Hennie Fritz se brief laat my aan 'n meisiekind met die naam van Lettie dink. Lettie was 'n meisie van die platteland wat na skool kollege toe is. Die kollege was in die stad, ver van haar ouerhuis af. Lettie was 'n mooi kind, maar die akademie was nie haar sterk punt nie. Sy was baie joviaal en het baie vinnig 'n sosiale lewe gehad wat gesorg het dat haar akademiese prestasies nie na wense was nie.
Die terugvoere wat die kollege huis toe gestuur het, het Lettie se borge (ouers) nie beïndruk nie. Lettie se sosiale program het al hoe meer van haar tyd in beslag geneem en het sy haar begin toespits op die beroep wat sy vir haarself begin uitkerf het. Soos dit maar gaan bly 'n geheim mos nie lank 'n geheim nie. Ongelukkig is dit ook so dat die persone op wie dit betrekking het, gewoonlik laaste of nooit weet wat die werklike toedrag van sake is nie.
Lettie se alternatiewe bedrywighede in die groot stad het toe van krag tot krag gegaan in so mate dat sy by haar borge aansoek gedoen het vir addisionele finansiering om ekstra klasse te loop en kostes aangaan om haar akademies te ondersteun.
Een goeie dag kry Lettie 'n besoeker wat uit die bloute daar by haar opdaag. Heel skaflike persoon wat nie baie oorreding nodig gehad het om Lettie te oortuig dat sy haar "alternatiewe inkomste" aansienlik kan aanvul nie. Die persoon vra haar om hom na een of ander geselligheid te vergesel waarvoor sy dadelik instem. Die aand verloop toe heel aangenaam en die persoon stel toe voor dat hulle na die tyd ietsie gaan nuttig want dit is nog te vroeg om 'n heerlike aand so gou te laat eindig. Die een ding lei tot die volgende en voor Lettie die man se hotelkamer die volgende oggend verlaat, oorhandig hy haar 'n aardige bedraggie. Sy was toe heel in haar noppies, waarop hy vra of sy hom weer sal vergesel. Natuurlik, antwoord Lettie. Dieselfde aand is dit 'n kerslig-ete en bietjie litte losruk in 'n dansplek. Die volgende oggend voor Lettie weer die hotel verlaat, word daar weer 'n aardige bedraggie geld aan haar oorhandig. Lettie is toe erg beïndruk toe die man weer vra of hulle weer die aand kan ontmoet. Die aand is dit dieselfde prosedure. Ietsie gaan eet en toe fliek toe.
Die volgende oggend voor sy loop word daar weer 'n aardige bedraggie in haar hand gestop.
Lettie was nou oorstelp. Waar kom jy vandaan? vra sy die man. Hy antwoord toe van een of ander dorp in die noorde van die buurprovinsie. My maggies antwoord sy, wat 'n toeval, sy kom ook van die die geweste af. Ja, antwoord die man, haar borge het te hore gekom van hom, en hom gevra dat wanneer hy weer stad toe gaan, hy asseblief tog nie die R3 000 sal saamneem en vir hul dogter in die stad te gaan gee nie. Sy het die geld nodig vir ekstra klasse sien. Die kind werk te hard.
Reusedwerg


Kommentaar
Met seun het ouers darem net een om oor te bekommer ... met dogter die hele dorp.