Nuanse ontbreek soms by Statements

  • 2
Foto: Jesse Kramer

Statements after an arrest under the immorality act
Deur Athol Fugard
FUGARD teater
Met Bo Peterson, Malefane Mosuhli, Jeroen Kranenburg
24 Januarie – 11 Februarie 2012
Bespreek by Computicket

Eerstens het hierdie ‘n stuk ‘n kaal persoon op die verhoog. Hier is dit Bo Petersen – jy kan jou kwalik ‘n mooier vrou kaal voorstel. En soos gewoonte, en Sandy Bay ons leer – voor jy jou oë uitvee, kyk jy nie meer nie, want die blootstelling skep aanvaarding. Dan is Bo boonop ‘n veteraan-aktrise, en uitgeknip vir die rol van Frieda Joubert. En hanteer sy die naaktheid met uiterste grasie.

‘n Ewe ernstige aspek, vervat in die titel, wat in die jare sestig hoogs opruiend moes gewees het in ‘n land wat in die greep van ‘n uiters bekrompe, en wrede, stelsel was, is die verhouding oor die kleurgrens. Dis deeglik verwoord, en moes in die jare toe dit erg van toepassing was, ‘n eie inherente spanning gehad het. Die vermoede is dat ‘n regisseur hedendaags bykomende elemente sou moes inspan om dieselfde graad van spanning te bereik wat die produksie seker inherent gehad het in die ‘70’s. In hierdie 2012-produksie is daar nie die nodige intense spanning aanwesig nie. Desnieteenstaande is die stuk openingsaand begroet met ‘n staande applous, wat mettertyd van agter af uitgebrei het tot heel voor. Selfs ek het uiteindelik opgestaan, al is dit vir die dapperheid van die spelers.

Bykomende elemente wat ook nou dalk ongesiens kan verbygaan, weens hoe die samelewing verander het, is die seks voor die huwelik – daardie jare strafbaar met verwerping. En die manskarakter, Errol - ‘n bruin man, wat die seksuele verhouding met Frieda, ‘n wit vrou het – is boonop getroud! Die bruin man in hierdie stuk sou in daardie dae swaarder gedra het aan die skuld – eerstens omdat hy in ‘n “no go”-wêreld van ‘n wit vrou, en dit in ‘n “wit” biblioteek, oortree. En die man in die teks is ‘n imponerende figuur. Een waarop die vrou verlief kon raak. Ek roep my die beelde op van ‘n suave-geklede John Kani in byvoorbeeld Sizwe Banzi is dead – grys langbroek, gordel, mooi, versorgde skoene, netjiese hemp, das, hoed. In die produksie kom hierdie aspekte kort. Wel deels omdat Errol nakend is. Maar steeds verlang ek iets van hierdie charisma. Die stuk word afgesluit met ‘n uitstekend-gespreekte monoloog deur die akteur Malefane Mosuhli. Hierdie alleenspraak vergewe die produksie baie tekortkominge.

Fugard self is al beskryf as ‘n lewende legende, en hy word wêreldwyd so geag. As mens jou die redes hiertoe afvra, moet dit wees:

  • Hy raak taboe onderwerpe aan.
  • Hy skep aangrypende scenario’s wat, alhoewel soms staties (bv Exits and Entrances), steeds boei.
  • Daar is gereeld ‘n verrassende “twist in the tail”.
  • Die “twist” lê gereeld opgesluit in die verweefde, ingewikkelde, diepgewortelde, naturalistiese karakters van sy teks, in die interaksie tussen die betrokke karakters, en hulle lewens binne die omgewing wat Fugard vir hulle skep.

Om so ‘n swaargewig-dramaturg se werk te beoordeel aan die hand van persoonlike smaak is gevaarlik. Terwyl resensente die werk die heel hoogste lof toeswaai - in een geval verwerf dit 5 uit 5 sterre by ‘n resensent – sal dit ook net die dommerd wees wat die werk kritiseer. En die leser kan na my mening kyk as maar net nog ‘n mening. En steeds die stuk gaan kyk op die aanbeveling van ander. Die inhoud van die stuk is ieder geval belangrik. Die produksie is ook nie ‘n afskeepproduksie nie. Maar bly die volgende ongesê, sou ek my plig versuim – dommerdskap my risiko. Die leser kan mos verskil, gaan kyk, self besluit. En ek skryf aspris my eie nieneutraliteit sigbaar hier in deur die “ek”-geselser te gebruik.

