Nuwe stemme 4
Saamgestel deur Danie Marais en Ronel de Goede
Tafelberg
ISBN: 978 0 624 04873 2
144p slapband
Die Nuwe stemme-reeks sit die tradisie in Afrikaans voort wat DJ Opperman en Fred le Roux in 1946 met Stiebeuel begin het. In DJ Opperman – ’n biografie skryf Kannemeyer (1986:131) dat Opperman opgemerk het dat die verse in Stiebeuel “veral by die Totius van Trekkersweë aangesluit [het] – meer as by enige ander digter van die ouer geslag.” Derhalwe wou Opperman selfs die bundel aan Totius opdra.
Wat Nuwe stemme 4 betref, is dit opvallend hoe die digters by Van Wyk Louw se “Karoodorp: someraand” aansluit, en in navolging van Opperman sou die samestellers dit kon oorweeg om die bundel aan Van Wyk Louw op te dra. Interessante kwessie dat daar by die ouer digters in die kanon aangesluit word, soos Van Wyk Louw en Blum, en nie meer by byvoorbeeld Breytenbach of Jonker nie. (G’n wonder de heer BB trek al sy kispak aan nie, want die akoliete begin vlug vir die reuk.)
Heelwat van die verse in Nuwe stemme 4 handel oor dorpe, die ervarings van die dorpsbestaan en ’n direkte nadig van Van Wyk Louw se bekende gedigte. So skryf Pieter Hugo na aanleiding van Van Wyk Louw en Gert Vlok Nel (wat op sy beurt ook destyds sterk ingespeel het op Van Wyk Louw se verse) in sy “My Beaufort-Wes” – wat hy opdra aan NPvWL – en sluit hy sy gedig soos volg af:
ek bly daar waar prossies
sit op die bordienghuis se stoep:
vanaand gaan hoor ons nog hoe
die lorriedrywers vir hul toet. (22)
Lou-Ann Stone gebruik eweneens Van Wyk Louw se gedig as vertrekpunt en lewer kommentaar op die rassisme op die platteland en situeer dit teen die agtergrond van ’n kunstefees met “’n backtrack [wat] oor die koppies roep” (24), en Van Wyk Louw se goedhartige Oum-Appie is by haar “Ou-Appie-Vuiste”.
Ook Sydda Essop skryf oor ’n “donnerse stil droë karoo-aand” (25) maar haar gedig handel oor die wrede realiteit van gesinsgeweld. Slim speel Pieter Hugo in sy “’n blik op ’n dorp” (26) met klanknabootsing wanneer ’n koeldrankblikkie in die straat afrol en beklemtoon so die godverlate stilte van die dorp. Lize Viljoen beklemtoon in haar gedig die teendeel: die raserige swart bure wie se musiek “doef-doef-doef” word beskryf (29) – alles belewenisse en beskrywings wat mens opnuut die ironie in Hunter Kennedy se “hemel op die platteland” (131) laat besef.
Dit is nie net ’n bewustelike gesprek met Van Wyk Louw wat in Nuwe stemme 4 voorkom nie, want ander aspekte wat uit die gedigte afgelei kan word, is: die byna nostalgiese verkenning van die klein ruimtes; ’n bewustelike gesprekvoering met die tradisie; ’n beskrywing van nuwe tegnologie; die lyf en die liefde; die ervaring van die lewe in die buiteland soos in Londen of in Nieu-Seeland; aspekte van lewe onder die ou orde voor 1994 (soos byvoorbeeld diensplig); ’n bevraagtekening van ou aanvaarde waardes en rites; die gebruik van vloekwoorde en Engels; verwysings na onder meer die wetenskap en die argeologie; die beskrywing van die Moslemervaring; en dan die eksperimentele verse van Hennie Meyer – wat aansluit by die tradisie van KykAfrikaans. Kortom, soos Lewies Botha in sy vers opmerk: “Ons is skrywers, ons is rock stars,/ ons is kunstenaars” (74).
Maar alhoewel Bob Dylan ’n kandidaat mag wees vir die Nobelprys vir Letterkunde, is nie alle rock-lirieke goeie gedigte nie – Hunter Kennedy benodig dus sy band om sy omslagtige, abstrakte stellings (“’n neofiet van neongeaard” (133)) te toonset en te rugsteun – Van Wyk Louw of te not:
net die skoon word vermoor
net die sag kry seer
net die jonk glo
soos wat net die jonk van hart kan glo (118)
Of:
in ’n monochroom diskoteek
het ek my een voet in die graf gesteek
die troukoors is so dik dis tasbaar
dit laat my nekhare rys (133).
Opmerklik is ook die aanwending van beeldspraak by vele van die nuwe stemme (“bedags met die geel wolke wat hang/ stomende nat koffiesakke/ swaar van die moer” (32); “die hadedas in gebroke/ gregoriaanse gesange” (69); “beenwit flits van ’n weerligstraal” (106)); die eksperimentering met vorm; die humor (“Eskom kan gaan kak,/ want ons doen dit in elk geval in die donker” (81)) – maar daar is ook enkele verse in die versameling waarby ek “en dan?” bygeskryf het. Dis nog nie klaar en afgerond nie. Soms word die digters so meegevoer – soos Tarentaal in sy “omkrulblaaie” (66) – dat hulle nie die gedigte sinvol afsluit nie. Dit kry Annie Klopper in haar “hoe om ’n dorp te verf” (11) wel in ’n mate reg wanneer sy haar gedig afsluit: “en herhaal/ ’n paar honderd maal/ herhaal”. Lees mens Lewies Botha se “Yskor, Vanderbiljpark” ( 39), hou jy ook asem op hoe hy met die parallelle “Toe ons”-reëls tot ’n logiese, sluitende geheel gaan kom.
