Nostalgiese geheuekiekie: kinderjare

  • 24

Mag ek ‘n stukkie van my hart se seer vir jou ontbloot? Dit gaan oor my aardse pa.

Hy is omtrent 20 jaar gelede oorlede. Maar vandag knip ek weer ‘n traan. Ek huil selde die afgelope tyd oor hulle (ma en pa), want ek weet waar hulle is. Maar die erflatings wat hul agtergelaat het, sal ewig vasstaan in my gemoed.

Vroeg vanoggend, dou voor dag, werk ek aan ’n lesing vir ons naweekkamp. As voorbeeld, bou ek ‘n storie omtrent my pa daarin. En toe vloei al die herinneringe terug, stukkie vir stukkie, beeld vir beeld. Verlang jy ook soms na jou ouers? Wat onthou jy van hulle?

Hy was hierdie stil, sterk, dinamiese leraar. Donker en aantreklik. Die dames in die gemeente het innerlik geswymel as hy naderstaan. Maar sy lewe, was gebou net op die saad van Gods Woord. Dit was sy alles.

Vir ure sou hy homself toesluit in sy studeerkamer. Ek onthou, wanneer ek verby sy stilwordingsplek gestap het, die klank van sy basstem onderlangs, agter die toe deur. Hoe hy bid en vas en bid. Hy het ‘n sekere charisma-salwing op sy skouers gedra, en wanneer hy uit daardie kamer gekom het, was daar ‘n shekinah-aroma om hom wat ek nie kon beskryf. Selfs die lawaai van kinderstemme in die huis, het stil geword.

Kan net-net onthou hoe die tannies op my ma se lang voorstoep in ‘n ry gesit het met hul trap-naaimasjiene. Hul het ‘n wit tent gemaak. ‘n Crusade-tent. Groot – baie groot. Die los flappe van die materiaal-stroke het soos lang spook-paaie op die gras afgerol gel?, agterin ons burger erf. Geld was min. Leraars swak vergoed, en moes hul uit die geloof lewe. Saterdagoggende, baie vroeg, begin hulle koeksisters vleg. Ek het met die reuk van stroop wakker geword. In die dorp het die koektafels, reg voor SPAR, nog voor dit oopmaak vir die dag, gekreun onder melktert en gebak. (Agterna het my broer gebieg oor hoeveel keer hy stukke koeksisterdeeg in balle gevorm het en onder die bos gaan weggooi het, want hy wou ook saam dorp toe.)

Met hierdie gelde is die tent gemaak. Later het pa kerk gebou. Was self bouer. Dan het hy 4 nuwe bybels gekoop, toegedraai in plastiek, en onder die 4 hoekfondasies van die nuwe kerk ingebou. ‘n Teken en manifestasie dat hierdie kerk net op God se Woord sou staan.

Daardie jare was dit anders. As hul hierdie tent opgeslaan het van dorp tot dorp, was daar baie “wonderwerke”. Mense sou stroom na die plek van ontmoeting. Gelowiges en ongelowiges. Gereddes en ongereddes. Hul het ook nie net kerk gehou vir ‘n uur nie, inteendeel, net hul lofprysing teenoor die Here was ‘n uur lank. Totdat hul in die teenwoordigheid van ‘n Almagtige God neergebuig het. Dan het die kreupele opgestaan vanuit sy rystoel, die blindes kon weer sien en die drankverslaafde omgedraai vanuit sy weë.

Pa Kosie van der Walt by sy tent

Dan sou ek hierdie tent se toue bestyg, en hoog klim tot bo-op. Ek onthou die flap-arms van die benoude tannie wat onder gestaan en waai het, en my gesoebat het om af te klim. Dan sou ek haar wys dat ek self aan hierdie toue kan “swing” – sy moenie worry nie. Kopskuddend sou sy dan omdraai terwyl sy haar hart vashou. Want hierdie pastoriekind is wild, baie wild. Anders.

Ek was rebels. Moeilikste kind van my ouers. Middelkindsindroom met ‘n verwerpte bruinbrood-mentaliteit. My ma en pa al hul dae gegee. Wanneer my ma my “merrie” genoem het, het ek geweet sy is woedend. Geveg, ek en sy, soos twee katte, toe ek in matriek kom.

