Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Om asem te haal"

  • 0

Om asem te haal: Die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

 


Wat werk?

Jy het ’n interessante tema gekies. Plaasaanvalle is aktueel en begin ’n belangrike en interessante tema in die letterkunde word. Die wisselende vertelperspektiewe is ’n besliste sterkpunt van hierdie verhaal en die moontlikhede wat uit die wêrelde van die gay-kind en die ouers op die plaas ontgin kan word, is eindeloos.

Wat om te lees

  • Japie Bogaards se Tussen middernag en dagbreek (roman oor plaasmoorde)
  • Karin Brynard se Plaasmoord (roman oor plaasaanval)
  • Paul Bosman se kortverhaal “Nag van twee vroue”

Waarom aan aandag te gee:

  • Bou die verhaal en die spanningslyn van die verhaal sistematies na die einde toe op.
  • Gee aandag aan die dialoog deur seker te maak dit is oortuigend geskryf, en dat dit nie jou enigste metodes is om inligting aan die leser oor te dra nie.
  • Let op die verskynsels “wys” (show) en vertel (tell). Die inligting moet aan die leser oorgedra word op so ’n wyse dat hy/sy nie voel dit word direk oorvertel nie. Die leser hoef ook nie altyd presies en volledig ingelig te wees nie – laat die storie ontvou en die inligting daarmee saam bekendgemaak word.
  • Stel die twee wêrelde wat jy hier afwissel in konflik en kontras met mekaar: Aan die een kant het jy ’n kind wat vir sy ouers gaan sê dat hy gay is, aan die anderkant sy ouers wat op die plaas aangeval word. In die een wêreld skets jy ’n karakter met ’n groot interne worsteling, aan die anderkant ’n oorvereenvoudigde ouerpaar waarvan ons te min weet.
  • Gee meer inligting oor die plaaslewe. Skep spanning deur die opbou na die plaasaanval toe, eerder as om oombliklik die hond te laat vrekskiet. Weef die bewustheid en veiligheidsmaatreëls in die verhaal in – boere is besonder bewus van die dreigende situasie en het verskeie netwerke en hulpmiddels om hulle teen hierdie aanvalle te beskerm.
  • Gaan lees na oor plaasaanvalle en hoe dit gebeur.
  • Waak teen oppervlakkige beskrywings van die karakters en die milieu deur met groter omsigtigheid hieroor te skryf. Laat die verhaal vertel, nie die verteller nie.
  • Klim in jou karakters se lewe en onder hulle velle in. Hier is ’n ma met ’n belangstelling in die digkuns ... ’n gay seun en ’n pa wat boer en visvang ... Maar wat weet die leser werklik van hulle, en waarom moet ons simpatie hê met hulle onderskeie situasies? Gee vir ons groter insig in die ouers se verhouding en die rede vir die oppervlakkige kontak tussen hulle.
  • Vermy enige sentimentele inhoud of beskrywings (bv. Frans se pa wat by sy geboorte gehuil het, om op te maak vir die feit dat hy nou nors en buffelagtig is).
  • Groepeer van jou afdelings saam in groter afdelings, eerder as om die perspektiewe voortdurend te verwissel.
  • Heroorweeg jou slot en jou titel.

 

 


 

Lees die kortverhaal "Om asem te haal"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top