
Foto: Canva.com
Noudat jy weg is
Noudat jy weg is, dartel daar druppels
teen die windskerm van my hart –
Iemand het onverwags ’n hek wawyd oop gelaat
en nou is jy weg ...
Noudat jy weg is, fluister flentertjies onthou
(van toe jy self die knip kon lig)
in my seer teer breekbare brose oor
Noudat jy weg is, kom torring en snuffel en karnuffel
verdriet se nat neus
aan my verflenterde, verfraiingde hart
Noudat jy weg is, is my oë –
my ruite
aanhoudend
wasig oor jou ...
Noudat ek alleen is, herinner poeletjies onthou
my aan jóú –
my geheue word aanhoudend en glashelder
vensters vol van jou:
formidabel rotsvas en mý méns ...
vir my is dit altyd alles – net jy.
Noudat ek alleen is, bekruip ’n reënboog
van onthou
my saggies
en Genesis-beloftes bring bietjies-bietjies troos
Totdat ons saam is, sal ek dapper
eendag
dalk anderdag
dalk selfs later vandag
kan asemhaal en opstaan en aangaan
Maar, my lief, terwyl jy my voor is,
sal ek
alleen
huiwerend die hek se knip
in Sy hande moet los.


Kommentaar
Wow... Dit is besonders mooi.
Sjoe, sjoe, sjoe!!! Asemrowend mooi! Jy toor met woorde!!! Ek wag in spanning vir daardie digbundel....
Dis 'n warm-hartseer-mooi gedig uit die hart van 'n omgee - mens. Lieflik!!
Johanette, soos altyd is dit pragtig. Jy pleeg kulkunsies met woorde en tower dit in die mooiste gedigte.
Sjoe, Johanette! Wat 'n pragtige vers vol die seer van onthou en gemis. Soveel pragbeelde wat jou woorde en die gevoel van alleenheid en seer beklemtoon.
Dis so mooi, maat. Daar sal definitief 'n digbundel moet kom!
Die beelde trek mens in die verhaal in. Gee woorde vir 'n hart wat verlang ...
Eenvoudig mooi en 'n wonderlike en intense beskrywing van iets wat meeste van ons al ervaar het. So pragtig!