As jongmens weggeloop uit die huis. Glad nie so voorbeeldig gewees soos die ander vier kinders nie. Toe sterf pa en skielik ontdek ek dat hy al die tyd my “god” was. Alhoewel hy dit nooit ges?, of my op sy skoot getel en vasgehou het, het ek gedink hy is al persoon in my lewe wat vir my lief was. My lewe het inmekaar getuimel. Ek het kaal gevoel en verval in depressie. Al was ek getroud met ‘n liefdevolle man aan my sy.

Die depressie was so erg dat ek in die oggende nie kon opstaan nie. My redenasie met God: hoe kon Hy toelaat dat my pa so jonk sterf, terwyl hy sy hele lewe aan Hom gewy het. Ek was bitter kwaad. Soveel so dat ek nie meer wou lewe nie. Om sake te vererger, gaan ek en manlief deur ‘n bankrotskap. Dit laat ons huwelik wankel. Agterna het ek eers besef dat die Here in hierdie situasie ‘n “masterplan” vir my lewe gehad het. Dit was juis vanuit my seer omstandighede wat God iets tot nuwe geboorte wou voortbring. In die donkerste tyd van my lewe, plat geslaan op die vloer, kruipend onder stukkende emosies van verwerping, was dit die plek waar ek die eerste ontmoeting met ‘n lewende God gehad het!

Pa was nie daar om die verandering te kon waarneem wat Vader in my lewe vermag het nie. Dat ek eers agterna, na pa se afsterwe, die dinge kon smaak wat hy in sy eie lewe saam die Here ondervind het. Agterna het ek besef dat pa alreeds die fondasie vir my wegspring gebou het, en ‘n belofte vanaf God gebid het, dat al sy kinders ook eendag gered sou word.

Wat vandag so kosbaar is, is dat ek, wat voorheen die mees rebelsgesinde, goddelose, ontembare kind was, die een is wat in pa se voetspore stap. Grootste genade ontvang het. Nie eers sy seuns het daardie durf. Sou hy dit glo vandag? Dat Trienie beweeg het: “From ashes to glory”?

Wat ‘n verandering, wat ‘n ontmoeting, wat ‘n nuwe lewe! Om te kan smaak dat God wel goed is soos Hy in Sy Woord verklaar.

Ek probeer jou geensins oortuig met my storie. My lewe skryf sy eie verhaal. Werklike ondervindinge is mylpale in my lewe. Niemand kan my anders oortuig, hierdie dinge is te groot werklikhede. En al word ek gestenig vir my geloof, is dit maar net nog ‘n hoofstuk in my lewe. Ek kan nie weer, soos ‘n hond, terugdraai na my vorige braaksel nie.

Maar vir nou, is my hart opgewonde. Saterdagmiddag sien ek ‘n gehoor van omtrent 350 soekende stukkende vroutjies. Van hulle se huwelike, verwoes. Selfmoordneigings. Rebellie, depressie, haat, drugs, na-aborsie hartseer, seksuele perversie en afwykings, onvergewensgesindheid – noem dit wat jy wil! Ek weet hoe hulle voel, het dieselfde pad gestap, die ‘via Dolorosa’ pad ...

My verwagting? GROOT!!
(En die hartseer oor my pa se dood? – vir nou, skoon vergete)

Sterkte op jou lewenspad.

Van “Tweenie” – my pa se noem-naampie vir my.

  • 24

Kommentaar

  • Avatar
    Chris Dippenaar

    Trienie, om jouself 'die mees rebelsgesinde, goddelose, ontembare kind' te noem is nie nodig nie. Al wat jy gedoen het is om teen die toue van 'n tent uit te klim. Moenie so swaar wees op jouself nie.

  • Avatar
    adre claassens

    Liewe Trienie, ja, dis 'n pragtige verhaal en 'n wonderlike pad wat jy geloop het!

