Notule: Gesondheidsdepartement – streekkantoor

  • 3

Die laaste vergadering van die destydse bestuurskomitee, gehou op die vyfde vloer van ’n verlate gebou in die middestad, in die halfdonker by kerslig om drie-uur in die oggend.

Foto: Pixabay.com

Teenwoordig:

Die dokter: ’n Skraal, ouerige man met ’n goudkleurige brilraam wat blink in die kerslig. Briljant en streng, tog vol deernis vir die ondergeskiktes. (Voorsitter van die komitee.)

Die verpleegbestuurder: ’n Kort, effens plompe dame met grys hare. Intelligent, moederlik.

Die gesondheidsinspekteur: ’n Lang skraal man met swart hare, grys om die slape. Slim en presies.

Die finansies klerk: ’n Skraal dame met rooierige hare wat begin grys word. Sy dra ook ’n goudkleurige bril. Pligsgetrou in haar werk, onseker.

Die administratiewe klerk: ’n Vet man met donkerbruin hare en ’n rooierige snor. Sy brilraam is ’n goedkoop soort, swart van kleur: Senuweeagtig, beangs, maar hardwerkend.  (Sekretaris van die komitee.)

  1. Notule van die vorige vergadering.

Die voorsitter sê hulle moet maar die oorweging van die notules oorlaat aan ’n volgende vergadering. Daar is nie nou tyd nie. Elkeen moet net so bondig moontlik aan hom rapporteer, hy moet alles later oordra aan die militêre noodkomitee. ’n Vragmotor sal hulle netnou kom oplaai. Die vyf van hulle sal na ’n veilige plek vervoer word om die kern te vorm van ’n toekomstige, nuwe streekkantoor. Hulle moet maar hul gesinne opdra aan God, nugter weet wanneer hulle mekaar weer sal sien, indien ooit. Hy vee senuagtig met sy regterhand oor sy snor en mond en vra dan dat die verpleegbestuurder moet voortgaan.

  1. Verslagdoening:

2.1 Verpleegdienste:

Die plompe dame met die ronde gesig vertel dat die nuwe entstof wat ontwikkel is te laat gekom het, soos almal weet. Haar gesig lyk bleek en ernstig in die kerslig, soos al die gesigte om die tafel. Sy gaan voort om te rapporteer dat, ten spyte van alles, is spanne verpleegpersoneel saam met gesondheidsinspekteurs in die streek besig om gesonde mense op te spoor en in te ent. Die spanne word elkeen beskerm deur ’n stuk of ses soldate. Alle personeel, díe wat die aanvanklike aanslag van die siekte oorleef het altans, is ingeënt. Die spanne stig oral klein gemeenskappies wat deur die soldate bewaak word. Soos die dokter weet, sal ingeënte mense wat nogtans siek word, waarskynlik net ’n ligte aanval kry en dit oorleef, mits hulle versorg word. Die staatsapteker het vooraf gereël dat medisynes uitgestuur word. Net jammer die arme man self is ook dood, hy het siek geword voor die entstof kon begin werk.

Origens is dit maar chaoties. Die hoë koors dryf die slagoffers tot ’n soort waansin.

Daar is nie meer brandstof hier in die stad beskikbaar vir die staatsmotors nie, die nuwe militêre owerheid het alles opgekommandeer. Die beamptes in die veld behoort egter voorlopig genoeg te hê, hulle het ekstra kanne vol saamgeneem. Telefoonlyne is nou al vir ’n lang ruk dood, daar is net die militêre radios beskikbaar en dit is moeilik om gereeld met elke span te kommunikeer. Dikwels hoor hulle van aanvalle deur gewapende bendes op die personeel, maar die soldate is goed bewapen en kon nog alle aanslae afweer. Die personeel wat nou nog dienste lewer is die toegewydes, díe wat werklik wil probeer om die land te red. Baie ander het opgegee en by die plunderende bendes aangesluit.

2.2 Die gesondheidsinspektoraat

Die lang, skraal man beaam die verpleegster se verslag. Hy voeg by dat alles moontlik gedoen word om voedselvoorrade te beveilig. Dit word opgespoor en by militêre kampe geberg. Kuddes vee word bymekaar gejaag en deur soldate opgepas. Veevoer word ook opgegaar by sentrale punte.

