Vakansie. Ons gaan Kaap toe. Plekke lank reeds bespreek op Laingsburg vir oorstaan, en Bettiesbaai vir ’n paar dae se ontspan en rustig wees langs die groot water. Toe ry ons eendag vroeër sodat ons meer kan rus. Bespreek inderhaas slaapplek. Ons mik in die koers van Gariep se dam (wie Gariep ook al was, rus sy siel), maar blyplek is skaars want dit is Desember en al wat leef, is op pad Kaap toe.
Bekyk ons die padkaart en vind Norvalspont op bladsy 24. Klink histories, nie heeltemal eksoties soos in Hawaii of Dubai nie, maar interessant. En volgens die brosjure is daar die Norvalspont Hotel, en dit is glo erg histories, eintlik naby aan outentiek, enig in sy soort en dit is net wat die sluimerende avontuurlus in ons loswoel. Bespreek plek. Waarsku hulle ons bring ons honde saam, boender tasse en honde in die kar en sit af na die groot Gariep (en dink met heimwee aan oom Hendrik en sy vergesigte. Of was dit vergistings?).
Omtrent vyf uur later ry ons vol afwagting oor Norvalspont se heel indrukwekkende, histeries-historiese staalbrug, opgerig iewers rond 1899. Opgeblaas deur die Boere gedurende die Grootoorlog weens ’n misverstand tussen die generaals. ’n Misverstand wat moontlik vir die Engelse uiteindelik ’n oorwinning verseker het. Lang storie. Tragiese einde. Gaan lees PG se storie oor die “ongenooides”.
Die brug is herbou, en nou ry ons oor hom, meer as ’n honderd jaar later. Ry in geskokte stilte deur die “voordorp”, blikkiesdorp/plakkerskamp met rommel en plastiek wat die plek versmoor. Ons vind die hotel in die middedorp, as jy die middedorp by so ’n grandiose naam wil noem. Die hotel is pragtig en so outentiek as wat jy kan kry, gebou deur ene John Norval, ’n outentieke Skot wat die pont oor die Oranjerivier gebou en bedryf het. Soms, so vertel die kroegman later, was die rivier so laag (en soms so vol) dat die pont nie met ’n vrag oor die waters kon vaar nie, dan was die mense vir dae gestrand, met geen heenkome nie. Toe bou die Skot ’n hotel om nog meer geld uit sy reeds beproefde kliënte te wurg.
Norvalspont Hotel is mooi skoon en netjies, eintlik prentjie-pragtig. Die kroeg is vol foto’s en artefakte uit Die Oorlog. Die kroegman/hotelbestuurder/nutsman lyk sélf of hy uit die oorlogtyd die hede ingestrompel het, so ’n ware Rip van Winkel-figuur, woeste bos baard en al. Mens verbeel jou jy hoor sy perd voor die hotel staan en runnik.
Ons verblyf is, synde reisigers met harige vriende, inderdaad in die hondehok buite in die hotel se agterplaas. Lyk soos ou bediendekwartiere wat (nie baie suksesvol nie) in blyplek vir mens en hond omskep is. Ma is aanvanklik erg ontsteld. Die honde is egter heel opgewonde oor die slaaphok.
Ons is te vroeg vir eet en slaap, en ry dus eers om na Gariep se dam te gaan kyk. Was baie jare gelede van PE af oor die wal. Die wal en die dam is steeds daar, al is dit intussen “getransformeer” deur regstellende herbenaming. Die dam lyk nie te erg ontsteld oor die herdoping nie.
Op pad terug na ons hondehok toe loop ons ’n konsentrasiekamp en begraafplaas raak, of dan die “refugee camp” soos die Engelse dit noem. Of was dit strafkampe, uitwissingskampe? Daar is egter geen teken van ’n begraafplaas of konsentrasiekamp nie, net ommuurde gedenknaalde, alles baie mooi skoon en netjies, en so half drukkend eensaam. Daar is ook geen spoke wat dwaal nie, net groot balbytermiere wat die honde rondjaag.
En tog, Ma sê daar is die gedreun van perde wat in die oopte tussen die gedenktuin galop en ’n geroeste bord wat sê begraafplaas so vyf- seshonderd meter na die westekant toe. By die geroeste naambord wat beduie van ’n begraafplaas, is ook geen teken van grafte of spoke nie.
Terug by die hotel gaan drink ons ’n bier en gesels met die grotman/kroegman. Hy beduie van die ou stasiegebou waar Emily Hobhouse eens op ’n tyd gedurende die oorlog oornag het. Was eens ’n mooi ou klipgebou, nou in ´n staat van tragiese verval.
Ná aandete stap ons deur die hotel af met die lang gang op pad na ons hondehok om te gaan slaap. Halfpad af met die gang snak Ma na haar asem en steek grootoog vas. Ek ken daardie snak, en ek ken daardie grootoog gestaar. Daar is net een ding wat haar so laat reageer. Ek vra wie, wat, waar? Sy klou aan my arm vas en sê daar, voor die deur van nommer tien.