     
    In my ondervinding is dit nie die gehoorsames en die wat in hul spore trap, wat so 'n mooi ondervinding met hulle se Skepper het nie, juis hulle wat so 'n bietjie erg dwars en rebels is, want, nou verstaan jy jou Skrif, soos min ander en oordeel jy nie, maar vermaan in liefde!
     
    Ons ouers se gebede dra ons, maar dis nie genoeg nie, ons moet ons eie pad vind.
     
    Daardie pad is nie veronderstel om met blomme besaai te wees nie, maar dorings en skerp klippe!
     
    Jy sou nooit kon raai dat jy so 'n geslypte diamand eendag sou kon wees nie, het jy, sodat jy 'n helder lig vir ander in die donker kan wees?
     
    Pragtige lewensverhaal, elke traan het 'n besonderse plantjie gevoed tot jy 'n sterk Olyfboom geword het vir jou Skepper en 'n Wingerd!
     
    Dis 'n alleen pad, maar dis die beste en mooiste pad ooit, met die mooiste (voor)uitsig(te)!
     
    En net so tussen jou en my, jou pa het goed geweet dat juis jy gered sou word, want in sy binnekamer het hy gesoebat en gebid en gehuil, elke dag, net vir jou!
     
    Hy het vroeg huis toe gegaan, sodat jy jou pad kan begin stap, "alleen", maar nooit werklik alleen nie!
  • Chris,

    Sien ek 'n effense versagting in jou skrywes teenoor my? As dit so is - baie dankie.

    Trienie

     

  • Avatar
    Chris Dippenaar

    Trienie, daar is 'n paar dinge wat my pla van jou geheuekiekie:

    1. Het jou pa gepreek of geboer (volgens 'Babalas-dag), of albei.

    2. Jy noem in 'Babalas-dag' dat "Anna die vorige week al begin stook het. Maroelas het blykbaar die lekkerste gisgif. Dan gooi sy hierdie pienkerige drank in 2 liter Coke-plastiekbottels (wat sy op Ma se ashoop opgetel het)"

    3. 'n Ruk terug het jy 'n foto geplaas van jou sussie waar sy staan in die sneeu. Ek het haar so min of meer my ouderdom geskat, omtrent 40. Maw, gebore in 1970 of daar rond.

    4. Op een van die foto's hierbo lyk die karre of hulle dateer uit ten minste die veertigerjare, baie moontlik heelwat vroeër. Miskien herken iemand op LitNet van die modelle en kan 'n meer akkurate datum gee.

    5. As jy omtrent tien jaar oud was toe die foto's van die tent geneem is moet jy nou omtrent 75 jaar oud wees, 30 jaar ouer as jou sussie.

    6. Ek is nou 47 jaar oud (gebore 1966) en kan baie goed onthou toe mens vir die eerste keer 2 liter Coke-plastiekbottels kon koop.

    Ek wil nie sê dat jy hierdie storie hierbo uit jou duim gesuig het nie, maar jy kan tog seker verstaan dat ek 'n probleem het om jou sommetjies bymekaar te tel. Kan jy my reghelp?

    Chris

  • Chris!

    Skielik het jy my volle aandag. Onthou ook asb dat 'n vrou nie daarvan hou om haar ouderdom te ontbloot nie, en dit op die Net! Moet asb nie probeer uitwerk. Ek erken jy kon amper my seun gewees het (maar tog nie) ... daar gelaat.

    En ja, pa kon alles doen. Ouer mense vanuit 2-de wêreldoorlog was arm. Predikers in sekere kerkgenootskappe, het nie salaris ontvang, en moes noodgedwonge kinders se monde self probeer voed. Het jy al tortelduifvleis geëet wat jou eie pa geskiet het? Pa-hulle was juis die stigters van kerke vandag aan ons bekend. Vandaar tente toe kerkgeboue.

    Miskien moet jy teruggaan na die foto in die sneeu? Volgens my was dit haar dogter, Heidi, op die foto, maar sy is nou eers op universiteit. Of jy het nie mooi gelees, of ek het onduidelik oorgekom. Jammer.

    Ek erken dat ek verkeerd kan wees met die "plastiek" Coke bottel, kon dalk ander houers wees. In elk geval het hul enige houer gebruik wat hul in hande kon kry om bier in te gooi.

