Ons het ’n nasionale voël, ’n nasionale blom, ’n nasionale die en ’n nasionale daai, maar ’n nasionale dis ontbreek ons nog.
Ons in Suid-Afrika kom uit ’n verbete stryd waar, tot onlangs, die een lot vreters ’n goeie grypsel giftige cascari in die ander lot se chop suey sou wou strooi as deel van ’n wedersydse uitwissingstrategie. Vrede het nou oënskynlik uitgebreek en die kans geskep om ’n soort kulinêre nasiebou-poging van stapel te stuur.
So hoe kan ’n mens dan te werk gaan om die strydige elemente in die nasie met ’n soort kulinêre Bostik aan mekaar te heg?
Vir die Chinese is ’n luide mondpoep ná ’n maaltyd ’n teken van kulinêre eenstemmigheid en kulinêre eenstemmigheid is die basis van ’n gesonde volkshuishouding. De Gaulle is tot wanhoop gedryf deur die vooruitsig om ’n nasie te regeer wat meer as 600 soorte kaas produseer. Bismarck het die Duitsers probeer verenig met die aartappel en die rollmop. Hendrik IV het die Franse alreeds in die sestiende eeu ’n Sondaghoender in elke pot belowe as dit hulle daartoe kon bring om hulle onderlinge getwis te laat end kry. En Marie Antoinette het heeltemal kop verloor toe sy aangebied het om koek in plaas van brood op die Franse volkstafel te sit.
As mens wil peil hoe gelukkig ’n volk is, gaan kyk wat gaan in die kombuis aan.
Nou, soos Marie Antoinette vir ons gewys het, kan jy nie ’n nasie met sommer enige hierjy kos bou nie. Gee nie vir die nasie ’n slang as hulle ’n vis vra of gee nie vir hulle ’n klip as hulle ’n brood vra nie. As die sans culottes brood soek en nie van jou koek hou nie, kan jy maklik soos Marie Antoinette sans tete opeindig. Soos blinde vinke in ’n skottel. Madame guillotine is meer as net ’n pyn in die nek vir onbekwame nasiebouers.
Vir daardie rede is afval dalk die beste kandidaat om geproklameer te word as ons nasionale dis. Ons weet hoe ’n lekker afval jou lippe aan mekaar laat plak. Miskien kan dit dieselfde doen vir die nasie. Afval is ’n goeie gom.
’n Skaapkop (“Smiley”) in elke pot is dalk net die ding om ons te laat besef dat daar meer amandla in afval sit as in Winnie se vuurhoutjies of in Jacob se “Umshini wham”. Wie voel nou lus om ná ’n dikvreet aan afval uit die blou weg te val met “kill the boer” of “ken giy dat volk vol heldenmoed”? Of selfs met “meneer, kan jy vir my ’n vrag kraalmis laat kry, ek sal dit ry” op die deuntjie van “God save the king”?
En as die lekkergeit van die harsingsous of die kleinpensie jou dan tot sang moet dryf, trek liewer los met “Nkosi Sikelel’ iAfval”! Of met: “Biestepote skoongeskraap, die lekkerste kossies van die Kaap. Smoor djy dit met tamatie, sal djy nie wie djou mond afvie.”
So ’n kulinêre strategie is egter nie sonder sy eie probleme nie. Daar is in die geledere van die nasie diep klowinge oor hulle afvalbeskouinge wat die nasiebou-proses in die wiele kan ry.
Net soos daar twee soorte mense in die wêreld is, dié wat rugpyn het en dié wat dit nog gaan kry, so is daar as dit by afval kom net twee soorte mense in die wêreld: Dié wat swymelend daaraan smul en dié wat begin suurkwyl as hulle net daaraan dink dat hulle verteringstelsel aan so ’n belediging blootgestel gaan word. Afval laat party mense se gesigte op ’n plooi trek soos ’n weeskind wat op ’n piekel gespeen word.
..............
Net soos daar twee soorte mense in die wêreld is, dié wat rugpyn het en dié wat dit nog gaan kry, so is daar as dit by afval kom net twee soorte mense in die wêreld: Dié wat swymelend daaraan smul en dié wat begin suurkwyl as hulle net daaraan dink dat hulle verteringstelsel aan so ’n belediging blootgestel gaan word.
.................
Vir hulle hou ’n swynhart wat swel met ’n gegeurde rysvulsel, die aromatiese adems van gemaalde long wat hyg in ’n lang sous, die lekkerlek van sagte beestong of die talmende tintelinge van lewerstopsel in ’n vetderm, geen bekoring in nie. Om nie te praat van viskop en lampeertjies nie. Vir hierdie mense is daai soort dinge satanskos.
Dit is juis hierdie snare wat oorreed moet word dat deur ter wille van die voordele wat deur ’n nasionale dis, en ’n nasionale dis van afval in die besonder, tot stand gebring kan word, ’n verdere basis geskep kan word waarop ons ’n nuwe nasionale identiteit kan bou.
Hulle moet oortuig word van die feit dat geesdriftige afval-eters in die grootste deel van die wêreld nie beskou word as ’n bedreigde minderheid of as aasdiere wat teer op die oorskiet van wat die kat ingedra het nie.
