Hierdie keer skrywe ek na aanleiding van wat ek op 10 deser op SêNet oor Scruton gepubliseer het. Die enkele gevalle waar ek na my skrywe van 9 deser verwys, word aangedui. Die kern van Scruton se skryfwerk word geformuleer as: "The affirmation of home, soil and settlement." Die ontheemding, selfs ontworteling, wat baie (waarskynlik die oorgrote meerderheid) wittes sedert 1990/1994 plaaslik ervaar, kan hieruit afgelei word. Die land se hele aanskyn en aard het verander. Wat eens 'n Westerse land was (ten minste ten dele: die middestede en -dorpe, blanke woongebiede, die meeste plase), het feitlik in sy geheel verafrika.
Êrens het Scruton geskryf dat jou straat jou kultuur weerspieël. In my woonstraat ruk nie-inwoners die vullissakke oop wat inwoners vir verwydering uitgesit het en bestrooi die straat met rommel. Weens rommel lyk "my straat" in die middedorp nie beter nie. Elke ses parkeerplekke het 'n beampte in uniform wat geld by motoriste kollekteer. Op die sypaadjies is daar stalletjieplakkers en langs en in die pad is daar smouse. Die punt wat ek wil stel, is dat my straat, of dit nou in my woongebied of middedorp is, nie meer my straat is nie. Dit is allermins 'n uitdrukking van my kultuur. Dit is sekerlik nie 'n plek waar ek tuis of gelukkig voel nie. Ek ervaar 'n gevoel van verlies en 'n nostalgie vir die geordende samelewing wat was. Diegene wat suksesvol vir ons oorgang na 'n nuwe politieke bedeling onderhandel het en diegene wat nou daarby baat vind, het blykbaar geen idee van wat hulle Westersgeöriënteerde mense aangedoen het nie.
Jou plek, wat oor eeue ooreenkomstig jou kultuur ontwikkel is, ken jou nie meer nie en jy herken hom ook nie meer werklik nie. "The cultural top soil" het weggespoel. Dalk is dit daarom tog goed dat die nuwe bewindhebbers so graag name verander. Eers het diegene wat die plek opgebou het, die naam gegee. Nou is dit diegene wat die plek afgebreek of laat verval het, dus diegene wat met "the easy holiday of destruction" of die "culture of repudiation" besig is, wat op 'n nuwe naam besluit. Wat in werklikheid nodig is, is "to thoughtfully restore what has been thoughtlessly damaged."
In die middel van die 17de eeu, toe die wittes begin het om hulle in die suid-weste te vestig, was daar Khoi wat die land vir weiding en vuurmaakhout gebruik het en San wat die wilde diere gejag het. Vanuit die noord-ooste het die swartes inbeweeg, bestaansboerdery beoefen en mekaar uitgeroei. Die wittes was die eerste groep wat die land ontwikkel het deur behoorlike huise en ander strukture, soos paaie en hawens, te bou. Hulle het ongerepte grond in plase omskep. Geen groep kan met reg op die land in sy geheel aanspraak maak omdat hy dink hy eerste hier was nie. Daar was trekkende of nomadiese neigings by al die groepe. Hierdie tendens is die sterkste deur die wittes met vestiging en ontwikkeling teengewerk.
Op grond van wat onder hulle leiding tot stand gebring is, het die wittes histories 'n sterker aanspraak op geborgenheid as ander groepe wat op kwantitatiewe gronde begeer wat die wittes het. Daar word glad te maklik beweer dat die wittes grond van die swartes gesteel het en dat die swartes daarom nou die wittes se plase maar mag oorneem. Daar word sonder meer en doelbewus van die foutiewe standpunt uitgegaan dat ongerepte grond en 'n plaas dieselfde ding is. Omdat hulle nie dieselfde ding is nie, omdat 'n plaas in meerdere of mindere mate ontwikkelde (soms hoogs ontwikkelde) eiendom is, behoort daar nie moedswilliglik beweer te word dat die plaas gesteel is nie. Niemand het die "right to destroy our inheritance" nie.
"Multiculturalism ... dismisses Western culture." As 'n mens nie trots is op wat jy is nie, nie trots is op jou eie kultuur en taal nie, word jy maklik 'n pleitsbesorger vir multikulturalisme en meertaligheid, soos wat tans aan die Universiteit Stellenbosch (US) gebeur. Tydens 'n RSG-uitsending verlede jaar het een van die voorbokke beweer dat sy ideaal wêreldburgerskap vir US-studente is. Scruton ontken dat 'n mens 'n burger van die wêreld of van bv die Europese Unie kan wees. 'n Mens kan net voel en aanvaar dat jy 'n burger van 'n gebied is as jy jou kultureel daarmee kan vereenselwig.
Egte burgerskap van die nuwe Suid-Afrika is vir Westersgesinde blankes problematies. Transnasionale burgerskap van swart Afrika is oënskynlik geen probleem vir swartes nie. Dit is waarom die nuwe Suid-Afrika nie net swaar dra aan al hoe meer en al hoe groter plaaslike probleme nie, maar ons ook toenemend opgesaal word met die probleme van die res van swart Afrika. Dit is egter nie as burgers dat swartes mekaar onderskraag nie. Dit is 'n geval van etniese solidariteit, van spreekwoordelike broers en susters wat mekaar help. Dit is minstens vir die Westersgesinde blankes 'n sprekende voorbeeld van oikofobie: "The repudiation of inheritance and home."
