Nou dat djy weg is – ’n gedig vir my oorle’ pa

  • 6

Toe ek my wee’ kom kry
Was djy twintag djaar ouer.
Met ’n lyf en oë geel ingekleur.
Djy’t my die hand gegee,
Ma’ djou oë was al weg.

Nou dat djy weg is, kan ek ee’s sien.

Djy’t gesê djy moet hof toe
Ek vra: wat vannie hosptaal?
Djou oë soek die plestiektafel rond vir jou sigaret,
Terwyl sy djou klere uithaal
En dan aantrek, terwyl djy met sigaret en al
Aan die slaap val.

Nou dat djy weg is, kan ek ee’s onthou.

Ons moet die voorkamervloer regmaak
Ek het allie tools gekoop
Ek het net gewag vir djou!
Sit ee’s hie’ innie rystoel, die dokter kom nou.
Hulle sallie my  helpie, kom ons gaan rook ’n sigaret, gou.

Nou dat djy weg is, kan ek ee’s voel.

Die nurste was missing en die malman langs djou
Aan’ie woel!
Hoekom sit hulle djou dan met so ’n man in ’n saal?
Hy woel en smyt en skeer sy lyf kaal!
Maar djy was lankal toe weg.
Ek kon dit in djou stem hoor toe djy seg: ek wil my tanne borsel.

Nou dat djy weg is, kan ek ee’s huil.

Kwart-voor-vier het sy ons innie oë gekyk
En djou oë toegemaak en die masjiene afgesit.
Djou broer en suster en vrou het vir djou gebid
En toe begin huil
Ek het net gehuil!

Nou dat djy weg is, kan ek djou vertel.

Djou annikind was innie kaap by djou annivrou.
En djou meisiekind het vyf dae daarna haar dertiende verjaardag gehou.
Sy’t djou gevra om ha te wees
Ek is seker djy het langs haar en haar ma gepose in gees
Toe ek die foto vat.

  • 6

Kommentaar

  • Danneline Ramsden

    Wow Ricardo dis so uit die hart uit. Ek kan die emosie daarin hoor. Welgedaan my vriend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top