Hulle moet ingelig word dat as ’n mens as ’n eregas by die praaltafels van ’n Midde-Oosterse potentaat, ’n woestynsjeik of ’n oliekoning gaan aansit, ’n bokoog op die punt van ’n dolk die beste lekkerny is wat jou gegun kan word. En wanneer die deurlugtige gasheer sy vergulde dolk in die oogkas druk, die gelatienjuweeltjie sorgvuldig uit sy holte lig en op jou bord laat gly, dan weet jy jou kanse is goed dat hy ook jou firma se wapenkontrak sonder te veel redekaweling sal onderteken.
Hier is amper al ’n stelreël wat mens met groot vertroue kan navolg. Hoe meer afvaldisse op jou gashere se tafels bogrond uitgestal word, hoe meer olie vloei daar in die ruimtes ondergronds. Voer ’n Midde-Oosterse potentaat jou nasionale afvaldis en net daar raak brandstofpryse laer en is meer diesel beskikbaar om jou mankolieke kragopwekkingsmasjinerie aan die loop te hou.
In die nuwe Suid-Afrika is ons afval-eters boonop ’n volstrekte meerderheid. In sommige van ons swart burgers se wêreld het afval so ’n hoë status dat afvaldisse nou al in die parlement se eetkamer bedien word. Mens kan selfs sover gaan om te sê dat afval meer demokraties is as enige ander kossoort waaraan jy kan dink. Miskien ’n kort koppie agter aartappelskyfies en Coke, maar wie wil nou ’n nasie bou met kitskos en borreldrankies?
En as ’n mens ’n breedgevormde demokratiese eenstemmigheid oor die kwessie wil bou, kry die townshipgogos aan jou kant. Townshipmense verstaan die wese van ’n goeie afvaldis dikwels beter as die fynbesnaarde proewers van die leafy suburbs wat maaltye laat wegspring met croissants en Chablis. Townshipmense weet dat die kenmerkende geure wat uit ’n afvalpot walm wanneer ’n sponspens sy plaasgras herkoms aan ons neusgate verraai, nie soos ’n dronk oompie of ’n mal antie in die familie uit die publieke oog verwyder moet word nie. Hou maar ’n tipiese townshipmama dop as sy ’n skaappens skoonmaak. Spoel hom lekker skoon onder die kraan en in die pot. Sy kapater nie die ding voor sy hom loslaat om sy werk te doen nie. Wat is ’n kreef sonder sy kerrie of ’n snoek sonder sy kuite?
’n Goeie afval moet, soos ’n mens wat eerlik wil bly, nie sy agtergrond te veel probeer verdoesel nie. Verwyder elke laaste haartjie en baardjie wat tussen die tone en in die ore wegkruip. Doen ’n breinspoeling. Spuit die snot uit die koker. Maar behou die geur. Die kalkverbleikte waslappe wat as pens, kop en pootjies in ons stedelike slaghuise verkoop word, gee net aan ons lieflingskos ’n slegte naam. Ruik na niks en smaak na niks. Gekapaterde kos.
Stel ’n toegewyde afvalpolisie aan om toe te sien dat ’n sluikhandel in byvoorbeeld donkiekoppe of likkewaansterte of bobbejaanlewers nie die mark betree en die bedryf besoedel nie. Loof gereeld eerbewyse, soos Mama Smiley van die Jaar van die Bokpoot-trofee vir die beste vetderm-resep in die Namakwaland, om gehalte-handhawing te beloon.
Bied ’n staatsbegrafnis aan vir die afvalsjef van die jaar en laat die vlae halfmas hang elke keer wanneer ’n nalatige kok die afval laat aanbrand. Straf gekapaterde kos genadeloos sodat dit uit die kookpotte kan verdwyn en laat snuffelhonde gekapaterde kos uitruik sodat dit vernietig of aan die honde gevoer kan word.
Oorreed die woke crowd om die cancel culture in te span om die afval-afvalliges uit die nasionale bewussyn te dryf en maak dit ’n misdaad om in die publiek op afval-eters te skel of om in hulle afvalpotte te spoeg.
En moenie huiwer om resepte vir uitheemse afvaldisse soos haggis en bloedpoeding in ons resepteboeke op te neem en mense verder ook nog aan te moedig of om nuwe resepte soos varkpote in ’n vlaesous of bokballas au naturel op die proef te stel nie.
Om ’n nasie te bou is nie sommer so ’n hierjy ding om te doen nie.
En onthou. Elke pot kort ’n deksel.
Kommentaar
Ek lees die bydrae met 'n kwylende bek. Sluk kort-kort die kwyl weg met ou bekende reuke wat uit die verre verlede in my opkom. Op die plaas is daar niks gemors of vermors nie. Slagdag was 'n groot gebeurtenis. Famiie, vrinne en vyande is genooi. Die bees is eerste wat gesneuwel het, daarna 'n vark en 'n skaap of twee. Almal het dan daardie dag vleis gekry. Ek kan ook onthou hoendervleis was 'n luukse. Ma het 'n klomp rooi en 'n klomp wit hoeders gehad. Daar was ook 'n moerse klomp bontes. Die henne het nie net die tuin loop omskrop nie, hulle moes 'n eieroes oplewer. Die paar hane het nie net die dagbreek aangekondig nie, maar moes ook die dames trakteer. 'n Hoender of twee is net geslag vir uiterste spesiale geleenthede. Dominee en gesin, langslaaste gesiende familie en binnekringvriende het kwalifiseer. Skaapkop, rooiboklewer en peertjies kwalifiseer as van my gunsteling-eksotiese-eetgoed.