Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Alledaagse insomnia"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Alledaagse insomnia

Hulle sê die see maak jou heel. Die ewigbewegende  golwe is soos ’n groot dier wat stadig asemhaal. Die buik se op-en-af, op-en-af hipnotiseer jou. Die dier gaan nooit dood nie.

Ek sit op die balkon en drink rooibostee uit ’n delikate porseleinkoppie. Die kamer agter my is mooi, maar die kuns teen die muur is kak. Buite loop ’n meisie in ’n swart snyerspakkie haastig verby, dit lyk soos die hotel se ontvangsdame. Sy kyk af na haar selfoon en loop nog vinniger. ’n Mier op pad na haar nes.

Ek vou my skootrekenaar oop. Facebook se news feed is intimiderend. Wat het ek om te sê? Wat kan ek die wêreld bied? Honderde niksseggende sinne omsingel my. Katryn Marais en Lizanne Botha het saam botterskorsie-en-feta-quiche vir lunchgaan eet. Hulle hoop om gou weer so te maak xoxox. Martie Visser se kêrel het vir haar ’n bos blomme by Spar gekoop. Sy weet nog nie dat hy laas naweek vir Ronél Maritz gevry het nie. Francois Smit het al weer van sy R20 000-padfiets afgeval. ’n Foto van ’n gapende rooi wond pryk op my skerm. Wat help dit ek vul die aarde met nog bla-bla-bla? My vingers dans nietemin oor die sleutelbord: Sit op die stoep van ’n vyfsterhotel met ’n killer view. Ek is die gelukkigste meisie ooit.

Die somer hou lank aan, maar dis koel vanmiddag. Die see se raaiselagtige ritme maak my moeg. Ek loop binnetoe en sit weer die ketel aan. Ons bed staan agter teen die muur. Jy lê daarin. Jou oë is toe. Jou buik beweeg op en af, saam met dié van die waterdier. Ek kan deesdae glad nie slaap nie, nie in die aand nie en nog minder in die middag. Veral nie as iets my ontstel nie.

Ma het netnou gebel en gesê ons hond is doodgery. Die wit bakkie het swart tralies opgehad. Die sigaret het slap uit die drywer se mond gehang. Hy het nie gestop nie. Ma het nie gehuil nie. Ek ook nie. My vingers het vanself die woorde op Facebook getik: RIP Maestro, die beste hond ooit. 2001 tot 2013. Mag die poephol wat jou doodgery het eerstehands beleef dat karma ’n bitch is. Elmien Verster en Braam du Preez het kommentaar gelewer. Mavis Plaatjes het dit gelike. Ma sê toe sy by hom kom, het sy nekkie al slap gehang. Sy het sommer sy lyfie in ’n laken toegedraai en die tuinwerker het hom langs die asblikke begrawe. Ek wonder of sy onthou het om sy ogies toe te maak.

Ma het gesê dat dit eintlik beter so is, hy was oud en sou een van die dae kanker of iets gekry het. Sy dood was vinnig en sonder lyding. Ons gaan nie vir hom ’n houtkruisie laat maak nie, dis nie nodig nie. Sy laaste eer is darem op die sosiale media besing.

Ek trek my T-hemp stywer om my lyf. Die son sak in ’n goue gloed weg oor die see. Die aand se koue byt aan my vel. Ek loer binnetoe. Jy maak jou oë stadig oop en staar na my silhoeët buite die skuifdeur.

Dis ons huweliksherdenking vandag. Die denkbeeldige handleiding vir middelklaspaartjies beveel dat ’n mens moet gaan uiteet wanneer jy iets vier. Jy soek na die TV se remote en begin die gesprek, “Waar wil jy gaan eet vanaand?”

“Enige plek. Net waarvoor jy lus is, ek gee nie om nie.”

Dit tyd om te begin regmaak vir die groot aand. Ek beweeg soos ’n slaapwandelaar binnetoe. Ek trek my sweetpakbroek en T-hemp uit. Dan my mismatched bra en panty. Ek gooi al die klere in ’n hopie op die kamervloer. Jy toon geen belangstelling in my naaktheid nie en staar na ’n ou man wat oor karre praat op Top Gear.

Die stort vorm ’n warm waterval op my vel. Die dag se maskara trek swart strepe oor my gesig. Ek asem per ongeluk ’n druppel water in. My neus brand en my oë traan. Dit het laas Desember ook gebeur toe ons in die see geswem het. Die soutwater het al my sinusse oopgebrand. Ek fantaseer oor hoe jy my hand vat en ons strand toe hardloop. Ons is nie bang nie. Ons kry nie koud nie. Daar is geen drillende selluliet of pubiese hare wat by die kante van my swembroek uitsteek nie. Jou rug is sonder puisies en jou tande spierwit. Ons is perfekte wesens. ’n Venus en Adonis sonder inhibisies. Ons lewe!

“Is jy amper klaar?”

Jou stem ruk my terug aarde toe.

