“And everybody knows that the Plague is coming
Everybody knows that it's moving fast.”
- Everybody knows, Leonard Cohen
Die dood maak ons nou opnuut bang
ons, modern en sjiek en sonder God
met weinig glo in ons bestaan oor
ons is bewerig en paniekerig
handewas, pleit die segsman
boekevat, knipoog die kerkman
maar, afsondering, alleenwees
is die beste beheer, word ook beweer
ons vrees vir verlies
vir die lewe wat ons mag verlaat
die kind, té jonk
die ouer, té oud
die begrafnis wat skaduwee
sprei oor die huwelikseremonie
ons sku vir aanraking
ons vermy die medemens
ons lees in koerante
ons luister na die nuus, orals,
vals gerugte en berge berigte
soos veldbrande
snel die virus
oor die grense
kom klop aan die deure
wil handskud, kom groet,
ons grendel dig, digter
toe
leeg is die straatkafees, die moskees,
die katedrale,
die lughawens,
stil staan die vliegtuie op aanloopbane
toeriste kruip terug in hul doppe
soos slakke,
ons leer om te hiberneer
wat bly oor van die baie wat met sorg
opgegaar en versamel is,
wroeg die ryke,
en hoe kom ons net deur die vervloekte dag,
wonder die arme?
Die nagmaalbeker word ontsmet
die kollektebord het min in
die wêreld krimp snel
ons raak stil
ons sit weer tuis om tafels
ons huiwer om mekaar aan te raak
vrees is ʼn siekte, ʼn virus
soos die liefde, ons lees weer:
Love in the Time of Cholera van Gabriel García Márquez,
mag die hoop oorleef,
ons deur die herfs en winter abba.
Kommentaar
Taal is gebreide leer in jou hande. Dankie vir die vers, maestro.
So is dit
Clinton, dankie vir die eerlike, nugter, onsensasionele en hoopvolle siening – en jou woordvernuf. Knap gedaan.
Ek lees, en kyk weer, en besluit HIERVAN hou ek baie en dit gaan saam na my grendelskool om jong oë en ore oop te maak vir moedertaalwoorde wat die nou vasvat, baie dankie!