het met sy gewig op een been gerus, die ander voet ver uitgesteek asof hy verveeld was. Hy het sy gekoude duimnael kliphard bestudeer, skynbaar ongeërg.

Lizaan en Adriaan het vreemd gelyk, asof hulle nie by die prentjie van ons plaaskombuis pas nie. As jy nou ’n foto van die kombuis kon neem en daarna kyk, sou die kyker kon sweer dat die tweeling uit ’n ander foto geknip en op die kombuisfoto geplak is. Hulle klere was nuut en modern, soos wat ek al op TV gesien het. Dit het verskeie helder kleure en vreemde prente op gehad. Nie ingedra en deurgeleef soos my plaasklere nie. Hulle gesigte en hande was blekerig en sag, soos regte stadsjapies s’n seker is. Nie so bruin gebrand soos ek nie.

Ek het besef dat hulle nog nooit in ons huis was nie. Miskien is dit hoekom hulle nie in die prentjie pas nie. Ons moes altyd by hulle gaan kuier in die stad. Dan het ons snaakse kos geëet soos kreef en mosselsop. Ons vier kinders het gewoonlik video’s gaan uitneem om op hulle groot televisie te kyk terwyl ons op die wit leerbanke sit en gaskoeldrank drink. Ons drie het nou stywerig aan die kombuistafel gaan sit, so anders as wanneer ons by hulle huis video’s gekyk het. Die koekies, my gunsteling, het vandag geproe soos droë ou brood.

Ek het my bes probeer om oogkontak te vermy. Hierdie situasie was so ongemaklik soos nuwe skoolklere wat jou ma aspris te groot koop sodat jy “daarin kan groei”. Hierdie vreemde stadskinders met hulle vreemde klere het nou by ons kom bly. Hulle was my nuwe boetie en sussie.

Lizaan en Adriaan het by ons kom bly omdat hulle wees gelaat is. Hulle het voor die tyd in elk geval net ’n pa gehad, oom Kobus. Hy was my pa se neef. Sy vrou het hom en die tweeling gelos toe hulle maar drie maande oud was. Sy het op ’n vliegtuig geklim saam met ’n ander man en oom Kobus het nog nooit weer van haar gehoor nie. Ek en Johan was eendag buite onder die kombuisvenster aan ’t modderpaadjies bou toe ons die grootmense oor oom Kobus hoor praat het.

“Dis nie reg dat die tweeling sonder ’n ma grootword nie. Dis twee besige kinders daardie. Adriaan het nou die dag met ’n maatjie by die skool gesukkel. Ek sê julle, dis omdat hulle te min aandag kry.” Ouma was altyd besorg oor haar kleinkinders. “Miskien moet ek daar gaan bly om ’n bietjie uit te help. Kobus kan doen met iemand om kos te maak en so.”

My ma, wat besig was om room te klop vir ’n koek, se hande het stil geraak en sy het ietwat bitsig opgemerk: “Ma, geen regdenkende man behoort ’n vrou te vat wat so ’n wilde wegloopkyk in haar oë het nie. Kobus kon mos van die staanspoor af sien dit voorspel net moeilikheid. Hy moet maar met die gevolge van sy besluite saamleef.” Sy het ’n oomblik getalm, diep ingeasem om haarself te kalmeer en sag gesê: “In elk geval is dit geen rede vir hom om so diep in die bottel te kyk nie.”

Ek kon my verbeel hoe my ma haar hande aan haar voorskoot afvee toe sy dit sê, so asof sy klaar gepraat het. Ons kon hoor hoe sy weer begin om die room te klop. Johan het saggies vir my gelag omdat ek nie verstaan het wat Ma met die kyk in die bottel bedoel het nie. My pa het kalm gesê dat my ma oorreageer, oom Kobus gaan net deur ’n fase. Ons moet hom eerder probeer help waar ons kan.

Na oom Kobus se dood moes my pa se familie besluit wie na Lizaan en Adriaan sou omsien. Niemand anders in die familie het plek in hulle huise gehad nie. Net ons. Omdat Johan weg was het ons mos plek gehad.

Jare voor die tweeling by ons sou kom bly, was Johan deel van my eerste herinneringe as klein dogtertjie. Ek kan net vae terugflitse onthou. Hoe meer ek wil onthou, hoe minder kan ek die beelde in my gedagtes vasgryp. Dit is amper soos wanneer jy in jou kamer staan en deur die venster na buite kyk. Hoe nader jy aan die kantgordyne kom, hoe dowwer raak die beeld.

Ek onthou wel hoe Johan met sy rooi fietsie heen en weer met die gebarste sementoprit jaag, vooroor gebuig teen die wind om vinniger te kan ry, sy hempie wapperend. Elke nou en dan sou hy na my kyk en sy haasbekglimlag gee. “Kyk sussie, so doen mens dit!”

Later jare, wanneer ek en Ma kuier rondom ’n koppie tee, sou ons oor Johan gesels. Sy het vertel dat Johan graag wou hê dat ek ook moes leer fietsry en hy het gedink dat hy ’n driejarige kan leer deur te wys hoe hy dit doen. Hy was goed met fietsry. Motorfiets ook. Pa het vir hom ’n motorfietsie gekoop toe hy tien was en daarmee het hy die plaas platgery. Ek onthou nog hoe onrustig Ma geraak het as hy te lank wegbly. Dan het sy altyd haar hande aan haar voorskoot afgevee en doenig geraak met ’n klomp dinge in die kombuis. Skemertyd het sy buite gaan staan met Pa se flits en dit rondgeswaai sodat Johan van ver af kan sien dat dit tyd is vir aandete. Die vlermuise se swart glim in die vlietende straaltjie lig het my altyd laat gril. Ek was skaars vyf, maar iets omtrent ma se dringende flitsswaaiery en die vlermuise wat net bo ons koppe swiep het my hoendervleis gegee.