“Gee my nog vyf minute.”

Ek blaas my hare droog en trek ’n swart lyn op elke ooglid. Ek spuit die parfuum wat jy laas jaar vir my gekoop het aan my nek. Dit gee my altyd ’n ligte hoofpyn, maar dis okay. Daar is ’n nuwe Woolworths rok in ’n sak langs die bed. Die hotelkamer se beddegoed is luuks, die matras ferm en koud. Ek wonder hoeveel lywe al hier gelê het. Hoeveel mense se hare en veldeeltjies is vasgevang onder die lakens? ’n Verimark-stofsuieradvertensie wals deur my kop.

Ons ry in ons wit Polo na die wit restaurant. Ons bestel wit kos en drink witwyn. Ons is ’n perfekte afdruk van die paartjie langs ons en die paartjie langs hulle. Ons is wit en blond en middelklas. Ons het middelklaswerke en dra middelklasklere. Ons koop ons tamaties, blaarslaai en hoender by Woolworths. Ons het twee keer ’n week middelklasseks. Ons het spaargeld in die bank en gaan op oorsese vakansies. Ons leef die droom. Ons is gelukkig.

Ons betaal die R795-rekening en los ’n 10%-fooitjie vir die swart kelner. Elkeen kry wat hom toekom. Ons glo in regverdigheid en gelyke kanse vir almal.

Op pad huis toe haal ek my BlackBerry uit en maak die wêreld deel van ’n romantiese ete vir twee: My liefie het my uitgevat vir ’n amaaaazing ete. Love you angel!

Die hotel sit soos ’n wit olifant langs die pad. Die swart water lê voor die gebou uitgestrek. Hoe beter die uitsig, hoe hoër die tariewe. Die portier maak die deur oop en laat ons met ’n glimlag binne. Ons kamer is warm, die bediendes het die gordyne kom toetrek en laventelblommetjies op ons kopkussings gelos. ’n Soet, maar betekenislose gebaar. Ons gaan sit elkeen op ons eie rusbank. Jy met jou iPad en ek met my skootrekenaar. Ons albei tik ons e-posadresse en wagwoorde in en bewonder ander mense se middelklaslewens. ’n Heilige stilte daal oor die kamer neer.

Ek like jou status: It’s our anniversary today! Enjoyed a lovely dinner at the Rusticana Restaurant. Jy het twee foto’s ook opgelaai. Ek glimlag uitbundig vir die kamera. Daar is ’n bord met ’n reuse rooi kreef voor my. Die ander foto wys die uitsig vanuit die venster waarlangs ons gesit het. Dis ’n bietjie donker, maar mens kan die bootjies in die hawe en die liggies in die verte uitmaak.

Ek scroll verder af deur my news feed. “Het jy gesien Tessa gaan skei?”

“O, is dit nou official? Ek het dit al lankal sien kom.”

“Ja, en Francois het ook kommentaar gelewer oor Maestro. Ek kan nou nog nie glo dat hy weg is nie.”

Om presies kwart oor elf sê jy dat jy moeg is en gaan slaap. Ek luister na hoe jy jou tande borsel. ’n Straal urine tref die toiletbak. Ek lees beriggies in Beeld en jy gaan lê op die harde matras en los ook jou leidrade by dié van vorige besoekers.

Ek gaan sit op die balkon en kyk weer uit oor die bewegende waters. God se stem het die hemel en die waters geskei. Daarna het dit die water en die grond geskei. Vandag het dit vir Tessa en Rudolf geskei. Wanneer het woorde van heilig na onsinnig verander?

Skuins na middernag loop ek die hotelkamer binne. Jou rug is na my gedraai en jou lippe maak snaakse blaasgeluidjies. Die aaklige skildery teen die muur lyk beter in die donker. Êrens in die gebou blêr ’n televisie. Ten minste is daar nóg iemand wat nie kan slaap nie.

Ek kruip aan my kant van die bed in. My lyf lê stil, maar my kop vertel ’n duisend stories. ’n Warboel van woorde stroom oor my, in my, deur my. Ek sien hoe Ma vir Maestro optel. Ek sien hoe sy koppie slap agteroor val, sy bruin ogies nog halfpad oop. Die  dood skilder prente in my kop. Prente van ontbinding, maaiers en karkasse. Ek kasty myself, want dit was tog net ’n hond. Dis nie my kind of my man of my suster nie. Dit was net ’n hond. Die woorde in my kop wil nie gaan lê nie. Dis woorde wat mens nié vir die wêreld wys nie. Die woorde hou my wakker. Nog ’n slaaplose nag lê soos die N1 voor my uitgestrek.

Ek tel my BlackBerry van die bedkassie af op. My vingers beweeg vlytig oor die sleutelbord. Dis soos om ’n ou bekende pad te stap. My woorde vlieg die kuberruim in: Was ’n great aand, maar nou kan ek nie meer my oë oophou nie. Lekker slaap almal!

 


 

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top