Nog 'n skrywe oor die taalbeleid

  • 0

vrydag13de_banerEk staan verstom terwyl ek toekyk hoe leiers by universiteite toegee aan die eise van kleinerige groepe wat vir die verwydering van Afrikaans vra. Dit getuig van die kultuur wat deur die regering geskep word. Beide die protes teen Afrikaans en die toegewings wat blindelings gemaak word is simptome van ʼn gebrek aan innoverende denke.
Die verengelsing van ons universiteite word gepropageer, kwansuis om wit bevoorregting die hoof te bied. Wie word dan meer bevoordeel as Engelse moedertaalsprekers, waarvan die meeste wit is?

Ek sal graag wil sien dat ander Afrika-tale in my leeftyd die selfde voorregte as Afrikaans geniet, maar om Afrikaans uit te gooi sal hierdie proses vertraag. Dit sal die proses waarskynlik heeltemal van die tafel vee. Om Afrikaanse universiteite “weg te gee” doen inbreuk op almal wat in Afrikaans wil studeer se grondwetlike reg om dit te doen.
Dit is ʼn besluit wat geen wenners oplewer nie, maar baie verloorders. Dié wat vra dat Afrikaans sy posisie van bevoorregting verloor, glo verkeerdelik dat Afrikaners die enigste verloorder in die proses sal wees. Met hierdie kortsigtige uitkyk besef niemand dat alle inheemse tale ook aan die verloorkant is nie.

Afrikaans moet eerder die voortou neem in die uitbou van ander tale, sodat hulle ook akademiese status kan bereik. As Engels die voortou neem sal Engels die enigste wenner wees, terwyl alle inheemse tale, nie net Afrikaans nie, aan die agterspeen suig.

Hierdie onderlinge twis tussen Afrikaanssprekendes en die res van die land is die direkte gevolg van die regering se mislukking daarin om goeie gelyke onderrig aan alle burgers te gee. Eerder as om die geveg na die regering te neem, ontaard dit in direkte aanvalle teen Afrikaans.

Die transformasie word gedryf deur die selfde kortsigtigheid waarmee ekonomiese transformasie gedryf word. Eerder as om nuwe universiteite te stig, of om bestaande universiteite uit te brei, moet Afrikaanse universiteite nou “oopgemaak” word vir almal. Dit kom neer op niks anders as herverdeling nie.

Om bestaande bates, in dié geval universiteite, aan ʼn proses van herverdeling toe te vertrou, doen op die aarde niks aan die toenemende vraag van ons burgers nie. Ons het eenvoudig nie die kapasiteit om almal by ons universiteite te akkommodeer nie. Nuwes is nodig.

Om nuwe universiteite volgens die huidige model te vestig sal ook ʼn fout wees. Eerder as om op bestaande akademiese tale te fokus, moet die oogmerk van hierdie universiteite wees om nuwe akademiese tale te vestig. So ʼn vernuwende proses sal nie net studies meer toeganklik maak nie, maar dit sal die Suid-Afrikaanse akademiese landskap hervorm.

Ongelukkig stem min mense met my saam. Volgens dié wat protes aanteken, is Afrikaans die vyand. Dit wil amper voorkom dat hierdie mense dink dat Afrikaans hulle benadeel. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Almal trek voordeel uit die kennis van hul medeburgers, ongeag die taal waarin hierdie kennis verwerf is.
Die verwydering van Afrikaans word geëis, sonder om die geskiedenis van Afrikaans in ag te neem. Net soos swart Suid-Afrikaners het Afrikaans ook ʼn “struggle” gehad om te kom waar dit vandag is. Akademiese Afrikaans het begin om wortel te skiet in die tyd van Engelse onderdrukking. Dit het nie probeer om Engels te verdring nie. Dit het ook nie ʼn vyand van Engels gemaak nie.

Ek hoop dat sprekers van inheemse tale ook so ʼn stryd sal voer om hul tale te verhef, sonder om ʼn vyand van enige ander tale te maak. Ongelukkig lyk dit vandag of hul eie tale ook ʼn vyand is, omdat dit in die pad van die alomteenwoordige Engels staan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top