Dit was nie lank daarna nie dat oom Kobus vir homself ’n motorfiets gekoop het. Ons het by hulle in die stad gaan kuier. Die blinkswart padfiets het voor die huis op die netjiese groen grasperk tussen die roosbome gepryk. Dit het geblink in die son, soveel so dat ek my oë op ’n skreef moes trek en Adriaan geterg het dat ek ’n soos ’n Japannees lyk. Johan het liggies met sy hand oor die warmgebakte leersitplek gestreel en saggies gefluit, duidelik beïndruk. Hy het met ’n breë glimlag na oom Kobus gekyk. Omdat hy die oudste was, kon hy eerste saam met oom Kobus ’n draai ry. Daarna was dit ek, en toe het die tweeling elk ’n beurt gekry. Ma het haar effens vererg vir Pa en oom Kobus se kinderlike opgewondenheid oor die motorfiets en met die omdraai gesê dat dit net die gevolg van oom Kobus se eerste “midlife crisis” is.

Toe Johan twaalf was, het hy alleen by oom Kobus-hulle gaan kuier in die Junie-vakansie. Wat presies gebeur het, sal ons seker nooit weet nie. Dit was na middagete en die tweeling was blykbaar lus vir roomys.

“Roomys op ’n wintersdag?” sou Ma later hartseer sê, “dis so belaglik absurd en onnodig.”

Ek kan my Lizaan en Adriaan se smekende gesigsuitdrukkings indink. Hulle was nie te gewoond daaraan dat iemand vir hulle nee sê nie. Oom Kobus moes opsluit gaan roomys koop en Johan het saamgery. Oom Kobus het net vinnig sy motorfietsbaadjie aangetrek en toe is hulle weg, vermoedelik windmakerig soos gewoonlik, luidrugtig af in die breë strate na die winkel.

Hulle het nooit weer teruggekom nie. Oom Kobus het seker nie die vragmotor gesien nie. Lizaan en Adriaan het naderhand paniekerig begin word en die polisie gebel. Hulle het oom Kobus en my boetie se liggame langs die pad opgetel. Ma en Pa moes stad toe ry om hulle te gaan uitken.

Na die ongeluk was die huis stil. So anders as tevore. Ma het nie meer handwerkies gedoen, gebak of geneurie wanneer sy hanslammers voer nie. Sy het nie meer skoon wasgoed van die draad gehaal, opgewonde oor hoe lekker vars en skoon dit nou ruik nie. Pa was altyd buite doenig en die lyne bo sy wenkbroue het net dieper geword. Die probleem van wie na die tweeling sou omsien, het baie swaar op sy hart gedruk. Ek en Pa het desnoods in die aande vir onsself kaastoebroodjies gemaak omdat Ma nie uit die kamer wou kom nie. Teen die derde week het Ouma my ma se protes geïgnoreer en by ons kom bly.

“Genoeg is genoeg, julle kan nie so aangaan nie.” Ouma het gehelp met kosmaak, koekies bak en alledaagse dingetjies waarvoor Ma net nie meer kans gesien het nie.

’n Week of wat daarna het Ma een aand met olierige hare en rooi oë uit die kamer gekom. Sy het moeg gelyk, maar het met doelgerigte treë tot by my pa geloop waar hy besig was om koffie te maak. Haar stem was hees en sy het hard gepraat. Desperaat. Sy wou hê dat hy moes hóór.

“Kobus het nog altyd ’n drankprobleem gehad. Ons het daarvan gewéét, Gert. En ons het vir jare lank níks daaraan gedoen nie. Jy wou nooit hoor as ek iets daaroor sê nie. Jy het dit eerder geïgnoreer omdat dit gemakliker was.”

My pa het stadig omgedraai en na my ma gekyk. Sy was te maer, onversorgd. Verwese. My pa moes sekerlik ook na haar verlang het, net soos ek. Hy het nie kwaad gelyk nie, eerder hartseer.

“Maar nou het ek klaar stilgebly. As daardie kinders by ons moet kom bly … Jy en die verdomde familie … Hierdie verdómde familie wat nie kans sien om daardie twee in te neem nie, moet wéét wat die waarheid is … Hoekom my Johan … Hoekom ons seun …”

Haar gesig het vertrek van die pyn, ’n pyn soos wanneer jou hart in jou ribbekas wil doodgaan, maar die lyf laat dit nie toe nie. Sy het kliphard gesnik. Ek het gedink dat sy haarself weer sou oorgee aan die emosie en nie klaar sou kon praat nie. Maar sy het deurgedruk. My pa moes hoor.

“Onthou jy toe ons vir Kobus en Johan moes gaan uitken? Weet jy wat was in Kobus se motorfietsbaadjie se sak? ’n Half-jack brandewyn, Gert. ’n Donnerse leë, uitgesuipte half-jack.”

 


 

Lees Leti Kleyn se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top