Eerstens is ‘n openingsaand ‘n uitdaging. Spelers kan maklik soveel kognitiewe beheer toepas dat dit oorheers. Ek as gehoorlid ervaar dat my gedagtes maklik dwaal as die egtheid van dialooglewering (spel) nie ‘n sterk genoeg teenwig is vir wat ek sien nie. Beide hierdie is in my geval betrokke by die openingsaand van die stuk hier.

Hierdie produksie van Statements het ‘n baie sterk visuele bou. Tot onder die verhoogoppervlak is kartondose, wat dié bo-op die verhoog eggo. Duisende boeke lê op stapels op die verhoog. ‘n Reuse-struktuur, soos dié van ‘n regter in ‘n groterige hof, weeg swaar aan die een kant van die verhoog.

Die teks verduidelik in karakters se dialoog dat daar soms lig aan was in die vertrek; soms nie. Die keuse van regisseur/beligtingsontwerper laat die verhoog meestal in skemer, met lig – ontwerp asof deur ‘n venster wat teen ‘n muur en effe op die verhoog skyn, as hoofbron van lig. Die resultaat is ‘n baie mooi, tekstuurryke prentjie. Handflitse word doeltreffend gebruik wanneer die ontdekking van die naaktes deur die polisie plaasvind.

Ten spyte daarvan ly een van die ekstreemste elemente van goeie teater – spanning - in hierdie produksie skipbreuk. Regisseurskeuse is om die spelers deurgaans nakend te hou. Selfs na die polisie toeslaan, skarrel die spelers in flitsende strobe-lig rond, sonder om ‘n draad klere aangetrek te kry. Dit word ‘n paar keer herhaal. En steeds is Errol opgeskeep met ‘n broek wat hy dalk naturalisties in die eerste flitsende lig kon aangetrek het. Hoe anders is die visuele, skarrelende karakters wat ongemotiveerd herhaalde male oor die verhoog rondhardloop, funksioneel? Die flitsende lig kap boonop skerp op die gehoor se oë wanneer dit die eerste keer vanuit donkerte toeslaan. Is dit nodig? Weer die vraag: Is dit funksioneel? Sou die werklike proses wat mens jou kan indink, soos dit daardie tyd sou afgespeel het, nie veel meer effektief wees nie, en meer werd as die strobe nie?

Nog teatrale elemente bly onaangeraak wanneer die polisieman toeslaan. Pleks van hom volledig te wys met die belaglike kortbroek-tipe klere van destyds, is hy agter die groot verhoogstruktuur versteek. In stede van ‘n deelnemende figuur, wat selfs komies kan voorkom, wat die wreedheid van sy hantering van Frieda nog intenser en wreder ironies sou maak, word hy soos ‘n geskiedenis-professor wat die feite van die saak met ons deel. Reeds wonder ek wat hy daar maak ná die paartjie die eerste keer skrik vir ‘n geluid – en ons sien die man daar, en daar bly hy. So vroeg in die produksie staan die “polisieman” daar in die donker, soos ‘n man wat straks onder uit die selle gelei word, die hof in? Dis die gevolgtrekking weens die groot houtmuur-struktuur met die akteur staande daaragter.

Selfs ná die skrik pas die karakters nie hul gesprekstoon aan nie. Die teks verwys later daarna dat die polisieman hulle hoor fluister het. Goed, hulle is meer as een keer betrek, en het seker soms op gewone volume gesels.

Wanneer die lig op die akteur, Jeroen Kranenburg, opdoof, vertel hy wat in die verslag staan – sonder om genoegsaam die verslag te raadpleeg. Hy behoort besig te wees om die verslag te lees. Dis inherent in die teks. Hy bly boonop versteek agter wat nou begin lyk na ‘n regter se bank, of ‘n navorser se lessenaar. Die lang, gekleurde buislig skep ‘n dokumentêre luim. Selfs wanneer die polisieman die vrou konfronteer – met al die ruimte tot walging wat in so ‘n konfrontasie deur so ‘n belaglike mannetjie in die belaglike uniform van die tyd opgesluit is – bly die akteur agter die (nou heeltemal onfunksionele) massiewe struktuur weggesteek. So bly die potensiaal tot die komiese wat ironies omsit in wreedheid, en die druk wat die polisieman toepas om die inligting uit Frieda te wring, onontgin.