    Eerlik onthou ek nie presies wanneer "plastiek" bottels uitgekom het, en was ek en manlief al getroud toe ons hier saam pa geboer het op plaas. Vra verskoning as hierdie feit foutief was, aangesien ek verdiep was in die storie self.  Dankie.

    Trienie 

  • adre claassens,

    Dankie ook jou reaksie. Eerste keer dat ek jou naam sien, maar mooi skrywe. Hou daarvan.

    Hoop ek lees meer van jou!

    Trienie 

  • Avatar
    CorneliusHenn

    Hallo Trienie,  

    Ek sou jou graag wou waarsku om nie jou hart hier op 'n ashoop te kom gooi nie. Die werf is nie kerk nie. Die HERE het vir ons geliefdes, vriende en gemeenskappe soos 'n kerk gegee om ons intieme en persoonlike ervaringe te deel; om mekaar in vlees- en bloedverhoudinge te vermaan en te bemoedig - nie soos die ware Christengelowige-dwepers in hul arrogante anderhaat en aanmatigende intellektuele waan in hierdie virtuele wêreld hulself probeer verheerlik, deur ander se harte neer te haal nie.  

    Maar, dit blyk tog dat jy wel een of ander behoefte het om jouself hier te kom ontbloot.  Is jou vragie aan Chris; "Sien ek [Trienie] 'n effense versagting in jou skrywes teenoor my? As dit so is - baie dankie", dalk jou motief?   Nietemin, jou bydrae hierbo stimuleer dalk wel 'n mate van redevoering tot eer en verheerliking van ons Almagtige Lewende Skepper. 

    Trienie, gun my asseblief 'n paar antwoorde op die volgende paar vrae;  

    1. Jy tik: "As hul hierdie tent opgeslaan het van dorp tot dorp, was daar baie “wonderwerke”" -  hoekom die woord wonderwerke, in aanhalingstekens?  

    2. Jy tik: "Hy het ‘n sekere charisma-salwing op sy skouers gedra, en wanneer hy uit daardie kamer gekom het, was daar ‘n shekinah-aroma om hom wat ek nie kon beskryf" - Trienie, wat is jou begrip aan die woord Shekhinah?  

    3. Die tent in jou prentjie is hel groot - baie groter as enige sirkustent wat ek ooit gesien het - of enige Afrika/ANC-konferensietent vandag. Ek is oortuig dat die hele Waterkloof NG-gemeente vandag selfs daarin sou pas. Met respek; jou pa moes gewis 'n baie bekende prediker gewees het - veel groter as onse berugte Kobus de Klerk in sy infernale huiskerkstelsel vandag. Ek is in 1960 gebore. As kind het ek ook saam in karre soos dié in jou prentjie met die tent in, gery. My moeder was dus jong vrou in die tyd, toe julle daardie groot tent van dorp tot dorp opgeslaan het. Ons het in my baba en kleuter jare in Pretoria gewoon. Ek het my bejaarde moeder intussen gevra of sy ooit van die prediker Kosie van der Walt in daardie jare gehoor het. Met haar verstand steeds so helder soos 'n Gereformeerde-katkisant op aannemingsdag, antwoord sy nee. Ek het my ook verkyk aan die geboue in die agtergrond van jou prentjie. Glo my, ek deurkruis ook ons land - sonder 'n tent, of 'n kansel. Waar, en in watter jaar is die foto met die tent geneem Trienie?  

    Groetnis,  

    Cornelius

  • Avatar
    Chris Dippenaar

    Trienie, so ver so goed. Net nog 'n ding of twee:

    1. Die oorgrote meerderheid van Afrikaners het behoort aan een van die drie susterkerke. Ek kry die indruk dat jou pa nie behoort het aan een van hulle nie. Het julle regtig so 'n groot tent nodig gehad? Dit lyk asof dit meer mense kan vat as die grootste NG Kerk wat ek al gesien het.

    2. Is jy seker dat die tannies koek verkoop het voor die SPAR? Was daar al sulke goed in Suid Afrika kort na die 2de Wêreldoorlog?