Nou werk dit so, sy sien spoke, ek nie. Ek wil met hulle praat, sy wil nie, sy is te bevange die oomblik as sy hulle sien. Ek vra, man of vrou? Sy sê man. Ek vra oud of jonk, sy sê erg middeljarig. Ek vra kleredrag? Sy sê outyds, maar pierewaaierig.
“O shit, hy kyk vir my,” sê sy en kom skuil agter my blad. “Hy kom na ons toe aangeloop. Kom ons hardloop,” snik sy terwyl sy oor my skouer loer.
“Vra hom wat is sy naam,” por ek en verseg om ’n tree te wyk voor die flambojante verskynsel.
“James,” sê sy verbaas. Dis die eerste keer ooit dat ’n spook met haar praat. “Hy sê sy naam is James. Hy sê hy het die hotel en die pont oor die rivier gebou.” Sy bewe soos ’n riet hier agter teen my rug.
“Daar kom nou nog een uit nommer tien,” sê sy angstig.
“Wie?” vra ek opgewonde.
“John, hy sê sy naam is John.”
“Is hy ook ’n pierewaaier?” vra ek.
“Nee, hy dra een of ander uniform. Hy sê James is sy seun en James lieg, hy het nie die pont of die hotel gebou nie. Dis hy, John senior wat die pont gebou het, James het net hier in die hotel kom fuif en nie ’n steek werk gedoen nie.”
Sy kreun skielik asof sy pyn iewers het en hou haar hande voor haar oë. “Nou is James boos,” kerm sy tussen haar hande deur.
“Nou hoekom is hy kwaad?” wil ek opgewonde weet.
“Hy skreeu vir sy pa dis hy wat die pont gebou het. Hy sê sy pa is ´n softie wat net hoedens maak en veewagter vir die Engelse in die Kaap speel. Hy skaam hom vir ’n trotse Skot wat so voor die Engelse kruip,” tolk sy self driftig.
“Maar John sê hy is eers in 1831 getroud, die pont is in 1848 gebou. Hoe kan ´n snotkop kind van sewentien ’n pont bou?”
“Nou sê James Wikipedia sê dan hy wat James is het die pont gebou, en hulle lieg nooit!” vertaal Ma opgewonde oor die bekgeveg.
“John wil weet wie de hel is Wikipedia, hy ken nie ’n meisie met so ’n naam nie!”
’n Kierie wat in ’n houer in die gang staan, styg vanself dreigend die lug in. ’n Lendelam stoel langs die deur van nommer tien begin ook van die grond af lig.
“O hel, hier kom moeilikheid,” kerm Ma. “Die twee wil mekaar te lyf gaan!”
Maar skielik val die kierie en die stoel kletterend op die grond en die bed in nommer tien begin op en af skud.
“Wat gaan nou aan?” vra ek geskok. “Stoei hulle op die bed?”
“Nee, onder die bed,” giggel Ma. “Daardie perdekommando wat ons by die begraafplaas gehoor het, dreun nou hier buite voor die hotel verby. Hulle het net geskreeu ’Boers’ en toe saam onder die bed ingeduik.”
Ek ruik skielik stof en die skerp reuk van salpeter soos van perde wat sweet, maar hoor of sien niks.
Sy gryp my aan die arm en storm die gang af, by die spookkamer verby en by die deur uit, die nag in. Ek probeer nog protesteer en keer, want ek wil nog met die manne gesels. Daar is deksels baie dinge wat ek nog wil vra. Dis nie aldag wat jy met iemand uit die jaar 1848 kan praat nie.
Sy loop driftig na ons kamer toe. Sy sluit die deur met geweld, gryp ’n ysterkruis wat teen die muur hang en spyker dit verwoed teen die deur vas. Sy spuit die insekte met Doom tot in die hel en belowe enige spook wat sy gesig wys, kry dieselfde behandeling as die insekte.
Ons slaap rustig, spookloos, en ry vroeg die volgende oggend verder. As jy dan Kaap toe ry en iewers wil oorslaap, gaan bly gerus in die hotel self, dis pragtig mooi en skoon, die lewende siele is heel gaaf en behulpsaam. Hulle egte Karoo-skaaptjop braai is glo uit die boonste rakke. Maar vermy die hondehok, tensy jy baie avontuurlustig is.
Die twee manne wat in nommer tien bly, sal jou nie pla nie, behalwe natuurlik as jy so begaafd is om hulle te kan sien, want dan gaan hulle beslis met jou gesels.
Kommentaar
I used to spend time in Norvalspont with when I was a kid, so this article fascinates me.
Is your ghost story made up or did it really happen?
Geagte leser, tog jammer die skrywer het nie geweet van die kampterrein nie. Dit is oorkant die begraafplaas se pad. Ek het vir jare navorsing gedoen oor die kamp, gefotografeer, karteer en 'n boek daaroor geskryf wat deur die Vrouemonument in Bloemfontein versprei word: Norvalspont konsentrasiekamp, kamp van smarte 1899-1900-1902. Dit is werklik die allerbeste kampterrein in ons land !! Dit verseker ek die skrywer en leser. Groete, Johan de Beer, Nylstroom.
Geagte Johan!
Ons besoek Norvalspont in Desember vir d eerste keer. Kan jy my dalk help met d ligging v d kamp?
Ek sal dit baie waardeer!
Dankie Sandra