
Foto: Canva
Nolsie se lament
Gebore in ’n swart gat se maag,
te koppig vir goedkoop glans,
suig ek lig soos ’n droë rivierbed
druppel vir druppel –
’n ruwe koolstofklip.
Vergruis my, dan sny ek terug –
’n lem deur graniet.
Onder geduldige vingers aan die wiel
word ek spieëlswart,
ingesluit in goud,
’n ring wat nie pronk nie,
maar swaar en stil
om ’n vinger vou
en elke skadu wat ek dra,
ook dra.
Grafietdrade loop swart deur my,
sien patrone waar ander net chaos sien,
proe storm voordat reën val,
hoor seine wat ander mense se ore mis,
klou aan ritmes wat my anker
en my soms alleen laat staan.
My lojaliteit is stadig gesmee –
en duur.
En tog –
verpletter deur verraad
(en deur my eie hande)
het ek die swaar stories self opgetel
toe niemand meer wou luister nie.
Te hard gepraat toe stilte nodig was,
te min geluister toe my hart moes swyg.
Nou val musieknote soos koue muntstukke
in ’n bedelaar se hoed –
smekinge, brûe, vryheid,
klaagliedere van liefde wat ek self laat ontspoor het,
psalms van berou.
Elke rou noot sluk ek heel in.
Nikswerd weergalm.
Geen vonkel nie.
’n Hele lewe saamgepers
in hierdie een onbuigbare klip:
seeman, pa, waarheidsdraer, musiekbedelaar.
Nog steeds rou.
Nog steeds besig om te word.
’n Swart diamant.