    Chris

  • Hello,

     
    Daar is geen plesier in wat gaan kom maar welgedaan aan Chris wat so oplettend was. 
     
    Google het nou 'n nuwe 'image search' wat die rondte begin doen. 
     
    Die het ek vandag gebruik om skaars foto's van Maurice Blanchot te soek en het toevallig op dit afgekom en kry nie dat dit lekker werk nie. 
     
    Die foto dateer uit, 1949 en verwys na Billy Graham se 1949 in Los Angeles. Vergelyk maar vir u self
     
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Avatar
    Chris Dippenaar

    Trienie, al weer ek, en jammer dat ek nou weer wil verwys na jou ouderdom. Hierbo ontken jy nie dat jy omtrent 75 jaar oud is nie, en dit kan seker ook nie anders nie as mens daaraan dink dat jy as kind teen tent toue uitgeklim het kort na die 2de Wêreldoorlog.

    Ek onthou die geheuekiekie wat jy gedeel het met Jan ('Geheuekies 15 en 16') :

    "Laat my terugdink aan my seun wat ook met iets snaaks vorendag gekom het toe hy nog klein was. Iewers het hy deurmekaar geraak met die rekenaar en die tikmasjien. Een middag roep ek na hom om te hoor of hy weet waar pappa is. Hy antwoord toe: "Ja mamma, hy sit in die kamer voor die tikkenaar!" Vandag is hy al 'n groot man, maar spot ons hom nog steeds daaroor".

    Sover pas alles nog mooi, maar toe onthou ek nóg 'n geheuekiekie ('Paul Kruger se Transvaal-wildreservaat – Kiekie 1') van jou waar jy jou vakansie van die laaste Desember beskryf, spesifiek die volgende:

    "“Aaa – swembad!” gil my seun wat die nattigheid daarvan sien blinkwink in die vêrte. “Ek kry vir ons solank roomys terwyl julle inboek,” belowe hy en spring uit die voertuig wat nog nie behoorlik tot stilstand gekom het".

    Dit klink vir my na die optrede van 'n tiener, nie "'n groot man" nie.

    Nou hier is dan seker die ding wat my deurmekaar maak: Was jy omtrent 60 jaar oud toe hierdie kind gebore is?

    Chris

    Ns. Terloops, by die foto van 'SA: Mooiste sonskynland!' sê jy: "Gister ontvang ek hierdie foto vanaf my suster wat tans in St-Sauveur, Quebec, Kanada woon. Sy skryf: Dis harde werk om ‘n paadjie na ons voordeur oop te hou".

    Dis al wat jy sê, en nie soos hierbo verduidelik: "Volgens my was dit haar dogter, Heidi, op die foto, maar sy is nou eers op universiteit. Of jy het nie mooi gelees, of ek het onduidelik oorgekom".

  • Avatar
    George Bekker

    Trienie, jy klouter nie net teen tenttoue op nie, jy vertel blykbaar ook leuens. Daardie foto wat jy geplaas het is nie jou pa se tent wat op julle stoep gemaak is nie.  Jou pa sal in sy graf omdraai. Wil jy nie liewer 'n nuwe blaadjie omslaan en sê van vandag af is ek absoluut eerlik en probeer ek nie weer om mense te beïndruk nie? George

  • Chris, ek kan 1970's so affêre onthou!

    1. Die Shekinah is volgens kabalah Adonai se vroulikheid...?

    2. Ek kan nie dink dat apostole, blou rokke of selfs lastige jehovahs sulke tente en wonderwerke gehad met voltydse boer aan die roer nie, so Angus Buchan poging, met vroulike geurtjie??? Nee wat Trienie, dit was nou vergesog!

    Hans

  • Trienie se tent?

