Nou dís wat ek ’n goeie storie noem: ’n kompetisie

  • 2

Réney Warrington se boek Oktober het verskyn en ’n kortverhaal-skryfkompetisie op LitNet se Nuwe Skryfwerk-afdeling afgeskop - die Vervaldatum-kompetisie.

Die inskrywings het gekom. En die wenner is deur Réney Warrington aangekondig. Maar almal is nie gelukkig met haar keuse nie.

Begin voor en lees eers Hennie Aucamp se wenverhaal: ’n Ou man wat wou weet.

Kyk ook na die kommentare onderaan die verhaal om agter die kap van die byl te kom.

Lees wat sê Réney self. (My interpretasie van die verhaal is dat die engel hier Skoppensboer verpersoonlik. Wat hom sinies kom bevredig aan nog ’n sterfling wat die tydige met die ewige verwissel. Agterna vee hy sy mond met die plathand af en vertrek op sy tog na die volgende bejammerenswaardige kandidaat.)

Maar Réney kry nie die laaste sê hier nie en ek ook nie.

’n Belangrike vraag, wat almal van ons wat lees, raak, kom na vore. Wat is ’n goeie storie? En hoekom?

Dit als het begin met ’n skryfkompetisie, so hier’s nog een.

Die naam van die kompetisie is: "Nou dís wat ek ’n goeie storie noem!"

Hieraan gekoppel is ’n CD met die titel: Now that’s what I call music 61!

Hiermee ’n uitnodiging aan almal wat lees en wat ook hier lees, om te laat weet wat julle dink. Is dit die hoofkarakter wat so aan jou hart pluk dat jy nie eens omgee hoeveel gate daar in die storielyn is nie? Of wát?

Wanneer is ’n storie vir jou ’n goeie storie? Dit kan ’n storie wees wat jy op enige plek gelees het.

Vertel ons hier by LitNet van jou gunsteling stories en skryfwerk. Jou eie skryfwerk kan ook wen. As jy die lekkerste brief skryf en iemand anders sê hulle hou die meeste van jou skrywe, kan jy en jou skrywe hand-aan-hand wegstap met die prys.

Die beste "Nou dís wat ek ’n goeie stukkie skryfwerk noem"-bydrae sal die CD wen.

Laat die beste skryfwerk wen.

Naskrif. Daar is fynskrif. Julle het ’n maand lank tyd om vir ons van julle beste stories te vertel – tot 31 Julie – en julle eie beste skrywe sal as brief geplaas word en nie onder Nuwe Skryfwerk sorteer nie.

Naomi Meyer, LitNet inhoudsbestuurder

  • 2

Kommentaar

  • Dit lyk nie vir my enig iemand is bereid om 'n opinie te waag nie!! En dis seker ook reg so;  wie is ek en jy dan nou ook om te wil dikteer!  Ek gaan egter 'n sê-ding waag oor wat vir my persoonlik van belang is by goeie stories en die wat struikel-struikel.

       'n Goeie storie is een wat nie nodig het om homself uit te spel nie.  Nie nodig het om bar te wees om onder die belt in te kruip nie en wat die vryheid van die pen gebruik om die lewe in al sy skokkenthede uit te beeld sonder om te probeer sensasioneel te wees.

       Ons het baie sulke skrywers en ek gaan dit nie waag om iemand uit te sonder nie, alhoewel ek my persoonlike gunsteling MOET noem, nl.; Nataniël.  Dis 'n man wat jou siel uit jou liggaam kan ruk sonder om 'n skerp ding te gebruik!!!.  Ek heg ook 'n storie, JOOP, aan;  sommer net.

    Baie dankie vir 'n forum waar mens kan gedagtes ruil sonder dat mense (jou familie!!) dink jy's mal.

  • Ai, ai is dit nou blote toeval dat ek weereens in die ry agter Anna Ahllers staan om 'n opinie te lug? Ek sukkel nog steeds om die 'ou man' se bitter smaak van my tong af te kry  maar het darem 'n maand of so gelede die moed bymekaar geskraap om weer pen aan papier te sit en 'n kortverhaal (Nou hoekom juis daai boom?) aan LitNet voorgele.

    Ek stem volkome met Anna se 2de paragraaf saam, maar hier is my insette na aanleiding van Naomi se vraag: Wanneer is 'n storie vir my wat Hannes Steyn is, 'n goeie storie?

    Vir my is dit maklik; Anna se paragraaf en dan ook die sensasie wat ek beleef elke keer as ek 'n goeie storie geniet het. 'n Sensasie van die boek toeklap, agteroor leun en hardop prewel; Blikkkk-sem, maar dit was nou vir jou 'n goeie een!

    My lees-voorkeur is uit die aard van die saak kortverhale en hierdie sensasie val my gereeld te beurt as ek werke van skrywers soos Helena Gunter, Nanette van Rooyen, Bakkesfamilie en selfs Dana gelees het.

    Ek geniet fiksie van Ettienne, Marlene, Deon en selfs Piet Steyn maar nie een van hulle kon my ruk soos Wilbur Smith se vroegste werke nie (ongelukkig van bygaande aard want toe ek een weer onlangs beetpak, was ek erg teleurgesteld).

    Maar vir my is die Jackpot natuurlik O Henry se kortverhale. Ek was gelukkig om 'n versamelde bundel van oor die 300 van sy werke in 'n tweedehandse winkel op te koop. Hierdie stories is seker 60+ jaar gelede gepubliseer. Nou wonder ek maar net; wat op aarde prompt my dat ek 'n verhaal soos The gift of the Magi al meer as 10 keer gelees het!

    Ag Naomi, vergewe nou maar my uitlatings oor die ou man laasjaar en plaas daai boom. Jy sal verbaas wees oor die oorweldigende reaksie op jou vraag! (grappie).

    Hannes Steyn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top