Die gebruik van Engels het so oorheersend in die nuwe Suid-Afrika geword dat daar deesdae dikwels om meertaligheid gepleit word. Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), noem die US nie ’n tweetalige fasiliteit nie maar ’n meertalige inrigting. Daarmee beklemtoon hy die kontras tussen wat hierdie eens Afrikaanse universiteit was en wat dit sedert 1994 geword het. In die praktyk is daar egter net twee amptelike landstale, albei van Europese oorsprong, waarin tersiêre onderrig sinvol aangebied kan word. Net Afrikaans en Engels beskik oor die nodige wetenskaplike en ander gevorderde akademiese terminologie.
’n Verwante gewoonte wat posgevat het, is om vir al die inheemse amptelike tale in die bres te tree. Afrikaans word dan opportunisties en oneerlik as ’n inheemse taal voorgehou. Die oorsprong van sommige van hierdie "inheemse" tale is egter Afrika noord van die Limpopo-rivier. Hulle is dus eerder inheems aan Afrika as Suid-Afrika. Hierdie feit word verdoesel, want dan sal erken moet word dat die swartes, nes die wittes en Asiate (en anders as die Koisan), nie inheems aan Suid-Afrika is nie. Die swartes word dan ook setlaars. Die verskil is dat die swartes oor land hierheen gekom het (en steeds instroom) terwyl die wittes en die Asiate oor die see gekom het.
As Afrikaans eerder taalwetenskaplik as politiek-korrek benader word, is dit nie ’n inheemse taal nie maar wesenlik ’n Indo-Europese en meer spesifiek ’n Germaanse taal. Dit is Afrikaanssprekendes, veral die wittes, dus Afrikaners, wat veg vir die behoud en uitbouing van Afrikaans. Nie-wit Afrikaanssprekendes openbaar gewoonlik nie dieselfde passie en veggees vir Afrikaans nie. Swartes is oor die algemeen amptelik min gepla oor hulle moedertaal. Baie verkies en verwelkom selfs verdringing deur Engels. Wanneer wittes pleit om meertaligheid en om die heil van al die sogenaamde inheemse tale, doen hulle dit op die gevaar af dat hulle van paternalisme beskuldig kan word.
Die punt wat ek wil stel, is dat hierdie om-’n-draai-benadering selfverydelend is. Ons lewe inderdaad in ’n baie eienaardige samelewing as daar nie, soos in ander lande, direk om die heil van ’n spesifieke taal geveg (mag) word nie. Afrikaners behoort dit direk te stel dat hulle nie vir meertaligheid veg nie, ook nie vir alle inheemse tale nie, maar vir Afrikaans, wat wesenlik (en soos Engels) ’n Europese taal is. As die nuwe bewindhebbers die koloniale taal Engels vir bevoordeling en vertroeteling aanvaarbaar vind, kan dit ook Afrikaans geld; des te meer omdat die ontwikkeling van hierdie land grootliks nie net aan Engelssprekende wittes nie maar heel moontlik in groter mate aan Afrikaners te danke is.
Dit is laasgenoemde feit wat dit so onaanvaarbaar maak dat wat oorwegend deur wittes se inisiatief tot stand gebring is, nou deur nie-wittes bestuur word asof dit sonder meer so hoort. Die US is in sy spreekwoordelike hart en niere deur Afrikaners uitgebou, maar deesdae beweer Botman keer op keer dat dit nie eens by voorkeur ’n Suid-Afrikaanse inrigting is nie, maar ’n Afrika-universiteit is. Die Argentyne is nie so onpatrioties dat hulle hul universiteite in die eerste plek as Suid-Amerikaanse universiteite voorhou nie. Kanada het Kanadese universiteite eerder as Noord-Amerikaanse universiteite, ens. Anders as in die nuwe Suid-Afrika eien die betrokke land sy universiteite vir homself toe omdat hy weet watter finansiële offers gebring is. Maar as sulke geriewe (onverdiend) in die skoot van diegene val wat tradisioneel meesal nie-belastingbetalers was, word dit om politieke (spesifiek rasgebaseerde) redes eerder as ’n kontinents- as ’n landsbate voorgehou. Lande op ander kontinente beklemtoon selde dat hulle eie bates eerder kontinentale bates is. Wat in die nuwe Suid-Afrika gebeur, is dat die meerderheid inwoners se etniese verwantskap met swartes suid van die Sahara oorbeklemtoon word. Naas hierdie rasgebaseerde oorweging is daar bitter min wat regverdigbare entoesiasme vir Afrika kan wek.
Johannes Comestor