Teen die duidelike potensiaal van die teks in word die egtheid in die spelers se lewerings erg bemoeilik. Die egtheid van die lewerings is dalk waarvan Fugard self gehou het toe hy hierdie produksie, in ‘n ander lokaal, besing het. Maar in so ‘n lokaal was die verhoog dalk kleiner en eenvoudiger, die gehoor dalk kleiner, die spel minder gedrae, minder geprojekteerd, meer genuanseerd – soos sagtheid en kleiner ruimtes toelaat. In die Fugard-teater is die fyn nuanses wat aan die manskarakter sy charisma moet gee, nie sterk aanwesig nie. Die dialoog word tegnies met te min ware begrip gelewer. Die egtheid is in die akteurs se oë sigbaar tydens die lewering, maar die gehoor word nie gehelp deur tegnies nuttige dialoog nie. Sonder verontagsaming van die feit dat die geskrewe rol jonger is as die geskrewe rol van Frieda Joubert, bemoeilik die ouderdomsverskil tussen die akteurs, en die kleiner statuur van Mosuhli, die verhoogverhouding tussen die twee karakters. Sou hy vroeër deur hulpmiddele van sy status kon terugkry, soos deur hom byvoorbeeld sy broek te laat aantrek wanneer die geleentheid daar is - wat juis die realistiese optrede sou wees – sou die prentjie reeds meer statig en geloofbaar wees. Maar in daardie periode is daar die flitsende strobe, en die ongemotiveerde geskarrel oor die verhoog.

Paul Eilers het al vertel hoe die toergeselskap-eienaar, Johan Fourie, destyds sou gesê het: “Ons leer die woorde en praat hard en sag.” Nou, hoe ‘n vereenvoudiging dit ook al is, dis die basiese vereiste van goeie teater. Dis wat een akteur van ‘n ander onderskei. Die feit dat die spelers in tonele van drif en aggressie baie oortuigend is in Statements, maar nie genoegsaam by die res van die tonele nie, hou ‘n probleem in; laat die spel, dialoog en inligting verdwyn teen die visuele.

Egtheid in spelers se oë is baie, baie belangrik. En dis in hierdie produksie beslis teenwoordig. Maar die “hard en sag” – die fyn, meesleurende nuanses in dialoog om die betekenis wat hul in hul oë vashou, te aksentueer, is te gereeld afwesig. Dis ook nie eerstens ‘n akteursfout nie. Deeglike ondersoek na die omvang en doel van dialoog in ‘n stuk is eerstens die taak van die regisseur, weliswaar in samewerking met die akteur. In die gehoor sit ek en wonder: Waarop aan hierdie kleiner, jonger man het Frieda verlief geraak? Sy innoverende gedagtegange, wat hy so sonder charisma, asof gejaag, kwytraak? Hy praat nie te vinnig, of sonder begrip, nie, maar is net nie versonke in ervaring en die meegaande charisma nie. Hy is nie ‘n slegte akteur nie; om die waarheid te sê, die speler is besonder begaaf. Maar sy dialoog is net nie omgord van ervaring, die “tyd” van jare se studie, huwelik en swaarkry, en die status wat die karakter van Errol moet hê, nie. En Malefane word nie Errol Philander, die bruin man in die teks – wat die verhaal geloofwaardig maak nie.

Dis moeilik vir Bo Peterson om nie in dieselfde patroon as die jong akteur te speel nie. Ondanks die onvanpaste lewering van Kranenburg se geleeste verslae, op die oninspirerende verhoogposisie, en met die verkeerde aanslag, is hy dalk die sterkste speler op die verhoog. Een keer kyk die akteur af na die naakte lyf van die afvallige vrou; een keer is daar ‘n flits van die wreedheid van die menslike natuur.

Die essensie van my as gehoorlid se klagte lê daarin dat die regisseur nie die spelers noukeurig genoeg lei nie. Die teks lui byvoorbeeld: “We whispered to each other”, maar die akteurs snou die dialoog luid aan mekaar toe. Dis maar een voorbeeld van die afwesigheid van nuanse, as die tersaaklike dialoog hier ontneem is van die tekstuur van hete fluister-konflik. En die akteurs werk hard teen oordadige teatrale elemente.

Dan praat die teks mos nie hier sy eie, mees treffende taal nie.

"A thing is not necessarily true because badly uttered, nor false because spoken magnificently." – Saint Augustine.

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek het Statements ook gaan sien en stem saam met jou, Albert. Ek dink jy het alles wat ge"pla" het baie raak vasgevat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top