Nog ’n aspek is die aansluiting by die “geding met die pa”-tradisie in Afrikaans. ’n Goeie voorbeeld hiervan is Fourie Botha se “Erediens” (130) met sy wrang slot:
Stil stap my pa om die voëltjie te haal.
Tussen twee rye banke kry hy die swael.
Hy loop kerkuit met die vlerkaf vlieër,
knak die fyn nek buite die deur.
In sy gedig “roer” (72) praat Jannie Malan van “die man wat ek Pa noem” en word verwys na die seun wat “deur bitter ore en geklemde kneukels konsentreer” probeer om te roei en te luister na sy pa wat vir die eerste keer in 35 jaar weer iets sê. Die pa-figuur in Andre Tarentaal se “kaste” (75) krap weer altyd “ernstag/ innie kaste innie hys[…] op soek na/ God wiet wat”. In Lewies Botha se “Om veertig te word” (79) praat die spreker van sy verjaardag en sy rol as vader en eggenoot. Marius Swart skryf in sy gedig “liefdes-e-pos” (93) oor die jaloerse pa wat sy dogter se vryer gaan “totally dik bliksem” omdat hy oor die dogter se “borsies” skryf.
Hierdie geding met die pa is een van die identiteitskwessies wat in die gedigte aangespreek word. Veral ’n bevraagtekening van geïnstitusionaliseerde godsdiens kom dikwels aan die bod. Vergelyk byvoorbeeld Lize Viljoen se “Calvinis” (137):
My Afrikaansgeit slaan
op in my. Soos ’n kerkbank
word my persoonlikheid:
hard, ongemaklik.
’n Variant hierop met erotiese ondertone (en wat sterk herinner aan Loftus Marais se gedig “Wederkoms”) is Willem Jansen se “fantasie” (136). Jesus word uitgebeeld as ’n werker met ’n drukboor en sy “overall is stowwerig”:
jesus sit sy drukboor neer
en draai sy lyf na my
overall is stowwerig
die moue klap sy knieë’n naeltjie-son verrys
oor die v-val van sy zip
en sagte swart grassaad wieg
in die bries wat oor sy heuwels glipdan vryf hy oor sy pantserbors
en streel die onder-son
met ’n oogknip span sy kakebeen
wys op na die gebou se topdaar bo is baie plek sê hy
hierlangs lift toe volg vir my.
Nog ’n gedig wat die erotisering van die religieuse soos by Johann de Lange illustreer.
By Annie Klopper droom ’n Calvinistiese oom “van die verleidsterlywe/ van heidense meisies in die Kinderbybel” (132). Francilié Hoek skryf in “Oh come all ye faithful” (44) oor die ervaring van Kersfees in Londen en die verlange na “elders” waar haar familie saam is. Bibi Slippers verwys in “die leer van sneeu” (46) daarna dat sy soos ’n eietydse Miss Smilla in Nieu-Seeland, “die land van die lang wit wolk”, herbesin oor haar herkoms en identiteit:
kom kyk hoe gruwelik gletser ek
en hoor hoe kreun die klei-os
die gewig en die geweld van ons geskiedenis
sleep stadig saam.
In die geheel gesien is ek opgewonde oor die nuwe stemme en is dit interessant om te sien watter fasette in hulle kollektiewe onderbewuste ronddobber. Soos in alle goeie skryfwerk word die duistere en die makabere van die self ook verken, soos in die vernuftige “Likantropie” (115) of “laaste nag van die ou orde” (101):
jy druk ongeskoold jou tong in my mond
ek proe die bitter gif
voel die angs
soos jy grou in my keel vir
’n antwoord ’n verlossing ’n enting
teen die komende
pyn.
Of die irriterende “status updates” wat mense op Facebook sit, inspireer vir Bibi Slippers (88) – daardie poke van WEG Louw uit die doderyk is heel grappig. Karlien van der Merwe word weer geprikkel deur ’n grafskrif in Kalifornië (55) of vertel die verhaal van die beesboer met “whisky in sy stem” (57) wat met ’n jong Indiaanmeisie trou. Niel van Deventer betrek die eietydse realiteit van die Waterkloof Vier in sy “Swart vrede” (99), terwyl Marius Swart in “opedag” (19) kritiek lewer op die onteiening van grond by Waenhuiskrans vir die bou van ’n lugmagbasis.
Daar is heelwat stemme in hierdie bundel waaroor mens kan opgewonde raak. Anders as met die vorige Nuwe stemme-bundels het die samestellers besluit om dit in drie tematiese kategorieë in te deel. Alhoewel dit die gesprek aanwakker, verkies ek tog maar die ou indeling van gedigte per digter sodat mens al die tekste van een digter kan vergelyk – geslaagd, minder geslaagd, af. Ek moes te veel rondblaai (ten spyte van die inhoudsopgawe agterin) en dit het my jouissance erg getemper.