 Sy inspekteurs en die soldate het opdrag om gesonde burgerlikes op te kommandeer om te help dat alle lyke uit damme en riviere verwyder word. Indien moontlik word lyke begrawe of verbrand. Daar is berigte van ’n toename in knaagdiere oral, rotte vreet aan die lyke wat nog nie mee weggedoen is nie. Weens die rotteplaag kan pessiektes uitbreek. Dit hou ook ’n gevaar in vir die voedselvoorrade en sal moet aandag kry. Die dokter moet dit tog as ’n prioriteit aan die noodkomitee voorlê.

Die watersuiweringswerke hier in die stad en op ’n hele paar ander plekke funksioneer darem nog redelik goed onder die omstandighede.

Sover hy weet is alle oorlewende sleutelpersoneel ingeënt, natuurlik die weermag ingesluit, hulle het voorkeur gekry. Maar hy verstaan ’n paar soldate het ook berserker geraak en is deur hul makkers doodgeskiet. Dít is die instruksie as hy ’n gevaar word vir die groep.

Die dodetal is enorm, laas het hy van hoofkantoor verneem dat, volgens hul berekeninge, net sowat ’n kwart van die bevolking die epidemie sal oorleef, miskien minder. Dit is gebaseer op statistiek wat hulle tot twee weke gelede uit die streke gekry het, dit bring in berekening die koers waarteen mense ingeënt word.

Oral is daar bendes waansinnige mense, gedryf deur vrees en die koors, wat deur dorpe en stede beweeg en probeer om te steel wat daar nog is. Dikwels is hulle gewapen en die personeel voel onveilig, maar tot sover kon die soldate wat hulle vergesel, hulle suksesvol beskerm. Hy het egter pas ’n uur gelede per radio verneem van ’n verpleegster wat verkrag en vermoor is. Sy het van die groep afgedwaal en toe hulle na haar begin soek, was dit reeds te laat. ’n Lid van die publiek het gesien wat gebeur het en ’n verklaring afgelê, vir wat dit werd is. Sy kontak by die militêre noodkomitee verseker hom darem dat hulle die stryd begin wen en dinge onder beheer kry.

2.3 Finansies:

Sy is bang, kan hulle nie nou maar gaan nie? Daar is buitendien tog niks om te rapporteer nie. Sy en die administratiewe klerk slaap nou al vir tien dae lank op die vloer in die teekamer. Die kosvoorraad in die gebou raak op. Die vernaamste finansiële rekords en ’n paar ander belangrike lêers is ingepak en hulle kan dit saamneem. Wanneer kom die vragmotor dan, sy wil hier wegkom? Sy weet ook nie hoe dit gaan met haar familie in die naburige stad nie, wat gaan van hulle word?

2.4 Algemene administrasie:

Die vet man met die welluidende stem klink angstig. Hy bevestig die finansies beampte se verslag. Sy vernaamste dokumente is ingesluit by die wat in haar tasse is. Dit lyk maar sleg, hy hoop tog God help hulle, hy kan nie meer nie. Trane biggel uit sy oë en hy snuif, vee sy neus af met die agterkant van sy hand.

Die voorsitter lyk of hy hom wil vererg, maar bedwing hom. Hy verseker hulle dat die vragmotor nou-nou hier sal wees. Hulle moet nou maar afsluit, hy sal ’n gebed doen.

................

Voor hy egter verder kan gaan, swaai die deur oop en die kerse waai dood. Twee figure met flitsligte kom die vertrek binne. Hulle skrik eers en wil opspring, maar dan sien hulle in die lig wat van die mure weerkaats word die persone het weermaguniforms aan. Dit is die soldate wat hulle kom haal het.

Hulle word aangesê om dadelik te kom, die vragmotor wag onder. Die vet man kyk egter eers by die venster uit. Buite is dit donker, hy sien net die ligte van enkele vragmotors wat in die straat op en af beweeg. Telkens hou hulle stil om lyke op te laai. Hy kan die lyke sien in die ligte van die lorries, soms lê daar tot drie opeengestapel. “Dalk het hulle in hul doodsangs mekaar vasgegryp,” dink hy. “Of dalk is die verklaring eenvoudiger: soldate loop rond in die strate en sleep die lyke bymekaar vir die lorries om op te laai”. Hier en daar brand vure en sien hy groepies mense sit of rondhardloop.

Maar dan gryp hy die tas wat hy moet dra, die ander loop al by die deur uit. Voor loop ’n soldaat, dan die dokter, die verpleegster, die gesondheidsinspekteur , dan die finansies klerk en die tweede soldaat. Die vet administratiewe klerk kom heel agter aan. Hulle sukkel stadig teen die donker trappe af, met net die flitsligte wat die pad verlig.