    Wel, daai tannies het seker maande aan daai Billy Graham Revival tent van 1950's gewerk? Ek hou nog steeds meer van 1963 duet van Bob Dylan/Joan Baez se 'with God on our side', Newport folk festival, tydsgenoot van Billy Graham se Revival in Midwest van Vsa! Trienie, is dit dié tent waarin jou pa mieli meel vir 'sak pap'/ onderhoud vir 2de en 3de Anna's? Jul moes moerse klomp koeksisters smous voor Spar wat eers in 1970's ontstaan het??? Chris, ek is 8jaar ouer as jy en kan geen kettingwinkels, anders as Uniewinkels, Rappaports en bv Greaterman's in Johannesburg en Pretoria onthou nie! Veral nie in landelike plekkies nie! Ek onthou Woolworths, Checkers en OK bazaars in 1970's! Grootoog wonderwerke vs agter toonbank Jood???

    Hans

  • Vele dank Cornelius - Maar was dit nie vir Chris en die toeval van wat my geskukkel het met die 'image search' van Google, sou die tent en die stories om dit nog gestaan het. 

  • Avatar
    Chris Dippenaar

    Trienie, kom ek vertel jou gou iets van myself. Ek is 'n alkoholis wat seker nou al so vyftien jaar, ek tel nie regtig meer nie, laas iets gedrink het. Aan die begin het ek gegaan na AA-ontmoetings en dan het dit gewoonlik die volgende patroon gevolg: Die eerste ou wat sy storie vertel het sy hond verloor, die tweede een sy hond en sy perd, die derde ou sy hond, sy perd en sy plaas, die vierde ou sy hond, sy perd, sy plaas en sy vrou, ens. Dit het pynlik geraak om week na week te gaan sit en luister na hierdie hartseer liegstories van party ouens. Die ouens wat nie 'n "lekker" storie gehad het om te vertel het gewoonlik maar net daar gesit en staar na hulle voete, en ons het omtrent nooit met mekaar gepraat nie. Ek het opgehou gaan na hierdie ontmoetings minder as 'n jaar nadat ek opgehou drink het. Ek het nie my hond of my perd of my plaas of my vrou verloor nie.

    Goeie mense sluit by charismatiese kerke aan en wanneer dit kom by die "witness"-storie voel hulle dat daar van hulle verwag word om te vertel van hoe sleg en sondig hulle was voordat hulle vir Jesus gevind het. Dís wanneer stories soos hierdie een wat jy hierbo vir ons vertel gebore word.

    Neem George se raad aan, van vandag af...

    Moenie te sleg voel omdat ons jou uitgevang het nie, dit was taamlik maklik. Jy is nie 'n baie goeie leunaar nie, en dit is 'n baie goeie ding.

    Chris

  • Is hierdie frase van Chris aan Trienie: 'Jy is nie 'n baie goeie leunaar nie, en dit is 'n baie goeie ding', ongelooflik menslik, ondersteunend en die goedheid van die waarheid? 

  • Avatar
    Chris Dippenaar

    Wouter, ek is bevrees dat Trienie eenvoudig sal aangaan asof niks gebeur het nie. Ek sal nie my asem ophou vir 'n verskoning of selfs net 'n verduideliking. Haar laaste bydrae ('Hier kom nog 'n mooi storie!') klink nie of dit kom van iemand wat skaam voel oor enige iets nie.

    Chris

  • Hello Chris, 

     
    Weereens volpunte vir jou manier van in diepte lees, net soos die menslikheid van jou opmerking vir my uitgestaan het die vergewensgesindheid daarvan. Ek het ook daardie ('Hier kom nog 'n mooi storie!) gelees maar die vuur was uitgebrand voor die einde. 
     
    Die 'kruks' oor wat die werklike mooiheid sou wees is nie duidelik nie.
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Het nie die vorige stories van Triennie gelees nie. Met die begin lees het ek gewonder, Wat gaan hier aan? My afleiding sal ek vir eers vir myself hou met ingedagte daarvan dat sy soekend is. Wil wel noem dat ek nie die storie glo nie.

    Destyds het twee skollies tot beketing gekom. Die prediker neem hulle toe saam op sy togte sodat hulle kan getuig. Die eerste aand toe trek die een los en vertel hoe 'n wilde en erge klong hy was. Toe die tweede een sy beurt kry, toe dik hy dit sommer baie aan. Na hy klaar is en die amen's bedaar het, sê sy maat; "Johnie jy'tie nou confess nie, Jy't gebrag."

    Baie brag met hul confessions.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top