Volgens Westerse norme gee 'n regering vanselfsprekend voorkeur aan wat in landsbelang is. Die situasie waarmee ons plaaslik te make het, is dat baie wat plaaslik aan bv belasting ingesamel is, in die res van swart Afrika (en natuurlik ook plaaslik) verkwansel word. Hierdie verdunning van plaaslike hulpbronne vind by die bewindhebbers sonder gewetenswroeging plaas omdat die swartes ingevolge die grondwetlike skikking myns insiens heeltemal oorgekompenseer is. Wat as aalmoes of "regstelling" ontvang is, word makliker van afstand gedoen as waarvoor jy lank en hard gewerk het. In werklikheid het 'n regering geen reg nie "to distribute all goods equally among the living, without regard for who deserves them, who owns them, or who will use them wisely and well."
As ek self met inspanning my eie huis bou of dit teen groot koste koop (die rente wat betaal moet word, kan baie meer beloop as die kapitaal wat terugbetaal moet word), sal ek hom oppas. "How else can a person become conscious of who he is and where he belongs, except through building, making and decorating that small patch of earth he calls 'home'." As iemand 'n woonplek huur, sou hy geneig wees om nie verbeterings aan te bring nie. Dalk sou hy eerder die plek deurtrek. Maar hy moet gereeld betaal om daar te kan bly. Huiseienaars en huurders kan geneig wees om te dink dat iets soos gratis huisvesting 'n fantasie is omdat dit teen geregtigheid indruis, om van gratis huiseienaarskap nie te praat nie.
Maar as jy op benadeling aanspraak kan maak, kwalifiseer jy vir bevoordeling in die vorm van gratis huiseienaarskap. Die bewering wat eeue lank gegeld het, dat daar nie so iets soos 'n gratis maaltyd is nie, dat jy 'n teenprestasie moet lewer vir wat jy ontvang, word deesdae verkeerd bewys. Scruton verwys bv na "those who think only of what is owed to them, and not of what they owe" (9 deser). Net soos die nuwe bewindhebbers nie die ontwikkelde land waardeer wat grootliks onverdiend in hulle skoot geval het nie, waardeer diegene wat 'n gratis huis ontvang het dikwels ook nie so 'n groot geskenk nie. As beweer word dat iemand 'n reg op 'n huis het, volg dit dat hy nie dankbaar vir die huis hoef te wees nie.
Maar Scruton merk op: "The good things in life are ... privileges, not rights" (9 deser). Gratis huise kan 'n geval wees van "the State ... extending its relief to the irresponsible." Kyk gerus na die Hop- en ander huise wat gratis uitgedeel is. Kyk hoeveel trotse, sorgsame, netjiese eienaars jy kan identifiseer, dus hoeveel van hulle hulle verwerdig met "decorating that small patch of earth ... call[ed] 'home'." "The real 'source of social decline in our day lies in the tendency to mortgage our future for the gratification of those who are living now'."
"Every non-white is now officially 'black'." Dit lei tot "the creation of an atmosphere of anti-white solidarity." Ek dink nie die plaaslike Asiate wil graag swart genoem word nie. Byvoorbeeld, die Indiërs word gerugsteun deur 'n eeue oue beskawing waarop hulle baie trots is. Tydens apartheid wou die bruines graag wit wees. Kultureel kan 'n (sterk) saak daarvoor uitgemaak word. In die nuwe Suid-Afrika verklaar baie ontwikkelde bruines hulleself egter eerder swart. Met dieselfde gemak versaak hulle Afrikaans en omarm hulle Engels. Dit is maklik herkenbaar as opportunisme en bowenal sprekende voorbeelde van anti-wit sentiment.
Scruton noem dat nie-wittes in Brittanje weerstand teen goeie Engels bied deur dit as elitisties te etiketteer (9 deser). Dieselfde geld die bruines plaaslik as hulle kapsie teen Standaardafrikaans maak. Daar is al voorgestel dat skoolhandboeke in Kaaps beskikbaar gestel moet word, terwyl Kaaps 'n nie-gestandaardiseerde taal is waarin enige Engelse woord toelaatbaar en selfs aanvaarbaar is. Wesenlik gee hierdie standpunt uitdrukking nie net aan dislojaliteit teenoor Afrikaans nie, maar ook (dalk veral) aan anti-blanke sentiment.
Scruton se ideaal is 'n nasiestaat. Hy stel voor: "Integrating [all citizens] into a common culture of nationhood ... it is not blood which binds a people together, but ... cultural features." Anders as aan die Universiteit Stellenbosch (US), predik Scruton nie diversiteit asof dit inherent 'n grootse bate is nie. Aan die US word diversiteit as 'n bate (en nie as 'n probleemskepper nie) voorgestel omdat dit daar primêr om die vernietiging van 'n monokulturele tradisie gaan. Die waarskynlike uiteindelike resultaat van Russel Botman se totale transformasie is nie net die afskaling tot die minimum van blanke teenwoordigheid op die kampus nie, maar ook en veral die progressiewe afskaling van Afrikaans totdat dit heeltemal met Engels vervang is.
'n Nasiestaat is sekerlik gewens. Waar kulturele eendersheid in groot mate bestaan, kan so 'n staat doeltreffender funksioneer en is lojaliteit makliker haalbaar. Maar sodra daar verskille kultuurgroepe in 'n bevolking is, sal sommige tot assimilasie en ander tot identiteitsbehoud besluit. Dit is wat reeds eeue lank met bv die Jode dwarsoor die wêreld gebeur. Dit is hoogs idealisties van Scruton om assimilasie in Engeland of Brittanje na te streef. Vir kulturele eenheid in Suid-Afrika is afrikanisering die enigste moontlikheid. Diegene met grondige Europese of Oosterse kulturele gebondenheid sal nie hiervoor te vinde wees nie.
Volgende keer skryf ek na aanleiding van wat ek op 11 deser op SêNet oor Scruton gepubliseer het.
Johannes Comestor

