Nikki se absurde program

  • 2

Kyk, ek hou baie van die nuwe DSTV-kanaal, Via. Dit is baie soos 'n Afrikaanse weergawe van my gunsteling Engelse kanaal, BBC Lifestyle.

Die een program wat ek egter vir heeltemal die verkeerde redes kyk, is die belaglike en absurde "Nikki sê nee". As die vervaardigers ernstig is, en ek hoop nie so nie, is dit wat die Engelse sou noem "cringeworthy". Ek kyk dit met 'n sekere fassinasie, want ek is amper oortuig dit is in werklikheid 'n satire op regte verbruikersprogramme en dat dit veronderstel is om met ryk mense die spot te dryf.

Die aanbiedster is glo 'n rekenmeesteres, en te oordeel aan die voertuie en woonplek, glad nie 'n arm persoon nie. Nikki wil nietemin randrekker-wenkies vir ons gee. 'n Voorskou van een van haar episodes toon byvoorbeeld hoe Nikki 'n Mini Countryman wil poets met ou lappe in sykouse, of iets dergeliks.
Nou ek is jammer, as jy 'n halfmiljoen rand se Countryman kan bekostig, het jy kwalik nodig om jou ou vloerlappe te hergebruik. 'n Ander lagwekkende voorbeeld wat ook in een program was is hoe om jou gekoopte blomme langer te laat hou deur botter aan die stingels te smeer. Gekoopte blomme? As jy geldelik sukkel? Peperduur botter mors deur dit aan blomme te smeer? Regtig?

Is die vervaardigers van die program ernstig? Ek hoop werklik nie so nie, want dan kan ons in die toekoms sekerlik wenke verwag oor hoe mens kan geld bespaar deur vir jou butler jou ou klere te wil gee. Help my asseblief, Via, en beaam dat julle besig is om my been te trek.

Nonnie v R

  • 2

Kommentaar

  • Nonnie, ek het die program nog nooit van begin tot einde gekyk nie. Ek beskou dit as snert. Die vraag kom by my op wie is die vrou? Van waar is sy? Wie se vriendin of familielid van een of ander produksie-maatskappy se maatjie is sy? Wie betaal vir die snert, ons die intekenaars. Die tyd het aangebreek dat daar 'n ordentelike teenvoeter vir die DSTV/Multichoises in die land kom.

  • Ek stem heeltemal saam. Hoe om te spaar op kruideniersware. Dan ry sy met haar fiets na die dame toe. Haar huis lyk soos 'n paleis. Die spens is vol gepak. Spesiale bottels is gekoop wat merk wat binne-in is. Die kombuis lyk asof dit uit House and Home kom. Konsentreer op ons gewone mense asb.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top