Ek wou nog die een en ander oor Piet se kommentaar sê (verwys my brief van gister) maar my 600 woorde was op.
Piet sê " ... daar was [daardie dag] genoegsame konsensus dat behoorlike bestuur van die staat byna alle sektariese belange kan ondervang." Maar dit het " ... nie gekeer dat veral bruin mense geargumenteer het dat hulle ’n politieke en ekonomiese marginalisering ervaar ..." Logies, die bruin mense het ’n baie geldige punt. Wat eienaardig is, is dat die Afrikaners oor niks spesifieks gekla het nie, dat hulle dit eens was dat " ... behoorlike bestuur ... alle sektariese belange kan ondervang." Rapporteer Piet ooit alles? Wat van plaasmoorde, naamsveranderinge, verdwynende skole ens?
Wat die bruin gemeenskap betref reken Piet dit " ... gaan nie daaroor dat bruin mense eiesoortige belange het nie, maar dit gaan daaroor dat selfs hul universele belange nie gelykgestel word aan wit en swart belange nie." Hoekom is hierdie sin in die lydende vorm; wie of wat stel nie die bruin universele belange (groter beswil?) gelyk aan wit en swart belange nie? En wie of wat hierdie entiteit ookal is, hoe werk Piet uit dat einste die wit belange gelyk aan swart belange stel? Of is dit nie impliseer nie, lees ek verkeerd?
Buitendien, die bruines hét ’n eiesoortige belang naamlik die juiste feit dat hulle vroeër te swart was en vergeefs (soos Piet beweer hulle nou besin) hulle gewig by die struggle ingegooi het want hulle is nou te wit. Is dit nie ’n unieke eiebelang nie?
Dan is daar weer die ou holrug-geryde kwessie oor wanneer is wie nou ’n Afrikaner. Piet lys ’n klomp wit Afrikaanssprekendes van uiteenlopende aard en maak die stelling dat hulle nie almal noodwendig Afrikaners is nie want hierdie " ... onderskeid ... kan net op ideologiese gronde gemaak word." Wie sê so? Het ’n groep wat hulself as Afrikaners beskou ’n keuringskomitee gekies en dié tjap aansoekvorms met ’n ’aanvaar’ of verwerp’? Of sê Piet die wat hulself as Afrikaners beskou stel so’n vereiste?
Dit maak nie sin nie; hierdie siening impliseer ’n proto-Afrikaner iewers in die geskiedenis wat reëls oor Afrikanerskap neergelê het, uitgekap in klip en iets hou sy nageslag daarby. Absurd. My pa het vir ’n ander politieke party as sy pa gestem en ek weer vir ’n ander een as my pa en my een suster, kan jy glo, stem ANC en al vier van ons is Afrikaners. Die definisie van ’n Afrikaner is bloot die ou wat ’ja’ sê as jy hom vra of hy ’n Afrikaner is.
Piet glo ’n Afrikaner glo ’n mens moet wit wees om ’n Afrikaner te wees en daarom sal "... bruin mense op geen wyse na hulself as Afrikaners kan of sal verwys nie." Dit is nie so nie, ek is wit en ek sê soos hierbo, vra net die ou of hy een is. As Chester Williams byvoorbeeld, of die ou wat die dokter in Villa Rosa is, sê hy is ’n Afrikaner wie is ek of enigeen om te sê hy is nie? Maar Piet het gelyk, die meeste bruines wil nie Afrikaners wees nie (dit is interessant dat daar baie Afrikaners is wat sê bruines is Afrikaners omdat hulle Afrikaans praat en hier slaan Piet nou daardie siening die nek in maar dit net so terloops).
Nou ja tot hiertoe dan, daar was nog iets maar ek kan nie nou daaraan dink nie. My 600 woorde is buitendien seker al bereik.
Jan Rap