Onder by die hoofdeure staan die vragmotor gereed. Hulle klim met ’n gesukkel in, die soldate raak ergerlik met hulle. Die vet man gooi eers sy tassie in, dan moet drie soldate hom inhelp. Binne sit reeds ’n paar mense, hy erken ’n beampte van die Werke Departement van wie hy nie hou nie, maar hy groet die man nogtans. Die man knik net met sy kop maar sê niks. Hy lyk ook maar bleek en beangs.

Die vragmotor trek met ’n ruk weg en val in by ’n konvooi voertuie wat verbykom. Hulle ry af in Hoofstraat, onder die snelweg deur en draai dan op teen die lang bult. In donker plekke sien hy naakte paartjies wat lê en kopuleer, hy sien die wit boude en bene in die lig van die vure wat oral brand. Mense hardloop rond tussen lyke deur, kort-kort klap daar ’n skoot, soms ’n hele sarsie. Langs ’n vuur sien hulle drie mans druk ’n naakte vrou neer op die grond, terwyl ’n vierde begin om haar keel af te sny met ’n lang vleismes. ’n Soldaat lig sy geweer om te skiet maar dis te laat, die bloed spuit in ’n boog uit haar keel uit tot in die vuur. Die soldaat laat sak sy geweer en kyk anderpad, maar die vet man bly staar.

Hulle is skaars ’n kilometer teen die lang bult uit toe die konvooi tot stilstand ruk. Die vet man val amper om en gryp aan die verpleegster vas, hulle albei val op die vloer van die trok en staan met ’n gesukkel op en gaan sit weer op hul bankies. Die gewoonlik besadigde verpleegbestuurder vloek hom.

Hulle sit ’n halfuur en wag, terwyl die son rooi opkom oor die see. Hulle hou die tonele voor hulle dop, die soldate is gereed sou iemand hulle wil aanval. Die vet man voel geskok en verleë toe hy ’n erotiese gevoel ervaar terwyl hy na die kopulerende paartjies kyk. Hy kyk weg, na die binnekant van die trok en probeer sy gedagtes beheer. Dan vertrek die lorrie weer, hy kyk terug en sien die vure, die rook en die malende mense, almal gedryf deur ’n uiterste waansin, veroorsaak deur die siekte en die wete dat hulle gedoem is.

Hulle ry nog steeds teen die lang bult uit, kilometer vir kilometer. Eers kon hulle nog die stad daar onder sien, die geboue omgeef van rookdampe, maar dit begin nou vervaag. Die bult het nie ’n einde nie en hulle ry en ry, die son begin steek, dit is warm hier agter in die vragmotor en die vet man sweet. Hy vra water en ’n soldaat gee hom sy bottel aan. Daar is net ’n paar slukke in en hy gooi die leë bottel agter by die lorrie uit. Die trok ry steeds teen die bult uit en die vet man sweet. Hy begin koorsig voel, hy raak lighoofdig en hyg na asem. Maar die bult het nie ’n einde nie, hulle ry en ry net, dit voel asof hulle na die son toe ry. Die vet man kan dit nie meer hou nie, hy begin sy klere afpluk. Hy sien die finansies klerk trek ook haar bloes uit, sy kyk na hom met begeerte.

Die vet man besef te laat sy fout. “Hierdie trok is op pad hel toe,” flits dit deur sy gedagtes! Die son is die hel en hulle ry reguit soontoe. Hulle is om die bos gelei. Daar onder in die stad is die ware lewe, daar tussen die sterwendes. Hierdie trok neem hulle hel toe, besef hy weer toe hy uitspring!

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Dit voel of ANC se Grendelstaattrok ons hel toe vat...
    In die begin was Covid-19 behandeling asemhalingsmasjiene, toe word dit net suurstof, hierna malaria tablette, daarna VIGS medikasie, bloedplasma, weereens omkeer na asma hormoon tablette en nou kankertablette? Waarheen gehasie? Weet die sg eksperts regtig waarheen?

  • Avatar
    Hans Richardt

    Toe lees ek gistermiddag laat, die Britse wetenskaplikes is terug by malaria tablette...

  • Avatar
    Hans Richardt

    Tiens, nou hoe sal Bevelsraad die virus inperk met windseisoen ophande?
    Die natuur word nie ingeperk nie...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top