Ek weet ek skryf nou weke na die verskyning van die bespreking, maar dit bly ’n intrigerende saak.
Bennett is gekritiseer oor haar resensie-artikel van die betrokke boek. Ek moet sê ek het dit interessant gevind. Vir my het die stuk voldoen aan die vereiste van ’n resensie dat dit nuwe lesers moet inlig omtrent ’n boek en die werk bekend moet stel. Dit doen dieselfde met feminisme, wat ’n interessante studieveld is, maar beslis nie in besonderhede aan almal duidelik is nie. Dis ook ’n veld wat weerstand by sommige mense opwek, sodat ’n mens omsigtig sal moet wees om daardie mense te betrek en hulle uiteindelik simpatiek of ten minste verdraagsaam te stem.
Ek vermoed dat Bennett, eerder as om oningelig oor die onderwerp te wees, op ’n bekendstellende wyse te werk wou gaan. Sy het my dadelik ingetrek met ’n uitspraak soos: "’n Mens kan nie kwaad word vir ’n feminis soos Fransi Phillips nie. (Mans ook nie.) Daarvoor is haar humor te droog en aweregs, het sy te min eksplisiete woede en is die venyn teenoor mans te goed gemaskeer met ironie.”Want dis juis die algemene indruk van feminisme wat sy hier verwoord.
Die reaksies op haar artikel was belangrik omdat dit die leerwerk of opvoeding voortsit wat Bennett in ’n sin begin het. ’n Mens kan net leer uit die ligte konflik wat die onderwerp tussen ons indra. ’n Simpatieke beskouing van feminisme baat ook mans. Dis daardie storie van: As ek jou belange oppas, sal jy waarskynlik na myne ook omsien.
Jaco Fouché

